Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Verlede Maandag gesels ek met iemand hier op die dorp en ek kan sien dat sy moeg is. Sy is nie haarself nie en sy is nie die tipe persoon wat ek die hele jaar leer ken het nie. En hierdie tyd van die jaar het nogals die manier om hierdie uitwerking op jou te he. Veral as jy nie een van die gelukkiges is om iewers langs ‘n bergstroom op vakansie te wees nie. En sy begin deur alles op te noem wat verhoed dat sy positief voel, dat alles net nie uitwerk nie en dat dinge net verkeerd is. 2. Iemand het eenmaal gesê: “My vrou is bly ek is nie perfek nie. Sy hou daarvan om fout te vind.” Daar is oorkritiese mense in hierdie lewe wat met alles fout vind. Hulle kop werk eenvoudig so. Hulle is soos skeidsregters. Al wanneer jy gewoonlik van ’n skeidsregter hoor, is as daar iets verkeerd gebeur op die veld en al waarna hy soek, is foute. 3. So kry jy mense wat dink hulle taak in hierdie wêreld is om met alles fout te vind en te kritiseer. Dis hulle roeping, dis waarvoor hulle geskape is. Hulle is gedurig besig om te beoordeel en te evalueer. Op die geringste fout sak hulle toe soos ’n klomp tieners op ’n bak roomys, en hulle kritiek hou nie op voordat elke druppel afgelek is nie. Dis die tipe mens wat met die viering van hulle vyf en twintigste huweliksherdenking met geboë hoof vir ’n minuut stilte sal vra. 4. Alles is altyd verkeerd, vra maar net vir hierdie persoon: hy of sy sal vir jou iets kan wys wat verkeerd is. Gee die persoon vir jou ’n kolletjies- en ’n gestreepte das vir Kersfees en jy sit die kolletjiesdas vir die Kersdiens aan, wil die persoon dadelik weet of jy nie van die strepiesdas hou nie. Nie die positiewe nie, maar die negatiewe staan altyd voor in die ry. 5. Hoewel ’n mens nie heeltemal kan veralgemeen nie, is sulke mense gewoonlik maar baie onseker van hulleself. As jy by hulle selfgesprek kan gaan insit, jy weet, daardie gesprek wat hulle in die spieel met hulself het as hulle alleen is, sal jy hoor dat die eerste ding wat hulle gewoonlik doen as hulle iets hoor of as iets met hulle gebeur, is om te vergelyk. Hulle is so bang iemand is dalk beter as hulle. Daarom vergelyk hulle die hele tyd, en bewaar die persoon wat beter is, want as ander beter is as hulle, gaan dit hulle slegter laat lyk. 6. Die lewe is vir hierdie mense net nie meer eenvoudig nie. Hulle kan die lewe nie sommer net meer geniet vir wat dit is nie. Die lewe word vir hulle een groot stryd (of wedstryd) waarin hulle die hele tyd net moet keer dat hulle nie verloor nie. Dit is of hulle ’n figuurlike liniaal in hulle kop saamdra wat so lank is soos hulle eie vermoëns. As hulle iets van iemand hoor, meet hulle dit met daardie liniaal en alles wat langer is as hulle liniaal probeer hulle met die kritiek van ’n skerp tong afsny. Of hulle weet altyd beter, dinge gebeur groter en meer met hulle. 7. Om te voel dat hulleself iets is moet hulle ander mense met hulle kritiek tot niet maak. ’n Ander se prestasie is dus vir hulle ’n neerlaag. Die skeidsregter van ‘n sportwedstryd sal mooi met jou kan gesels oor alles wat skeef geloop het. Dit is waarvoor hy gekyk en gesoek het. Maar het hy werklik die genot en prag van die goeie spel raakgesien? 