Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Wanneer ons by Spreuke 31 kom, voel baie vroue sommer klaar moeg nog voordat die teks klaar gelees is. Dit klink amper soos ’n onmoontlike standaard. ’n Vrou wat vroeg opstaan, laat gaan slaap, kos maak, kinders grootmaak, grond koop, ’n besigheid bestuur, armes help, haar man ondersteun, mooi aantrek, wys praat, en dan nog glimlag terwyl sy dit alles doen. Mens wonder amper of hierdie vrou ooit slaap. 2. Vir baie vroue in die 21ste eeu klink Spreuke 31 minder soos inspirasie en meer soos uitputting. En as ’n vrou in die 21ste eeu hierdie gedeelte lees, kan sy maklik moed verloor. Want die moderne vrou leef in ’n wêreld van intense druk. Sy moet suksesvol wees by die werk. Sy moet emosioneel beskikbaar wees vir haar gesin. Sy moet finansieel verantwoordelik wees. Sy moet professioneel presteer. Sy moet haar kinders opvoed. Sy moet haar huwelik laat werk. Sy moet mooi lyk. Sy moet geestelik sterk wees. Sy moet alles kan doen — en dit met ’n glimlag. 3. En vir baie vroue is die werklikheid nog moeiliker. Baie vroue is nie net helpers in hulle huishoudings nie; hulle is broodwinners. Hulle dra die finansiële verantwoordelikheid van kinders, huishoudings, en soms uitgebreide families. Ander dra alleen die las van enkelouerskap. Ander probeer werk en studies kombineer. Ander worstel met die skuldgevoel dat hulle nooit genoeg doen nie—nie by die huis of by die werk nie. 4. Dan lees ons Spreuke 31 en dink: Hoe op aarde is dit moontlik? Maar dalk verstaan ons hierdie teks verkeerd. Spreuke 31 is nie bedoel as ’n uitputtende checklist nie. Dit is nie God se manier om vroue onder skuldgevoel te plaas nie. Spreuke 31 is poësie. Dis ‘n viering van wysheid wat sigbaar word in ’n vrou se lewe. Hierdie teks vra nie: “Doen jy alles?” nie. Dit vra eerder: “Leef jy met wysheid, integriteit en Godsvrees binne jou unieke roeping?” Vers 30 gee vir ons die sleutel tot die hele gedeelte: “Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word.” Daar lê die kern. 5. Nie perfekte produktiwiteit nie. Nie uiterlike prestasie nie. Nie ’n Instagram-waardige lewe nie. Maar: “’n vrou wat die Here dien.” Die Spreuke 31-vrou word nie gedefinieer deur hoeveel sy doen nie, maar deur Wie haar hart aan behoort. Die wêreld van vandag meet vroue dikwels aan prestasie. Wat verdien jy? Hoe lyk jy? Hoeveel bereik jy? Hoe suksesvol is jou kinders? Hoe netjies is jou huis? Hoe produktief is jy? Hoeveel followers het jy op Instagram, Bakkiesblad, TIKTOK ens? Maar God meet anders. God kyk nie eerste na CV’s nie. Hy kyk na karakter. Die Spreuke 31-vrou word nie geprys omdat sy perfek is nie. Sy word geprys omdat sy Godvresend is. 6. Ons leef in ’n tyd waar vroue meer rolle as ooit tevore dra. In baie huishoudings werk beide man en vrou bloot omdat een inkomste nie genoeg is nie. Baie vroue werk nie omdat hulle noodwendig kies om te werk nie, maar omdat hulle móét. Die ekonomiese realiteit van ons tyd maak dit vir baie gesinne onmoontlik om anders te funksioneer. 7. Daarom is die moderne vrou dikwels konstant aan die beweeg. Sy gaan werk toe. Sy bestuur kinders. Sy hanteer begrotings. Sy organiseer huishoudings. Sy onthou verjaarsdae, afsprake, skoolprojekte, inkopielyste en emosionele spanning binne die huis. En dikwels is hierdie arbeid onsigbaar. Baie van wat vroue doen, word as vanselfsprekend aanvaar. 