Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die dag waaroor ons teks handel staan algemeen bekend as Palmsondag. Dis wat ons vandag vier. En in ons teks vind ons Jesus besig om Jerusalem binne te ry op die rug van ‘n donkie. Maar hier is iets vreemds besig om te gebeur, want om so in ‘n stad in te ry was iets wat net ‘n koning sou doen. En daarom is dit belangrik dat ons in ons teks vanoggend ‘n paar dinge moet raaksien wat ons iets van Jesus vertel wat ons nie moet miskyk nie. Dinge wat die betekenis van die intog in Jerusalem heelwat verander en dinge wat ons miskien soms mislees. 2. Ons is aan die einde van Jesus se aardse bediening. Hierdie is die laaste stad wat Hy op aarde sal besoek en dit wat besig is om voor die mense se oë af te speel het die profeet Sagaria oor geprofeteer. Die mense het geweet dat hierdie Man op die donkie die vervulling van Sagaria se profesiee is. 3. Maar hulle het nie besef waaroor Jesus se koningskap gaan nie. Want net ‘n paar dae later was dit hierdie selfde mense wat geskree het “Kruisig Hom!”. Want Jesus het tot hulle spyt geen politieke aspirasies gehad nie, en dit was vir die skare mense moeilik om te aanvaar. 4. Maar in Markus se vertelling van Jesus se intog in Jerusalem vind ons baie inligting wat ons gewoonlik sommer net by verby lees. 5. Eerstens lees ons dat Jesus sy intog in Jerusalem in op die Olyfberg begin. En die Olyfberg is ‘n plek waaroor daar reeds heelwat geprofeteer is, veral met betrekking tot die koms van die Messias. Sagaria het hieroor ook geprofeteer. Dis op hierdie berg dat Jesus in Matt 24 en 25 sy groot eindtyd preek gelewer het. Dis in die Tuin wat aan die hang van hierdie berg gelee is waar Jesus gebid het en later gearresteer is, en dis van hierdie berg af vanwaar Jesus na sy opstanding opgevaar het. Die Olyfberg het ‘n baie belangrike rol gespeel in Jesus se bediening. 6. Maar dis nie al wat Sagaria geprofeteer het nie. Wanneer jy die profesie van Sagaria in hoofstuk 9 lees vind jy dat hy ook geprofeteer dat die Messias op ‘n jong donkie sou ry, net soos dit besig was om te gebeur. So die Jode, wat goed onderlê was in die OT het geweet wat hier besig was om te gebeur. Die Een wat hulle gaan verlos is uiteindelik hier. 7. Maar waarom ‘n jong donkie. Hierdie is baie belangrik. Eerstens is dit in ooreenstemming met die profesie dat Jesus op ‘n donkie ry en nie ‘n perd nie. En dit was ook in ooreenstemming met die tradisie van Israel. Die donkie was nog altyd die gewone rydier in Palestina omrede ‘n donkie beter geaard het in die omstandighede as ‘n perd. 8. Eers in die tyd van Salomo is perde ingevoer en dan gewoonlik uit Egipte. (1 Kon 10:26). MAW die perd was nie die regte inheemse rydier nie en het altyd aan heidense afkoms herinner. Ook was die perd met sy swier en krag maar altyd die rydier wat in oorloë gebruik is. Daarteenoor was die donkie eenvoudig, kalm, klein en nederig, die dier van vrede. 9. As Jesus die stad op ‘n donkie binnery is Hy besig om ‘n boodskap uit te dra. Hy verkondig daarmee dat Hy voortkom uit die suiwer agtergrond van Israel, sonder inmenging van heidense invloede, en dat Hy nie kom vir oorlog soos op ‘n perd nie, maar vir vrede. Hy is wel ‘n Koning, maar sonder magsvertoon of voorneme van geweld. Die volk moet uit sy optrede begryp dat Hy nie met politieke voornemens na Jerusalem toe kom nie, maar as ‘n Koning van ‘n ryk wat nie van hierdie wereld is nie. 10. Maar van hierdie donkie word gese dat “Geen mens het nog op hom gery nie?”