Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Gister was ons jaarlikse Basaar gewees. In terme van fondsinsameling sekerlik die hoogtepunt van elke jaar. En soos elke jaar was dit weer ‘n groot sukses. Ek wil vir u se as u nie hier was nie het jy ‘n baie lekker saamkuier misgeloop. En ons as gemeente is in ons harte baie diep dankbaar. Dankbaar vir die ondersteuning wat ons gekry het van u as gemeentelede, die gemeenskap en selfs mense wat van ander dorpe gery het om ons basaar by te woon. 2. Maar ons dankbaarheid strek ver verby dit. As reelingskomitee kan ons elke jaar ‘n boek skryf oor hoe ons die hand van die Here in die vooraf reelings vir die basaar sien. Hoe ons elke jaar ‘n skenking om verstaanbare redes verloor net om dan sommer die volgende dag weer ‘n skenking te kry om die een wat ons verloor het mee te vervang. Soms selfs dubbel. 3. En daarom is ons om verskeie redes dankbaar teenoor God. Maar hierdie dankbaarheid strek nie net tot die Basaar nie. Dit gaan veel verder. As ek die mense in die gemeente sien wat so hard werk om God se koninkryk in die klein dingetjies te laat kom hier in Deneysville. Die dames, en die manne wat hulle altyd bystaan, wat swoeg en ure hier deurbring net om bv die klereverkoping te behartig, om vir behoeftiges kos te maak of net op te skep. 4. Die gemeentelede wat die Bybelstudie en Bidure bywoon, mense wat gee sonder dat daar van hulle gevra word, bloot omrede hulle kan, en omrede hulle teenoor God dankbaar is vir die dinge waarmee hulle in hulle lewens geseen is. En dan is daar mense wat nie in die posisie altyd is om te gee nie, maar hulle maak geweldige opofferinge om te arbei is Sy koninkryk. Alles gebore uit ‘n hart van dankbaarheid. 5. Dankbaarheid is ‘n belangrike tema in die Bybel, want God is ‘n God wat gee. God is the fountain of goodness and mercy (Calvyn). God voorsien en ons moet met lof en dankbaarheid reageer. Die Israeliete moes dankoffers gebring het. Die Psalms is vol danksegging: Dan sal ek U in ‘n volle vergadering dank en voor die hele gemeente prys (Psalm 35:18). Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament: “Wees altyd dankbaar … met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere sing” (Kolossense 3:15 – 16). God gee en die mens reageer in dankbaarheid. 6. Maar in ons gebroke wêreld werk dit nie altyd so nie. Mense is dikwels ondankbaar. Ons leef in ‘n verbruikerskultuur, waar ons nie tevrede sal wees voor ons alles het nie. Die gevolg van hierdie benadering is wantroue, stukkende verhoudings, oorlog, honger, ekonomiese ongelykheid, ens. omrede ons nog en nog wil he. 7. Dankbaarheid vereis egter oefening. Ons moet elke dag met woorde van lof begin en eindig. Mettertyd sal ons oral om ons tekens van God se seëninge raaksien. Be thankful for the smallest blessing, and you will deserve to receive greater (Thomas a Kempis). 8. Ons probleem is egter dat ons altyd fokus op dit wat ons nie het nie, wat ons nie kan doen nie – daar waar ons tekort skiet. Dit wat afwesig is, verberg dit wat daar is. Ons fokus meer op ons behoeftes as op ons bates. In ons eie lewens en ook in die gemeente moet ons ophou beklemtoon wat nie daar is nie en eerder fokus of dit wat wel daar is. Miskien is dit omrede ons dink dat ek geregtig is op ‘n beloning as ek iets in God se koninkryk gedoen het. “The reward for work well done is the opportunity to do more.” –Jonas Salk, die uitvinder van die polio druppels 9. Geneeshere het bevind dat om dankie te sê, om die positiewe dinge in jou lewe raak te sien, nie alleen vir jou psige goed is nie, maar ook vir jou liggaam. Navorsers by die Universiteit van Kalifornië het bevind dat dankbaarheid ook jou bloeddruk verlaag. Dankbare mense word nie so gou kwaad nie en is minder negatief. Navorsers by die Cornell Universiteit bevind dat dankbare mense ‘n laer risiko het om fobies, alkoholisme en selfs depressie te ontwikkel. Hulle immuunsisteme is selfs sterker. 