Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Tim 1: 3 - 11 Ek lees in die Skipper ‘n getuienis van iemand wat skryf dat sy te besig was, haar lewe was oorvol, sy het nie tyd vir ekstra dinge nie. Toe ontdek sy hoe die seilboot by haar hawe invaar en sy besef, almal is besig. En daar is besige mense wat hulself uitsit vir die Here. Ons leef in besige tye en ons leef in tye waar die druk teen die kerk van Jesus Christus toe neem. In ons land is daar negatiewe berigte in die koerante. En daar is mense wat lou raak en weg raak. In ander lande, self hier in Afrika, word gelowiges vermoor oor hul in Jesus glo. Paulus se tyd was ook so. Paulus het seer kry geken. Op sy dag het hy dit uitgedeel maar ook baie meer kere was hy aan die ontvangkant gewees. En dit net omdat Hy in Jesus geglo het en vir ander van Jesus vertel het. Hoeka sit hy by die skryf van hierdie brief weer in die tronk oor sy geloof. Timoteus het onder Paulus gewerk. En met Paulus in hegtenis geneem en in die tronk gestop voel Timoteus die druk erg. Hy dreig om te knak en handdoek in te gooi. Paulus herinner hom nou aan ‘n klomp feite oor sy lewe. Paulus moedig vir Timoteus aan om weer sy geloof soos ‘n vuur weer aan te blaas. Paulus skryf dinge soos: God se Gees maak ons tog nie lafhartig nie. Die Heilige Gees vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Maw Timoteus, jy is nie so alleen soos jy dink nie. God is by jou. Die Heilige Gees werk in jou en met jou. Kom ek verduidelik met ‘n storie. Iets wat regtig gebeur het. 1. Voltooi jou gestuur wees. Mexico City 1968. Dit is die Olimpiese Spele. Die afsluiting-seremonie was pas afgehandel. Die toeskouers en die atlete was besig om hulle goedjies bymekaar te kry om die stadium te verlaat. Toe vra die aankondiger dat hulle asseblief net weer moet gaan sit. Die mense kon sien dat polisie motorfietse met flitsende blou ligte iemand begelei na die stadium. Wie dit ook al was, hy stadig en swaar beweeg. Dit was die laaste item van daardie Olimpiese Spele. Die aankondiger het gesê dis die laaste atleet van die marathon. Hy moes net sy laaste rondte om die baan klaarmaak. Die ironie was dat almal gedink het die marathon is oor. Die spele ook. Die laaste atleet het al ‘n uur of drie terug klaar gemaak. Die medaljes is klaar oorhandig. Wat gaan aan? Toe hy die stadion binne kom toe kon jy sien hy is vol bloed. John Stephen Akhwari van Tanzanië, het om die baan begin hardloop. Hy het aan die begin van die wedloop lelik geval, sy kop gestamp, sy knie seergemaak en atlete het boonop oor hom gehardloop, voordat hy weer op sy voete kon kom. Maar daar was hy nou, besig om sukkel-sukkel sy wedloop te voltooi. Kyk, die skare het mal gegaan. Hulle het hom toegejuig en aangemoedig. ‘n Mens sou dink hy het die marathon gewen. Toe Akhwari oor die eindstreep is, het hy inmekaargesak. Die mediese beamptes het hom hospitaal toe gevat. Die volgende dag het Akhwari met die media kon praat. Hulle wou weet wat het gebeur. Hoekom het hy aangehou hardloop selfs na sy lelike val. Ek meen, daar is nie ‘n medalje vir klaar maak nie. Sy antwoord? “My country did not send me over 11 000 kilometers to start a race. They sent me over 11,000 kilometers to finish one.” Die storie help my om iets basies van my verhouding met God te verstaan. Jesus het nie Sy lewe aan die kruis opgeoffer om ons sondes se straf te dra net sodat ons geloof op ons goed-om-te-doen-voor-ek-doodgaan-lysie kan afmerk nie. God het jou nie geroep net sodat jy tot geloof kan kom nie. God het jou gered en geroep om aan Hom toe gewy te wees. Om te leef vir ‘n veel groter saak as jyself: Vir Hom! Sodat Sy