. En ons moet dit nie mis nie. Die OT het bepaal dat wanneer ‘n bees as sondeoffer geoffer word moet dit ‘n bees wees wat nog nooit aan ‘n juk getrek het nie (Lev 19:2). MAW ‘n bees wat nog nooit gebruik is nie. Ook Deut 21 vertel vir ons dat ‘n vers wat vir ‘n offer gebruik word ‘n vers moet wees wat nog nooit ‘n juk getrek het nie. Wat nog nooit gewerk het nie. 11. Ook die koeie wat gebruik is om die ark na Jerusalem terug te trek moes koeie wees wat in melk was maar nog nooit ‘n juk getrek het nie. Ongebruik. Want dit het die vlekkeloosheid van die dier bevestig. Dat die dier rein was volgens Israel se gebruike. En die feit dat hierdie diere nie aan ‘n juk getrek het nie bevestig ook net dat hulle nie agv werk beserings kon opdoen waarvan die eienaar nie geweet het nie. Want dan sou hierdie diere onrein gewees het. Met dit in gedagte, verduidelik dit nie vir ons iets van die feit dat Jesus uit ‘n maagd gebore is nie, vanuit ‘n baarmoeder wat nog nooit ‘n kind gebaar het nie? 12. En daarmee saam se Luk 23 vir ons dat Jesus in ‘n graf begrawe is “….waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie”. Ongebruik, dat selfs die graf waarin Jesus neergele is met ‘n doel ongebruik was. Sodat daar geen twyfel oor die reinheid en vlekkeloosheid en die volmaaktheid van hierdie Paaslam kan bestaan nie. Niks van hierdie intog van Jesus in Jerusalem was toevallig nie. Ordelik en gedetailleerd is dit beplan soos dit moes wees. 13. Maar met die intog in Jerusalem is Jesus nie net besig om ‘n profesie te vervul nie. Hy is besig om iets te doen wat vir die mense van daardie tyd baie bekend was. U sien, wanneer ‘n bevelvoerder van ‘n weermag van ‘n oorwinningstog teruggekeer het, was die gewoonte om met groot fanfare en onder luide toejuiging op ‘n perd die stad in te ry. Want perde is uitsluitlik gebruik vir oorlog. Sy lof sal besing word deur al die mense en hy sou beskou word as die een wat die koninkryk gered het. 14. En die mense sou dit herken het soos Jesus Jerusalem binnegery het. Maar hulle sou ook ‘n paar ander dinge raakgesien het. Sy vervoer is nie ‘n perd nie, en sy volgelinge, diegene wat sy lof besing, ook nie die wat ryk van aansien was nie. Sy skare was nederiger. Armer. Hy was ‘n ander tipe koning wat ‘n ander tipe redding gebring het. 15. En alles wat ons tot nou toe oor gepraat het beklemtoon een belangrike ding: JESUS IS DIE MESSIAS!. En die skare verstaan dit. Hulle begryp dit nou. Hulle is gereed vir die Messias. Want dis mos Hy wat hulle van die mag van die Romeinse onderdrukkers kom bevry. Hulle besing sy lof en bring Hom die eer wat ‘n koning toekom. Want hier is ons Koning! 16. Hulle uitroep in hulle loflied was selfs “Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is!”. In die ooreenstemmende deel in Joh 12 roep die skare uit “Die Koning van Israel!”. Hier is die nuwe koning wat die troon gaan oorneem en Dawid se koninkryk weer in Palestina gaan vestig soos van ouds! Ons Messias is hier!!! 17. Maar Markus se vir ons iets belangriks van die skare mense wat Jesus op sy tog na Jerusalem vergesel. Vers 9 praat van mense wat voor Jesus uitgeloop het en mense wat agter Jesus aangekom het. Ons kan aanvaar dat die skare mense wat agter Jesus aangekom het mense was wat saam met Hom begin stap het vanuit Betfage en Betanie af waar Jesus en sy volgelinge op daardie stadium was. 18. Die skare wat voor Hom uitgeloop is egter ‘n ander saak. Hierdie was mense wat Jesus op die Olyfberg kom ontmoet het, wat Hom as’t ware kom haal het. En hulle ontmoet Hom op die pad en draai om en stap voor Hom uit. Maar daar is iets wat ons van hierdie mense moet onthou. 