Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Votum: Lied 266 Ons Vader Seëngroet: Openbaring 1: 4 en 5. Lof en aanbidding: Lied 474 : 1,2,3,4, Skepper God Lied 464 : 1,2 O Heer my God Kinderkerk uit. Gebed: Open ons oë Here. Laat ons sien! Skriflesing: Openbaring 4 Openbaring 4. Kom ons kom vanoggend uit ons koppe uit, … en ons maak ons harte oop … laat die Heilige Gees direk in ons hart in skryf. Kom ons maak onsself oop om iets, Iemand, te beleef. Kom staan by Johannes. Kom ontdek saam met Johannes, Wie het mag en om Wie draai alles regtig. In jou geestes-oog, sien die deur in die hemel oopgaan, eien die stem wat met Johannes praat. Dit is Jesus. Lewend. … as jy vanoggend deur die Heilige Gees meegevoer kon word … en jy kon die troon sien en die Iemand op die troon. Iemand wie se voorkoms moeilik beskryf kan word … Sy voorkoms was soos opal en karneool … dis die beste beskrywing wat Johannes kon vind. En om die troon, hierdie reenboog, ‘n reënboog met die glans van smarag. Alles in Johannes se beskrywing sê: Dit is ander wêrelds. Groots. Verhewe. Aangrypend. En as ek Johannes se woordjie kan leen, “soos”, die woordjie wat hy keer op keer gebruik as hy nie woorde het om presies te beskryf wat hy sien en beleef nie, wel, wat ons hier sien, is “soos niks wat ek het om mee te omskryf nie”. En die heel tyd, dag en nag sonder ophou, sonder om te rus, die stemme van wesens wat sê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Openb. 4:8 (Tjaart speel AGNES DEI 1x deur met oorgawe Gemeente val in FLAM 122 soos ons sit. Wat het ons gesing? Ons het iets groots oor en van God gesing. ‘n Soort van belydenis. Ook nie mense woorde nie, maar eg Bybelse bewondering, Johannes se visioen woorde, woorde van verwondering. Heilig, heilig, heilig … 3x heilig Verlede Sondag het ons nagmaal gevier. En ons harte klop nog warm vir God wat ons van die dood en van oordeel gered het. Ons is jubelend want ons het in brood en wyn kon proe dat Johannes 1:12 ook van ons waar is: Ons is nou kinders van God. En so ook Joh 6:47 waar Jesus self dit so duidelik uitgespel het: Wie in My glo het die ewige lewe.Sy woorde. Jesus self het dit gesê. Jy glo mos. Ek glo Jesus. Ek glo Hom en ek glo in Hom en ek glo wat God oor Jesus gesê het. En as die Here wil gaan ons volgende week oor Hom praat en oor die wonderwerk wat Hy in ons en met ons gedoen het. Nuwe lewe! En ons is dankbaar! Daarom sing ons. Daarom is ons hier. Hoofstuk 4 begin met “Hierna …” Hierna sê kyk wat voor hierdie deel staan. Hier word verder gebou op dit. Wel voor die Hierna is die briewe aan die sewe gemeentes. En veral in die sewende brief, die een aan Laodicea, staan daar net na die harde woorde, ‘n wonderlike uitnodiging: 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. 21 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Revelation 3:20-22 Moet asb nie hierdie lewe van jou losmaak van wat in die hemel gaan gebeur nie. Bly nou, vandag, elke dag getrou aan die Here, dien Hom, eer Hom, aanbid Hom, glo Hom! Want Hy wil jou in Sy hemelse erediens by Hom hê. Daarvoor het Jesus gekom: Om ons te red en ons vry te koop en ons Syne te maak. ‘n Mens vra: Hoekom laat die Here vir Johannes ‘n hemelse erediens sien, God op die troon, net na die briewe aan die gemeentes? In die briewe lees jy van die druk van vervolgings, die uitdagings van vals leraars en afgode diens. Jy lees van swaarkry en hoe rykdom jou kan verblind. Vir gelowiges wat swaartrek en vrae het en vasbyt en getrou aan die Here wil bly, kom die boodskap: Kyk wie is in beheer! Kyk Wie sit op die troon. Kyk Sy grootsheid. Sy almag. Dit is die moeite werd om getrou te bly tot die dood toe. Openbaring 2: 10 en 11; 2:17; 2:26 – 28; 3:5, 12. Jy hoor oor en oor byt vas! Bly in geloof by Jesus. En dan in hoofstuk 4 en 5, trek Hy die gordyn so effe oop en laat ons God en Sy Seun, sien regeer in al hul glorie. Maw kyk met Wie het ons te make. Sien raak vir wie ons kom