Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons noem hom die Ongelowige Tomas, asof twyfel die ergste ding was wat hy ooit gedoen het. Maar dit is miskien nie heeltemal regverdig nie. Die Bybel skets ’n sagter verhaal van Tomas. Volgens Johannes 11:16 word Tomas ook Didimus genoem. Didimus beteken letterlik “die tweeling”. Dis moontlik dat Tomas ‘n tweelingbroer of -suster gehad het, maar die word nerens in die Skrif genoem nie. 2. Alles wat ons weet oor Tomas vind ons in die evangelie van Johannes. Matt, Markus en Lukas noem hom slegs in die lys van dissipels en se niks verder oor hom nie. En omrede hy in die volksmond bekend geword het as die “Ongelowige Tomas”, het ons hierdie prentjie van hom gevorm dat hy nie so gelowig was soos die ander dissipels nie. Nou die Skrif teken vir ons ‘n prentjie van Tomas as ‘n pessimistiese mens. 3. Hy word die eerste keer genoem in Joh 11:16. Daar staan geskrywe: “Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” En alhoewel dit een vers is gee dit vir ons baie inligting oor Tomas en die mens wat hy was. Kom ons skets net die agtergrond van hierdie teks. Jesus en sy dissipels was in Jerusalem tydens die fees van die tempelwyding (10:22). Hier is hulle in ‘n onderonsie met die Jode wat Hom wou stenig omrede Hy gese het dat Hy die Christus is. 4. Jesus en die dissipels ontglip hulle en gaan na die oorkant van die Jordaan waar Johannes vroeer gedoop het. Nou hierdie is heidense gebied en die baie mense het hier tot geloof in Hom gekom. Dit was seker die mees vrugbaarste tyd in die begin van Jesus se bediening. Mense het tot geloof gekom en Jesus kon vrylik sy koninkryk verkondig sonder die inmenging van die Jode of die Fariseers. 5. Maar toe gebeur iets. Aan die begin van hfst 11 lees ons dat Lazarus sterf. Ons almal ken die verhaal. En Jesus was baie lief vir Lazarus en sy twee susters. En daarom na ‘n ruk se Jesus vir die dissipels dat hulle Betanie toe moet gaan waar Lazarus gesterf het. Die dissipels was buite hulself. In vers 8 van hfst 11 se hulle vir Jesus die volgende: ““Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”. Want Betanie was ongeveer 3km vanaf Jerusalem. 6. Hulle wou nie teruggaan Jerusalem toe nie. Die bediening anderkant die Jordaan was so suksesvol en nou wil Jesus terug Jerusalem toe waar hulle Hom net die anderdag nog wou stenig. Nou was nie ‘n goeie tyd vir ‘n besoek aan Betanie nie. En dit byna binne sig van die tempel af, waar Jesus se grootste vyande was? 7. En wanneer Jesus vir hulle ‘n verduideliking gee van waarom Hy na Betanie toe moet gaan, besluit hulle om Hom te volg. Nou verstaan hulle dat Hy Lazarus moet gaan opwek sodat Hy verheerlik kan word. En dan lees ons in vers 16: “Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” 8. Nou dis nou ‘n baie pessimistiese opmerking dink julle nie so nie? En dis tipies van Thomas. Maar dis eintlik, as mens mooi daaroor dink, ‘n tipe van ‘n “helde pessimisme”. Tomas het niks gesien behalwe disaster nie. Hy was oortuig Jesus was reguit op pad na sy dood toe. Maar as dit is wat Jesus wou doen, wel dan gaan ons maar saam met Hom en sterf maar daar saam met Hom. Mens moet Tomas se moed en bravade bewonder. 9. Dis nie maklik om ‘n pessimis te wees nie. Dis ‘n misrabele manier van leef. ‘n Optimis sou se: “Kom ons gaan, alles sal okay wees.” Maar ‘n pessimis? Jesus gaan doodgemaak word en ons ook maar kom ons gaan dan nou maar. Ten minste het Tomas die moed gehad om steeds lojaal te bly ten spyte van die donkerte wat in sy gedagtes voorgele het. Dit is moed, heldemoed! 10. En dis duidelik dat Tomas nie sonder Jesus wou leef nie. Hy was geweldig toegewyd aan Jesus. Hy was bereid om saam met Jesus te gaan en saam met Hom te sterf. Dis toewyding. 