Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Wanneer ons die evangelies lees, en in besonder die gedeeltes rondom die kruisiging van Jesus, sien ons dat twee soorte mense deur die kruisdood van Jesus geraak is: hulle wat gekies het om daardeur geraak te word (diegene wat Jesus van die begin af gevolg het soos Maria en die ander vroue), en diegene wat toevallig daardeur geraak is. 2. Onder hulle tel veral die minder bekende karakters in die evangelies, die terloopses, mense soos Malgus, Barabbas, en die Romeinse offisier wat die lyding van Jesus aan die kruis, asook die oomblik van sy dood aanskou het. Aan hierdie drie karakters gaan ons vanoggend afsonderlik aandag gee, om dan so uit te kom by dit wat die kruis van Jesus Christus aan ons doen, of nie doen het nie, tydens die Paasfees wat ons eersdaags gaan vier. 2. Malgus. As slaaf van die hoëpriester het hy bloot sy werk daar in die tuin van Getsemane gaan doen. As hy egter nie so vinnig gekoes het nie, sou hierdie roetine-inhegtenisneming van ‘n sogenaamde opstandeling die laaste taak van sy lewe gewees het. Heel waarskynlik het die fakkels net genoeg lig verskaf sodat hy die swaard kon sien flits het. Hy het sy nek uit die pad van Petrus se swaard geruk, en genadiglik het net sy oor in die slag gebly. Jesus het Petrus aangespreek, Malgus se oor aangeraak, en alles was verby. Die kort gebeurtenis was verby, so vinnig as wat ons dikwels oor en verby dit lees. 3. Dit was egter, geliefdes, nie so vinnig vir Malgus verby nie. Was dit nie vir die bloed die volgende oggend op sy klere nie, sou Malgus seker gedink het dat hy maar net ‘n nare droom gehad het. Daar word vertel dat Malgus later onder die gelowiges in Jerusalem getel het. Ons weet dit nie vir ‘n feit nie. Maar wat ons wel kan weet was dat Malgus van daardie aand af nie minagtend gelag het wanneer mense gepraat het van die Timmerman wat uit die dood opgestaan het nie. Want hy het maar net aan sy gesonde oor gevat en geweet: daardie Man was waarlik die Seun van God. 4. Die gebeure rondom Barabbas se vrylating, geliefdes, moes vir Barabbas seker net so verrassend en vinnig gewees het. Want die een oomblik het hy nog in daardie sel gesit en gewonder watter dag sy teregstelling sou wees, en die volgende oomblik het iemand sy seldeur oopgesluit met die woorde: jy is ‘n vry man, jy mag maar gaan. Hulle gaan die Nasarener in jou plek teregstel. Iemand wat jy nog nooit gesien het, wat niks te make het met al die onreg wat jy gepleeg het nie, gaan jou plek inneem. So, jy kan maar gaan. 5. Sover ons weet, broers en susters, het Barabbas die lewenslyn wat na hom uitgegooi is, met albei hande aangegryp. Heel waarskynlik het hy sy paar besittinkies daar in die tronksel bymekaargeskraap, en homself so gou as moontlik uit die voete gemaak. Sover as moontlik van daardie tronk af. Want kan ons ons indink dat Barabbas sou gesê het: ag nee wat, ek stel nie belang nie, maar dankie in elk geval. Ek sal liewers hier toegesluit sit en wag vir my dag van teregstelling. Nee! Beslis nie! 6. Dan was daar die Romeinse offisier. Al wat hy gedoen het was om te sien hoe Jesus Christus aan daardie kruis gely en gesterf het. Hy het heel waarskynlik Jesus nooit hoor preek nie, nie een van sy gelykenisse aangehoor nie, nooit gesien hoe Hy daar op die Galilese platteland mense gesond gemaak het nie. Hy het heel waarskynlik ook nie aanskou hoe Jesus die brood en vis vermeerder het, of die storm stilgemaak het