dankie sê het. Kry nuwe respek, ontsag, ‘n heilige eerbied vir God en Sy keuse om ons aan te neem as Sy kinders. Die nagmaal het dit onderstreep: Ons is deur die bloed van die Lam gered. Daarom is ons nou kinders van die Almagtige God. Johannes skryf dit sommer ‘n paar keer hier in Openbaring: Ons is gered deur die bloed van God se offer Lam, Jesus. Die wit klere in oa Openbaring 7 is sondige lewens wat skoon gewas is in die bloed van die Lam. Dit is wat die Here met die nagmaal wou sê. Matteus 26: 27 27 Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Matt 26:27-28 Ja, ook ter vergewing van jou sondes. En nou, kom stamel ons ons dankies en ons verwondering uit aan hierdie groot heilige God wat onheilige mense soos ons deur die bloed van Sy Seun red. In Openbaring 4 is al die lof en aanbidding tot eer van God. Die ganse skepping is hier neergebuig in aanbidding van die Enigste God, die Lewende. Die altyd orals teenwoordige God, ons Vader en Skepper. Dit is ons Redder, die Here Jesus wat met Johannes praat. In hoofstuk 5 sien ons Hom as die Leeu maar ook as die Lam. Die Heilige Gees is verteenwoordig in die sewe vuurfakkels rondom die troon. Ons sien saam met Johannes die Skeppergod wat op die troon sit in onuitspreeklike heerlikheid. Ons hoor van die weerligstrale, donderslae en dreunings. Vreesaanjaend. En vanoggend kan ook ons sien dat die Troon van God is die middelpunt van alles in die hemel. En ook die middelpunt van alles op die aarde. Alles in die heelal. Soos die son die middelpunt van ons sonnestelsel is, so is God die Een om Wie alles draai. Alles draai om God. Alles aanbid Hom. Alles word deur Hom bepaal. Alles, ook ek en jy, moet om God draai. Die beeld van die troon sê: God regeer. Net God. Vergeet maar die pogings van keisers en konings hier op die aarde. Hulle prober so hard om hulself te laat geld. Hulle dink hulle is iets met hulle paleise en goed. En dan is daar God. En eintlik is God al wat werklik is. Ewig is. Wat is, en wat was en wat sal wees (vers 8). Rondom die troon van God het sewe vuurfakkels gebrand, die sewe Geeste van God, die simbool van die Heilige Gees. In 'n volgende sirkel na dié vuurfakkels was 'n kristalhelder see van glas. Twee groepe wat God in die hemel aanbid, word beskryf: die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat in 'n volgende sirkel rondom die troon sit. Die vier lewende wesens Die vier lewende wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle het ses vlerke soos die serafs van Jesaja (Jes. 6:2) en is vol oë aan die voor- en agterkant, soos met die gerubs van Esegiël se wiele vol oë (Eseg. 1:18). Hulle stel God se alwetendheid (oë) en alomteenwoordigheid (vlerke) voor in die hele skepping (Du Rand, A-Z). Hulle verteenwoordig die hele skepping. Die Joodse rabbi's het gesê dit stel die edelste (leeu), die sterkste (bul), die slimste (mens) en die vinnigste (arend) in die skepping voor. Ander weer sê die leeu is die simbool van die wilde diere, die bul as simbool van die mak diere, die mens as simbool van die mensdom en die arend as simbool van die voëls in die lug. Rondom God se troon is die 24 trone van die ouderlinge. Dit is hier 'n simboliese getal vir die 12 aartsvaders van die OT stamme en die 12 apostels van die NT. Hulle verteenwoordig die hele volk van God, in die ou bedeling/verbond, sowel as in die nuwe bedeling/verbond. Die aanbidding is non-stop. "sonder om te rus" … "dag en nag", d.w.s. 24 uur elke dag. “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Openbaring 4:8 So ook die 24 ouderlinge. En ons moet besef hoe groot is ons God. En dat die hoof doel van ook jou en my leweties is, is om God te aanbid en te loof. Dit moet alles kleur wat ons doen, dag en nag, vir altyd, eintlik sonder ophou. 11 “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.” Openbaring 4:11 Daar is geleentheid om God te aanbid. Gebed Kollekte Slotlied: FLAM 21: 1, 2, 3 In die hemel is die Heer. Seën.