Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons het gisteraand gekyk na die werk van die HG en ons het gesien dat die HG baie meer in ons lewens betrokke is as wat ons gedink het. 2. Maar wanneer mens na sommige mense luister, sommige kerke besoek en videos op Youtube kyk wonder jy soms of die HG werklik in jou lewe werk. Jy wonder of die HG werklik in ons kerk en gemeente werk. Want die dinge wat jy daar sien gebeur, gebeur dan nie in jou lewe of in ons kerk nie. Mis ons dan die HG? Of mis ons dan die gawes van die Gees in ons lewens en ons gemeente? Die indruk kan dalk by jou opkom dat jy nie ‘n baie geestelike mens is nie want hierdie dinge manifesteer nie in jou lewe nie. Of die Kerk! 3. Wel, miskien kyk ons op die verkeerde manier daarna. Volgens Paulus is alle gelowiges met die Gees vervul (Rom 8:9, 14). Hy praat dan van die geestelike mens. En in ons Skriflesing vandag, maar ook as u die res van 1 Kor 2 gaan lees, vind jy dat Paulus die geestelike mens teenoor die vleeslike mens stel. Die vleeslike mens ken God nie, hy is ongered en geisoleer in sy menswees. 4. Die geestelike mens daarenteen verstaan die dinge van die Gees en ken God. En volgens 1 Kor 2 en Rom 8 is alle Christene geestelike mense. Hulle is uit die Gees gebore. Ten minste wat ons posisie en status as gelowiges aanbetref. En om geestelik te wees beteken dat die HG in ons woon en dat jy jou deur die Gees van God laat lei. 5. Maar terwyl gelowiges geestelik in posisie en status is, is ons nie altyd geestelik in praktyk nie! MAW ons tree nie altyd baie geestelik op nie. Daarom skryf Paulus in die volgende hoofstuk aan die gelowiges in Korinte dat hy met hulle moet praat soos met wereldse mense en nie mense wat hulle deur die Gees laat lei nie. 6. Hy se vir hulle dat hulle nog werelds optree en dat hulle sukkel om die Woord van God te ontvang. Maar die Korintiers was nie uniek hierin gewees nie. Alle gelowiges sukkel met dieselfde probleem. Alle gelowiges is geestelik want hulle ken God en die HG leef in hulle, maar alle gelowiges tree nie altyd geestelik op nie. Somtyds tree ons baie vleeslik en volgens ons sondige natuur op. 7. ‘n Goeie voorbeeld is Petrus. In Matt 16 herken Petrus Jesus as die Seun van die lewende God. Jesus reageer dadelik deur te se dat Hy Petrus se naam gaan verander van Simon na Petrus wat rots beteken. Maar ‘n paar dae later, nadat Petrus vir Jesus verloen het, nadat Jesus gekruisig is en opgestaan het, lees ons in Joh 21 dat Jesus en Petrus mekaar langs die See van Galilea ontmoet. Dan noem Jesus hom weer Simon, want Petrus het weer opgetree soos sy ou self, soos die mens wat hy was voor hy sy geloof bely het. 8. Selfs na Pinkster het Petrus by geleentheid gesukkel met die vleeslike optrede. In Gal 2 tree hy so verkeerd op dat Paulus hom voor almal en in die openbaar tereg moet wys. En so doen ons almal van tyd tot tyd. Paulus spandeer die hele Rom 6 en 7 aan die gelowiges se stryd wat hulle met die vlees en die vleeslike begeertes het. En dan praat hy met gelowiges wat vervul is met die HG. Maar as jy vanaand minderwaardig voel dat jy miskien nie so “geestelik” is soos jou buurman in die ander kerk of soos die mense wat jy op Youtube sien rondval nie, het God vir jou goeie nuus vanaand. 9. Miskien maak ons die hele ding van kind van God wees soms onnodiglik moeilik vir onsself. Om ‘n geestelike persoon te wees soos Paulus dit beskryf beteken nie dat ons iewers getref moet word met ‘n weerligstraal of een of ander geestelike ervaring moet he nie. En ongelukkig is dit mense se idee van ‘n geestelike volwasse persoon. 10. Geestelikheid beteken eenvoudig om die waarheid van die Woord elke dag van God te ontvang om in jou te bly, en waarna ons dan oomblik vir oomblik in gehoorsaamheid met die HG sal wandel. Paulus se dit in Gal 5:16: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.” (OV). Die woord “wandel” verduidelik dit alles vir ons. Dit verwys na iets wat elke oomblik van die dag moet gebeur. Oomblik vir oomblik. Net 9 verse verder in vers 25 van Gal 5 bevestig Paulus dit weer duidelik: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.” (OV). 11. En in teenstelling met wat ons soms in die kerk dink of verkondig, is die basiese kenmerk van gelowiges nie die gawes van die Gees wat in hom of haar werk of die ervarings wat sulke persone met God het nie. Die belangrikste kenmerk van ‘n Geesvervulde persoon is ‘n diepe bewustheid van sonde. In die Skrif is die mense wat die grootste afsku in hulle sonde gehad het gewoonlik die wat die mees Geesvervuld geleef het. Paulus se dat hy die grootste van alle sondaars is (1 Tim 1:15) Petrus se woorde in Luk 5 aan Jesus is “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” Jesaja se woorde toe God hom roep is “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein,” (Jes 6:5) 12. Geesvervulde mense is mense wat besef dat hulle voortdurend in ‘n stryd teen sonde is. Vir Paulus het ‘n Geesvervulde lewe net een ding beteken: Om soos Jesus te wees. En hy het geweet dat dit ‘n elke dag se wandel met God was, ‘n oomblik vir oomblik lewe saam met Hom en dat ‘n Geesvervulde lewe nie verkry word deur een of ander ervaring of belewenis wat iewers een keer in my lewe gebeur het nie. 13. Ongelukkig wil mense hulle geestelike lewens bou op sulke sogenaamde “geestelike” ervarings, maar wanneer die glans van so ‘n ervaring getaan het soek hulle die volgende, en die volgende, en die volgende. En soms in die proses van soeke na die ekstatiese verloor mense die Skrif en die boodskap van die Skrif. 