8. Die emosionele arbeid van ’n vrou is enorm. Sy hou nie net dinge bymekaar nie; dikwels hou sy mense bymekaar. Sy dra nie net haar eie bekommernisse nie, maar absorbeer ook dié van haar kinders, eggenoot, ouers, kollegas en vriende. Teen hierdie agtergrond moet ons mooi kyk na Spreuke 31. Hierdie vrou is nie passief nie. Sy is nie opgesluit in ’n nou definisie van vrouwees nie. Inteendeel—hier sien ons ’n vrou van ongelooflike kapasiteit. 9. Vers 16 sê: “Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het.” Hier is finansiële besluitneming. Hier is entrepreneurskap. Vers 18 sê: “Sy stel vas of die wins goed is.” Hier is besigheid. Hier is handel. Hier is professionele bekwaamheid. 10. Die Spreuke 31-vrou is nie ’n vrou wat beperk word tot een rol nie. Sy funksioneer op verskillende vlakke van verantwoordelik-heid. Met ander woorde: die Bybel bied nie ’n eng, simplistiese beeld van vrouwees nie. God is nie verras deur die bekwaamheid, intelligensie, leierskap en kapasiteit van vroue nie—Hy het dit geskep. 11. Maar hier is die gevaar van ons tyd. Ons kan maklik hierdie teks lees asof ’n vrou se waarde lê in hoeveel sy vermag. Die wêreld sê: Jy is soveel werd as wat jy produseer. As jy suksesvol is, is jy belangrik. As jy alles regkry, is jy bewonderenswaardig. Maar die evangelie sê iets anders. 12. Jou waarde kom nie uit jou prestasie nie, maar uit jou identiteit in God. Baie vroue leef vandag met konstante skuldgevoel. As ek werk, voel ek skuldig oor my kinders. As ek fokus op my kinders, voel ek skuldig oor my werk. As ek rus, voel ek skuldig omdat ek nie produktief is nie. As ek nie alles kan hanteer nie, voel ek asof ek misluk. 13. Maar God het jou nooit geroep om alles vir almal te wees nie. Selfs die Spreuke 31-vrou is nie ’n oproep tot uitbranding nie. Hierdie teks beskryf karakter, nie perfeksionisme nie. Dit beskryf wysheid, nie uitputting nie. Dit beskryf roeping, nie selfvernietiging nie. 14. ’n Vrou se waarde lê nie daarin dat sy nooit hulp nodig het nie. Baie vroue glo hulle moet sterk wees deur altyd alles self te dra. Maar selfs Jesus het mense toegelaat om Hom te dien, te ondersteun en te help. Sterkte beteken nie onafhanklikheid van almal nie. Ware sterkte is dikwels die nederigheid om te erken: Ek kan nie alles alleen doen nie. 14. Vers 25 sê: “Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid.” Wat ’n beeld. Nie net uiterlike versiering nie. Sterkte. Eer. Karakter. Innerlike stabiliteit. In ’n wêreld wat vroue dikwels omvorm tot voorkoms, ouderdom, liggaamsbeeld en aanvaarding, herinner hierdie teks ons dat ware skoonheid dieper lê. 15. Vers 30 sê: “Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie;.” Hoe bevrydend is dit nie? Die wêreld plaas enorme druk op vroue om jonk, aantreklik en perfek te lyk. Sosiale media versterk hierdie druk. DIS hoe ‘n suksesvolle vrou moet lyk, se die media. En daarom voel baie vroue konstant dat hulle nie genoeg is nie. Nie mooi genoeg nie. Nie maer genoeg nie. Nie stylvol genoeg nie. Nie suksesvol genoeg nie. Maar God kyk anders. 16. God meet nie jou waarde soos die Huisgenoot of Sarie dit doen nie. Die belangrikste kenmerk van hierdie vrou in Spr 31 is nie haar voorkoms of selfs haar prestasies nie. Dit is dat sy die Here dien. Dat sy haar lewe rondom God orden. Om jou identiteit in Hom te vind. Om te leef vanuit Sy waarheid eerder as die wêreld se geraas. ’n Spreuke 31-vrou is nie noodwendig die vrou wat alles perfek doen nie. Sy is die vrou wat haar lewe aan God onderwerp. Selfs in haar chaos. Selfs in haar moegheid. Selfs in haar onvolmaaktheid. 