Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Onthou jy toe dans sonde was? ‘n Oom het eendag vir my gese jy mag dansmusiek geniet, jy mag net nie jou voet “tap” nie, want dan is dit sonde. Ek dink dit was sonde tot so ongeveer 30 jaar gelede, groot sonde. Nog later het die reël weer verander, jy kan enige tyd dans, solank jy dit net nie geniet nie. Daarna het 'n nuwe fase gevolg waar ons mag dans, maar nie na twaalf op 'n Saterdagaand nie. En boeta, die horlosie is fyn dopgehou! Ons was baie bedag op tyd deur die aand, sodat ons net nie die deadline sou mis nie. 2. Benewens dans was daar 'n hele klompie goed gedefinieerde sondes. Kaartspeletjies was van die duiwel maar later was dit nie so sleg van Maandae tot Saterdae nie. Jy mag net nie kaartspeletjies op ‘n Sondag gespeel het nie. En enige speletjie wat met dobbelsteentjies gespeel was, was so uit soos dans in die Sondagskoolklas. 3. Voorts het ons dominee ernstig gewaarsku teen die Beatles en Elvis se musiek, want dit het ook 'n groot komponent van sonde bevat. Blykbaar as jy die goed agteruit gespeel het, het hulle boodskappe van die bose oorgedra. Daaroor was my pa was nie regtig bekommerd nie, want ons het nie 'n agteruit platespeler gehad nie. 4. Bid met oop oë was sonde, nagmaal gebruik voor jy aangeneem was, was sonde en om na nagmaal 'n ekstra glasie van die nagmaalwyn af te sluk was ook nie so mooi heilig nie. STORIE VAN DIE DIAKEN TANNIE. Al wat jy moes doen is om by 'n paar goed neergelegde reëls te bly en dan was jy okay. Regtig. Want die sonde was 'n vreeslike ding, dit het geklou aan jou. 5. As ek nou oor al hierdie dinge terugkyk besef ek dat sonde het snaaks gewerk in daardie tyd. En so gaan die tyd verby en sekere sondes het toe 'n vervaldatum. Gelukkig het die mense toe tot die besef gekom dat hierdie goed nie belangrik is nie, en meeste van hierdie dinge verander. 6. Die Judaiste in Paulus se tyd was oortuig dat hulle die betekenis van Christus ten volle erken het. Hulle het die evangelie wat Paulus aan hulle verduidelik het ten volle verstaan. Jesus is die Verlosser deur sy kruisdood. Dankie Paulus, ons verstaan dit. Maar hulle het gevoel dat Paulus nagelaat het om die VOLLE waarheid aan die heidene te verkondig. Hulle wou darem die pad enduit geloop het met die heidene wat hulle tot die Christendom bekeer het. Die besnydenis en die wet en die onderhouding van al die feeste en sabbatte moes nog bykom. 7. En in Kolossense spreek Paulus die gemeente aan oor hierdie probleem. Daar het die vals leraars, en ek noem hulle vals leraars want Paulus se dat hulle aanspraak maak daarop dat hulle visioene sien en engele aanbid ens, agterna gekom en gese dat die nuwe gelowiges vanuit die heidendom moet nog die jaarlikse feeste, nuwemaansfees en die sabbatdag vier. Vier die feeste sus en so, hou die sabbat ens ens. En ons moet in gedagte hou dat hierdie feeste nie soos ons feeste was nie. Dit was feeste met godsdienstige betekenisse. 8. Mense het die jaarlikse feeste en die nuwemaansfeeste en die sabbatsdae gevier. En die Jode was oortuig dat hierdie feeste en sabbatdae steeds gevier moet word omrede dit dan God se opdrag aan hulle was. En wanneer Paulus hier verwys na drie verskillende feeste, dan omvat hy alle feeste. Hy praat van die “jaarlikse feeste” wat een maal per jaar gevier is, die “nuwemaansfees” wat een maal per maand gevier is en die Sabbatdag wat weekliks gevier is. 9. Maar hoe reageer Paulus hierop? Sy reaksie was nie maar net dat hierdie byvoeging onnodig is en dat Christus genoeg is nie. Nee, sy reaksie is baie skerper as dit! Vers 23 sê “Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie”. 10. Wanneer hy vir die gemeente in Galasie oor dieselfde probleem skryf dan stel hy dit nog meer kras. Paulus se in Gal 5 vir hulle dat indien hulle die wet en al hierdie godsdienstige reels en tradisies en rituele wil byvoeg VERLOOR HULLE CHRISTUS! In vers 2 se hy “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie.” Hy volg dit op met vers 4 waarin hy vir hierdie mense se “Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.” 11. Sien geliefdes, as dit vir ons begin gaan oor Jesus + nog iets, Jesus en nog iets, maak nie saak wat die gewoonte of tradisie ookal is nie, dan se Paulus dat ons ons band met Christus verbreek het. En ons kan maklik soos die gelowiges in Galasie se dat ons aanvaar Christus ten volle. Vir ons is dit net Christus, maar ons moet net nie hierdie of daardie gewoonte of tradisie in die kerk of in ons geloofsrituele verander nie. Dan is die gort gaar. 12. Nee, Paulus se ons is klaar met al die plusse! Hy noem dit later wettiese godsdienstige reels. Ons is saam met Christus gekruisig en saam met Hom uit die dood opgewek. Daarom is ons nie meer onderworpe aan wette en reels nie. Jy kan nie iets by Christus voeg en dink jy behou Hom nie. Dis NET Christus, of glad nie Christus nie! 13. Maar wat Paulus hier doen is radikaal. En ons moet dit besef. Hy skryf die hele feeskultuur, al die feespraktyke, skryf hy af. Die hele OT kultus, se Paulus, hoort nie meer tuis in die Christen se lewe nie. En ons moet verstaan dat hierdie kultusse van feeste die basis gevorm het van die Verbond wat Israel met God gehad het. Van die oggend tot die aand het die Jode offers gebring en feeste gevier. 