Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Kapernaum was ‘n dorpie met ongeveer 1500 inwoners wat gelee was op die Via Maris. Dit was ‘n handelsroete wat gestrek het van Damaskus na Egipte. Die grootste deel van Jesus se bediening het plaasgevind in en rondom Kapernaum in Galilea. Kapernaum was ook die woonplek van Jesus. Matteus se by geleentheid dat Jesus huistoe gegaan het wanneer Hy na Kapernaum gereis het. En agv sy ligging op hierdie handelsroete het baie mense deur die dorp gereis en woord omtrent Jesus het ander plekke bereik deur hierdie reisigers. 2. En ironies genoeg, as ons dink aan ons teks vanoggend, was Kapernaum een van net drie dorpe wat juis deur Jesus bestraf is as gevolg van hulle gebrek aan geloof. Die ander was Gorasin en Betsaida. Kapernaum was omring deur die see en omrede Jesus meeste van sy dissipels hier gekies het is dit ook een van die redes waarom meeste van hulle vissermanne was. 3. Ons teks vanoggend is eintlik een van daardie verstommende verhale in die Skrif. Die verhaal van ‘n man, let wel, ‘n heidense man, wat Jesus verwonderd gelaat het met sy geloof. Inteendeel, dit verwonder ‘n mense dat Jesus verwonderd kan wees deur enigiets. Ek bedoel, is dit nie Paulus wat in Kol 1 verduidelik hoe God deur Christus alles geskep het nie? Deur Hom en vir Hom is alles geskep. Voor alles was Hy daar en deur Hom bly alles in stand. 4. Daarom sal dit vreemd wees indien daar enigiets is wat Jesus sal verbaas, dat Hy verwonderd oor sal staan. Maar daar was een ding wat Jesus elke keer verwonderd gelaat het wanneer dit sy pad gekruis het. En dit was die uitsonderlike geloof wat mense in Hom gehad het. Matt 15 se Kanaanitiese vrou, Die verlamde man se vriende se geloof in Mark 2 toe hulle hom deur die dak laat sak het om hom naby Jesus te kry. Luk 8 se vrou wat vir 12 jaar aan bloedvloeiing gely het. Die melaatse man in Mark 1. “As U wil kan U my gesond maak”. Geloof is die enigste ding in die Skrif waardeur Jesus beindruk was. 5. Maar hierdie Jesus, wat almagtig, alwetend en alomteenwoordig is, staan verwonderd en verbaas oor hierdie heiden se geloof. Maar hierdie man was nie net ‘n heiden nie, hy was boonop ‘n Romeinse offisier. ‘n Instrument van Israel se verdrukking. ‘n Verteenwoordiger van die verdrukker van Israel. En Jesus se dat Hy in die hele Israel nog nie soveel geloof gesien het nie. Vir ‘n Joodse Rabbi om so iets van ‘n heiden te se was uiters vernederend teenoor sy Joodse volgelinge. 6. Hierdie man het geloof gehad waaroor Jesus verbaas was, verwonderd. Die Griekse woord dui op “Admireer”. Jesus het admirasie vir die man se geloof gehad. Boonop is dit vreemd hoe hierdie man met sy slaaf omgegaan het. Onder die Romeinse reg het hierdie offisier die reg gehad om sy slaaf dood te maak indien hy so siek sou word dat hy nie meer sy pligte kon verrig nie. Maar hierdie offisier blyk nederig te wees, vriendelik, toegewyd aan sy slaaf. Die slaaf was vir hom baie werd gewees se die teks. 7. Nou ek wonder hoeveel van u is al deur ‘n broer of suster, wat dit seker goed bedoel het, tereggewys met die woorde “As jy maar net meer geloof gehad het…”. Veral in ‘n tyd van groot lyding en hartseer dink ek dis uiters ongevoelig vir een gelowige om dit vir ‘n ander gelowige te se. En om dit eenvoudig te stel is dit net bloot nie die waarheid nie. Ons moet baie versigtig wees om mekaar by te kom met “Jy moes meer geloof gehad het”. 