Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Kersfees is vir my belangrik. Eintlik baie belangrik. Nou vir vroee Christene was dit nie so belangrik nie. Vroee Christene het nie kersfees gevier het nie. MAW hulle het nie die geboorte van Christus gevier nie. Dit het eers hier in die vierde eeu gebruik geword. En soms het ek gewonder waarom was Kersfees vir die vroeë Christene nie so belangrik as wat dit vir ons is nie? Wel daar is ‘n paar redes daarvoor. 2. In die antieke tyd (die tyd van Jesus) het mense nie die datums van geboortes aangeteken nie. Hulle het in die eerste plek nie behoorlike kalenders gehad nie. (Daarom weet ons nie presies wanneer Jesus gebore is nie – hy is beslis nie op 25 Desember gebore nie; ons vier maar net sy geboorte dan). In die tweede plek het mense nie verjaardae gevier nie en in die derde plek het hulle nie geweet of die baba belangrik gaan wees of nie – waarom dan sy geboortedag onthou as jy nie weet of dit belangrik gaan wees of nie. 3. As ons kyk na Paulus se weergawe van die geboorteverhaal van Christus vind ons net twee verse in Gal 4: “4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5 om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.” En hierdie kersverhaal van Paulus vertel nie van ‘n babatjie met pienk wangetjies in ‘n krip nie. Dis eintlik gelaai met swaar teologie. 4. Paulus beklemtoon in sy kersverhaal dat Jesus soos enige goeie Jood aan die wet onderworpe was, dat God agter alles staan aangesien Hy die tyd en omstandighede bepaal het van Jesus se koms. Dat Jesus voor sy geboorte by God self was en dat Jesus met ‘n doel gekom het: Om diegene wat aan die wet onderworpe was los te koop van hierdie wet en so kinders van God te word. Ons lees niks van ‘n babatjie met pienk wangetjies in ‘n krip nie. Dit was Paulus se Kersverhaal! 5. Die lewe en veral die dood van iemand was eerder belangrik. Hoe jy gesterf het, het eintlik alles gesê van hoe dapper en belangrik jy was. Die sterfdae van belangrike persone is dus onthou. (Ons weet Jesus is gedurende die paasfees dood). Mense het dus baie meer in die sterfdag as in die geboortedag ingelees. Dit was so met die meeste van die belangrike persone in daardie tyd. 6. As die geboorteverhaal op ‘n latere stadium van so belangrike persoon dan geskryf is, is dit altyd in die lig van sy latere lewe geskryf. Jy sal nooit in so verhaal ‘n pap babatjie kry wat in die lug le en skop nie. Nee, wanneer die geboorteverhale van iemand later opgeteken word, word die belangrikheid van daardie persoon in sy latere lewe by sy geboorteverhaal ingeskryf. 7. Die rede was omdat die vertellers wou beklemtoon dat die persoon wat gesterf het dieselfde is as die kind wat gebore is – toe hy gebore is, het hy reeds hierdie karaktertrekke gehad wat die mense van hom moet onthou tydens sy begrafnis. En as ons moet soek vir die belangrikheid van Jesus in sy geboorteverhaal soos Matteus dit opgeteken het, hoef ons nie ver te soek nie. 8. Want sy geboorteverhaal verwys na ‘n maagdelike geboorte, ‘n ster wat dit aankondig, nie minder nie as 4 Kersliedere wat spesiaal hiervoor gekomponeer is, engele wat die geboorte aankondig, God wat Josef en die wyse manne in drome van raad bedien. Die grootheid van Jesus in sy latere lewe is ingesluit by sy geboorteverhaal soos dit altyd gedoen is. Jesus se geboorteverhaal het die belangrikheid van sy lewe beklemtoon. Omdat Hy in sy aardse lewe belangrik was, moes dit in sy geboorteverhaal gereflekteer word. 9. En wanneer jy die kersverhaal van Matteus fyn bestudeer merk jy ‘n aantal interesanthede op. Soos die feit dat Jesus twee name gegee word. In hfst 1:21 lees ons dat “Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Net hierna in vers 23 lees ons “Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.” 