11. Weer sien ons sy pessimime in hfst 14 wanneer Jesus vir die dissipels se dat Hy weggaan om ‘n plek voor te berei. En dan se Jesus dat hulle die plek ken waarheen Hy gaan. Maar Tomas, in sy alewige pessimisme, se vir Jesus: ““Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” 12. In essensie se Tomas “Jesus, U gaan weg. Ons weet nie waarheen U gaan nie. Hoe moet ons nou weet hoe om daar te kom? Miskien sou dit beter gewees het as ons saam met U gesterf het!” Hier was ‘n man wie se verhouding met Jesus so sterk was dat hy te bang was om van Hom geskei te word. Dit was baie erg vir Tomas. En sy ergste vrese het waar geword. Jesus het gesterf, en hy nie! 13. Na sy opstanding het Jesus aan die dissipels verskyn, maar Tomas was nie by hulle nie. Toe die dissipels hom sien se hulle vir Tomas: “Ons het die Here gesien!” (Johannes 20:25). Maar Tomas kon dit nie glo nie. Nie ná die trauma om te sien hoe Jesus sterf nie. Nie ná die hartseer van die Kruis nie. Nie ná die gewig van onbeantwoorde gebede nie. Sy antwoord was een wat twyfel uitbasuin het. 14. Hy het die woorde gesê waarvoor ons hom vandag steeds oordeel : “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Sy antwoord is een van twyfel, een wat se “Ek wil nie weer so seerkry nie”. Maar geliefdes, sy twyfel was nie rebellie nie; sy twyfel was nie opstand nie. Sy twfel was pyn en hartseer. Hy het probeer om te se dat na alles het ek te seer gekry om weer net blindelings te glo. 15. En as ons mooi onthou, na die opstanding van Jesus was dit al die dissipels se reaksie ook. Toe Maria Magdalena vir die dissipels gaan vertel van Jesus se opstanding se Markus in hfst 16 vir ons dat hulle haar nie geglo het nie. En selfs toe die Emmausgangers dit vir die dissipels gaan vertel vgl Markus 16 het hulle dit steeds nie geglo nie. Hulle was maar net so ongelowig op ‘n tyd. 16. En dan, 8 dae later, verskyn Jesus weer aan die dissipels. En Johannes maak ‘n punt daarvan om te se dat Thomas hierdie keer saam met hulle was. So asof Jesus net gewag het vir die regte oomblik waar almal bymekaar is, Tomas ingesluit. 17. Maar let hierop: Jesus het nie aan hom verskyn om hom te beskaam nie. Hy het nie gesê: “Hoe durf jy aan My twyfel?” nie. Hy het Tomas nie weggestoot of met die ander vergelyk nie. In plaas daarvan het Jesus agt dae gewag. Agt dae terwyl Tomas geworstel het. Agt dae terwyl sy geloof gebewe het. Agt dae terwyl hy gewonder het of hy alles misgeloop het. 18. En toe het Jesus gekom—reguit na Tomas toe. Hy het nie na die “sterker” dissipels gegaan nie. Hy het nie diegene gesoek wat reeds geglo het nie. Hy het gekom vir die een wat gesukkel het. Reg voor hom het Jesus gesê: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” (Johannes 20:27) 19. Nie ’n teregwysing nie. ’n Uitnodiging. Nie hard nie. Maar sag. Nie verwerping nie. Aanvaarding. Jesus het Tomas nie berispe omdat hy bewys wou hê nie. Hy het Homself as die bewys aangebied. En Tomas, oorweldig, het gefluister: “My Here en my God!” (Johannes 20:28). Enigiemand wat die Godheid van Jesus bevraagteken kan maar net na Tomas luister. 20. Twyfel het hom nie gediskwalifiseer nie. Afstand het hom nie gediskwalifiseer nie. Eerlikheid het hom nie gediskwalifiseer om ‘n dissipels van Jesus te wees nie. Indien enigiets, het dit Jesus vir hom net nader gebring. Jesus hardloop nie van twyfelaars weg nie; Hy beweeg na hulle toe. Dieselfde Verlosser wat gesê het: “Reik uit jou hand,” het ook gesê: “’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie.” (Jesaja 42:3) 21. Hy ontmoet jou in die vrae, in die verwarring, in die swaarkry, in die oomblikke wanneer geloof dun voel en hoop broos is. Hy sê nie: “Glo harder” nie. Hy se nie jou geloof is te min nie. Hy sê: “Kom nader.” Hy eis nie volmaakte geloof nie; Hy gee volmaakte genade. Daarom, as jy in ’n tydperk is waar sekerheid ver voel en vrae swaar weeg—jy is nie gediskwalifiseer nie. 22. Die Hebreerskrywer se dat Jesus medelye het met ons swakhede (4:15). Hy verstaan ons twyfel. Hy het simpatie met ons onsekerhede. En terwyl ons Thomas se swakheid erken, moet ons ook sy toewyding aan Jesus erken. En Tomas verander in die apostel wat Jesus wil he hy moet wees. ‘n Kort rukkie daarna ontvang hy saam met die ander apostels die HG op Pinksterdag en word hy toegerus vir sy bediening. En soos die ander dissipels gaan verkondig Tomas die evangelie tot aan die eindes van die aarde. 23. Daar is heelwat buite Bybelse getuienis dat Tomas so ver as India die evangelie versprei het. Volgens oorlewering is sy graf gelee naby die lughawe in Chennai, Indie. Hy is volgens oorlewering met ‘n spies deurboor terwyl hy die evangelie verkondig het. Nogal ironies vir iemand wie se twyfel verdwyn het toe hy die merke van die spies in Jesus se sy gesien het. 24. Jesus staan voor jou, net soos Hy voor Tomas gestaan het, en sê: “Kom hierheen. Kom naby. Reik uit na My. Ek is nie bang vir jou vrae nie. Ek wil jou hart hê.” Twyfel is nie die einde van geloof nie. Soms sien ons Jesus baie helderder deur twyfel as ooit tevore.