Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek is seker as ek vanoggend vir u sou vra om die Christelike geloof soos ons dit ken in een woord saam te vat gaan ons baie uiteenlopende antwoorde en menings kry. Ons gaan woorde hoor soos “genade”, “Liefde”, “verlossing” ens. Elkeen sou sy of haar eie antwoord hierop gee. En as u my sou vra, sou die heel eerste ding wees waaraan ek dink “vergifnis” wees. 2. En een van die redes waarom ek so voel is dat vergifnis gaan beide oor jou verhouding met God, maar ook jou verhouding met jou naaste. Want onvergewinsgesindheid binne die liggaam van Christus het al soveel skade berokken dat die beeld wat ons as gelowiges uitstuur ook daardeur skade lei. 3. Daar is sekere woorde wat mense as hulle dit hoor, dink hulle weet wat dit beteken. Vergifnis is een van daardie woorde. Mense in die samelewing en ook in die liggaam van Christus dink nie in Bybelse terme aan vergifnis nie. Baie mense dink vergifnis en verskoning het dieselfde betekenis – of selfs nog erger vergifnis en ignoreer is dieselfde. 4. Jy sien mense, gelowiges, wat uitstap op hul huwelike, mense wat uitstap op hulle families, agv van onvergewensgesindheid. Kinders verlaat die huis met ‘n wrok teenoor hul ouers agv van onvergewinsgesindheid en hulle raak betrokke by die allerverskriklikste dinge, mense verlaat die kerk en wil niks meer met die kerk te doen he nie, agv onvergewinsgesindheid. Jarelange vriendskappe word vernietig agv onvergewinsgesindheid. Mense verlaat selfs vir God en word later afvallig omrede hulle nie kan vergewe nie. 5. En hierdie raak die basis van ons verhouding met God. Beide in terme van ons verhouding met mekaar maar ook ons verhouding met God. Maar ons gaan vandag ‘n paar dinge hoor omtrent vergifnis wat ons nie van gaan hou nie. Dinge wat gaan indring teen alles wat in ons gedagtes aangaan. Dis die rede waarom ek teen Vrydag nog geworstel het met hierdie boodskap. Want die dinge wat ek gesien het terwyl ek met hierdie boodskap besig was het my teen die bors gestuit. 6. Sekerlik die grootste probleem wat ons beleef met iets soos vergifnis is dat ons vergifnis nie reg definieer nie. Vergifnis is baie meer as net ‘n afwesigheid van woede of ‘n blote stelling wat gemaak word. Vergifnis per definisie beteken “Om skuld af te skryf”. Jesus se dit in Matt 18 wanneer Hy die gelykenis vertel van die amptenaar wat voor die koning verskyn oor sy skuld. Vers 27 se “Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.” 7. Kom ek gee ‘n eenvoudige voorbeeld net om die punt te maak: Jy leen my foon. En dan breek jy my foon. Heeltemal. Buite enige herstel. Nou die normale reaksie sal wees “Ek vergewe jou, bedoelende ek gaan jou nie kwaad aandoen nie, ek gaan jou nie wurg, verskree of slegse nie. Ek gaan nie eers ‘n wrok teen jou koester nie. Dit alles natuurlik op die voorwaarde dat jy my foon sal vervang. Vervang net my foon en ons is okay.” 8. En hier is die skok vanoggend geliefdes. DIT is nie Bybelse vergifnis nie. As ons nou gaan kyk na die Bybelse definisie van vergifnis sou vergifnis in ons voorbeeld wees “Ek vergewe jou en jy het nie nodig om my foon te vervang nie.” Want Bybelse vergifnis beteken “om die skuld af te skryf”. En hierdie is baie groot en dit is die probleem met ons siening van vergifnis. Ons dink vergifnis beteken dat ek nie aan my woede teenoor jou uiting gaan gee nie. 9. Ek het jou nie verskree of aangerand of sleggese nie, en dit is dan vir ons die bewys dat ons vergewe het. Ek vergewe jou, maar jy gaan my nog moet terugbetaal. Jou skuld is nog uitstaande by my. Dis ons denkwyse as dit kom by vergifnis. En dis nie Bybelse vergifnis nie. Vergifnis beteken die skuld is afgeskryf! 