10. Maar dankbaarheid moet dan elke dag gebeur. Baie mense kla en sê hulle het niks om voor dankbaar te wees nie – die ekonomie is sleg, ek het my werk verloor … Maar as ons gesond is en omring is deur die mense vir wie ons liefhet, het ons baie om voor dankbaar te wees. 11. In die Gereformeerde tradisie was dit altyd een van die sentrale woorde vir ons houding teenoor God. Gereformeerdes vat die hele evangelie saam as sonde, verlossing, dankbaarheid. Ons dankbaarheid is die paslike reaksie op God se genade. God is die genadige God. 12. Sy genade is nie net onverdiend nie, maar is van wesenlike belang vir ons omdat ons sonder hierdie gesindheid van God verlore sou gewees het. Daarby pas net dankbaarheid met ons hele hart. En dankbaarheid behels oneindig meer as om bloot dankie te se. Dankbaarheid is ‘n lewensdaad van toewyding waardeur ons Hom dank en eer. 13. Sy genade het Hom duur gekos, onvoorstelbaar duur. Wat regtig op die spel was toe die Vader besluit het om die Seun te stuur, en die Seun besluit het om te gaan, sal ons ons moeilik kan indink. As Paulus skryf dat God sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons oorgelewer het (Rom 8:32), bedoel hy ook dat die Vader die Seun moes prysgee en Hom alleen moes laat toe die Seun Hom die nodigste gehad het (aan die kruis!). En dit alles moes God doen. En dit het Hy – én sy Seun – nie vir hul vriende gedoen nie, maar vir hul vyande! – ons. En al het ons net dit gehad, sou dit oor as genoeg rede gewees het om dankbaar te leef. 14. Die Bybel is vol van vreugde en blydskap wat voortvloei uit ‘n dankbare hart. Mense loof die Here omdat hulle bly en dankbaar is. Veral die Psalms ken blydskap wat uit dankbaarheid voortvloei. Dit sal ‘n interessante Bybelstudie wees om na te gaan presies waaroor die Psalmdigters alles die Here voor dankbaar is. 15. Daar is ‘n merkwaardige uitspraak in ons teksPsalm vanoggend: `U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys’ (63:4). Kyk mooi na hierdie woorde want dit se vir ons baie meer as wat op die oog af lyk. As dit die woorde van ‘n Griekse filosoof was in daardie tyd, wat in die onsterflikheid van die siel geglo het, kon ‘n mens dit nog verstaan dat iets vir hom meer werd kan wees as hierdie lewe. 16. Sokrates, een van die voorste Griekse filosowe, het skynbaar inderdaad gedink die dood gaan hom vrymaak van sy liggaam wat sy bewegings so beperk het, sodat sy siel ongehinderd deur die ruimtes kan sweef na die vreugde van die gode. Vir hom was hierdie lewe dus nie so belangrik nie. 17. Maar Jode in die tyd van die OT, het nie in die onsterflikheid van die siel geglo nie en in hierdie tyd toe die digter hierdie Psalm geskryf het nog niks van die opstanding uit die dood geweet nie. Niks was vir hulle belangriker as hierdie lewe nie want daar was volgens hulle nie ‘n lewe hierna nie. Gelowige Jode van daardie vroeë tyd het net van een geleentheid geweet om die Here te geniet en te loof en teenoor Hom dankbaarheid te betoon, en dit was hierdie lewe. 18. En omdat die gemeenskap met Hom meer as alles in hul lewe was, was die dood vir hulle skrikwekkend. `In die doderyk kan niemand U loof nie; geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof’ (Jes 38:18-19). Behalwe vir Dawid, die skrywer van Psalm 63! Vir hom is God se liefde belangriker. 19. Maar dan is dit ‘n vraag of Ps 63:4 regtig sin maak. God is vir Dawid meer werd as enigiets anders. Maar onthou, hy kan God net in hierdie lewe geniet. Dan kan God se liefde mos nie meer werd wees as hierdie lewe nie. Waar wil hy God se liefde geniet as hy hierdie lewe verloor? Streng gesproke is dit ‘n sinlose uitspraak. Maar só is inderdaad baie van ons liefdes-uitsprake. `Ek vreet jou sommer op’ sal ‘n ouer vir haar babatjie sê. 20. Streng gesproke ‘n sinlose uitspraak want dan kan ek haar mos nie meer liefhê nie. Maar wat ‘n verruklike uitspraak. Vers 4 is eintlik ‘n merkwaardige gedagte: niks is vir Dawid belangriker as die gemeenskap met God nie. Die sin van sy lewe is om God te loof en teenoor Hom dankbaar te wees vir alles wat hy het, waarmee hy geseen is. En die sin van jou lewe? 21. Om werklik dankbaar te wees is een van die wonderlikste ervarings in ‘n mens se lewe. Daar is ‘n verskeidenheid dinge waaroor ‘n mens dankbaar kan wees soos as jy ‘n doel bereik het of daar ‘n verrassing op jou pad gekom het. Oomblikke van opregte dankbaarheid is oomblikke waaraan ons wil vasklou. Die tyd moet stilstaan. Maar dankbaarheid is baie broos. Dit breek maklik, en ‘n mens kan dit nie kunsmatig kan fabriseer nie. ‘n Vakansie kan ‘n nagmerrie word in plaas van die groot wegbreek waaroor jy so dankbaar was, bloot omdat persoonlike verhoudings skeefloop. 