Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons almal ken daardie gevoel van verbasing wanneer ons in ‘n laai rondsoek na iets en ewe skielik — en onverwags —op ‘n R50-noot afkom. Of, wanneer ons wat mans is vir ‘n keer daardie baadjie na die somer uit die kas haal, en wanneer ons dit aantrek en in die sakke voel, daardie geldjie daar ontdek waarvan ons al lankal vergeet het. 2. Dieselfde, geliefdes, kan met ‘n mens gebeur wanneer jy die Bybel lees. Soms lees mens ‘n vers vir die soveelste keer oor, en dan, een dag, ewe skielik, lees jy iets in daardie vers raak wat jy al die vorige kere misgelees het. 3. Presies dit, het hierdie week met my gebeur. In die soek na ‘n gepaste gedeelte vir prediking oor die Paasgebeure het ek weer geblaai na Markus 14:28 en 16:7. Oor hierdie twee verse is daar al boeke geskryf, en die inhoud van al daardie boeke is min of meer dieselfde. Hierdie twee verse, waarin Jesus vir sy dissipels sê dat Hy hulle vooruitgaan Galilea toe, sê al hierdie boeke, het net een van twee moontlike betekenisse: of Jesus het vir sy dissipels gesê Hy sal hulle in Galilea ontmoet na sy opstanding, of dat Hy hulle in Galilea sal ontmoet met sy wederkoms. Dit is waaroor die debat gaan. 4. En miskien, omdat ‘n mens al die argumente vir en teen watter mening ook al so in die oog hou wanneer hierdie twee verse gelees word, het iets in hierdie twee verse ons nog altyd ontgaan. Ses woordjies, ses woordjies wat in die een vers staan en nie in die ander een nie. Ses woordjies wat daar staan vir ‘n bepaalde rede. Ses woordjies waarsonder niemand van ons eintlik kan lewe nie. En kom ek verduidelik. 5. In albei die verse, is die basiese gedagte dieselfde. Jesus sê vir die dissipels dat nadat Hy uit die dood opgewek is, dat Hy vir hulle in Galilea sou wag (of die nou na die opstanding of met die wederkoms is, is nou nie hier vir ons vandag ter sake nie). Dit is wat gemeenskaplik aan hierdie twee verse is. 6. Maar daar is ook ‘n punt waarop hierdie twee verse van mekaar verskil. En dit is presies daardie ses woordjies waarvan ek gepraat het: gaan sê vir die dissipels, en in die besonder vir Petrus, Ek gaan hulle vooruit. En in die besonder vir Petrus, dit word gevoeg by 16:7, dit staan nie in 14:28 nie. En die vraag, wanneer ons hierdie verskil raaklees, behoort eenvoudig te wees: hoekom is dit so? 7. Die antwoord is eintlik voor die hand liggend as ons die gebeure tussen die twee gelese gedeeltes lees. Net nadat Jesus in Markus 14:28 vir sy dissipels gesê het dat Hy, nadat Hy opgestaan het, hulle in Galilea sal ontmoet, beloof Petrus met die hand op die hart dat Hy Jesus nooit sal verlaat nie. Wag ‘n bietjie Here, sê hy. Praat maar met die ander hier. Spreek hulle aan. Maar nie ek nie. Nee Here, nie ek nie. Ek, ek wat Petrus is, sal U nooit verlaat nie. 8. Versigtig Petrus, antwoord die Here hom dan. Wees versigtig wat jy sê en beloof. Jy gaan my, nog voor hierdie nag wat kom verby is, nie minder as drie keer verloën nie. Waarop Petrus nie met net ‘n bietjie bravade terug antwoord: Lyk my nie U verstaan nie Here. Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie! 9. Ons almal weet wat tussen Markus 14:28 en Markus 16:7 gebeur het. Die Here se woorde het waar geword. Petrus se beloftes het onwaar geword. Hy het die Here verloën. Hy het sy kans gehad, maar hy het sy kans verspeel. 10. En wanneer die Engel met Maria praat was dit amper asof die hemel self pause druk en sê: “Maak seker Petrus hoor dit ook… hy dink dalk dis nie meer vir hom nie.” Want Petrus het gefaal. Grootliks. Openlik. Dis amper ironies: Die man wat op water geloop het… struikel oor ‘n vraag van ‘n diensmeisie. Drie keer het hy gesê: “Ek ken Hom nie.” En tog… die Engel noem sy naam. 11. Jesus het geweet hoe Petrus na sy verloëning moes gevoel het. “Ek het te ver gegaan.” “Ek het te veel gesê.” “Ek het te lank weggebly.” Petrus het waarskynlik gedink: “Jesus se storie gaan aan… maar sonder my.” Maar Jesus skryf hom nie af nie. Toe kom die opstanding. Die graf is leeg. En die eerste boodskap wat uitgaan… bevat ‘n naam: “En se in die besonder vir Petrus.” Dis genade in ses woorde. Jesus sê basies: “Maak seker hy weet… hy is nog deel van die storie.” Nie: “Gaan sê vir die dissipels… behalwe Petrus.” Nie: “Gaan sê vir die getroues…” Nee. “En vir Petrus.” Sê vir Petrus dat een mislukking nie van ‘n mens ‘n misoes maak nie. 12. Daarom, gaan sê vir die dissipels, en in die besonder vir Petrus, die Here het opgestaan, en Hy wag vir julle in Galilea. Petrus kan ook maar kom. Hy mag ook maar kom. Hy moet ook kom. Woorde van gerusstelling, woorde wat iets sê van die blye evangelie, maar