Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Elke keer as ek hierdie gedeelte van die Skrif lees, ruk dit my. Dis eintlik een van die mees ontstellendste oomblikke in die hele Bybel. Jy ken die storie. Jesus is in die Tuin van Getsemane. Hy het sopas drie keer by God gesmeek dat die beker by Hom verby sou gaan. Maar dit was nie deel van God se plan nie. En dan, wanneer hy sy dissipels vir die derde keer moet wakker maak, raak dinge chaoties in Getsemane. ‘n Klomp soldate kom aangestap en een van die dissipels, Judas, begelei hulle. 2. Ons ken nou die res van die verhaal, maar die dissipels wat by Jesus daar in die tuin was, het dit nie geken nie. Hulle sien net die Priesterhoofde, soldate wat tot die tande toe gewapen is en die tempelhoofde vermoedelik saam met ‘n klomp ander mense ook wat hulle nader. 3. En wanneer Jesus vir Judas uitvra of hy Hom verraai met ‘n soen, besef die dissipels wat aan die gang is. En die dissipels, wat nie eens opgelei is as soldate nie, wil by Jesus weet of hulle die soldate met die swaard moet aanval. Maar voordat Jesus enigsins iets kan se, raak Petrus (Johannes noem sy naam) paniekerig, trek ’n swaard en slaan na die slaaf van die hoepriester toe en kap sy oor af. Sy naam was Malgus se Johannes vir ons. En vir hierdie oortreding kon Petrus die doodstraf kry. 4. Die hoepriester se dienaar se oor lê op die grond, net bloed waar jy kyk en ‘n geskree oral. En Jesus stop summier die chaos. Hy reik uit, raak aan die wond, en Malgus se oor is gesond. Net so. Geen bohaai nie, niks nie. Jesus maak net die oor gesond. 5. Jesus stop die ontbranding van die geveg tussen die twee groepe en beantwoord die dissipels se vraag met ’n streng teregwysing. Onthou u nog die dissipels se vraag? “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”. ‘Stop dit!’ – Hou op daarmee!”. Dis Jesus se antwoord. En volgens Johannes se weergawe antwoord Jesus ook sy eie gebed wat Hy in Getsemane gebid het – “Moet ek nie die lydensbeker drink wat die Vader my gegee het nie?” 6. Jesus stel sy wondermag ten toon wanneer Hy die oor van Malgus genees. Maar Hy gebruik nie die genesing vir Homself nie. Sy gevangeneming sal eintlik ’n selfoorgawe wees. Dit bewys Jesus se onskuld, dat sy bediening as Messias nie polities gemotiveerd is nie (2:11). In ‘n doodsbenoude oomblik is Jesus optrede ’n voorbeeld van hoe om teen jou vyande op te tree, om nie na die wapen te gryp nie, maar eerder aan hulle goed te doen (Rom 12:19-20; Matt 5:44-45). 7. Dit is interessant dat al vier die evangelies vertel dat Petrus die hoepriester se slaaf se oor afgekap het, maar dit is slegs Lukas wat vertel van die genesing daarvan. EN as ‘n mediese dokter is dit sekerlik nie vreemd dat hy in die genesing van die oor belang sou stel nie. Sekerlik sou hy nuuskierig gewees het elke keer wat Jesus genesings gedoen het. 8. Dis Jesus laaste wonderwerk voor die kruis, en eerlikwaar, dis nogal vreemd as jy daaroor dink. Hy doen dit nie vir ’n vriend of ’n dissipel of ‘n arm weduwee of ‘n hulpelose sieke nie. Nee, hierdie was die slaaf van die hoepriester, iemand wat as gevolg van sy posisie nie juis die Jode goedgesind was nie. Hy doen dit vir ’n man wat letterlik daar is om te sorg dat Jesus doodgemaak word. 9. En ons wat die evangelies nou ken en baie gelees het weet dat hierdie planne om Jesus om die lewe te bring deur die Fariseers en die Skrifgeleerdes en die Herodiane gevorm is. Dis hulle wat van die begin af ‘n rede gesoek het om Jesus dood te maak. En nou, wanneer die hele plan in werking gestel word is daar geen Fariseer of Skrifgeleerde of godsdienstige leier teenwoordig nie. 10. Maar luister na wat Johannes vir ons se oor die voorval: “Vir wie soek julle?” 5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.” Dis die Romeinse wag hierdie. Elite soldate. En toe Jesus met hulle praat, het hulle teruggedeins en neergeval van angs. 11. Nou staan hierdie selfde soldate ‘n duimbreedte van Hom af en kyk hoe Hy nuwe vel uit niks skep. Hulle staan van aangesig tot aangesig met die rou, ontsagwekkende krag van die Skepper. Sommige van hulle het dalk nog glad nie enige van Jesus se wonderwerke beleef tydens sy bediening nie. Sommige het dalk al. Ons weet nie. Sekerlik sou elkeen van hulle wat daar was teen hierdie tyd al GEWEET het of GEHOOR het dat hierdie man wonders verrig. Maar hierdie groot oomblik speel reg voor hierdie soldate se oë af, ………. 