koninkryk kan kom. God het ons geroep om elkeen ‘n sleutel speler in die koms van Sy koninkryk te wees. 2. Onttrek en bedank is nie ‘n opsie nie. Jou keuse vir God, jou lewe vir God gegee, is net die begin van die pad. Die wegspringpunt. Dis nog lank nie die eindpunt nie. Jy sou nog kon tou opgooi langs die pad. En tou opgooi gebeur as jy vergeet hoekom God jou gered en geroep het. Want dan begin jy vir jouself leef of nog erger … begin jy om bloot te oorleef. Begin jy dink maar my lewe is nutteloos en ek kan nie ‘n verskil maak nie. Dan leef jy ‘n lewe sonder krag. En die voorbeeld wat ander by jou optel … bv wat jou kinders by jou oorerf is: ‘n nuttelose lewe. Sonder krag. Sonder om iets positiefs te verander. God het ons gered en geroep om aan Hom toe gewy te wees. Die doel van al die genade was dat ons kan wees wat God ons van die begin af bedoel het om te wees: God se verteenwoordiger. Iemand wat vir die mense om ons wys hoe God mense verander, red en help. Ons is gered om oa God se liefde teenoor ander te leef. Daarom het God ons elkeen met krag en liefde en selfbeheersing gevul. Selfbeheersing … want op jou tande byt oor wat ander sê en doen, dit gebeur gereeld. Dan moet ons soos God steeds met liefde op die seerkry reageer. 3. God se oë is op jou. Daar is nie ‘n plan B wat God kan inspan as ons faal nie. Of “opslip” nie. Ons is God se plan vir Deneysville en vir waar ons werk en oral beweeg. Ons moet ander na God lei. Ons moet God se lig laat skyn. Ons is verantwoordelik , ek en jy gevul met die Gees wat krag en liefde en selfbeheersing gee, ons moet saam mense inspireer om brandend, vuur warm vir die Here te bly leef. Paulus wil vanoggend met hierdie brief vir jou en my sê: Onthou hoekom jy leef! Onthou hoekom God jou gered het! Virktor Frankl het die Duitse gevangenis kampe oor leef (2de WO) deur ‘n rede te hê, ‘n doel vir sy lewe. Hy het bly hoop op iets groters as hyself toegelaat dat daardie hoop hom deur elke dag dra. Daarmee saam het hy die vraag: Wat is die sin van die lewe vir my?, verander in: Watter sin gee ek aan die lewe? Watter sin / betekenis bring jy na hierdie gemeenskap? Watter nut het jou bekering, het jou geloof en liefde vir Jesus, vir die res van Deneysville? Vanuit hierdie brief, sou ek sê dat Jesus sê: Ek het jou gered en jou geroep om jou aan My toe te wy. Ek het jou gered sodat jy vir My kan leef en My sigbaar kan maak vir alle mense (2 Tim 1:9). Ek het jou gered om jou hele lewe toe te wy aan die doen van goeie dade. Daarvoor het Ek jou bestem. (Efes 2:10) Dis die doel van jou geloof! Nie maar om net weg te spring as gelowige nie maar om die wedloop te voltooi as iemand wat daarop ingestel is om goed te doen waar ook al jy is. Dis hoekom God ons gered en nuut gemaak het: sodat ons goeie dade kan doen. ‘n Verskil in mense se lewens kan gaan maak. Paulus het ‘n mooi beeld: Hy sê, blaas jou geloof soos ‘n vuurtjie weer aan. Raak betrokke. Bid. Bestudeer die Bybel en vra God om vir jou geleenthede uit te wys en op jou pad te bring om Hom te verteenwoordig. As jy potjie maak. En die kole raak min. Dan haal jy nie die pot af nie en laat staan dit eers tot jy weer ‘n vuur het nie. Jy blaas die vuur onder die pot aan. Jou kosmakery gaan aan terwyl jy die vuur aanblaas. Dit is nie vir eers my lewe reg kry en dan sal ek vir die Here skyn nie. Nee. Jy skyn terwyl jy jou geloof weer aanblaas. Jy is lig terwyl jy die vlamme blaas. Die Here het ons nie gered en geroep, sodat ons net kan wegspring nie, of na ons eerste harde val, ophou nie. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toe gewy te wees en die wedloop klaar te maak. Amen.