Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die bestuurders van enige maatskappy se werk is om toe te sien dat die regte beginsels nagestreef word, die regte take verrig word, winste gemaak word, werkers tevrede is en dat nuwe besigheid ontgin word. U sal met my saamstem dat enige besigheid sonder ‘n goeie topbestuur gedoem is tot ‘n mislukking. 2. Die Bybel vertel vir ons dat die hele skepping ook onder die beheer van ‘n uitmuntende topbestuur staan. Ons is nie die slagoffers van noodlot of ‘n reeks van verskeie gebeure nie. Nee, God Drie-Enig staan self aan die hoof van die wereld en die hele skepping. 3. Maar ons is in Pinkstertyd. En Pinkster gaan oor die HG. En die HG is Iemand oor wie daar ongelukkig nie veel in die Gereformeerde kerke gepraat word nie. Of miskien DINK ons dat daar nie veel oor Hom gepraat word nie. Maar soos ons deur die week vorder glo ek dat u sal sien dat die HG baie meer betrokke is in ons as gelowiges se lewens as wat u dalk dink. 4. Nou as ons na die Geloofsbelydenis kyk sien ons dat dit begin met God die Vader, en dan uitbrei op die werke van die Vader. Dat Hy die Skepper van die hemel en die aarde is. Dan praat die belydenis oor Jesus Christus, wie Hy is en wat Hy gedoen het. En dan word die HG so terloops genoem. So in die verbygaan. “Ek glo in die HG.” Net dit. Hierna volg dinge oor die kerk en die samekoms van gelowiges, vergewing van sondes, die opstanding van die gelowiges eendag en die ewige lewe daarna. Maar as ons SO na die Geloofsbelydenis kyk, mis ons iets uiters belangrik. 5. Want ons mag dalk dink dat die HG dalk met die eerste oogopslag net so terloops genoem word. Daar word soms gesê dat in die belydenis van die kerk die Gees verwaarloos word. Maar dis ‘n misverstand. Alles wat na hierdie kort belydenis kom, is sy werk: die kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sonde, die opstanding (ons is deur die HG verseel vir die opstandingsdag Ef 4:30, Rom 8:11 – “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon”), die ewige lewe. Dis alles die werk van die HG. Ek dink soms is dit onkunde wat mense laat se dat die HG in ons geloofsbelydenisse verwaarloos word. En mense se dit omrede hulle nie werklik die werk van die Gees verstaan of ken nie. 6. Maar die vraag is al gereeld vir my gevra of het jy die Gees van God? So onlangs soos verlede week nog het ‘n vroueleraar vir my gese dat iemand vanuit ‘n ander kerk vir haar gevra het of sy seker is dat sy die REGTE HG het. Mense wat glo en verkondig dat jy ‘n tweede ekstatiese ervaring moet he waar jy met die HG gedoop of vervul word. Maar Paulus maak dit eenvoudig. In Rom 8 skryf hy ‘n hele hoofstuk oor ons lewens wat onder beheer van die HG moet wees. Paulus praat in vers 9 met die gelowiges in Rome en se dan die volgende: “9Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit.” (Die Boodskap) 7. Alle gelowiges het die HG. Jy kan nie ‘n gelowige wees en nie die HG he nie. Dis net nie moontlik nie. Dis juis deur die werk van die HG wat ons gelowiges word en deel kry aan die liggaam van Christus. Ons gaan nou-nou hierna kyk. 8. So wanneer ons na ons teks kyk vanaand, gee Paulus vir ons ‘n klompie waarhede oor die HG wat gaan maak dat ons die werk van die HG beter kan verstaan. Die Gees ken vir God Die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (2:10). Dit gaan nie hier oor ‘n oppervlakkige ondersoek nie. Die Gees ondersoek alle dinge. Dit beteken Hy weet alles – selfs die diepste geheimenisse van God. Die Gees se kennis is volmaak, absoluut. Die Gees leer nie deur kursusse by te woon of boeke te lees soos ons doen nie. Sy kennis is ewig en onveranderlik. Paulus wil nie vir ons die metode verduidelik waardeur die Gees alles weet nie. Hy maak ‘n eenvoudige stelling: Die Gees weet alles. Die Gees is God Die Gees wat God ken, is God. Luister na Paulus se argument: Watter mense ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees (kleinletter) van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Paulus sê nie dat die Gees deel van God is nie. Die Gees van God weet alles, want Hy is God. En miskien moet ons op hierdie punt een ding baie duidelik maak. Die HG is nie ‘n krag of ‘n mag wat in gelowiges se lewens aan die werk is nie. Die Gees is nie ‘n iets of ‘n dit nie. Dis nie iets wat net soms van jou besit neem en dan weer iewers heengaan vir ‘n ruk totdat dit jou weer nodig het nie. Die HG is ‘n Persoon. Soos God die Vader en Jesus persone is, vorm die HG die derde Persoon van die drie eenheid. Hy het die karaktereienskappe van ‘n persoon. Hy kan bedroef word, Hy kan teegestaan word, Hy lei, Hy getuig van Jesus, Hy herinner ons aan die dinge wat Jesus gese het, Hy’s die