10. Nou wat beteken dit in ons alledaagse lewens? In ons persoonlike verhoudings. Hoe lyk dit in ons alledaagse persoonlike verhoudinge as ek die skuld afgeskryf het? Dis hier waar die tyre dan nou die teer tref. Hoe tree ek op as ek op ‘n Bybelse manier vergewe het? Ek dink die eerste wyse waarop ons kan sien of iemand werklik vergewe het, is die wyse waarop ons teenoor mekaar optree. Deur liefde en omgee van mekaar te weerhou laat ons mense die prys betaal vir dit waarvoor ek hulle eintlik moes vergewe het. 11. Dis hoe ons mense straf. Jy het my iets aangedoen en nou is ek kwaad vir jou, ek wil jou nie sien nie, moenie eens met my praat of naby my kom nie. En my optrede teenoor daardie persoon wys dat ek hom/haar laat betaal vir wat hulle my aangedoen het, vir wat jy my skuld, deur die manier waarop ek teenoor jou optree. Of ons moet dan nou ongelukkig met mekaar praat want ons is kollegas of ons is in ‘n huwelik, maar moenie enige liefde of omgee of emosies van my verwag nie. 12. Moenie eens verwag dat ek in opregtheid vir jou gaan bid nie. En wanneer iets sleg met jou gebeur gaan ek dit nou nie openlik wys nie, maar ek “het jou mos gese. Die wiel draai. Wat jy saai sal jy oes.” Dis die manier waarop ek jou gaan straf. Dis die manier waarop ons in interpersoonlike verhoudings mekaar terugkry vir wat jy aan my gedoen het. 13. Maar omrede ons nie die Bybelse beginsel van vergifnis verstaan nie, se ons met ons mond “ek vergewe jou”, bedoelende ek gaan nou nie jou kar met ‘n spyker krap of water in jou brandstoftenk ingooi nie, maar moenie van my verwag om in die toekoms met liefde en omgee teenoor jou op te tree nie. DIT gaan nie gebeur nie. Al wat dit beteken is dat ek SE dat jy vergewe is, maar eintlik is jy nie. 14. Dis nie vergifnis nie, dis onvergewensgesindheid. Dis wat huwelike, vriendskappe en verhoudings tussen ouers, kinders, vriende, families en gelowiges vernietig. Ek vergewe jou, maar moet nooit weer enige liefde of omgee van my verwag nie. En miskien het jy vanoggend daardie stryd. Miskien word jou hele lewe gedefinieer deur ‘n wrok wat jy teen iemand koester en vertroetel al die jare en dit vreet jou van binne op. 15. En hier kom die wonderlike wat ek eers na soveel jare in hierdie week oor vergifnis besef het. En ek bid dat dit werklik vir u so ‘n openbaring sal wees soos dit vir my was hierdie week toe ek dit deur die HG se genade besef het. Mense het al baie vir jou gese jy moet vergewe en vergeet!!! Wel, vergewe en vergeet is nie in die regte Bybel nie. Miskien vind jy dit in 2 Moses 8:12 of iets maar dis beslis nie in die regte Bybel nie. Daar bestaan nie iets soos vergewe en vergeet nie. 16. Mense is nie gemaak om te vergeet nie. As jy begin vergeet dan funksioneer jy nie lekker nie en daar is iets medies gesproke fout met jou. Maar daar is ‘n rede waarom jy nie sal WIL vergeet nie!! Want vergeet haal die eer en die glorie, die heerlikheid, uit vergifnis uit! 17. As jy in staat sou wees om te vergewe en vergeet en hierdie persoon wat jou te na gekom het kom die vertrek binne, en jy onthou niks van wat tussen julle gebeur het nie, is daar geen eer of heerlikheid daaraan nie. Nee, daar is geen krag in vergewe en vergeet nie. Geen eer nie. 18. Die krag van vergifnis le juis in die feit dat wanneer daardie persoon in ‘n vertrek instap en daar is steeds daardie helder herinneringe en te midde van dit, deur die krag en die genade van God, doen jy afstand van enige reg wat jy dink jy mag he om daardie persoon te straf. DIT is die krag van Bybelse vergifnis!!! 19. Die feit dat jy steeds te midde van die slegte herinneringe en die woede wat elke keer opvlam wanneer jy daardie persoon sien, steeds kan kies om te vergewe. Want jy onthou, en die onthou laat jou weer kies, en weer, en weer….. Dis waar die krag van vergifnis le. DAN kry God die eer en die heerlikheid en die glorie omrede Hy jou in staat gestel het om keer op keer te kan vergewe. 