17. Vers 20 sê: “Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.” Dit is merkwaardig. Te midde van al haar verantwoordelikhede het sy steeds ruimte vir ander. Nie omdat sy onbeperkte energie het nie. Maar omdat wysheid ook medelye insluit. Een van die groot uitdagings van die 21ste eeu is emosionele uitputting. Baie vroue leef in survival mode. Daar is min tyd vir stilte, rus of refleksie. En tog roep God vroue nie net tot oorlewing nie, maar tot betekenisvolle lewe. 18. Dit beteken nie jy moet almal red nie. Dit beteken nie jy moet jouself uitbrand in diens van ander nie. Maar dit beteken wel dat ’n goddelike lewe altyd ruimte maak vir liefde. ’n Spreuke 31-vrou leef nie net vir haar eie agenda nie. Sy onthou dat haar lewe deel is van God se groter verhaal. 19. Maar Spr 31 het nie die manne vergeet nie! Vers 31 sê: “Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.” Hierdie teks eindig met erkenning. Met eer. Met waardering. Dit is belangrik. Want baie vroue gee en gee en gee sonder erkenning. Hulle werk word verwag, maar nie altyd waardeer nie. Daarom is hierdie teks ook ’n woord aan gesinne, mans, kinders en gemeentes. Sien haar. Waardeer haar. Ondersteun haar. 20. Moenie net voordeel trek uit haar arbeid nie. Eer haar. Die kerk moet ’n plek wees waar vroue nie nóg meer laste ontvang nie, maar ondersteuning vind. Waar vroue nie net as funksionele werkers gesien word nie, maar waar hulle beskou word vir presies dit wat hulle is: as beelddraers van God. Waar hulle nie gereduseer word tot rolle nie, maar erken word as mense met roeping, gawes, beperkings en waardigheid. 21. Hier is dalk die belangrikste waarheid vir vandag. Jy hoef nie alles te wees om getrou te wees nie. Nie elke vrou se lewe lyk dieselfde nie. Nie elke vrou is getroud nie. Nie elke vrou het kinders nie. Nie elke vrou het dieselfde roeping, kapasiteit of omstandighede nie. Die Spr 31-vrou is ’n beeld van wysheid in praktyk. 22. Daarom lyk goddelike vrouwees verskillend in verskillende lewens. Vir een vrou beteken dit om ’n huishouding te bestuur. Vir ’n ander beteken dit om ’n maatskappy te lei. Vir ’n ander beteken dit om kinders alleen groot te maak. Vir ’n ander beteken dit om deur siekte, verlies of trauma steeds aan God vas te hou. Getrouheid aan God lyk nie altyd indrukwekkend nie. 23. Soms lyk dit soos net nog een dag se opstaan. Nog een dag bid. Nog een dag liefhê. Nog een dag aanhou. En God sien dit. Hy sien die moegheid wat niemand anders sien nie. Hy sien die opofferings wat ongesiens bly. Hy sien die laste wat stil gedra word. En Hy vergeet nie. 24. Gemeente, Spreuke 31 is nie ’n hamer om vroue mee te slaan nie. Dis nie ‘n maatstaf vir 21ste-eeu vroue wat ons as mans aan hulle moet voorhou en se: Dis hoe jy moet wees nie!. Dit is ’n loflied. ’n Viering van wat gebeur wanneer ’n vrou haar lewe aan God wy. Nie perfek nie. Nie foutloos nie. Nie sonder moegheid nie. Maar gewortel in wysheid. Gewortel in karakter. Gewortel in God. 25. Aan elke vrou vandag: Jy word nie gemeet aan hoe perfek jy alles balanseer nie. Jy word nie gemeet aan die wêreld se onrealistiese standaarde nie. Jy word nie gemeet aan hoeveel jy kan dra voordat jy breek nie. Jou identiteit lê nie in jou prestasie nie. Jou identiteit lê in God. En wanneer jy jou lewe aan Hom toevertrou, kan jy vrou wees in die 21ste eeu met moed. Nie omdat jy alles onder beheer het nie. Maar omdat jy behoort aan die Een wat jou dra. Mag elke vrou hier hoor: Jy hoef nie alles te wees nie. Jy hoef net getrou te wees aan die God wat jou ken, jou roep, jou toerus en jou liefhet.