8. Daar is ongelukkig nog ’n ander sy ook; die van vernietigende selfkritiek. Hierdie mense is in hulle eie selfgesprek gewoonlik hulle eie grootste vyand. Hulle voel hulle doen nie goed genoeg nie; stel ander teleur en is maar in die verloorspan. Daarom kritiseer hulle hulself gedurig, want hulle voel hulle is mislukkings en soek dan ook die redes daarvoor. Daarom het hulle gewoonlik ’n swak selfbeeld, want hulle voel nooit dat hulle goed genoeg is nie. 9. Hulle is die hele tyd besig om vir hulleself wys te maak dat hulle nie eintlik is wat hulle moet wees nie en hulle glo dit ook. As jy vir so iemand vra hoe gaan dit met die nuwe baba, sal sy vir jou sê: “Hy lyk na my, maar is darem gesond.” Geen wonder dat so iemand nie kan cope nie. As jy heeltyd jouself afbreek, kan daar tog niks staande bly nie. En sulke Skeidsregters vergeet dikwels van die Here 10. As Christene is ons nogal geneig om onsself tussen twee rowers te kruisig. Kom ons gee hierdie twee rowers name: aan die een kant hang “skuld vir gister” en “vrees vir môre”. Omdat ons so skeidsregter speel, is ons so deeglik bewus van al ons foute. Ons kan nou maar eenmaal nie loskom van ons skuld van gister nie. Dit pla en ry ons. Ons voel altyd skuldig en dus nie goed genoeg nie. 11. Omdat ons so bewus is van ons eie tekortkominge is ons ook onseker en bang vir die toekoms. Ons kry die gevoel van: “Jy flop so maklik; moet niks aanpak nie, want jy gaan buitendien flop.” Dan oorweldig daardie gevoel jou dat jy nie behoorlik cope nie. In die hele proses vergeet ons van God. Dikwels jaag skeidsregters die Here sommer van die speelveld van hulle lewe af. 12. Ons vergeet dat ons nie tussen die twee rowers hoef te hang nie, maar dat Hy in ons plek daar gehang het. Hy het met die skuld van gister afgereken. Ons hoef dit nie meer te dra nie. En die vrese van môre? Daarvoor sal Hy ook sorg, want Hy sal saam met ons daar wees. Die vrees sal jou nie kan oorweldig nie. Sy vrede gee Hy vir jou (vgl. Joh. 14:27). Moet dus nie die Here se werk probeer doen nie. Vertrou Hom, Hy kan dit beter doen as jy. 13. Die mense wat skeidsregters is, is ook baie sensitief en fyngevoelig as iemand hulle kritiseer. Hulle voel al klaar dat hulle nie regtig die pyp rook nie. Nou kom ander dit nog invryf ook. Daarom reageer hierdie mense baie keer aggressief op enige kritiek. As hy of sy kritiek hoor, hoor hulle eintlik dat hulle sleg is, en wie gaan homself dan nie verdedig nie? Kritiek, al is dit hoe goed bedoel, maak vir Skeidsregter seer en plaas hom of haar op die verdediging. 14. Om hulleself so ’n bietjie te probeer beskerm en hulle eie onsekerheid weg te steek is sulke mense dikwels die groot beterweters. Hulle weet altyd wat die beste of die grootste of die sterkste is, soos Koos en Jan wat oor krieket gesels het. “Wat is jou hoogste telling?” vra Koos. “Honderd en vyftig,” antwoord Jan. “O, myne is honderd en sestig,” sê Koos. “En wat is die meeste paaltjies wat jy in ’n boulbeurt gevat het?” “Nee,” sê Jan, “dit is nou jou beurt om eerste te antwoord.” 15. Agter die bravade van beterweterigheid steek mense gewoonlik hulle eie vrese en onsekerheid weg. Alles wat met hulle gebeur het is beter, groter en erger as enigiets wat met jou kan gebeur. En maak nie saak of jy ‘n doktorsgraad op ‘n spesiale vakgebied het nie, hulle weet altyd beter as jy. Dit gee vir hulle die gevoel dat hulle darem ook iéts is, al is dit net om te wys dat hulle van iets meer weet as die ander, of in die meeste gevalle DINK hulle weet meer as die ander. 