20. Maar iets wat ons moet verstaan en optel in ons teks vanoggend is dat hier van vergifnis gepraat word BINNE die liggaam van Christus. Kyk hoeveel keer noem Paulus dit: V 25 – “……want ons is lede van dieselfde liggaam.” 5:1 – “Omdat julle kinders van God is….” 5:3 – “Soos dit gelowiges betaam…..” 4:30 – “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie,…” 21. So hier praat Paulus met die gelowiges wat in die gemeente sit elke sondag. Natuurlik is daar baie Skrifgedeeltes wat vir ons se dat ons diegene buite die kerk moet vergewe en liefhe. Maar hier gaan dit vir Paulus oor diegene binne die kerk, binne die gemeente en binne die liggaam van Christus. 22. En daarom is dit nie roekelose Bybeluitleg om dit van toepassing te maak op die huwelik en die familie nie. Want ook binne die huwelik en familie is ons lede van dieselfde liggaam. En ook binne hierdie deel van die liggaam moet ek vergewe. 23. Maar hier kom die kersie op die koek. Maar Dirk, jy weet nie wat ek deur is nie. Jy het nie nodig om te vergewe wat ek moet vergewe nie. Weet jy hoe seer het so en so my gemaak? Maklik vir jou om te praat as jy nie in my skoene staan nie. 24. Kom ons lees weer vers 32: “32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Sien, Paulus stop nie halfpad deur die vers nie. Nee, daar is reeds ‘n standaard gestel waarvolgens ons moet vergewe. En Paulus voeg dit by! Wat is daardie standaard? Wel, ons vergifnis moet wees identies aan God se vergifnis vir ons. “……soos God julle ook in Christus vergewe het.” 25. En net vir ingeval ons dink Paulus het ‘n tikfout gemaak of die skriba was besig op sy selfoon terwyl Paulus gedikteer het, skryf hy aan die gemeente in Kolosse in dieselfde omstandighede die volgende: “3Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.” Okay, ek kan dit doen. Jy weet, ek vergewe maar ek hoef steeds nie liefde en omgee te bewys nie. Dit kan ek doen. 26. Wel, Paulus gaan toe aan om die volgende te skryf: “Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” Kan ons nog Sondagskool 101 onthou? Hoe het God ons vergewe? Ons sonde verwyder so ver as die ooste van die weste en God DINK nooit weer daaraan nie? Dis die standaard vir ons vergifnis. 27. En dan se Paulus vanoggend dat ons geen ander keuse het as om by daardie standaard aan te pas nie. Hoe moet ek vergewe? Soos God ons vergewe het! Niks minder as dit nie. En as die Here wil gaan ons volgende week kyk hoe ons vergewe is en dan gaan ons terugkom hierop. 28. Lukas en Matteus beskryf vir ons die Onse Vader gebed. Volgens die Lukas-weergawe (Lukas 11:4) lui dit: “… vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” Dit beteken nie dat omdat ek ander vergewe vir hulle oortredings teen my, daarom vergewe God my nie. Nee, God vergewe my enkel en alleen op grond van sy genade in Christus. 29. Wat hierdie frase wel sê, is dat daar ‘n verwantskap is tussen hoe God my vergewe en hoe ek teenoor ander optree. Die want gedeelte wat Lukas gebruik wil sê: Ek is bereid om ook so te vergewe soos God my vergewe het. Die Matteus-weergawe (Matteus 6:12) klink ‘n bietjie anders (“… vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”), maar beteken dieselfde, naamlik: Ek wil graag maak soos U maak. My vergewing van ander eggo as ‘t ware God se vergifnis van my; wanneer ek ander vergewe, vorm dit die spieëlbeeld van wat God vir my gedoen het. Die wyse waarop ek ander vergewe is die manier hoe ek verstaan God my vergewe! 30. U sal met my saamstem vanoggend dat vergifnis seker die laaste ding is waartoe die mens uit sy of haar eie in staat is. Dis nie binne ons vermoe of ons denkraamwerk nie. Dis enkel alleen die werk van die HG binne ons. Daarom gaan my vergifnis teenoor ander in essensie oor God. As ek ander volgens Bybelse vergifnis kan vergewe, kry God die eer en die glorie daarvoor. En is dit nie op die einde van die dag waarop ons lewens gefokus moet wees nie?