Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Ek bepleit al 'n geruime tyd lank die gereelde gebruik van die Ons Vader gebed. Ek bedoel hiermee dat ons hierdie gebed stadig, toegepas op onsself en op die gemeente bid. Dit is 'n gebed wat as dit uit ons harte vloei na God, ons as God se gemeente op God se pad en binne God se wil sal help hou. God sal ons gebede verhoor en ons so verander dat ons Sy Naam heilig sal hou, Sy koninkryk uit ons uit sal laat straal en Sy wil deur ons geleef sal word. Ons sal daagliks kan oorleef en ons sal vergifnis beleef en uitleef. Ons sal ervaar dat versoekings verby gaan en die duiwel ons uitlos. Ons sal ook vind dat ons geestelik groei, Die Ons Vader gebed besit nie krag nie. Dit is net woorde wat Jesus ons geleer het wat resoneer in God se hart. Dit is woorde wat jou en my wat dit bid, verander. En ek vra jou mooi: Bid dit volhardend saam met my. By Thomas Keating het ek 'n ander gebed geleer waarvan ek net 'n deel hier deel (my vertaling daarvan): Ek verwelkom dit wat na my toe kom vandag (op hierdie oomblik) want ek weet, U Here, sal dit vir my ten goede laat meewerk (Rom 8); Ek verwelkom die emosies, mense, gebeure en omstandighede en bid dat U dit vir my innerlike genesing sal gebruik. Ek gee prys my behoefte aan erkenning, mag en beheer. Ek gee prys my behoefte aan respek, liefde en die goedkeuring van ander. Ek gee prys my behoefte aan oorlewing en sekuriteit, plesier en selfgerigtheid. En ek maak myself wyd oop Here, vir U liefde en teenwoordigheid en vir U werking in my en met my. Amen. Ek beleef dat met hierdie twee gebede werk God in my, verander Hy my fokus en ek nooi jou uit om dit te waag om dit te bid. Voorop staan hierdie week natuurlik die Algemene Sinode 2019 sitting. Bid asb dat God self Sy vergadering sal lei en met krag in haar (Sinode) sal werk. Ons soek besluite wat in lyn is met God se wil en nie mens gemaakte besluite nie. (Ek weet nie hoe om dit beter te verwoord nie). Vir die afgelope vyf weke veral, het ons gebid oor geweld teen vroue en kinders. Moet asb nie ophou nie. Bid teen alle vorme van geweld en haat en korrupsie en misdaad. Bid vir bekerings, en 'n definitiewe omswaai in lewenswyse en uitkyke want dit is ons denke wat ons dade bepaal. Ons bid steeds vir reën. Bid asb vir goeie reën oral waar dit so dringend nodig is en ook hier by ons. Moenie moed opgee nie. Hou aan met bid. Bid vir die ekonomie. Vir werksgeleenthede. Bid vir die regering (dis ons Bybelse plig). Bid vir onderwys en onderwysers. En bid vir die ouers. Vir die gemeente: (Hou asb aan met hierdie sake. Dit is maak en breek belangrik vir ons as gemeente) 1. Bid dat ons Jesus sal volg in alles. Elke lidmaat gefokus agter Jesus aan sal leef soos Hy ons elkeen lei in ons eie lewens. 2. Bid dat ons nie meer sal leef nie maar Jesus in ons sal leef. 3. Bid dat ons werklik die pad van sefverloëning sal stap. Matteus 16: 24 los jou met die keuse: wil jy of wil jy nie? As jy wil, DAN moet jy jouself verloën. Christenskap sonder selfverloëning kan tog nie. As jy saam met Jesus wil leef dan moet jy jou kruis optel en Hom VOLG. Bid dat ons hierdie besluit duidelik voor oë sal kry en dit neem! 4. Daarmee bid ons dan dat ons in Jesus se gemeente hier ter plaatse, Hom sal volg, en onsself sal verloën twv Hom. Dit is ongelooflik belangrik: Bid asb hiervoor sonder ophou. 5. Bid dus dat ons soos God sal liefhê en soos God sal vergewe. Siekes: Oba; Annemarie; Attie; Anette P; Richard; Andre en Cindy; Theuns; Dina; Kobus J; Kobus Jo; KoosvZ; Neville; Louis C; Magda B; Susan V; Pieter dP; Lily G (sy is prematuur gebore); Michelle G. Een van ons mede-lidmate is betrokke by 'n sendeling. Lg beleef aanvegtinge van die Bose af en is onder druk (hy en sy gesin). Kom ons bid vir hierdie man en sy gesin en vir sy bedieningswerk. Baie dankie.