Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Dit is vir ons as God se kinders moeilik om aan Jesus Christus, wat God is, heilige God is, as mens te dink. Tog sien ons dat veral die skrywers van die vier evangelies plek-plek baie duidelik na Jesus se mensheid verwys. Nie dat hierdie verwysings sou beteken dat Hy nou nie meer ook God was nie. Die punt is bloot: op sommige plekke word die lewe en werk van Jesus Christus so beskryf dat ons die gesig van sy mensheid kan sien. 2. En helaas, ons onsself in daardie menslike gesig van God kan sien. Maar daarby kom ek ‘n bietjie later. Kom ek noem u eers ‘n paar voorbeelde, dat u kan verstaan wat ek met die menslike gesig van God bedoel. (Let op, die wyse waarop ek die voorbeelde aan u voorhou staan nie presies so in die vertellings waarna ek verwys nie. Ek interpreteer die gedeeltes juis om klem te lê op die menslike sy van die verskillende gebeurtenisse.) 3. Op ‘n keer, lees ons in Johannes 4, het Jesus gesê ‘Ek is moeg’. Gaan kry julle die kos. Ek gaan ‘n rukkie hier sit om te rus. Jesus was moeg. Heel waarskynlik het sy gesig gegloei van die hele dag se gestap in die son, en het sy voete gebrand. Hy wou dus rus. Daarom het Hy by die put van Jakob, by Sigar in Samaria gaan sit. Maar voor Hy sy oë kon sluit, het daar ‘n Samaritaanse vrou aangekom. Sy was alleen. En Jesus het met haar begin praat, wat ‘n vreemde gebruik in daardie tyd was. Hoekom Hy met haar begin praat het weet ons nie. Miskien was dit die donker kringe onder haar oë, of die feit dat sy so gekrom, gebuk onder die harde lewe, geloop het. 4. Op ‘n ander keer, lees ons in Matteus 8:23-27, het Jesus gesê ‘Ek is vaak’. Dit was ‘n lang dag. Die skare was reusagtig groot. So groot dat dit ‘n probleem geword het om op die strand te preek. Jesus het daarom in ‘n skuit geklim om die skare toe te spreek. Nou was dit aand, en Jesus was vaak. Agter in die bootjie het Hy aan die slaap geraak, en so diep geslaap dat die donderweer en die woeste storm wat uitgebreek het, Hom nie eers wakker kon kry nie. Slegs die gille van sy dissipel kon mettertyd tot Hom deurdring. 5. My laaste voorbeeld kom uit Markus 11:14-19. Daar het Jesus gesê ‘Ek is kwaad’. En heel waarskynlik sou ‘n mens dit kon sien ook. Want wat Jesus op die tempelplein voor Hom gesien het, was allesbehalwe die huis van gebed vir alle nasies waartoe die tempel bestem was. Die plek waar die heidense gelowiges moes aanbid het ‘n mark geword. Daarom het Hy tafels van die geldwisselaars en duiweverkopers omgekeer. So het ‘n ontstelde Messias ‘n baie duidelike punt gemaak: Moenie van godsdiens ‘n geldmakery maak nie. 6. Ons is aan die vier evangeliste baie dank verskuldig dat hulle hierdie stukkies menslikheid oor Jesus se lewe in hulle evangelies ingesluit het. Hulle hoef dit seker nie regtig te gedoen het nie, maar hulle het — en, wil ek amper sê — presies op die regte oomblikke. 7. Want net sodra Jesus se Goddelikheid amper ontoeganklik begin raak het, net sodra dit gelyk het of sy heiligheid net te veel vir die mense rondom Hom geword het, net sodra sy volmaaktheid onnavolgbaar begin raak het, is dit asof ‘n stem in die evangelies wil sê: Moenie vergeet nie. Hy was ook mens. Moet dit nooit vergeet nie. Hy was ook, soos jy, van vlees en bloed. 