22. Daarmee het ons die idee ingetrek in ons Westerse lewensbeskouing dat die enigste dinge om voor dankbaar te wees in die lewe in werk en prestasie bestaan, in plaas van om dankbaar te wees om ‘n instrument in God se hande te kan wees. Ons moet wen, en ons is net dankbaar as ons kinders eerste kom. Net om deel te neem is niks om oor dankbaar te wees vir vandag se mense nie. Net as jy wen is jy dankbaar. Net as jy die groot verhoging kry is jy dankbaar, vergeet van die feit dat jy ‘n werk het en ‘n inkomste het. 23. Dankbaarheid moet ‘n alternatiewe lewenshouding wees. Ek is seker as ons gaan stilsit en dink gaan ons wel baie redes kry om voor dankbaar te wees. Selfs hier in die gemeente. Ja, ons het nie die uitspattige kerkgeboue wat so baie ander gemeentes het nie. Maar ons is dankbaar daaroor, want mooi en groot kerkgeboue het nie in die NT bestaan nie en ek kan nerens aflei dat dit Jesus of die dissipels se idee van kerkwees was nie. Elke jaar kry Frans en die FK nog grys hare by, maar aan die einde van elke jaar kan ons met dankbaarheid terugkyk en sien hoe God vir sy gemeente hier gesorg het. 24. Waar wil jy ‘n lekkerder saamkuier en gemeenskap geleentheid kry as by gister se basaar? En selfs al het die basaar nie gebeur nie en ten spyte van alles sou ons steeds dankbaar gewees het omrede ons ou sondige en ongelukkige lewe saam met Christus aan die kruis beëindig is, en dat ons deel het aan sy oorwinningslewe oor die sonde en die dood. Hierdie oortuigings maak van ons vrolike, gelukkige, optimistiese en dankbare mense. Ons het moed en entoesiasme om die uitdagings wat oor ons pad kom in hierdie gemeente, aan te pak. Want hierdie is God se gemeente en hier gaan oor God. 25. As ons God met blydskap loof, is dit ‘n teken dat ons dankbaarheid eg is en nie ‘n aangeleerde plig of ‘n nuwe wet nie. Ons sê vandag baie maklik dankie, dikwels sonder dat ons dit bedoel. In die Bybelse tyd was dit die teenoorgestelde. In die Skrif vind ons 46 verse oor dankbaarheid en almal gaan oor dank aan God. Nie dankie se teenoor mense nie. Mense het nie vir mekaar dankie gesê nie. Hulle het “dankie” geleef. Jy moes jou dankbaarheid met dade bewys en nie net praat nie. Gewoonlik het jy dit gewys deur vir die persoon iets soortgelyks terug te doen of terug te gee as wat hy vir jou gegee het. 26. Mense was dus gedurig in “dankbaarheidskuld” teenoor mekaar. As iemand vir jou geld gee, was jy dus onder die verpligting om dit vir hom op ʼn manier terug te gee, anders was jy nie regtig dankbaar nie. Daarom sê Paulus byvoorbeeld dat ons aan niemand iets moet skuld nie, behalwe om mekaar lief te hê. As jy aan iemand iets anders skuld het daardie persoon ʼn houvas op jou, want jy moet hom terugbetaal. 27. Met God is dit anders. Omdat God so wonderlik en groot is, kan ons nooit alles aan Hom “terugbetaal” nie. Daarom moet ons vir Hom dankie sê. Ons dankie neem die vorm van lof en eer aan wat ons vir Hom gee. Dankie sê is om die grootheid en almag van God te erken en nie daaroor stil te bly nie. Hoe Hy in ons gemeente werk en wat Hy deur die gemeente in die omgewing doen. Nie om te spog nie maar om te getuig van sy grootheid. Maar dan moet ons ook nie vergeet om vir Hom met ons dade ook dankie te sê nie. Die predikante sê baie dat “ons ons lewens” vir die Here moet gee. 28. Wel, wie het vir jou jou lewe gegee? Natuurlik God. As jy dan regtig dankbaar is teenoor Hom, sal jy jou lewe vir Hom “teruggee” deur vir Hom te leef. Of waar kom al jou besittings en eiendom vandaan? Natuurlik het ons daarvoor gewerk, maar op die ou einde is die krag, energie, geleenthede, talente en wat nog alles dinge wat God vir ons gegee het. Daarsonder sou ons niks kon uitrig nie. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan die Here. En as ons Hom dankbaar is daarvoor sal ons ook dit alles tot sy eer gebruik en aanwend. Want opregte dankbaarheid is nie ‘n emosie nie, dis ‘n daad! 29. Vanoggend is ons, soos altyd, baie dankbaar in ons gemeente. Ons is dankbaar teenoor God vir die groot dinge wat Hy hier doen, maar veral vir die klein dingetjies wat hier gebeur. En as gemeente van Deneysville het ons geen ander begeerte as om uit dankbaarheid teenoor Hom so te leef dat dit tot uitbreiding van sy Koninkryk sal wees.