8. Maar so versigtig soos ons behoort te wees hiermee moet ons ook onthou dat daar tye was wat Jesus sy dissipels tereggewys het oor hulle gebrek aan geloof. Niemand het ‘n beter “front row seat” gehad van die werke van Jesus as juis die dissipels nie. En tog het Jesus hulle gereeld geroskam oor hulle gebrek aan geloof. Net in die volgende hoofstuk maak Jesus die storm stil en sy eerste woorde hierna aan sy dissipels is “Waar is julle geloof?” 9. By verskeie ander geleenthede het Jesus ‘n sagter benadering gebruik wanneer Hy die dissipels aangespreek het as “kleingelowiges”. Hulle geloof het Jesus beslis nie verwonderd gelaat nie. Maar voor ons die dissipels kritiseer moet ons die vraag vra of my geloof Jesus verwonderd laat? Ek wonder soms of Jesus nie teenoor my sou voel soos teenoor die dissipels toe Hy uitgeroep het “Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra?” (Matt 17:17) 10. Ons teks gee vanoggend vir ons ‘n voorbeeld van ‘n man wie se geloof Jesus verwonderd gelaat het. Miskien kan ons iets by hom leer vanoggend, want ek weet nie van u nie, maar ek begeer hierdie soort geloof. Kom ons kyk wat leer ons by hierdie heiden oor geloof. 11. Eerstens sien ons dat hierdie man gemotiveer is deur liefde. Ons sien in Lukas, wat ‘n mediese dokter was, se weergawe van die verhaal dat die slaaf baie siek was en op sterwe gele het. ‘n Mens sou van ‘n geharde, Romeinse offisier bloot verwag het om die slaaf aan iemand se sorg oor te laat totdat hy sterf en dan net iemand anders in sy plek aan te stel. 12. Maar ons sien iets van die liefde van hierdie offisier vir sy slaaf. Lukas se vir ons dat die persoon vir die offisier baie werd was. En hier word nie gepraat van werd itv dat die persoon vir hom geld gemaak het nie. Dit was ‘n huisslaaf wat die huis versorg het. Die engels se die slaaf “was dear to him”. Hy was kosbaar vir die offisier. 13. ‘n Mens sien dit nie in die vertalings nie maar die woord wat oral deur die NT gebruik word vir slaaf is die woord “doulos”. Hier word die woord “pais” gebruik, wat beteken ‘n seun, of ‘n kind. Hy was nie sommer net ‘n slaaf nie, hy was soos ‘n kind vir hierdie man. Verder sien ons dat hy van Jesus gehoor het en die familiehoofde, wat Jode was, gevra het om namens hom met die versoek na Jesus te gaan. 14. Dan vind ons nog ‘n getuienis van die liefde van hierdie Romeinse offisier. Selfs die Jode getuig van sy goedhartigheid. Die ironie is dat die Offisier die Jode na Jesus toe stuur met die versoek dat Jesus sy slaaf sal genees, maar wanneer die familiehoofde by Jesus kom, pleit hulle vir die Offisier. “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.” 15. As ‘n Romeinse offisier is hy gestuur om hulle land te beset en hulle te onderdruk, maar steeds word daar van hom gese dat hy die Joodse volk liefhet. En toe hy gehoor het van Jesus stuur hy dadelik mense om Hom op te soek. Want hy het sy slaaf lief en hy wil die beste vir hom he. Jesus sien liefde soos hierdie raak! Hy reageer wanneer ons in ons gebede en deur ons geloof gedryf word deur ons liefde vir ander mense. 16. Jesus is vir ons die wonderlikste voorbeeld. Sy totale verlossingswerk is gedryf deur sy uitsonderlike liefde vir elkeen van ons. