Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Nadat Paulus in die eerste deel van hoofstuk 5 die vrede wat ons met God het en die sekerheid van ons verlossing beskryf het, wys hy nou waarom Christus alleen die gronde van ons verlossing kan wees. Hy doen dit deur twee mense teenoor mekaar te plaas: Adam en Christus. In Adam is daar sonde, oordeel en dood. In Christus is daar geregtigheid, genade en lewe. 2. Wanneer ons voor begin in die Skrif sien ons dat God in die begin vir Adam in ’n tuin geplaas en hom met heerskappy toevertrou het. Genesis sê die Here het hom in Eden gesit om dit te bewerk en te bewaak. Adam was nie bloot teenwoordig in die paradys nie. Hy was aangestel deur God om ‘n taak te verrig. Hy het gesag en verantwoordelikheid van God ontvang en hy het direkte gemeenskap met God gehad. Die tuin was ’n ruimte van intimiteit, rentmeesterskap en ononderbroke gemeenskap. Adam is geroep om te bewaak wat God geplant het en om in gehoorsaamheid aan God en sy opdragte te wandel. 3. Maar dan ken ons die verhaal. Ons lees dat hierdie rentmeester wat deur God aangestel is, het gefaal. In die gebied wat hy moes beskerm, is ’n ander stem toegelaat om te praat. Adam het sy gesag prysgegee, en deur daardie oorgawe het sonde die menslike verhaal binnegekom. 4. Die grond wat eens op seën gereageer het, het nou dorings voortgebring. Wat ’n plek van lewe was, is gemerk deur ’n vloek. Die Skrif sê die skepping het begin sug. Die sondeval was nie net persoonlik nie. Dit was kosmies. Die eerste Adam het gesag verbeur, en selfs die skepping het die gevolg gevoel. 5. Maar sedert die skepping reeds leer ons God ken as ‘n genadige God. Selfs in daardie oomblik van oordeel, spreek Hy ‘n belofte uit. Onmiddelik nadat sonde die wereld ingekom het, het God reeds die plan uiteengesit hoe Hy dit weer sou herstel. God het verklaar dat die saad van die vrou die slang se kop sou vermorsel. Die einste slang wat die mensdom mislei het, sou eendag verpletter word. En dis die eerste keer wat die evangelieboodskap van verlossing aangekondig word. Van die begin af is verlossing aangekondig. Die vyand sou nie die laaste sê hê nie. 6. Tot so ver die verhaal van die Tuin van Eden. En nou beweeg ons vorentoe na ’n ander tuin. In Getsemane kniel die tweede Adam op die grond. JESUS! Waar die eerste Adam sy eie wil laat geld het en aan God ongehoorsaam was, onderwerp Jesus Homself aan die Vader se wil. Waar die eerste Adam na die slang geluister het, luister Jesus net na die Vader. “Nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied.” In Eden het ’n hand uitgereik na verbode vrug. In Getsemane word hande in oorgawe opgehef na God die Vader. 7. Die tuin van Eden het net rebellie gesien, maar die tuin van Getsemane sien nou volmaakte gehoorsaamheid. Die sweet soos druppels bloed is nie ‘n teken van swakheid nie. Dit is heilige vasberadenheid. Die Seun bring Homself volkome in lyn met die Vader se verlossingsplan. Adam het in ‘n tuin van oorvloed gestaan en gekies om te sondig. Jesus het nie in 'n tuin van oorvloed gestaan nie, maar in Getsemane het Hy die geweldige gewig van die kruis vooruit gesien. 8. Dan kom die kruis. Die slang wat in Eden ingesluip het, wat die mens met sy slinksheid verlei het, het gedink hy het heerskappy deur daardie misleiding verkry. Maar op Golgota het daardie ou vyand te ver gegaan. Die kruis was nie ’n nederlaag nie. Dit was die finale uitklophou. Jesus sterf op Golgota en staan drie dae later uit die dood op en vervul so die belofte wat in Genesis gemaak is. Die kop van die slang is vermorsel. Gesag is hom ontneem. Paulus se hy is van alle gesag gestroop en ontwapen. 9. Die mag van sonde is gebreek. Die een wat die eerste Adam versoek het, is deur die Laaste Adam gekonfronteer en oorwin. Kyk hoe beskryf Paulus dit in Kol 1: “14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” 10. Die aanklagte teen elke mens sedert Adam se tyd en daarna tot in ewigheid, daardie skuldbewys, het Hy tot niet gemaak. Die skuldbewys was ‘n brief waarin die bewyse of die redes vir ‘n oortreder se oortredings uiteengesit is. Dit was nie ‘n aanklag nie – dit was ‘n bewys van skuld waaraan jy reeds skuldig bevind was. Net iemand wat reeds skuldig bevind is, het ‘n skuldbewys teen hom of haar gehad. 11. Maar die Bybel steek nie vas by die oorsprong van sonde nie. Dit beklemtoon wel wat met sonde gedoen is. Want dan breek die opstandingsoggend aan. Nog ‘n tuin. Maria staan buite die graf in die opstandingstuin en huil. Sy sien Jesus, maar herken Hom nie. Sy dink Hy is die tuinier. Die Gees trek ’n doelbewuste lyn van Genesis na die leë graf. In die eerste tuin het die eerste mens gefaal en die dood het ingekom. In die tuin naby die graf staan die ware en getroue Mens lewend, nadat Hy die dood en die een wat die mag daaroor gehad het, oorwin het. Die Een wat sy dink plante versorg, is eintlik besig om die hele skepping te herstel. 