8. Hy was ook mens soos jy mens is. Hy weet ons is maar van stof, Hy weet ons is soms broos en onseker, Hy weet presies hoe ons as mense soms voel. Ja, wil die evangelies vir ons hier sê — wanneer ons so treffend die gesig van Jesus se menslikheid getoon word —en veral nou in hierdie tyd waar ons Hom weer aan die kruis aanskou, die Een tot wie ons bid, Hy ken ons, Hy weet wie en wat ons is. 9. Hy ken ook versoekings. Hy het ook al ontmoedig gevoel. Hy was ook honger, en vaak en moeg. Hy weet hoe ons voel wanneer die wekker afgaan. Wanneer ons kinders almal tegelyk verskillende goed wil hê. Hy knik selfs sy kop begrypend wanneer ons soms woedend bid. Wanneer ons sê ons is alleen, verstoot. Hy is selfs geraak wanneer ons vir Hom sê dat daar meer is om te doen as wat menslik moontlik is. Ook, glo ek, glimlag Hy wanneer ons sê dat ons moeg is, lewensmoeg. 10. Maar ons moet boweal, broers en susters, vir Johannes baie dankbaar wees dat Hy gekies het om vers 28 van sy negentiende hoofstuk in sy evangelie in te sluit. Daar waar Jesus sê: ‘Ek is dors’. 11. Want dit is nie die Christus, die Messias wat hier dors is nie. Dit is die timmerman. Dit is menslike woorde midde-in Jesus se Goddelike lyding. En hoekom is hierdie drie woorde van Jesus so besonders? 12. Want dit is anders. Anders as al die ander woorde wat Hy aan die kruis geuiter het. Jesus se ander woorde aan die kruis, sou ‘n mens kon verwag: ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’ — ‘n boodskap van God wat vergewe. Ons ken dit. Dis tog wie Hy is. ‘Vandag sal jy saam met my in die paradys wees’. Nog ‘n boodskap van vergifnis, gerusstelling en vrede en hoop — ons ken God ook so. Dit klink na iets wat God sou se. Of sy woorde aan sy ma: ‘Daar is jou seun, seun, daar is jou moeder’ — woorde van besorgdheid en omgee. Dit verwag ons van God. Ons ken God so. Of sy woorde ‘Dit is volbring’ — woorde wat sê daar is nou finaal vrede tussen mens en God. Dat alles afgehandel is. Dit klink na iets wat God sou se. 13. Maar nie die woorde ‘Ek is dors’ nie, broers en susters. Dit is woorde wat nie iets vir ander belowe nie, dit is nie woorde wat ander gerusstel nie. Nee, dit is persoonlike woorde, ‘n roukreet, woorde van behoefte, woorde wat ons terugruk tot die besef: maar die Woord het regtig mens geword. En waar Hy hier, stukkend en verbyseld aan ‘n stuk hout hang, is Hy steeds God en mens. 14. Woorde wat wil sê: onthou dat ek ook mens is. En omdat Ek ook mens is, weet ek presies hoe jy soms voel. Ek weet van elke kind wat weggegooi is, al leef sommiges van hulle nog by hulle ouers. Ek weet van die geskeide mens op wie ander ‘n stigma geplaas het. Die lang alleen dae. Die nog langer nagte. ‘n Vergete verjaarsdag, ‘n stil telefoon. Van liefde wat nie terug beantwoord word nie. Of, kom ons sê dit so: Ek weet wat dit is om mens te wees, Ek weet om mens te wees is nie maklik nie. 15. Daarom broers en susters: wanneer daar lyding oor u kom, wanneer u swaarkry, wanneer u stoksielalleen voel, wanneer u soms in die kop al die smarte uit u lewensverhaal op die tafel pak en seer daardeur blaai, weet een ding: die Koning van konings, ons Môrester, die Prins van vrede, God, u en my Verlosser, het mens geword en onder ons kom woon. Ons Meester weet wat dit beteken om ‘n gekruisigde timmerman te wees wat dors geraak het. 16. Daarom weet Hy ook van u en van my. Weet Hy van alles wat ons as mense kan ervaar. Want in dieselfde wêreld waarin u en ek moet lewe, wat ons daagliks in die gesig moet staar, het Hy vir ons die verlossing kom bewerk. Mag dit vir u ‘n troos in elke omstandigheid dat selfs aan die kruis het Jesus vir u en my die boodskap duidelik gemaak: Ek weet hoe jy soms voel. Dis ook hoekom ek hier hang! Amen