Een wat ons troos, Hy tree vir ons in (Rom 8:27). Dis die karaktereienskappe van ‘n persoon, nie net ‘n onpersoonlike mag of krag nie. Vir die mens om God te ken, moet die Gees dit bekend maak So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Wat beteken dit? As ons enige geestelike kennis van God het, is dit omdat die Gees dit bekend gemaak het. Ons kan baie dinge van God weet, maar dit beteken nie dat ons Hom ken nie. Slegs deur die Gees kan jy God waarlik ken. Ons ken God deur sy selfopenbaring en deur die werk van die Gees. Om God te ken, moet die Gees ons oë oopmaak daarvoor. Deur die Gees verstaan ons genade So weet ons wat God ons uit genade geskenk het (2:12). Paulus ontken die mens se vermoë om vanuit onsself God se gedagtes te verstaan. Sonder die Heilige Gees kan die mens nie geestelike werklikhede raaksien nie. Sonder die Heilige Gees het die mens geen verdediging teen die gees van die wêreld nie. Paulus sê ons het die Gees ontvang sodat ons kan verstaan. Wat kan ons verstaan? Dit wat God ons uit genade geskenk het. In ons wêreld wat so vinnig beweeg, vergeet ons die evangelie van genade. Ware lewe kom deur aan God se genade vas te klou. Dit is die Gees wat vir ons hierdie verstaan van God se genade gee. Die Gees rus boodskappers van die evangelie toe en stuur hulle Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer (2:13). Waarna verwys Paulus hier? Wat is dit wat hy verkondig? Hy het dit reeds in vers 2 genoem: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” Ons praat van die evangelie van genade, nie uit wysheid as gevolg van die mens se slimmigheid en intellek nie, maar deur die wysheid wat die Gees gee. Die Gees verberg Homself vir die trots van die mens Die persoon sonder die Gees aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (2:14). Sonder die Gees verwerp die mens die boodskap van genade. En dis die werk van die HG om blinde oe oop te maak vir die werk van Christus aan die kruis. Daarom dat net die Gees kan blinde oë oopmaak. In vers 2 het Paulus gese dat hy “VERKONDIG” Christus. Dis sy werk, en dis ons werk vandag. Hy het nie gese hy oortuig mense nie, of laat mense van plan verander nie. Dis die HG se werk. Hy, en ons vandag, moet net verkondig. Die Gees openbaar God se genade aan diegene wat in Hom glo Die mens sonder die Gees verstaan nie; die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (2:15). In Jes 11:2 word die HG reeds die Gees genoem wat wysheid en insig gee, wat raad gee en kennis verleen. Dit wat ons van God en Christus weet, weet ons deur die HG. 9. Die beteken nie dat ons nou alles weet wat God weet nie of dat Christene altyd reg is nie. Christene het wel die geestelike persepsie om die God van die evangelie te verstaan en lief te hê. Dit kom deur die Heilige Gees. Maar wanneer dit kom by die werk van die HG is daar iets baie belangrik wat ons deurentyd in gedagte moet hou. Wanneer Paulus in die bekende gedeelte oor die wapenrusting se dat die Woord (Bybel) die swaard van die Gees is, se hy dat die HG altyd in en deur die Woord werk. Hy bring nie nuwe openbarings los van die Bybel nie. God se wil vir die mensdom is genoegsaam in die Skrif bekend gemaak. 10. Deur die Woord help die Gees ons om tussen waarheid en leuens te onderskei. Maar die Gees werk nie op ‘n toweragtige manier deur die Bybel nie. Om God se wil te leer ken deur die HG vra tyd en baie studie van die Woord. Ons moet steeds die Woord en die woorde van God dag en nag oordink. Goeie Bybeluitleg bly steeds die vereistes. Daarom moet ons Altyd groot moeite doen met die regte uitleg van die Woord deur dit versigtig, noukeurig en met die nodige eerbied te lees en te bestudeer. 11. Wanneer ons vervul word met die HG soek mense gewoonlik na die gawes. As hulle gawes sien dan glo hulle eers dat mense met die HG vervul is. Maar dis heeltemal verkeerd. Gawes kan ook “gefake” word, en dit het ek al baie gesien. Wat nie gefake kan word nie is die verandering in ons lewens wanneer die Gees ons lewens oorneem. In Bybeltaal noem ons dit die Vrug van die Gees. Die Skrif se dat die mens aan sy vrug geken word, nie aan sy gawes nie. 12. As die Gees in beheer van ons lewens is kry ons ‘n nuwe lys van prioriteite vir ons lewens. Dan WIL ons laag voor God buig, deurentyd in Sy teenwoordigheid wees, ‘n diep behoefte in ons harte he om gereeld met God te praat, om ons harte in gebed voor Hom uit te stort, Hom te aanbid en oor en oor te dank. Dan hou gebed op om ‘n vraag-en-antwoord sessie te wees. Dis tyd wat ons in ‘n innige verhouding met ‘n lewende God spandeer waar ons leer om al meer te buig voor Hom en in totale afhanklikheid voor Hom te leef. En DIT doen die Heilige Gees in ons lewens.