Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek dink vir meeste mense is God se wil ‘n raaisel. As jy sommer so vir enige mens in die straat sou vra of sy of haar lewe binne God se wil is, dink ek ongeveer 80% gaan nie vir jou ‘n antwoord kan gee nie. Jy sal antwoorde kry soos ek hoop so, ek doen my bes ens. Want vir baie gelowiges is God se wil ‘n stuk misterie, ‘n raaisel. Ons is in die kerk geleer dat God ‘n wonderlike plan vir jou lewe het. En dan haal ons maar lekker teksversies buite konteks aan om dit te staaf. 2. Nou as ek 50 of 60 jaar oud is en ek hoor in ‘n preek dat God ‘n plan vir my lewe het gaan ek so bietjie ingeloop voel. Want hoekom moet ek eers op 50 of 60 uitvind wat God se plan vir my lewe is. Nee, God se wil is nie so ingewikkeld nie. Ons het nie nodig om ons hele lewe lank te stoei en te worstel om uit te vind wat God se wil is nie. 3. Miskien is dit wat ons van kleintyd af in die kerk gehoor het en die boeke wat ons gelees het wat veroorsaak het dat ons vandag dink dat God se wil een of ander misterie is. Miskien het dit God se wil vir ons so moeilik en onverstaanbaar gemaak. 4. Ervaring het geleer dat mense ook net oor God se wil praat wanneer hulle in slegte omstandighede is. Wanneer iemand kanker kry, ‘n kind moet begrawe of dies meer wonder almal altyd waarom het God dit toegelaat. Wat is God se wil hierin? Maar wanneer ‘n kind 10 onderskeidings in matriek kry dan hoor jy nie dat dit God se wil was nie. Nee, dan is dit die slim kind. 5. En dan is daar altyd die gesegdes waarmee ons getroos word. Net om vir mense wat deur slegte tye gaan te verseker en te herinner dat God mos ‘n individuele plan met hulle lewens het en dit nie moet vergeet nie. In slegte tye hoor ons altyd dinge soos Toemaar. Jy sal later verstaan As God ‘n deur toemaak maak Hy ‘n venster oop Daar is ‘n doel met alles. God het ‘n plan daarmee 6. Snaaks hoe ons denke beinvloed word met dinge wat nie eens in die Bybel geskryf staan nie. Dinge wat nie eens hul oorsprong in die Bybel het nie. ‘n Gesegde wat ek gereeld by begrafnisse hoor is die volgende: As jou strepie getrek is, is hy getrek! Dis deel van God se plan met jou lewe. Waar kom dit vandaan? Nerens se die Skrif dat ons strepie getrek is nie. 7. Kom ons kyk vir interessantheid waar hierdie denkwyse sy ontstaan gekry het. In die Griekse mitologie was daar die Moirae. Die Moirae was die drie sustersgodinne van die noodlot. Destiny. Hulle besluite en invloede was onveranderlik. Nou vgl die Griekse mitologie is die mens geskep met ‘n vrye wil om eie keuses te maak. Totdat die hoofgod Zeus die eerste vrou nl Pandora, geskep het. Van hier af word mense se lot by geboorte vasgele deur die drie godinne. Die eerste godin, Clotho, het ‘n weefdraad gehad waarmee sy alle mense se lewens geweef het. 8. Dan was daar Lachesis wat almal se lewens met ‘n maatband afgemeet het. En laastens was daar Atropos met haar sker. Sy het mense se lewens afgeknip wanneer hulle weefdraad opgeweef is. En so het die mite ontstaan dat wanneer jou strepie getrek is, is hy getrek. Dat jou draadjie geknip word. Die Moslems glo dit, die Hindoes glo dit, die New Agers glo dit. En ongelukkig glo so baie Christene dit ook. Dis nie so vroom as ons ander probeer oortuig dat jou strepie getrek is nie. 9. Feit is, die Bybel dink nie so oor God se wil nie. Die Bybel sien God se wil as heeltemal anders. God se wil gaan oor GOD! Dit klink vanselfsprekend, maar dit is nie. Meeste mense vra die vraag Wat is God se wil vir MY lewe! Wat wil God he moet ek met MY lewe doen? Hoor U? Dan gaan dit nie meer oor God nie maar oor MY. 10. Maar toegegee. Op die oog af is daar teksverse wat dit wel laat blyk dat ons lewens reeds van die begin af vir ons uitgele is en dat ons nou maar daarby moet inval en dit soos robotte uitleef. En wanneer hierdie tekste buite konteks gelees word kan dit nogals heelwat verwarring veroorsaak wanneer ons alles wat die Skrif oor die wil van God se in ag neem. Kom ons kyk na twee van die mees pertinente tekste wat hierdie indruk kan skep by ons. 11. Job 14:5 : “Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.” As mens hierdie vers in solidariteit lees dan staan daar dat die mens se dae is vasgestel en sy jare is bepaal. Maar wat is die konteks van hierdie teksvers? In die konteks van die hele hoofstuk 14 se hierdie vers nie dat God besig is om mense se strepies te trek nie. 12. Maar wat is dan die agtergrond van hierdie hoofstuk en wat het gelei tot hierdie woorde van Job? Ons moet in gedagte hou dat Job in hfst 14 besig is om God aan te kla. Hy voel God is onregverdig. Hy is van mening dat God in elk geval net doen wat Hy wil. En Job voel hy is uitgelewer aan een of ander plan waarin hy geen sê het nie. 13. Hy se vir God dat die bome kry ‘n tweede kans. Hulle word afgekap en dan groei hulle weer, hulle strepies is nie getrek nie, maar ek Here, ek wat Job is kry nie ‘n tweede kans nie. Dit is Job se gevoel en aanklag teen God. Dit is deel van ‘n regsgeding waarin hy God van onregverdigheid beskuldig. 14. Daarom kan ons nie se hierdie teksvers veralgemeen en se dat vers 14 handel oor alle mense van alle tye nie. Aan die einde van Job kom se sy 4 vriende vir hom dat hy baie onwaarhede teenoor God kwytgeraak het in sy aanklagte teen God en Job erken dit ook in hfst 42. So Job 14:5 se nie dat God mense se strepies trek nie. Dit se Ek DINK U doen dit en daarom dink ek U is onregverdig. Inteendeel, in vers 13 se Job die teendeel: “As U maar liewer ‘n tyd vir my wou vasstel..” 15. Daarom moet ons baie versigtig wees om ‘n hele teologie op een of twee tekste te bou wat buite konteks aangehaal word. Wanneer die Skrif oor ‘n onderwerp met jou praat moet die HELE Skrif daaroor uit dieselfde mond praat. MAW as ons na die Skrif toe gaan met Job 14:5 in gedagte en ons hou op om verder hieroor te dink, dan skuld ons onsself ‘n beter manier van dink oor die Skrif. Dis maklik om te se Ek het ‘n teks! Maar hoe interpreteer ons die teks? 16. Die 2de teks is die bekende Psalm 139:16 : “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is”. Hierdie Psalm gaan oor die almag van God. Ons is nie ‘n biologiese toevalligheid nie en ook nie produkte van die noodlot nie. Ons is van geboorte tot anderkant die dood in die hande van hierdie Almagtige God. Vers 1-6 se dat ons sonder God niks kan doen nie, vers 7-10 se dat ons Hom nooit kan ontvlug nie, vers 11-12 se dat ons niks vir Hom kan wegsteek nie, vers 12-16 se dat God ons deur en deur ken en verse 17-18 se dat Hy ondeurgrondelik is. Onverstaanbaar. 17. Vers 16 se nie binne die konteks vir ons dat ons strepies getrek is nie. Inteendeel, dit se dat God ons lewensdae by geboorte al geken het. Nie deterministies bepaal het nie. Hy het dit geken! Tot sover hierdie twee tekste. 18. Feit is, oral in die Skrif waar daar gepraat word oor die wil van God word in die enkelvoud gepraat. Daar staan nerens dat God 7 biljoen wille het vir 7 biljoen mense op die aarde nie. Dink maar net die konsternasie as God vir elke mens ‘n bloudruk plan het tot in die fynste detail uitgewerk en een persoon wyk van daardie plan af. Dit sal so ‘n sneeubal effek he dat alle mense op aarde later sogenaamd “buite” God se wil gaan leef. Nooit skets die Bybel God se wil so nie. 19. Hiermee saam kan ons een baie belangrike vraag vra: As God ‘n detail plan vir elkeen van ons uitgewerk het, waarom bid ons dan nog? Want as God dit uitgewerk het is dit mos vasgestel, of hoe? 20. God is nie ‘n gevangene of slagoffer van sy eie planne nie. Daarvoor is daar te veel voorbeelde in die Skrif. In Genesis 2:17 se God vir Adam dat wanneer hy van die boom van alle kennis eet, hy sal sterf. Maar in Genesis 3 nadat hulle hiervan geeet het, sterf hulle nie. Het ons dit gemis? God se nee, Hy sal uitstel gee. 21. Genesis 4 -Kain vermoor sy broer. Was dit deel van God se uitgewerkte plan vir Kain se lewe om op ‘n sekere dag sy broer te vermoor? Beslis nie! In Gen 4:6 en 7 kan ons gaan lees van God se waarskuwing aan Kain, maar Kain gaan voort om te sondig. In Jesaja 38 lees ons hoe Jesaja vir Hiskia kom vertel dat sy tyd op is. 22. Hiskia vra dat God sy lot sal verander en God doen dit. Is God wispelturig? Nee, Hy verander sy planne volgens sy hart. God is nie gebind aan ‘n bloudruk plan wat hy iewers vir elkeen in ‘n liasseer kabinet in die hemel het nie. Hy is genadig. Hy hoor as sy kinders na Hom roep en Hy antwoord hulle. 