Real Lewe Take 4
Liewe Ouer

Die huis is die belangrikste plek waar ons geloof ontwikkel en gevorm word. Navorsing toon dat jongmense by die huis die meeste van God, geloof en die wêreld leer. Julle gemeente kan met die eredienste en die kategesebediening soveel moeite moontlik doen, maar daar is bewys dat jongmense se geloofsvorming by die huis gebeur.

Op 'n vraag aan jongmense na wie of wat hulle hulle verhouding met die Here kan terugvoer, het hulle geantwoord:
- "My pa en ma het vir ons uit die Bybel gelees."
- "Ek het my ma of pa saans hoor bid."
- "My pa en ma het ons saamgeneem kerk toe."
- "My pa en ma het my van my doop vertel en gesê dat ek aan die Here behoort."
Dit is hierdie jongmense wat na skool steeds by 'n gemeente inskakel, eredienste bywoon en by 'n Bybelstudie- of selgroep aansluit.

As die geestelike welwese van jou kind(ers) vir jou belangrik is, moedig ons jou aan om by hulle geestelike vorming betrokke te raak. Die Huisgeloof-gespreksgids is 'n poging van die kerk om jou toe te rus en vir jou die geleentheid te gee om saam met jou kinders die Bybel te ontdek.
- Gaan 'n ooreenkoms met mekaar aan om julle verhouding met mekaar en met die Here ernstig op te neem.
- Gaan 'n ooreenkoms met mekaar aan om een keer per week saam te kom en 'n Huisgeloof ontmoeting te doen.

Ons hoop hierdie gespreksgids sal julle help om nader aan mekaar te groei en dat julle
verhouding met die Here sal ontwikkel en dieper sal word.


Die skrywers