12. Die eerste Adam het toegang tot die Boom van die Lewe verloor. Gerubs het die pad bewaak sodat hulle nie kon teruggaan na die tuin toe nie. Die toegang is gesluit. Maar nou is die steen weggerol. Die graf kan Hom nie hou nie. Die voorhangsel het geskeur. Toegang word herstel. Die vloek wat deur ongehoorsaamheid gekom het, word deur gehoorsaamheid gebreek. Die dorings wat uit vervloekte grond opgeskiet het, is op Sy hoof geplaas. Die teken van die sondeval word deel van Sy lyding. Hy dra die vloek sodat ons die seën kan ontvang. Vers 12 se dat sonde tot AL die mense deurgedring het. 13. Die ooreenkomste kan nie geignoreer word nie. In Eden kruip Adam tussen die bome weg. In die opstandingstuin roep Jesus Maria by haar naam. In Eden luister ’n vrou na ’n stem wat na die dood lei. In die opstandingstuin hoor ’n vrou die stem van die opgestane Here en word die eerste verkondiger van die evangelie van verlossing. In Eden kom die dood deur ’n boom. Op Golgota word lewe deur ’n boom verseker. In Eden word die aarde vervloek. By die opstanding gee die aarde sy dooies prys. 14. Dit is verlossing wat in die geskiedenis ontvou. Jesus maak nie bloot Adam se fout ongedaan nie. Hy vervul die oorspronklike opdrag. Waar Adam heerskappy verloor het, neem Jesus dit terug. Waar Adam gesag prysgegee het, ontwapen Jesus owerhede en magte en maak ’n openbare skouspel van hulle. Die slang wat eens leuens in ’n tuin gefluister het, word stilgemaak deur die Woord wat mens geword het. Die vermorseling van die slang se kop is nie sommer net ’n metafoor nie. Dit is die beslissende oorwinning wat deur die kruis en die leë graf bewerkstellig is. 15. Maria het gedink Hy is die tuinier. In werklikheid het sy meer gesien as wat sy besef het. Hy is die getroue Tuinier. Die Laaste Adam. Die Verlosser van Eden. Die Een wat nie in die tuin gefaal het nie, maar daarin getriomfeer het en die slang wat die eerste tuin besoedel het, verpletter het. 16. Maar Romeine 5 is nie net 'n verhaal oor Adam nie. Dit is veral 'n verhaal oor Jesus Christus. Paulus wys dat Adam eintlik vooruitgewys het na Iemand groter. Adam was die eerste mens, maar Jesus is die volmaakte Mens. Adam het misluk waar Jesus volkome geslaag het. Alles wat deur Adam verlore gegaan het, het Christus kom herstel. 17. Waar Adam se keuse skeiding gebring het, het Jesus se gehoorsaamheid versoening gebring. Waar sonde eens uitgespruit en versprei het, blom opstanding nou. Die tuinverhaal was nooit bedoel om in Genesis te eindig nie. Dit vind sy vervulling in Christus. En omdat Hy leef, is die slang verslaan, die vloek gebreek, en ons is van die gebeure in die eerste tuin verlos. 18. Deur Adam se een oortreding het baie gesterf. Deur Christus se een daad van gehoorsaamheid vloei die genade van God oor na baie. Let op dat Paulus die hele verlossing aan Christus se een daad verbind. Hierdie gehoorsaamheid bereik sy hoogtepunt in sy kruisdood. Soos Paulus elders skryf: "Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis." Waar Adam ongehoorsaam geword het aan een gebod, net EEN gebod, het Christus volkome gehoorsaam gebly aan die hele wet, selfs toe dit Hom sy lewe gekos het. 19. Hier lê die hart van die Evangelie. Ons word nie gered omdat ons beter as Adam probeer wees nie. Ons word gered omdat Christus gedoen het wat Adam moes doen maar nie kon volbring nie. Sy gehoorsaamheid word aan gelowiges toegereken. Paulus sluit af deur te sê dat die wet bygekom het sodat die oortreding meer sou word. 20. Die wet was nooit bedoel om die mens te red nie; dit openbaar die diepte van ons sonde. Die wet wys vir ons hoe ver ons van God afgedwaal het en dryf ons na Christus toe. En dan volg een van die heerlikste uitsprake in die Skrif: "hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword." 21. Dit beteken nie dat God die sonde gering ag nie. Inteendeel, die kruis wys hoe ernstig God die sonde opneem. Maar dit beteken dat geen sonde groter is as Christus se verlossingswerk nie. Sy genade is altyd groter as ons skuld. Sy gehoorsaamheid is sterker as Adam se ongehoorsaamheid. Sy lewe is magtiger as die dood. 22. Daarom rus ons hoop nie op onsself nie. As ons na Adam kyk, sien ons ons eie mislukking. Maar as ons na Christus kyk, sien ons ons volmaakte Verlosser. Hy is die laaste Adam, die Een wat deur sy aktiewe en passiewe gehoorsaamheid volkome versoening bewerk het. In Hom is daar geen veroordeling nie, maar volle regverdiging; geen dood nie, maar die ewige lewe. Aan God al die eer!