Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons het gisteraand gese dat ons vanaand na die tweede olifant in die vertrek gaan kyk en dit wat baie kere in die Gereformeerde kerke ontwyk word, ook gedurende Pinkster. Ons gaan vanaand gesels oor die Spreek in Tale soos dit in 1 Kor 12-14 opgeteken is as deel van die gawes van die Gees. Waarom kom dit nie in ons kerk voor nie? 2. Spreek, bid en sing in tale word deur Paulus in 1 Korintiërs 12-14 behandel. Dit was deel van die gawes van die Gees. Mis ons dan hierdie gawe omrede dit nie in ons kerke gebeur nie? Ons kan nie net ‘n halwe Gees he nie en ons het tog dieselfde Gees as die beoefenaars van hierdie gawe. 3. Maar dit is soos altyd belangrik om kennis te neem van die omstandighede van die ontvangers aan wie Paulus sy brief rig. In hierdie geval is dit een van die oudste gemeentes nl die eerste gemeente in Korinte. 4. Die teks moet gesien word teen die heidense agtergrond en omgewing van die gemeente in Korinte. Paulus het hierdie gemeente op sy tweede sendingreis gestig. Hy het 18 maande daar spandeer en hulle geleer. Toe Paulus vertrek het daar valse leraars gekom en begin preek. ‘n Paar jaar na Paulus se vertrek is die gemeente in geestelike en morele chaos gedompel. 5. Daarom dat Paulus se eerste brief in totaliteit gewy is aan die probleme binne die gemeente. Onderlinge struwelinge het voorgekom, persoonlikhede het gebots, “clicks” is gevorm, op morele vlak is enigiets toegelaat, die vleeslike het swaarder geweeg as die geestelike. Seksuele losbandigheid het geseevier, perversie, owerspel is verdra en metarialisme het begin intree. 6. Gemeentelede het mekaar in wereldse howe gedagvaar, die apostels se gesag is in twyfel getrek. Hulle Vryheid van die wet is misbruik en die nagmaal is goedkoop gemaak. En bo dit alles is die geestelike gawes misbruik. Hierdie was een korrupte kerk. Hulle het al die gawes gehad maar nie ‘n idee gehad van hoe dit funksioneer binne die gemeente nie. En dit was waar van veral die spreek in tale. 7. Van die ou tyd af het geesdrywery en opsweping van die gees onder die Grieke voorgekom, veral by sekere godsdienstige feeste (12:2). Paulus herinner hulle daaraan in hfst 12:2: “Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is.” Die gemeente wat uit hierdie heidense tradisie gestam het, het vanselfsprekend ‘n hoë waarde geheg aan besondere uitings van die Gees. 8. Die gevaar het egter ontstaan dat hulle nie goed onderskei het tussen heidense geesdrywery en die werkinge van die Heilige Gees nie. Dit het veral voorgekom dat hulle die spreek in tale hoogskat as ‘n bewys van die werking van die Gees. Die gevolg was dat wanordelikhede by die erediens voorgekom het. Nou wil Paulus dat hulle ingelig moet wees om te kan onderskei tussen die geeste van die afgode wat nog in hulle ou gewoontes deurwerk, en die Heilige Gees wat in hulle werk (12:1). “Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees.” 9. En Paulus gaan verder deur te se dat die eerste toets is Jesus en die Naam van Jesus. Dié wat Jesus verwerp as die Seun van God wat vir ons sondes gesterf het en uitroep ‘Jesus is ‘n vervloeking’ staan nog onder invloed van die afgode en hulle ou gewoontes. Dié wat gelowig bely ‘Jesus is die Here’ en hulle aan Hom en sy woord onderwerp doen dit onder die leiding van die Heilige Gees (12:3). 