10. Nou die woord Jesus is die Griekse vorm van die woord Josua en beteken iets soos verlossing of “die Here is verlossing”. Die naam Jesus impliseer dat God ons kom verlos, maw God bring ons na Hom toe. Hy trek ons na Hom toe. Die naam Immanuel daarenteen weet ons almal beteken “God met ons” of “God is by ons”. Hierdie impliseer weer die teenoorgestelde as die naam Jesus. Terwyl Jesus verwys na die feit dat God ons na Hom toe trek verwys Immanuel na die feit dat God na ons toe kom. 11. Jesus se geboorte is anders as enige ander geboorte – Hy het na die wêreld toe gekom. In Johannes 16:28 sê Jesus: “Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld.” Jesus sê dat Hy gebore is, maar ook dat Hy van altyd af daar was – by God die Vader. Hy is anders; Hy kom van ‘n ander plek. Die werklikheid van Kersfees is dat God na die wêreld gekom het. Kersfees gaan oor God wat mens geword het . 12. Dit vorm eintlik ‘n perfekte sirkel. God by ons en ons by Hom! En dis wat Jesus kom doen het. Hy het die mense na God toe gelei, na God toe getrek as’t ware, maar Hy het God ook aan ons kom sigbaar maak, bekend stel, na ons toe gebring. Daarom bereik die evangelie ‘n soort van hoogtepunt as die soldaat by die kruis uitroep: Waarlik, Hy is die Seun van God (27:54). Dit is wat ons vanoggend moet raaksien as ons na ‘n krip kyk. 13. Matteus is die evangelie vir die Jode. In Matteus se weergawe van die geboorteverhaal vind ons nie minder nie as vyf (5) aanhalings vanuit die OT rakende Jesus se geboorte. En hierdie aanhalings wys juis dat die profesieë van die Ou Testament in Jesus vervul is. Die God van die Ou Testament is dus die Een wat in Jesus aan die werk is, want wat Hy beloof het, is besig om in ‘n krip waar te word. Dit was vir die Jode nogal belangrik. Hulle verbondsverhouding met God was hulle alles. Hulle hele lewe het daarom gedraai. 14. En dit was belangrik dat Matteus by hulle sou tuisbring dat Jesus nie ‘n nuwe godsdiens kom stig het nie, maar die voortsetting is van die pad wat God deur sy volk met die hele wereld wil loop. Waar Jesus nou is, daar in ‘n krip, is God teenwoordig. ‘n Mens besef eers hoe groot die krisis vir die Jode moes wees as jy besef dat die Jode wat Jesus verwerp het, eintlik vir God self verwerp het en nie meer deel van God se nuwe volk was nie. 15. God was teenwoordig by Jesus in die krip. Juis daarom is Hy Immanuel genoem. God was teenwoordig by Jesus deur sy grootword. Hy het elke jaar saam met sy ouers die Paasfees bygewoon (Luk 2:41-52). Een jaar het Hy selfs in die tempel agtergebly en toe sy ouers Hom konfronteer was sy Antwoord dat Hy in die huis van sy Vader moes wees. Hy het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by die mense en by God toegeneem se Matteus. Lukas beskryf Jesus se grootword jare soos volg: “Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.” Deurentyd was Hy Immanuel, God by ons maar ook God by HOM! Selfs in sy grootword tienerjare. 16. Maar hierdie baba was selfs meer as dit. Elisabet noem Hom haar Here, Sagaria noem Hom Verlosser, Gabriel noem Hom die Seun van die Allerhoogste, Seun van God, Heilig. Die engel wat die geboorte aankondig noem Hom Christus die Here, Simeon noem Hom die verlossing en die Lig tot verligting van alle nasies. Johannes noem Hom die Woord, self God! 17. Kan daar nog by ons enige twyfel bestaan oor wie hierdie Kind was? Oor wat Hy kom doen het? Nee, daar kan nie. Daarom leef ons in dankbaarheid teenoor God vir die grootste geskenk wat enige van ons nog ooit ontvang het of ooit sal ontvang. Hy wat ons na God toe kom trek het, is ook Hy wat God na ons toe gebring het. Soli Deo Gloria!