nie. Nee, al wat Hy gesien het, was hoe hierdie Man gesterf het. Maar dit was al wat vir hom nodig was om te kon uitroep: Waarlik, hierdie Man was onskuldig, waarlik, Hy was die Seun van God! 7. Hierdie drie persone, al was dit nie bewustelik hulle plan nie, was al drie geraak deur die gebeure rondom die kruisdood van Jesus. En nie een van hulle se lewens was daarna dieselfde nie. Die een was genees en het daarom geglo, die ander was vry, en die ander was nie skaam om openlik te bely dat daardie Man aan die kruis God self was nie. 8. En ons geliefdes? Wat van ons? Eersdaags vier ons Paasfees. Lydenstyd is die tyd waarin ons voorberei op Paasfees. Waarin ons kyk na die lyding, sterwe en opstanding van Christus. Dat Hy lewe. Meer nog: as gelowiges bely ons dat Jesus gely het, gekruisig is, en opgestaan het. Wat, as ons werklik eerlik moet wees, doen hierdie waarhede oor ons Verlosser aan ons? Raak die kruis ons nog? 9. Kom ons noem ‘n paar moontlikhede. Barabbas, het ons gesien, het, toe hy gehoor het hy is vry, sy vryheid met ope arms ontvang. Sy geskenk van verlossing het hy aangegryp. Hy het dit nie probeer ontleed, of daaraan getwyfel, of probeer om daarvoor te betaal nie. Nee, hy het dankie gesê en die hasepad gekies. 10. Wat maak ons egter so dikwels met die verlossing deur genade wat ook aan ons aangebied word? Want ook met ons is dit soos dit met Barabbas was: ons sit in die tronk van sonde, in die tronk van verlorenheid, in die tronk van verdoemenis. En die klagstaat teen ons, wat in die hof gelees gaan word, is onmenslik lank. Daar is, en ons weet dit, geen manier, geen advokaat, geen tegniese punt van die wet, wat ons sal help om onskuldig bevind te word nie. Dit is met ons, as dit kom by God, verby. 11. Maar dan kom die boodskap. Jy kan gaan. Die Nasarener gaan in jou plek boet. Jou klagstaat is skoon, jy is vry. En wat maak ons dan so dikwels? Dit is so tragies. Ons ontleed eers hierdie vryspraak, en wonder heimlik of dit regtig waar is dat ons vry is. Al staan die seldeur wawyd oop. Of ons sê: goed, ek aanvaar dit, maar ek kan nie maar net gaan nie. Ek sal so ‘n maand of wat die ander gevangenes oppas, of vir hulle kos maak. Of, laat ek eers vir ‘n maand of twee die tronk elke dag skoonmaak. En as ek voel ek het dit verdien, dan sal ek my vryheid aanvaar. 12. Hoekom is dit vir ons so moeilik geliefdes, om te aanvaar dat ons uit genade gered is? Hoekom is daar altyd in ons een of ander vreemde drang om op God se gratis verlossing te reageer deur wette, moets en moenies, stelsels en regulasies die een na die ander op mekaar te stapel? Dat ons daarmee darem seker kan maak dat ons ons geskenk van verlossing werd sal wees? 13. Hoekom doen ons dit? Die enigste rede waaraan ek kan dink is ons trots. Om genade te aanvaar, beteken in wese om te erken dat jy genade nodig het. En die meeste van ons hou nie daarvan om te hoor dat ons iets kry wat ons nie eintlik verdien nie. Want ons weet: om genade te aanvaar, is om te sê dat ons totaal afhanklik van God is, dat ons uit onsself niks kan doen nie. En daarvan hou ons nie eers ‘n bietjie nie. 14. Maar nie Barabbas nie. Hy het van beter geweet. Hulpeloos in sy dodesel, was hy nie bereid om die opskorting van sy doodsvonnis te weier nie. Hy het dit nie verstaan nie, hy het dit nie verdien nie, maar hy het dit ook nie geweier nie. En daarom het hy sy vryheid aangegryp. Hoekom party van ons kies om in die tronk van verlorenheid te bly terwyl die