14. En hier kom Paulus en hy se dit bestaan nie meer nie. Kan u die geweldige implikasies hiervan vir hierdie klomp Jode verstaan? Alles wat hulle en hulle voorouers vir duisende jare gedoen het, die manier waarop hulle God aanbid het ens, is nou van geen waarde meer nie. En daar is ‘n rede waarom Paulus so se. Want, se hy, al hierdie dinge het heengewys na Christus toe. “Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” 15. En in vers 22 slaan Paulus die spyker op die kop. “Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense.” Niks van hierdie goed het ewigheidswaarde nie. Paulus se eintlik vir ons hulle “Julle is besig met speletjies, dit klink so goed en julle praatjies klink so heilig.” Paulus sê nee, daar is iets anders wat eintlik tel. 16. Die enigste ding wat belangrik is, is dat jou lewe in ooreenstemming met God se wil moet wees, die sondige drifte moet beteuel word. God haat sonde. Dit lyk my Hy sê eintlik dit gaan nie oor wat jy DOEN nie (hierdie allerhande rituele en fieterjasietjies) nie, maar oor wat jy NIE MOET DOEN NIE. Moenie sonde doen nie. 17. Jesus het gekom om vir ons te wys en te leer wat Hy van ons verwag. Ja, ons is gered en skoongewas van die uitvloeisels van ons sonde, maar sonde is steeds sleg. Dus, as ons hier in Kolossense lees oor die reëls en wette en godsdienstige gebruike, dan sê dit maar net: man, hou op met goetertjies en leef ‘n skoon lewe. 18. Niks van ons gewoontes en gebruike beïndruk die Here nie. Ook wanneer kerke en gemeentes aan gebruike en gewoontes en rituele vashou asof dit evangelie is, dan se God dat hierdie dinge Hom nie beindruk nie. Paulus se dat om te lewe soos Jesus vir ons kom wys het, is meer belangrik as wat jy eet of nie eet nie, of die viering van sekere feeste, al dan nie, of waaraan jy raak of nie raak nie. Laat staan godsdienstige rituele en uiterlike godsdienstige gebruike, beteuel die sondige drifte en rig jou gedagtes op die dinge wat daar bo is. 19. In ‘n tyd wat die bring van offers en die rituele wat daarmee gepaard gegaan het in die middel van die godsdienspraktyke van Israel was het God reeds aangedui dat daar dinge was wat van groter belang was. Regdeur die Psalms se God dat Hy nie brandoffers wil he nie, maar dat Hy ‘n hart van verootmoediging soek van sy mense. 20. Ons weet dat in Christus is dit alles vervul, die hele offerpraktyke van die OT, maar dit het die deur vir ons as gelowiges en die kerk vandag nog groter oopgemaak. Ons hoef nie meer aan ‘n stel reels te voldoen nie, reels van wie loop waar, wie sit waar, wie trek wat aan, wie mag wat doen en wie mag sekere dinge nie doen nie. 21. Ons is vryygemaak deur Christus van al hierdie dinge. Dis wat Paulus vir die gelowiges in Kolosse en in Galasie se, maar ook vir die gelowiges vandag in Deneysville. Julle is vry van hierdie reels en tradisies. MAN WAT IN TOGA MOET PREEK! Dit gaan ons baat om Paulus se reaksie op hierdie dinge te onthou: “Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.” 22. Nee, ons is vrygemaak van al hierdie dinge. Dit beindruk God glad nie. Ons kry nie meer brownie points by God, met alle respek gese, as ons allerhande reels en voorskrifte en tradisies instel of onderhou nie. En selfs in die kerk vandag is gelowiges wat van mening is dat daar steeds reels van die OT is wat deur die kerk en deur gelowiges onderhou moet word. 23. Hulle dring aan dat die Sabbat steeds onderhou word, ramshorings moet geblaas word tydens gebedsgeleenthede want ons gaan mos nou in oorlog in, mense moet huisskoonmaak deur alle onheilige beeldjies te verwyder, hulle kinders MOET ten alle koste in Christelike skole wees en dan kry jy diegene wat in elke gelowige bindinge van die Bose wil breek. 24. Paulus se: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.” Mense wat hierdie tradisies en rituele en praktyke steeds aan vasklou verstaan nie die evangelie soos Paulus dit in Gal 5:1 beskryf nie. Ons kan nie ons band met Christus breek omrede ons een of ander ritueel so belangrik ag nie. Dit moet vir ons NET CHRISTUS wees. Niks anders nie. 25. En veral nou in Lydenstyd sal dit ons baat om te onthou dat Christus se offer volmaak was. Perfek, ten volle, sonder tekortkominge, sonder gebrek of leemtes. Ons verlossing berus op Christus Jesus, net Hy alleen. 26. “Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met 'n danklied prys. So 'n offer is vir die Here verkiesliker as selfs 'n volmaakte offerdier.” (Ps 69:31-32)