10. Sommige kommentare is oortuig dat die tale waarvan in 1 Korintiers 12-14 gepraat word verstaanbare tale is soortgelyk aan dit wat ons van lees in Hand 2. Die verstaanbare tale in Hand 2 word beskryf in die Grieks as beide “dialektos” en “glossa”. In 1 Kor 12-14 word na hierdie tale ook verwys as “glossa”. Die woord “glossa” kan in hedendaagse taal vertaal word met beide ‘n tong (liggaamsdeel) of ‘n taal. Hierdie kommentare wys daarop dat die gemeentes bestaan het uit mense van verskillende taalgroepe soos ons gesien het op Pinksterdag waar mense van 15 verskillende taalgroepe teenwoordig was en tot bekering gekom het. Skielik is gemeentes saamgestel deur mense wat verskillende tale gepraat het. 11. Daarom dat die Gees juis aan die mense in die vroee gemeentes die gawe gegee het om hierdie vreemde tale te kon praat om sodoende te sorg dat hierdie mense die Woord hoor en verstaan binne die eredienste. Maar dit het steeds ook daaroor gegaan dat die evangelie die heidene sou bereik, mense wie se taal die apostels en gelowiges nie kon praat nie. Daarom dat Paulus in 14:22 se dat die gebruik van tale is ‘n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. 12. Daarom ook dat sommiges in die gemeente hierdie vreemde tale van die ander nasies in die eredienste kon praat en aan ander weer die gawes gegee is om dit uit te le vir diegene wat dan NIE die tale sou verstaan nie. MAAR….. ‘n groot probleem word geskep met die interpretasie van hierdie tekste deur die Bybelvertalings wat ons het. 13. Miskien word ons omver gegooi in ons interpretasie van hierdie tekste deur die woorde “ongewone tale en klanke” wat oral voorkom wanneer daar na die spreek in tale verwys word. Spesifiek die 83-vertaling. Ons vind dit ook in Hand 10 en 19. Hierdie foutiewe vertalings het daartoe gelei dat die hedendaagse kerk gedink het dat hierdie tale buitengewone en ongewone tale moes wees, want hier staan dit geskryf. 14. Dis belangrik dat ons weet dat die woord “ongewone tale en klanke” glad nie in een van hierdie gevalle in die Griekse grondtekste voorkom nie. In die Grieks word bloot verwys na “tale”. Dit kan in die OV Bybel gesien word en is die woorde ongewone en klanke verkeerdelik in die 83-vertaling ingesit. In Hand 10:46 word sover gegaan om te se dat die mense gehoor het dat die talesprekers God prys. So die omstanders het geweet wat gese is. Dit verleen baie kredietwaardigheid aan die feit dat hierdie tale waarvan gepraat is wel bekende tale was en nie die babbeltaal was wat ons vandag in kerke onder gelowiges hoor nie. 15. Ander kommentare glo weer dat die spreek in tale waarna Paulus in Korinte verwys wel die babbeltaal is wat ons in so baie kerke vandag teekom. Dit bly ‘n ope vraag hoe ons met sekerheid kan weet of hierdie vreemde woorde wat geuiter word wel die tale is waarvan 1 Kor praat? Daar is tog niemand hier vandag om te bevestig dat die geluide wat geuiter word dieselfde is as wat in die eerste eeuse kerk gebeur het nie. 16. Sommige van die talespreek beoefenaars vandag toon aan dat hierdie gawe ‘n private gebedstaal is, ‘n hemelse taal wat slegs God verstaan, hemelse spraak en dies meer is. Eerstens is daar geen aanduiding iewers in die Skrif dat daar so ‘n tipe taal bestaan wat slegs vir private gebruik is nie. Paulus se ook dat hierdie tale ‘n teken vir die ongelowiges is en nie die gelowiges nie (14:22). As dit dan ‘n private hemelse taal is, hoe kan dit dan die ongelowiges tot voordeel wees. En as dit bloot die brabbeltaal is wat ons vandag in so baie byeenkomste hoor, hoe kan dit die ongelowiges tot voordeel wees? 17. Verder moet ons nie mis dat wanneer Paulus praat oor die spreek in tale in 1 Kor 14, hy in vers 21 die volgende se nie. “Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.” Dit wil voorkom of Paulus benadruk dat die anderstaliges en vreemdes die evangelie sou verkondig. En direk hierna beklemtoon Paulus dat die doel van spreek in tale juis tot die voordeel van die ongelowiges moes wees (12:22). 18. Dit wil lyk asof hy hier verwys na diegene in die gemeente wat die gawe ontvang het om die tale te kan praat van die ander nasies wat saam in die gemeente gedien het en wat natuurlik nie die boodskap van die predikers kon verstaan nie. Verder se Paulus dat daar hoogstens 3 mag wees wat dit praat, elkeen op sy beurt. 