12. En hulle voel NIKS……..absoluut niks. Hulle was glad nie aangeraak deur hierdie skeppende wonderwerk wat voor hulle oe plaasvind nie. Niemand het sy spies laat val nie. Niemand het op sy knieë geval nie. Niemand het gestop om te vra: “Wag ’n bietjie—wie is hierdie Man?” nie. Hulle het net die wonderwerk dopgehou, waarskynlik van die bloed van hul sandale afgevee, en toe die handboeie stywer getrek. Dis vreemd. 13. Ons sê altyd vir onsself: “Here, as U my net ’n teken wil gee—een duidelike wonderwerk—sal ek myself oorgee aan u.” Maar hierdie manne het daar in die tuin van Getsemane ‘n duidelike wonder beleef. Hulle het die ultimate teken gehad. Hulle het fisiese, onweerlegbare bewys gehad van wie Jesus is. Hulle het dag na dag na Hom in die tempel geluister. Hulle het sopas gesien hoe Hy weer ‘n helende wonderwerk voor hulle oe doen. En tog het hulle steeds gekies om Hom te arresteer en na Sy dood te lei. 14. Hoekom? WANT Dit blyk dat wonderwerke nie eintlik harte verander nie. Hulle openbaar net waar jou hart reeds is. Dit is moontlik om reg langs Jesus te staan, Hom te sien beweeg, die stories te hoor, en Hom steeds heeltemal mis—as ons te gefokus is op ons eie “doenlysie”. Daardie soldate was so besig om net “hul werk te doen” dat hulle die feit geïgnoreer het dat die Verbondsgod reg voor hulle staan. 15. Ek dink soms is ons so besig om die WOW oomblikke na te jaag in ons verhouding met God, dat ons die wonders wat reg voor ons oe gebeur mis. Dat ons die klein dingetjies waardeer vir dit wat dit is: ‘n wonder uit die hand van ‘n God wat vir u en my so omgee dat Hy ons hierin laat deel. Elke sonsopkoms, elke kindjie se geboorte, blote genade uit God se hand. En Hy is so genadig dat Hy gelowiges en ongelowiges hierin laat deel. 16. God is nie net te vinde in die groot dinge nie. Die grootste lesse wat die dissipels by Hom geleer het was die tye wanneer Hy met hulle in gelykenisse gepraat het, of die keer teen die hang van die berg toe Hy in die bergpredikasie vir hulle geleer het hoe sy koninkryk werk. Dit was nie in die wonders en tekens wat Hy gedoen het nie. Dit was vir die ongelowiges bedoel om te bewys dat Hy is wie hy beweer Hy is. 17. Maar vir sy kinders het God die wonders eenkant toe geskuif, hulle het by sy voete gesit en na sy stem geluister. Na sy leringe en die gelykenisse wat Hy vertel het. Paulus vat dit so mooi saam in Rom 10: “Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Die geloof kom deur die verkondiging van Christus. Aan die gemeente in Kolossense se Paulus dat hulle tot geloof gekom het “……toe die waarheid, die evangelie, aan hulle verkondig is.” 18. Dit wil blyk dat wonders en tekens nie eens die soldate en skares mense wat Jesus in Getsemane kom arresteer het meer beindruk het nie. Nog minder gaan dit vandag gebeur met al die tegnologie en wetenskap waaraan ons blootgestel word. Maar die evangelie van Jesus het ‘n inherente krag wat nooit sy slag verloor nie. 19. Lukas skryf daaroor in Hand 19 wanneer hy se dat die “Woord van die Here (die evangelie) het sy krag getoon en al hoe verder versprei”. Paulus noem die evangelie van Christus die “Krag van God tot redding vir elkeen wat glo”. Dis hierdie evangelie wat mense oortuig van redding, dis hierdie evangelie wat mense tot sondebesef bring, tot oorgawe aan Christus bring en hulle laat groei in geloof en in ‘n dieper verhouding met Christus. 20. Nie die wonders en tekens wat mense soms so najaag nie. Soms is dit al waaroor gelowiges praat in gesprekke. Die dissipels het wondertekens gedoen om te bevestig dat die boodskap wat hulle bring die waarheid is. Maar dit was die boodskap, die evangelie, wat altyd hierdie wondertekens vergesel het. Want DIS die rede vir verlossing. En hierdie is ‘n KRAGTIGE en dinamiese evangelie aldus Paulus en Lukas. 21. In hierdie sendingmaand moet dit soveel meer ons gebed wees dat God die woorde van die goeie nuus sal laat waar word in die harte van mense wat dit hoor. Tot uitbreiding van sy koninkryk. Wat ons verantwoordelikheid is, is om dit aan mense bekend te maak. En dan vertrou ons God om daardie saad te laat groei. Dat die evangelie sy krag sal toon en dat mense dit sal beleef vir wat dit werklik is: Die grootste wonderwerk ooit!