23. So kan ons aangaan. Jona en Nineve – God verander sy plan met Nineve. In Luk 18 lees ons van die onregverdige regter wat van plan verander omrede die weduwee by hom bly kla. En ons weet dat die regter eintlik God verteenwoordig en die weduwee ons. 24. Cicero, die groot Romeinse wetgeleerde, het verkondig dat dit nie help om dokter toe te gaan wanneer mens siek is nie want as dit vooruit bepaal is dat die medisyne nie gaan werk nie sal dit nie. Maar dis nie Bybelse denke nie. Ons skuld onsself ‘n beter lees en verstaan van die Skrif. 25. Tweedens is ons geneig om die teksvers wat God se wil so duidelik verduidelik te ignoreer wanneer ons oor die wil van God praat. Ons teksgedeelte vanoggend: Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” 26. U sien, ons is nie die produk van ‘n beplanningsessie wat in die hemele gehou is en nou voer ons soos robotte hierdie plan uit nie. Johannes se in essensie vir ons die volgende: God het een plan met hierdie wereld. En sy plan het ‘n naam: Jesus Christus! 27. En Jesus se Hy het gekom om God se wil te doen. En God se wil, se vers 39, is om almal in hierdie wereld te red. Dis God se wil, se Jesus, om die lewe vir elkeen te gee, voor en na die dood. 28. Derdens, God wil he dat ek en jy met ons lewens by sy wil inval. Het u al gehoor hoe mense ure oor God se wil kan praat sonder om oor Jesus te praat? Hulle soek God se wil wanneer hulle moet verhuis, of met wie hulle moet trou, of hulle kinders moet he en of hulle van beroep moet verander. Dan moet God skielik gou ‘n teksvers gee of ‘n profeet moet besoek word. Maar nooit noem hulle die naam van God se enigste plan vir die wereld nie: Jesus! 29. So dit blyk vir my dat die enigste vraag wat ons moet vra is hoe val ek by God se wil in en nie hoe God by my lewe inval nie. Ek, met my gawes en talente en vermoens, hoe dra ek daartoe by dat die wereld gered kan word. Sodat, op die einde van die dag, God verheerlik kan word sodat mense Jesus Christus kan vind. 30. Roedolf Botha gebruik 2 metafore om dit vir die minder slimmes soos ek te verduidelik. Eerstens noem hy dat God se wil nie soos ‘n tightrope is nie. Jy loop op hierdie styf gespande kabel en God se wil is die kabel en jy moet baie mooi en versigtig loop om nie af te val nie anders is jy buite God se wil en dan moet jy weer sukkel om op te kom. Dis nie hoe die Bybel God se wil beskryf nie. 31. Tweedens gebruik Botha die metafoor van landsgrense. Hierbo sien u ‘n kaart van die Nasionale Kruger Wildtuin. Die grense is uitgele maar binne is dit besig. Die verskillende kampe word aangedui, paaie word aangedui ens. Die Ou en Nuwe Testament beskryf God se wil eerder as landsgrense of soos ‘n wildtuin se grense wat gestel is. God wil he ons moet daarbinne bly. Binne sy wil bly, maar waarbinne ons ‘n vryheid het waar ons ons besluite elke dag kan neem. Waarbinne ons keuses kan maak. 32. Dit beteken dat binne God se wil wat Hy reeds in die Skrif aan ons geopenbaar het, binne hierdie landsgrense waarin ons leef, moet ons deur ervaring en gebed en afhanklikheid en probeer en mislukking en weer probeer en val en weer probeer en dan sukses, oefen ons daagliks deur ervaring om goeie besluite te kan neem. En selfs wanneer ons foute maak is dit God se genade wat ons optel om verder te leer om deur wysheid die regte keuses te maak. Klink dit nie nader aan die tipe lewe wat u en ek elke dag leef nie? 33. My lewe is as kind in my Vader se huis. Ons is kinders van God. Ons ken sy hart en dit is om mense te red. Sy wil is dat ek in Jesus glo. En nou doen ons dit. Nou is sy wil dat ek so sal leef dat ek mense in sy plan intrek. Dat ek mense deur my gedrag na Jesus toe aantrek. God gee nie om waar ons bly, werk, skoolgaan of wat ons ry nie. Solank ons daar waar ons is, Hom so verheerlik dat ons deur ons optrede mense na Hom toe trek. Dan leef ek binne God se wil en God se plan vir my lewe.