bo alles, woorde wat sê: by God is daar altyd ‘n tweede kans. Want gaan sê vir Petrus, hy wat so met hart en mond belowe het, wat so seker van homself was, wat toe aan die einde niks gedoen het wat hy belowe het nie, gaan sê ook vir hom: Jy kan ook maar kom Petrus, ook jy is welkom. Ek wag ook vir jou! 13. Hierdie boodskap dat die evangelie van Jesus Christus aan ons altyd weer ‘n tweede (en derde en vierde) kans bied, is anders, so anders as vandag se wêreld. Want in vandag se wêreld is daar nie baie tweede kanse nie. Vra maar die man wat gepakketteer is. Die een wat op pensioen gegaan het. Vra maar die persoon wat by die onderhoud vir werk was, en as tweede beste beoordeel is. Vra maar die kolwer wat op 99 na daardie bal ver buite die wegpen gaan proe het, hy sal jou antwoord terwyl hy onder die stort staan, ja, vra maar die vleuel wat reg voor die doellyn die wendrie verbrou het deur aan te slaan, hy sal jou antwoord terwyl die ander span die bal by die skrum ingooi. 14. Dink maar mooi, daar is baie dikwels nie in ons tyd ‘n tweede kans nie. Deesdae is dit meer ‘n geval van ‘dit is nou of nooit’, ‘ons duld nie onbevoegde mense hier nie’, of ‘onthou, jy het net een kans’, ‘jy moet bereid was om hard te wees om iewers te kom’, ‘moenie sleg voel nie, min mense bereik die hoogste sport’, en selfs ‘net die sterkstes oorleef’. 15. Gelukkig is dit alleen so in die wêreld, en, kom ons sê maar, in ‘n wêreld wat ons self geskep het. ‘n Wêreld met ons reëls. God se wêreld, het egter sy eie reëls. Ander reëls. En een daarvan is: by God het jy ‘n tweede kans. Gaan sê vir Piet, gaan sê vir Jan, gaan sê vir Susan, ek wag vir hulle. Gaan sê vir Petrus hy mag weer kom kolf. 16. Hier is die waarheid: Ons almal het ‘n “Petrus-oomblik.” ‘n Oomblik waar ons stilgebly het toe ons moes praat. ‘n Oomblik waar ons gekies het vir gemak bo gehoorsaamheid. Maar Markus 16:7 sê: Jesus se storie met jou eindig nie by jou swakste oomblik nie. 17. Wat het Petrus met sy tweede kans gemaak? Gaan lees dit maar gerus in die Johannesevangelie (Joh 21). Hy het, toe hy Jesus op die oewer sien staan het, sy hemp uitgepluk, in die koue see van Galilea gespring, en na Jesus toe gehardloop. Die tweede kans wat Petrus gekry het, het gemaak dat hy die evangelie die hele pad na Rome uitgedra het. Ja, sy tweede kans het gemaak dat hy — soos oorlewering dit het — kop onderstebo in Rome gekruisig is. Omdat hy nie bereid was om Christus weer te verloën nie. Want hy het ‘n tweede kans gekry. 18. Lees die vers weer so: “Gaan sê vir die dissipels… en vir [jou naam].” Dis die evangelie. Jesus het opgestaan. Nie net om sonde te vergewe nie… maar om mense te herstel. Mense soos Petrus. Mense soos ek en jy. 19. Die opstanding van Jesus Christus, hou vir ons as God se kinders dus ‘n belofte en ‘n opdrag in. Die belofte is dat ons, wanneer ons in Christus glo, ons ook eendag sal lewe wanneer ons sterwe, omdat ons saam met Christus gesterwe het toe ons tot geloof in Hom gekom het. Dit is hoe Paulus dit vir ons verduidelik. 20. Die opstanding van Jesus Christus, beteken egter nie net ‘n belofte vir eendag ver vorentoe wanneer ons sterf nie. Nee. Sy opstanding beteken ook opdrag, opdrag vir hier en nou. ‘n Opdrag, wat met ‘n tweede kans, derde, vierde en vyfde kans te make het. 21. ‘n Opdrag wat sê: gaan vandag, gaan begrawe daardie ou mens, daardie ou Piet, Jan of Susan, daardie ou mens wat so geneig is om in vyandskap met God en sy naaste te leef. Staan dan op as nuwe mens, as mens wat God en sy naaste liefhet. En as jy dit gister nie reggekry het — al het jy probeer, of nie so hard probeer nie — doen dit vandag weer. Gaan begrawe weer daardie ou mens, en staan weer op in die nuwe lewe waar Christus besitter en koning van jou lewe is. Hy gee jou ‘n tweede kans. 22. In vandag se lewe, gebeur dit nie elke dag dat ons iemand teëkom wat ons ‘n tweede kans gee nie. En kom ons wees maar eerlik: Ons is ook nie altyd bereid om die wat teen ons oortree tweede kanse te gee nie. In Christus het ons egter so iemand. 23. Daarom: gaan sê vir die dissipels, gaan sê vir Petrus, en gaan sê in die besonder aan elkeen wat vanoggend in die gemeente van Deneysville / Vaal Marine sit, die Here het opgestaan, die Here gaan hulle vooruit, en Hy wag vir hulle. Hy wag dat hulle die ou mens sal begrawe, en sal opstaan as nuwe mense in Christus. Want sy kruis en sy opstanding het dit moontlik gemaak. 24. Hierdie hele week en veral die komende naweek gaan juis oor tweede kanse. ‘n Tweede kans wat Christus vir ons bewerkstellig het. En die vraag wat in die lug bly hang: “Wat gaan jy doen met jou tweede kans hierdie Paastyd?”