seldeur wawyd oop is, is daarom ‘n raaisel wat die moeite werd is om oor te dink. 15. Ook, is ons dikwels in ons geloof alles behalwe ‘n Malgus. Wanneer ons in ‘n krisis kom, wanneer ons wanhoop begin beleef, wanneer ons begin twyfel of daar uitkoms gaan wees, word ons so maklik vergeetagtig. Plaas dat ons maar net soos Malgus maak, en spreekwoordelik aan ons gesonde oor vat: waar ons gerus maar kan terugdink aan al daardie kere, toe ons ook krisisse beleef het, God ons uitgered het. God vir ons goed was. God ons omstandighede en harte gesond gemaak het. Hy die eensaamheid weggevat het. Die oplossings vir wat ook al gegee het. Ons kan maar net aan ons voorkop vat en die water onthou. Ons is gedoop. God het beloof dat Hy ons sal versorg, met ons sal wees en ons God sal wees. Ons het nie nodig om hiervoor te werk of hieraan te twyfel nie. 16. Om dan te weet: ek het soos Malgus, die tasbare bewyse dat God my nie hier in die steek sal laat nie. Hy het die dood oorwin, en daarom kan niks my in hierdie skei van sy liefde nie. 17. Wat, ten slotte, broers en susters, het gemaak dat daardie Romeinse offisier bely het dat Jesus wat gesterf het die Seun van God was? Heel waarskynlik het hy raakgesien dat Jesus, in sy donkerste uur van nood, in die diepste punt van sy lyding, nie sy gesig van sy hemelse Vader weggedraai het nie. Inteendeel. Dat Jesus, toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het, gesê het: Vader, in U hande gee Ek my gees oor. U bly my enigste toevlug. 18. Heel waarskynlik het hy gesien dat geloof eers op die harde pad van teenspoed en swaarkry ‘n werklikheid word. Dat die egtheid van iemand se geloof in tye van pyn eers werklik sigbaar word. Want dit is eenvoudig so, broers en susters: geloof is nie op sy helderste sigbaar hier in die erediens, tydens kerkuitstappies of in tye van voorspoed nie. Nee, dit is daar langs die hospitaalbed, in die kankersaal, daar in die begraafplaas by die oop graf van ‘n geliefde, waar geloof die sigbaarste word. 19. Dalk is dit wat hierdie geharde soldaat geroer het. Die kalmte waarmee Jesus gely het. Daardie woorde aan die kruis wat nie van wanhoop en opstand teen God gespreek het nie. Daardie aanvaarding dat sy hemelse Vader in beheer was, dat sy hemelse Vader die doel agter alles verstaan het. 20. Wat, geliefdes, gaan die kruis hierdie Paasfees met u maak? Is ons bereid om eenvoudig te aanvaar dat ons vry mag uitgaan? Is ons bereid om in tye van nood terug te kyk na die pad wat God nog altyd met ons gestap het? Meer nog: gaan ons God deur sy Seun aan die kruis tydens hierdie Paasfees weer so ontmoet dat ons bereid is om ook in alle omstandighede ons geloof te laat blyk? Dat Hy ook in ons lewens waarlik Seun van God sal wees! 21. Glo ons werklik dat ons vry is, soos Barabbas? Glo ons dat God ons werklik aangeraak het, soos Malgus? Glo ons dat God ook in alle omstandighede waarlik die Seun van God is, soos die Romeinse offisier gesien het? 22. Of, gaan ons nog presies dieselfde bly? Dan gaan die kruis van hierdie Pase vir ons niks beteken nie. Dan moet ons ook mooi dink wanneer ons volgende keer saam met die gemeente wil bely dat Jesus gely het, gekruisig is en opgestaan het. Gaan ons werklik steeds in die sel wil sit terwyl die deur wawyd oop is. Gaan ons werklik die wonders wat in ons lewens gebeur eenkant toe skuif en dit nie onthou nie? OF gaan ons werklik op Paassondag die lee graf onthou en onveranderd uitstap? Die keuse is u s’n.