19. Ons moet in gedagte hou dat hierdie mense Pelgrims was. En hierdie Pelgrims het van oral gekom en was op pad Jerusalem toe om die Paasfees te vier, die einste fees waartydens hulle elke jaar die uittog uit Egipte herdenk het. Die volk Israel se verlossing van onderdrukking in Egipte is hiertydens gevier. En tydens hierdie feesviering is daar een vraag wat voorop sou wees in die gedagtes van hierdie mense: “Hoe lank nog voordat ons van onderdrukking bevry word?” 20. Daarom ook dat die mense spesifiek uitroep “Geseend is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is!”. Dis hulle hoop, hulle begeerte, dat die koninkryk van Dawid weer hervestig gaan word soos dit vantevore was. Maar toe die skare tot die besef kom dat Jesus nie die soort Messias is wat hulle verwag het nie, het hulle ‘n paar dae later saam met ander uitgeroep: “Kruisig Hom!”. 21. Jesus het egter geweet, soos Hy op die rug van die donkie die stad inry, dat hierdie mense se verwagtinge van Hom nie ooreenstem met die doel waarvoor Hy gekom het nie. Lukas vertel vir ons dat Jesus, soos Hy die stad binnery het en dit voor Hom gesien het, Hy daaroor begin huil het. “As jy tog vandag wou insien wat vir jou vrede nodig is” was sy woorde. 22. Maar daar was geen verskoning vir die feit dat hulle Jesus se koms as Messias misverstaan het nie. En dit is om ‘n paar redes: Eerstens het ons het reeds genoem dat die feit dat Jesus op ‘n donkie gery het moes in die kulturele omstandighede van die tyd vir die skare gese het dat Hy gekom het vir vrede, nie politieke oorname nie, Tweedens was hy besig om ‘n profesie te vervul wat Hom reeds geassosieer het met vrede en verlossing. Derdens het Jesaja by verskeie geleenthede geprofeteer dat die Messias in vrede en met ‘n vredesboodskap sou kom. Vierdens was daar Jesaja 53 waarmee die skare vertroud sou wees. Hier is die Messias uitgebeeld as Iemand wat op ‘n plaasvervangende wyse deur sy lyding en sy dood die sonde van die volk sou wegneem. En laastens, tydens sy aardse bediening, het Jesus Homself altyd vertoon as Iemand wat vrede en liefde voorstaan. Het sy hart tog nie uitgegaan na die menigtes wat honger was by verskeie geleenthede nie? Het Hy nie by elke geleentheid omgegee vir die siekes, die hongeres, die armes, die onderdruktes, die weduwees nie? En het Hy nie gereeld sondaars aangemoedig om by Hom te kom rus en vrede vind nie? 23. Vir die skares wat so langs die pad uitgeroep het en later by sy verhoor weer uitgeroep het was Palmsondag ‘n tragedie! Dinge het nie gebeur soos hulle gehoop en hulself voorgestel het nie. En so voel dit soms vir ons of ons verhouding met God net nie is wat dit moet wees nie, want dinge loop net nie altyd soos ons dink dit moet nie. 24. Ons bid vir een ding en ‘n ander gebeur. Ons glo iets is reg en vind dan uit dis eintlik verkeerd. Ons glo iemand gaan iets doen en dan doen hulle die teenoorgestelde. Mense stel jou teleur en dit voel soms of God jou ook nie hoor nie. Jou hele verhouding met God voel soms vir jou na ‘n tragedie. Dit klink lelik om te se, maar wil iemand vanoggend hulle hand opsteek en se hulle het nog nooit so gevoel nie? 25. Maar hierdie mense het nie besef dat Palmsondag eintlik ‘n triomf was nie. Want het Jesus nie doelbewus die hele toneel opgestel nie? Hy het geweet dat die massas mense die vyandiggesinde leiers in Jerusalem sou kwaad maak. En dit sou hulle dwing om hulle plan in werking te stel om Hom dood te maak. 26. Maar dit was sy doel! En hulle het nie verstaan nie. Hy het juis van die hemel af gekom om te kom sterf in die plek van hulle wat so gretig uitgeroep het “Kruisig Hom!”. Vanuit Jesus se oogpunt, en die kant van diegene wat Hom werklik liefhet, was Palmsondag ‘n triomfantlike dag. 27. En as ons die evangelie reg ver