Ons bid saam:
Datum:
Voorbidding:
Efesiërs 3: 14 - 19 as agtergrond. Ons almal weet dat liefde vir God belangrik is. Ons weet dat Jesus die hele wet en die profete (Ou Testament) saamgevat het in twee dele: Liefde vir God (met jou hele wese) en om jou medemens lief te hê. In Johannes 13 gaan Jesus verder en sê Hy vir Sy dissipels: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief het. Ons weet dit is liefde tot aan die kruis vir die ander se onthalwe. As ons bid dat God ons harte sal vul met Sy liefde, weet ons dat dit so sal wees omdat ons bid binne God se wil. Ek vra jou om dan vir die volgende weke saam te bid rondom die volgende: 1. Bid dat God ons innerlik sterk sal maak. 2. Bid dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon. Dit is 'n gebed van oorgawe, van vra dat Christus die beheer van jou lewe sal neem. 3. Bid dat ons ons wortels al hoe dieper in God se liefde sal insteek. Besef ook dat die wet van die krismisroos geld: die tipe grond waarin die krismisroos geplant is bepaal die kleur van die blom. Hoe dieper jou wortels in Christus se liefde ingroei hoe meer gaan die vrug van Sy liefde in jou lewe wees. Verwag dat jou gedrag gaan verander namate jy hierdie goed getrou bid. 4. Bid dat God jou almeer bewus sal hou van net hoe groot en intens Sy liefde vir jou is. Bid dat ons God se liefde mag ken. Dat ons die ware liefde (soos 1 Joh 4 beskryf) sal ken, maw ons eie sal maak. 5. Bid dat God ons ten volle sal verul met Sy volheid. Dat God volle beheer oor ons mag hê. Laastens bid asb ook vir die Golfdag Vrydag; Sondag se ereidenste en ander werksaamhede hierdie week. Bid asb vir jou bure en vra die Here om hulle te seën.