14. Maar nou kan ons met reg die vraag vra of die gawes van die Gees dan nie die bewys is dat ons met die Gees vervul is nie? Waarom moet ek dan sodanig “Wandel met die Gees?”. Is dit nie genoeg bewys as die gawes in my lewe werksaam is nie? Rigters 14. Simson word deur die Gees van God bemagtig en hy slaan ’n duisend Filistyne dood. As hy die Here se Gees gehad het, sou ons tog verwag dat hy in heiligheid sou groei. Hoe kan hy deur die Gees bemagtig word en gawe verkry en tog geen geduld, nederigheid en selfbeheer hê nie? 15. Maar die Bybel leer dat dit moontlik is om die gawes van die Gees te hê, maar nie die vrug van die Gees nie. In 1 Korintiërs 13 sê Paulus dat dit moontlik is dat ons al die gawes kan he, maar as ons nie die vrug van liefde het nie, dan is hierdie gawes niks werd nie. So kry ons mans en vrouens in die Skrif, soos Simson, wat groot gawes gehad het, maar baie vlak in heiligheid en karakter was. 16. Die gawes van die Heilige Gees kan in ons werk en ons kan mense help en selfs bewegings lei en tog kan ons geestelike lewens ’n wrak wees. Jesus het self by ‘n keer gese dat mense sal spog dat hulle in sy Naam duiwels uitgedryf het en siekes genees het, waarna Hy sal antwoord: “Gaan weg van my af, ek ken julle nie”. 17. Paulus se in 1 Kor 1:7 van dieselfde gemeente in Korinte dat hulle nie aan een enkele genadegawe ontbreek nie. Hulle het al die gawes in die gemeente gehad. Maar terselftertyd het die Korintiers net omtrent elke geestelike probleem gehad wat daar was. Hulle was geestelik in hul posisie en status, maar hulle lewenswyse het die kerk in chaos gedompel. 18. En die Korintiers was nie uniek in hierdie stryd nie. Gelowiges stoei vandag nog met dieselfde probleem. Ons is gered, ons het die HG. Ons het steeds sekere van die gawes maar ons stoei nog steeds in ons geloofslewe. Steeds worstel ons teen die sonde, teen die vleeslike. Ons het die volheid van die Gees, maar nie alle fasette van ons lewens is onder die beheer van die HG nie. 19. Geen geestelike gawe is ‘n waarborg dat ons die stryd teen die vleeslike en die sonde in ons lewens sal wen nie. Die enigste wyse om die stryd teen die sonde te wen is om Paulus se raad te volg: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Gal 5:16). 20. U sien, die strik waarin baie mense trap is om te glo dat ons van ons vleeslike begeertes ontslae gaan raak deur die een of ander ekstatiese ervaring te he wat aan die HG toegeskryf word. Die Skrif is duidelik oor die werk en die taak van die HG. En die HG se werk is nie om mense in die een of ander ekstatiese ervarings of beswymings te laat ingaan, rond te val, aan die lag te gaan of om emosionele ervarings te beleef nie. 21. Die Skrif se die Gees sal ons …… herinner aan wat Jesus gese het, Hy is die Trooster (Joh 14:26), Hy lei ons om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18), Hy oortuig ons van ons sonde (Joh 16:8), Hy maak ons die eiendom van God (Ef 1:13-14), Hy lei ons in die Waarheid (Joh 16:13), Hy tree vir ons in by die Vader (Rom 8:26), Hy rus ons toe om getuies te wees van die evangelie (Hand 1:8), Hy bring die vrug van die Gees voort in ons lewens (Gal 5:22-23), deur die Gees is ons geheilig voor God (1 Kor 6), Hy rus ons toe met die gawes (1 Kor 12:4) en Hy leef binne in ons (1 Kor 3:16). Niks ekstatiese ervarings, belewenisse of gesigte of visoene nie. Wanneer Paulus klaar in hfst 2 van ons teks vir die Korinte verduidelik het hoe die HG in hulle lewens aan die werk is, vertel hy vir hulle dat hulle geestelik onvolwasse is. En hy se vir hulle dat hulle geestelik onvolwasse is, nie omrede hulle nie visioene sien en drome droom en openbarings of ervarings beleef nie, maar omrede hulle OPTREDE daarvan getuig. Daar kom jaloesie onder julle voor, se hy. Korintiers, julle leef nie ‘n Geesvervulde lewe nie! 22. Die enigste manier hoe ons oorwinning oor ons sondige en vleeslike begeertes kan kry is om in die Gees te wandel, in gehoorsaamheid aan die Woord en om elke dag te sterf aan onsself en sonde. Om ‘n rein, skoon lewe voor God te leef. En dis waarmee die Gees ons bystaan. Dis hoe die Gees ons verander om meer en meer gelyk te word aan die beeld van Christus. 23. DIT moet ons droom, ons mikpunt, ons ideaal wees in ons geloofverhouding met God. Ons soeke moet nie wees na bonatuurlike gebeurtenisse nie, maar na ‘n heilige lewe wat deur die HG aan God toegewy is. Dis wat God van ons verwag en dis waarmee die HG ons help.