19. En daar MOET een wees wat dit uitle. En hou in gedagte dat die woord wat vir uitle gebruik is in die Grieks is die woord “hermeneuo” wat vertaling beteken. Dit word ook so vertaal in Joh 9:7 en Hebr 7:2. Dit is allermins wat ons vandag in die kerk sien. Mense babbel deurmekaar, elkeen op sy of haar eie, niemand le iets uit nie want niemand kan iets uitmaak of verstaan nie. 20. So wat maak ons dan vandag met die Bybelse gawe van die Spreek in ander tale? Hoe regverdig ons dit dat dit nie in die Gereformeerde tradisie voorkom nie? Ons vind die spreek in tale hoofsaaklik by die Pinkster en Charismatiese tradisies en selfs by die meer CHarismatiese Katolieke tradisies. Maar ons het nou gesien dat DIT ook nie tale is waarvan die Skrif praat nie. So, wat maak ons hiermee? 21. Ons moenie vergeet dat Paulus besig is om die gawes van die HG te bespreek in hoofstukke 12, 13 en 14 nie. Ons is geneig om hoofstuk 13 oor die liefde in isolasie te lees en te hanteer. Wat heeltemal verkeerd is aangesien ons dan baie dinge rondom die gawes gaan verloor as ons dit nie in die breer konteks lees nie. In verse 8 en 9 van hoofstuk 13 – die liefde hoofstuk – noem Paulus die spreek in tale in Korinte in een asem met profesie en die gawe van kennis. 22. En in vers 8 en 9 van hfst 13 se Paulus iets baie belangriks oor hierdie drie gawes wat ons heeltemal mislees as ons hieroor praat. Want min mense dink daaraan om in die bekende hoofstuk oor LIEFDE iets raak te sien oor die gawes. Hy se dat hierdie gawes “ten dele” is en tot niet sal gaan sodra die “volledige” gekom het. (v 8 en 9). 23. Die Griekse woord wat hier gebruik word dui op iets wat vanself sal ophou. Lukas gebruik dit wanneer hy verskeie kere wil se dat Jesus “klaar gepraat” het. Ook wanneer hy se dat die wind bedaar het, of opgehou waai het, gebruik hy dieselfde Griekse woord wat Paulus hier gebruik. So Paulus se aan die gemeente in Korinte dat die gawes van profesie, tale en kennis tot niet sal gaan, vanself sal ophou. Die vraag is egter of dit in die huidige bedeling sal ophou en of dit in die hiernamaals eers sal ophou? 24. Enkele kommentare se dan dat wanneer Paulus hier verwys na die volmaakte of volledige, hy hier na die hiernamaals verwys en dat hierdie drie gawes sal ophou wanneer die wederkoms plaasgevind het. Selfs die Bybel in Praktyk se kommentaar dui daarop. Maar daar is ‘n aantal probleme met hierdie redenasie wat nie inpas nie. 25. Eerstens dui die Griekse woord wat hier gebruik word, “Teleios”, nooit op die hiernamaals wanneer dit in die Skrif op ander plekke gebruik word nie. Dit dui op volmaak (Rom 12:2), volwasse (Ef 4:13), volledig (Jak 1:4), maar dit dui nooit op eendag, hiernamaals of die einde nie. 26. Tweedens moet ons die antwoord ook in die breer konteks soek. Paulus skryf in verse 8-10 oor die drie gawes wat tot niet sal gaan, en in vers 13 praat hy van dinge wat sal bly. “En nou bly geloof, hoop en liefde.” Paulus het reeds in vers 8 gese dat die liefde nooit, dws op geen stadium of onder geen omstandighede, tot ‘n einde sal kom nie. Die Grieks wat hier gebruik word dui ook nooit iewers anders in die Bybel op die hiernamaals nie, maar altyd op die hier en nou. Paulus se dat die geloof, hoop en liefde in hierdie bedeling nooit tot niet sal gaan nie. 27. En hy se dit omrede die liefde in hierdie bedeling steeds die kwaad soos hy genoem het in v4-7 moet bestry, ‘n funksie wat nie in die hiernamaals nodig is nie. 28. Derdens moet ons se dat indien Paulus na profesie, tale en kennis verwys het dat sou dit eers in die hiernamaals ophou, sou dit dan ook moet beteken dat geloof, hoop en liefde ook in die hiernamaals sal bly. Ons kan nie se die een het betrekking op die hiernamaals en 4 verse later skielik op die huidige nie. Dis nie Goeie Bybeluitleg nie. 29. Maar waarom sal ons geloof en hoop in die hiernamaals nodig he? Dit gaan nie meer nodig wees nie want dan is ons mos vry van al die dinge waarvoor geloof en hoop juis nou nodig is. Rom 8:24 se “Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien?” Daarom dat 1 Joh 3:2 se dat daar in die hemel nie meer geglo of gehoop word nie, maar gesien word. 30. Vierdens, indien Paulus sou bedoel het dat tale, profesie en kennis in die hiernamaals eers sou verdwyn, waarom het hy net hierdie drie uitgesonder? Paulus verwys na 12 verskillende gawes. Waarom sou hy nou net hierdie 3 uitsonder en se dat hulle sal bly tot die hiernamaals? Daar is geen rede vir dit nie. 31. Maar daar is wel ‘n rede waarom Paulus hierdie 3 gawes sou uitsonder en se dat hulle ten dele is en in hierdie bedeling reeds sal ophou. Hou in gedagte dat hierdie gawes nodig was omrede die eerste gemeentes nie die Skrif gehad het nie. Hulle het nog nie die volledige Woord van God gehad nie en daarom sou die gawes soos profesie, tale en kennis steeds funksioneer want hoe anders sou mense van verskillende tale die volle waarheid van God gehoor het? 32. Maar vandag het ons die volledige Woord van God in verskillende tale sodat elke persoon die evangelie in sy of haar taal kan hoor. En ons het nie meer die gawes van profesie of kennis nodig nie aangesien ons nou die volledige openbaring van God en sy volledige woord tot ons beskikking het. 33. Vyfdens moet ons in gedagte hou dat die brief aan Korinte een van die vroegste briewe was. Die spreek in tale word ook net in die Korinte brief bespreek. Twee latere briewe, Efesiers en Romeine, bespreek die gawes van die Gees in detail en nie een van die twee briewe maak eens melding van die spreek in tale nie. Teen die skryf van hierdie briewe was daar ook reeds gelowiges uit verskillende taalgroepe wat die evangelie verkondig het. 34. Laastens het ons gesien dat geen van die sinskonstruksie in die hele hoofstuk 13 dui op die hiernamaals nie maar alles dui op hierdie bedeling. Wanneer Paulus se dat geloof, hoop en liefde bly, bedoel hy hierdie bedeling omrede ons juis weet dat dit nie in die hiernamaals nodig gaan wees nie. Wanneer hy se dat die gawes van kennis, profesie en tale gaan verdwyn, verwys hy ook na hierdie bedeling en nie die hiernamaals nie. 35. Cleon Rogers skryf dat dit opmerklik is dat die spreek in tale nerens beskryf word deur enige van die kerkvaders nie. Chrysostimus en Augustinus het geskryf dat talespreek oorbodig is en Chrysostimus, wat geleef het vanaf 347-407 nC het geskryf dat talespraak in sy tyd reeds opgehou en verdwyn het. Gedurende die eerste 500 jaar van die kerk se betsaan is die enigste mense wat beweer het dat hulle in tale gepraat het die volgelinge van Montanus. Montanus was reeds voor hierdie aansprake tot ‘n valse leraar verklaar. 36. En alles kom neer op die waarde wat ons aan die Woord van God heg. As ons se dat die gawes van profesie, tale en kennis soos Paulus hulle uitsonder steeds nodig is, beteken dit dat die Bybel soos ons dit ken half of onvolledig is. En sekerlik weet ons hoe die Skrif oor ditself getuig. Ons bely tog dis die volledige, geopenbaarde wil van God. 37. Weereens vra mense hoe kan ons hulle ervaring van talespreek afmaak as niks nie terwyl hulle weet wat hulle ervaar. Ek dink ons het daardie vraag ook gisteraand beantwoord. Ons kan nie goeie Bybeluitleg inruil vir ons ervarings nie. 38. Daarom het u geen rede om soos ‘n tweedeklas Christen te voel as u hierdie dinge sien nie. Ons beoordeel dit deur emosie daaruit te haal en met verantwoordelikheid met die Skrif om te gaan. En so bly ons verseker dat ons in hierdie waarheid sal bly, nie emosies as Bybels beskryf bloot omrede dit reg “voel” nie, maar dat ons ons lewens sal aanpas om by God se woord in te val. Omrede iets reg “voel”, beteken dit nie Altyd dat dit reg Bybels reg IS nie. 39. Ontspan, leef met ywer om die vrug van die Gees in jou lewe te laat posvat, dat DIT in jou lewe sal manifesteer. Baie meer mense is reeds na God toe gelei deur die vrug van die Gees as ongewone tale of klanke.