Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die Olimpiese Spele van 2024 lê nog vars in ons geheue. Weer eens kon mens nie anders as om beïndruk te wees met die omvang en die grootsheid daarvan nie. Net om daar te kan deelneem, is die meeste sportmanne en sportvroue se groot droom. En ek kan dit verstaan: ek dink dit moet iets wonderliks wees om daar, saam met mense van oor die hele wêreld in ‘n volgepakte stadion voor ‘n opgewonde skare te kan deelneem. 2. Nou sê die Bybel vanoggend vir ons dat ons — sonder dat ons dit somtyds besef —elke dag van ons lewe wel aan so ‘n wedloop deelneem. ‘n Wedloop saam met baie ander mense, ‘n wedloop voor ‘n volgepakte skare. Hoor hoe sê Hebreërs 12:1-3. 3. Wat sê hierdie gedeelte vir ons? Ons hardloop elke dag die wedloop van die lewe, en terwyl ons hardloop, het ons ‘n skare geloofsgetuies wat ons aanmoedig. Metafories gesproke natuurlik! Hebreërs 12 gebruik hier ‘n beeld wat in daardie tyd goed bekend was, want ook in die Nuwe Testamentiese tyd was daar al wedlope en toeskouers wat die deelnemers aangemoedig het. Daar was ook al stadions waarin die wedlope gehou is. 4. Ons weet veral van twee wedlope uit daardie tyd. Die eerste was ruiters wat met hulle strydwaens en perde resies gejaag het, en die tweede was die marathon waar die mense dan oor die afstand van 42,2 (bv tussen die dorpie Marathon en Athene met al sy opdraandes en afdraandes) die atlete luidkeels aangemoedig het. Iets wat jaarliks gebeur wanneer die Comrades gehardloop word. 5. Nou sê Hebreërs 11 vir ons dat, wanneer ons die wedloop van die lewe hardloop, daar ‘n klomp mense is wat ons aanmoedig. Nou ons almal weet dat jy tydens so ‘n wedloop waterpunte kry. Daar waar jy so bietjie lafenis kan geniet. Wat meer is, elke waterpunt, waar ‘n mens gou so bietjie stop om ietsie te drink, word beman deur een of ander besonderse mens, geloofshelde, mense van die Bybel, mense soos Noag, Abraham of Moses. En elkeen van hulle het so bietjie raad vir ons om ons aan te moedig en aan te spoor om nie op te hou hardloop nie. 6. En by die heel eerste waterpunt wag ‘n man met die naam Henog ons in. Hoor wat sê Heb 11:5-6 oor Henog: Henog het so voor God geleef, dat God op hom trots was. Hy het so geleef omdat hy geglo het dat God altyd vir hom daar was, en dat God hom altyd met ope arms ontvang het. Daarom het God hom beloon. Henog is weggeneem sonder dat hy gesterf het. 7. En wat is Henog se raad vir ons? Op jou pad deur die lewe, bly naby aan die Here, leef naby aan die Here. Soek die Here se teenwoordigheid in jou lewe. So sal jy sterk bly in jou geloof, en so sal dit altyd vir jou moontlik wees om te doen wat God wil. 8. By die volgende waterpunt wag niemand anders as Noag ons in nie. Wat weet ons van Noag? Toe God vir hom gesê het dat hy ‘n ark moes bou, menslik gesproke ‘n sinnelose opdrag, het Noag ‘n ark gebou. Sy opdrag het hy nie eintlik verstaan nie, maar hy het God gehoorsaam en gebou. En ek kan my maar net indink hoe baie vir hom so in die stilte skelmpies gelag het. Maar wat was die gevolg van Noag se gehoorsaamheid? God het hom en sy gesin gered. 9. Die raad wat Noag ons by hierdie tweede waterpunt gee, klink daarom so: As jy glo in wat jy doen en jy weet jy is binne God se wil, moet nie tou opgooi nie. Hou aan, druk deur, al sê ander wat van jou. Al sê ander jy is nie ‘in’ nie, al dink ander jou kop het jou gelos. Bly getrou aan God en God se Woord. 