16. Hierdie spiraal moet gebreek word, anders sluk dit ’n mens net dieper en dieper in. Om die spiraal te breek moet ’n mens gemotiveerd wees om dit te wil doen. Dit help nie om te maak soos die ou wat die sielkundige gaan sien nie. Hy kla dat hy elke aand droom hy speel krieket, maar hy is elke keer vir ’n nul uit. Hy sê hy kan sy swak spel nie meer vat nie. Die dokter sê toe vir hom dat hy positief moet begin dink voor hy gaan slaap. Hy moet aan ander dinge dink wat vir hom lekker is. “Wat,” sê die ou vir die dokter, “en my kolfbeurt mis?” 17. Hy wou nie regtig iets aan sy probleem doen nie. So vorder ’n mens nie. Want dis HY wat nie wil verander nie. Of neem die persoon wat die een oggend laat is vir werk. Hy is ongeduldig by elke robot. Die volgende dag is hy betyds en dan pla geen robot hom nie. Die verskil lê nie by die robot nie, maar by hom. Die situasie en hoe jy dit hanteer, is belangrik en dit bepaal hoe jy gaan reageer op die probleem. Maar jy kan vorder as jy wil. 18. As so iemand begin leer om op ’n ander manier met homself te praat, gaan dit al klaar baie help. Elke sport het reels. Net die politiek het nie. Hierdie reëls en waardes beheer dan hoe die spel gespeel moet word. Skeidsregters moet tog reëls hê waarvolgens hulle moet optree. Die reëls gaan vir hulle sê waar die foute lê en waar nie. 19. Jy moet bewustelik jou negatiwiteit oorkom deur werk daarvan te maak. As jy ‘n Doemprofeet is en voel dat jy hierdie “profetiese roeping” vaarwel wil toewens, gaan dit beteken dat jy jou gedagtes op ’n ander manier fiks sal moet hou. Jy sal dit nie meer fiks hoef te hou met al jou bekommernisse nie, maar jy gaan anders moet begin dink. Jy gaan moet konsentreer op “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop gaan jy jou gedagtes moet rig”. 20. Dit verg oefening. As jy agterkom jy dink negatief oor iets wat jy moet doen, probeer dadelik positiewe redes soek waarom jy daardie betrokke ding moet doen. Gaan doen dit en leef so jou vrese dood. En asb geliefdes, as daar ‘n verskoning is wat net nie water dra nie, is dit die ou redenasie van “Ek is nou maar eenmaal so en ek kan nie verander nie!”. Of, daardie persoon is nou al vir 60 of 70 jaar so en daar is geen manier hoe hy gaan verander nie. 21. As dit die geval was sou Paulus nooit Rom 12:2 geskryf het waarin ons opdrag gegee word om God toe te laat om ons te verander deur ons denke te vernuwe. Of Paulus het dit net bedoel vir tieners. Nie vir die van ons wat al lank in die tand is nie. Volgens buite Bybelse geskrifte was Paulus ongeveer 30-35 jaar oud toe hy tot die Christendom bekeer het. 22. Maar toe Jesus vir Paulus op die Damaskuspad vra waarom hy Hom vervolg, wat was sy Antwoord? “Here, ek doen dit nou al vir baie jare, en dis nou maar hoe ek is. Ek is te oud om te verander.?” Nee, wie is U Here? Was sy Antwoord. En Paulus het God toegelaat om hom te verander en soos hulle se: :”The rest is history…” 23. Geliefdes, niks is vir God onmoontlik nie. Die engel het dit in soveel woorde vir Maria gese. Blaai maar deur die Skrif en kyk wat het met mense gebeur wat bereid was om anders te begin dink, mense wat besef het hulle KAN deur God verander word en daarvoor beskikbaar was. Want hulle het anders begin dink. Oor die lewe, oor mense, oor hulself en ook oor God! Die waar dinge, die edel dinge, die regte dinge, die rein dinge, die mooi dinge, die prysenswaardige dinge – dis wat hulle gedagtes begin vul het. EN God het hierdie mense verander, Paulus, die dissipels, almal wat hulle pad gekruis het. Dit kan met jou ook gebeur. 24. In Spreuke 4:23 se Salomo die volgende: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” En ons almal weet wat dit beteken. Wees versigtig hoe jy dink, want dis waaruit jou aksies voortvloei. As on sons lewens en lewensomstandighede en lewensuitkyk wil verander, moet ons by ons gedagtes begin. 25. Die lewe kan vir jou ook mooi wees, goed wees. Maar kom ons begin anders dink, kom ons begin anders praat – en laat God dan toe om jou te verander deur te begin by die manier waarop jy dink!