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vgl Mark 10. En as ons gemotiveer word deur liefde vir ander, dan kry ons Jesus se aandag, want Hy word gemotiveer deur liefde vir ons. 17. Hoeveel van ons gebede gaan oor onsself? My beskerming, my behoeftes en begeertes, my verwagtinge. En ek se vir geen oomblik dit is verkeerd nie. Ons word aangemoedig om hierdie dinge na God te neem. Inteendeel, daar is niks beters om te doen met ons behoeftes as om dit na God te neem in gebed nie. Maar as dit al is waaroor ons gebede gaan wil ek se dat dit nie juis ‘n buitengewone geloof weerspieel nie. 18. In teenstelling daarmee, is ons gebede vir ander wat gemotiveer word deur ‘n egte liefde vir ander mense die toonbeeld van ‘n uitstaande geloof. Dis ‘n geloof wat Jesus verwonderd laat. 19. Tweedens moet ons die manier waardeer waarop die offisier Jesus nader met sy versoek. Hoekom se ek so? Wel, ons moet onthou dat hy ‘n heiden was, en die Jode het die huis van ‘n heiden as seremonieel onrein beskou. En verder nog was hulle nie in staat om die slaaf na Jesus te neem nie en dit was kultureel onaanvaarbaar dat ‘n Rabbi na die huis van ‘n siek persoon gaan. Die persoon moes na Hom toe gebring word. Ons sien hierdie tradisie duidelik in die verhaal van die blinde man in Mark 10 wanneer Jesus se dat die man “nader geroep moet word”. 20. En hierdie offisier, so bewus as wat hy was van hierdie Joodse gebruike, laat hom nie daardeur keer nie. Hy stuur dadelik ‘n afvaardiging van Jode nogal om Jesus te laat kom. Sy versoek was nie bekommerd oor reels en tradisies nie, dit het nie vir hom saakgemaak wie geaffonteerd voel of hoe dit mag lyk nie. Hy het ‘n versoek gehad wat net Jesus aan kon voldoen en dit was vir hom so belangrik dat hy bereid was om alle reels oorboord te gooi en nie om te gee wat enigiemand se nie. 21. En net soos met die blinde man in Mark 10 wys hierdie offisier inisiatief in sy geloof. Hy soek Jesus op met sy probleem in die geloof dat dit net Christus is wat hom kan antwoord. En dis die tipe inisiatief wat Jesus van ons verwag. Dis die soort inisiatief wat die Offisier gebruik het om genade by Jesus te soek vir sy slaaf en dis die inisiatief wat Jesus by ons soek. 22. Miskien is dit die probleem as dit by ons geloof kom en die uitlewing daarvan. ITV ons geloof is ons dalk heeltemal te ordentlik! Ons is meer bekommerd oor wat die mense gaan se en wie aanstoot gaan neem as wat ons is met die feit dat Jesus ‘n onwrikbare geloof by ons wil sien, ‘n geloof wat die hemele in beweging bring wanneer ons bid omrede dit gedryf word deur ‘n uitsonderlike liefde vir ander. 23. Want ‘n geloof wat konsidererend is blyk volgens die Skrif ‘n gemiddelde geloof te wees. Nie juis iets wat Jesus in verwondering gaan laat nie. 24. Derdens is daar iets belangriks wat ons in die gedrag van die Offisier moet raaksien. As jy ooit ‘n studie sou doen van die Romeinse offisiere waarna in die Skrif verwys word, sal jy sien dat daar altyd na hulle in ‘n gunstige manier verwys word. Hulle is altyd op belangrike plekke tydens belangrike gebeure soos hulle ‘n rol speel terwyl God se plan uitspeel. Dit was ‘n offisier wat voor die kruis gestaan het en uitgeroep het “Waarlik, Hy is die Seun van God!”