10. By die derde waterpunt wag Abraham ons in. Van hom sê die Bybel die volgende: Toe God vir Abraham sê ‘trek’, het hy getrek. Al het hy nie eers geweet waarheen hy eintlik trek nie. En toe God vir Abraham sê om Isak te gaan offer, sy enigste seun, dié seun uit wie die beloofde nageslag gebore sou moes word, het Abraham gemaak soos God sê. Want Abraham het geglo dat God sou voorsien. Ek dink dis die moeite werd om Abraham se raad te volg, dink julle nie? 14. En wat is Abraham se raad aan ons? Ja, ek weet God neem ons soms op snaakse paaie in die lewe. Dikwels stuur God ons in ‘n koers in die lewe wat ons nie dink die regte koers kan wees nie. Net so dikwels gebeur daar met ons dinge in die lewe wat ons nie altyd verstaan nie. Onthou egter die les wat ek geleer het: vertrou altyd op God, want Hy weet die beste. Doen soos Hy vra, en jy sal beleef dat God by jou is. 15. Die volgende man wat ons aanmoedig is Moses. Ons ken mos Moses se storie. God het hom geroep om sy volk van die Egiptenare te gaan bevry. En Moses wou nie. Hy het geprotesteer. Maar God het nie na sy verskonings geluister nie. Sê vir die mense, het God vir hom gesê, dit is Ek, die almagtige God wat jou gestuur het. Al dink jy nie jy kan dit doen nie, jy sal kan, want dit is Ek wat jou hierdie opdrag gee. 16. Daarom moedig Moses ons so aan: Vasbyt! Ja, ek weet baie opdraendes lê nog voor, maar God sal jou nie hierdie wedloop laat hardloop het sonder om jou alles te gee wat jy nodig het om dit klaar te maak nie. So sal God jou ook nooit ‘n taak of opdrag in die lewe gee waarvoor Hy jou nie bekwaam sal maak om dit suksesvol af te handel nie. Maar alles gaan nie vanself kom nie. Jy sal maar so bietjie moet vasbyt en harder probeer. Maar jy sal dit maak. Soos die liedjie se : Jy moet net glo dat die Here altyd met jou saamloop, dat Hy orals met jou sal gaan, al voel jy soms of die Here vêr is. 17. En in die doop spring ons weg en ons begin hierdie wedloop saam met God. Gustav en Madison het hierdie wedloop saam begin, Nicole ‘n klomp jare gelede. Die doop is soos die afsitter se geweerskoot met ons verhouding met God wat in alle erns begin. Maar God ken ook mense. En op hierdie pad vorentoe weet God dat ons as mense soms vergeet, dat belangrike dinge ons ontgaan. 18. En steeds in dit het God ons nie alleen gelaat nie. En Hy gee vir ons die heilige Nagmaal. En tydens ons wedloop kan ons nou hardloop met onthou. Ons kan by die nagmaal onthou dat daar ‘n koppie met ‘n kruis was, ons kan onthou dat genade by die doop deel van ons lewens geword het, ons kan onthou dat hierdie selfde genadige God eendag weer sal kom om ons te kom haal. En in die water belowe God ons die dinge wat ons OT ondersteuners op hierdie wedloop ons aan herinner, en in die brood en wyn herinner God ons dat dit ‘n realiteit in ons lewens geword het by die kruis. 19. Is dit nie wonderlik nie? So baie voor ons het die wedloop al suksesvol voltooi. En dit wat hulle gedoen het om dit reg te kry, daardie raad gee hulle nou vir ons. Leef naby aan die Here, sê Henog. Soek die Here se teenwoordigheid in jou lewe. So sal jy sterk bly in jou geloof, en so sal dit altyd vir jou moontlik wees om te doen wat God wil. 20. Glo in wat jy doen, sê Noag, as jy weet jy doen die regte ding, moenie tou opgooi nie. Hou aan, druk deur, al sê ander wat van jou. Vasbyt, sê Moses, al weet jy baie opdraandes lê nog voor. God sal alles gee wat jy nodig het om hierdie wedloop klaar te maak. 20. En dan se die Hebreerskrywer, Gustav en Nicole, terwyl ons hierdie wedloop hardloop met al hierdie ondersteuning, moet ons nooit ons oë van Jesus Christus afhaal nie. Hy is ons voorbeeld. As ons dit alles doen, sal ons nie alleen die wedloop van die lewe met sukses voltooi nie, maar sal God ook eendag van ons almal sê: Ek is trots op julle!