Real Lewe Take 4 |
![]() ![]() ![]() |
Hallo! Daar gebeur goeie dinge met ons in hierdie lewe. Dit is die maklike deel van die lewe. Maar grotendeels moet ons elke dag van ons lewe besluite neem en keuses maak. Moeilike besluite en keuses. By die huis is jy deel van 'n gesin met julle eiesoortige styl en dinge. By die skool is daar baie druk en 'n vol program. Sommige dae hou jy van jouself, ander dae nie. Sommige dae verveel die ouens jou; ander dae irriteer die meisies jou. Soms voel jy naby aan die Here, ander kere voel God ver en die Bybel soos 'n vreemde boek. Soms voel die lewe net so fake. En die antwoorde wat jy op jou vrae kry, klink nie real nie. Daarom noem ons hierdie boek Real lewe. Ons gaan nie deur 'n klomp lesse werk nie ... dis nie skool nie. Ons gaan saam ontdek wat dit beteken om vandag in ons wêreld 'n dissipel van Jesus te wees. Om dit reg te kry, gaan ons saam oor die Bybel en ons eie wêreld gesels. Ons hoop dit sal vir jou die volgende vier stukke gereedskap gee: 1. 'n Kompas. Ons gaan jou help om 'n kompas te ontwikkel wat vir jou deur die uitdagings in die lewe rigting kan gee. Die kompas is waardes wat op jou verhouding met God gebou is. 2. 'n Geloofsvenster. Ons gaan deur 'n paar geloofsvensters kyk sodat jy kan ontdek hoe gelowiges al duisende jare lank oor hulle verhouding met God, met mekaar en met die wêreld dink. Dit sal jou ook help om dit wat jy glo in woorde uit te druk. 3. 'n Metronoom. Gelowiges het bepaalde ritmes in hulle geloof. Ons vier feeste, tradisies en sakramente. Hierdie ritmes word deel van ons daaglikse lewe wanneer ons in die groep, by die kerk en by die huis bid, oor ons geloof praat en geestelike gewoontes uitleef. 4. 'n Vergrootglas. Ons gaan leer om in en uit te zoom op God se groot verhaal met die wêreld. Ons gaan deur die vergrootglas na spesifieke tydperke in hierdie groot verhaal kyk. Dit sal jou help om die lyne in die Bybel te sien en te ontdek wat dit vir jou beteken. Geniet die reis met geloof wat real is! Die skrywers |