(Matt 27) ‘n Offisier het aan Pilatus gerapporteer dat Jesus dood is (Mark 15) Cornelius, die man wat saam met sy hele gesin gered is deur die prediking van Petrus, was ‘n Offisier in die Italiaanse regiment (Hand 10). Soldate en offisiere het gekeer dat Paulus vermoor word in Jerusalem (Hand 21) Romeinse offisiere het gereeld gekeer dat Paulus doodgemaak word en het hom self beskerm deur hom te begelei. (Hand 23) ‘n Offisier het gekeer dat ‘n groot groep gevangenes doodgemaak word net omrede hy Paulus lewendig wou hou (Hand 27) 25. So dis veilig om te se dat elke keer wat ‘n Romeinse offisier in die Skrif genoem word, word dit in ‘n positiewe lig gedoen. Mense met karakter, outoriteit en gesag. En in die oe van ander was so ‘n persoon waardig genoeg geag om te kry wat hy voor vra. En wat meer is, is dat hierdie offisier waardig genoeg geag is deur die Joodse familiehoofde dat daar aan sy versoek voldoen moes word. Hy het vir hulle ‘n sinagoge uit sy sak gebou en hy was lief vir die Joodse volk. “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen….” Was hulle pleit gewees. 26. Maar ons moet onthou dat God se gawes nie gegee word omrede mense waardig genoeg geag word in die oe van die wereld nie. Jesaja het tog duidelik gese dat ons “beste dade is soos vuil klere” voor die Here (Jes 64:6). Hierdie Offisier het homself nie waardig genoeg geag om self na Jesus te gaan met die versoek nie. Hy stuur ‘n afvaardiging van mense wat bestaan uit die volk van God. Miskien het hulle ‘n beter kans om Hom te oortuig. God is nie verwonderd oor ons CV’s nie, ook nie ons bankrekeninge, ons besittings of ons geleerdheid nie. Mense se geloof is die enigste ding wat Hom verwonderd gelaat het in die Skrif. 27. Die geloof wat Jesus verwonderd laat is geloof wat kom van die mense wat, in die 1ste plek, weet en verstaan WIE Jesus is en Hom dan op hierdie manier nader. Dis geloof wat Hom nie nader op grond van jou eie pogings of prestasies nie, maar op grond daarvan dat Hy God is en dat Hy genadig is. 28. Die laaste ding wat ons by hierdie offisier leer dat hy Jesus genader het met ‘n vaste vertroue dat Jesus sy slaaf kan genees. Hy hoor dat Jesus naby is en hy stuur ‘n Joodse afvaardiging om met Jesus te gaan praat. Maar miskien het hy homself bedink. Hier is hy, ‘n Heiden, ‘n bevelvoerder van die weermag wat die Jode onderdruk, en hy het dit gewaag om die Joodse Messias te vra om na sy seremoniele onrein huis toe te kom? 29. Daarom stuur hy van sy vriende om vir Jesus voor te keer en te se dat hy nie waardig is dat Jesus onder sy dak inkom nie. MAAR – en dis hier waar sy geloof so uitstaan – hy se aan Jesus “Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond.” Hy het verstaan hoe outoriteit werk. Hy was self ‘n offisier met soldate onder hom. En hy het geweet dat Jesus die outoriteit gehad het om net ‘n woord te spreek om sy slaaf te genees. 30. Hy was nie besig om homself met Jesus gelyk te stel nie. Hy was besig om ‘n beroep te doen van ‘n mindere na ‘n meerdere. As ek, ‘n Offisier, net ‘n woord kan spreek en opdragte word uitgevoer en dinge gebeur, hoeveel te meer nie U nie? En dit was hierdie geloof wat Jesus verwonderd gelaat het. “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.” 31. Soms is ons geloof teleurstellend bloot omrede ons nie altyd verstaan WIE Jesus is nie. En waartoe Hy in staat is nie. Hierdie heiden het God verstaan, hy het van Jesus gehoor en was onwrikbaar in geloof, oortuig dat Jesus kan doen wat hy nodig het. 32. Wanneer ons geloof in Christus se mag en gesag en outoriteit so groot is soos hierdie man s’n, dan kry dit God se aandag. Maar somtyds is my eie gebede so ongelowig en pateteties dat dit glad nie ‘n geloof weerspieel dat God my hoor of enigsins omgee nie. Of nog erger, dat Hy kan doen wat ek vra nie! Mag God ons vergewe vir ons kleingeloof – mag ons leer wat SY wil is en daarvolgens bid en groot dinge verwag!