Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Wat maak jou vandag gelukkig? Wat is dit wat jou ʼn gevoel van vreugde en vrede in jou gemoed gee? Vir baie mense is Kersfees een van daardie dinge wat vreugde verskaf. Tog is daar ook die teenkant daarvan. Miskien is Kersfees hierdie jaar vir jou nie so ’n vreugdevolle tyd nie. Miskien is jy bekommerd oor jou finansies of lê jy wakker oor werknemers wat jy moes afdank. Dalk is jyself een van die wat hulle werk verloor het kort voor Kersfees. 2. Dalk beteken Kersfees vir jou ’n hartseer tyd, omdat dit die verlies van ’n geliefde weer vars in jou geheue bring. Dalk beteken Kersfees vir jou wel die samekoms van familie, maar terselfdertyd ook rusie en verskille met daardie selfde familielede. Hoe maak ons dan met ’n vers soos Filippense 4:4 wat sê: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” of Sefanja 3:14 wat sê: “Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!”. Hoe beleef ons vreugde ten spyte hiervan? 3. Die profeet Sefanja gee die oproep aan God se volk om te jubel en te juig, vreugdevol te wees in vers 14. Maar wanneer ons hoofstukke 1-3 gaan lees en kyk hoe die Sefanja tot hier gekom het, dan sit ons met ‘n geweldige probleem. Want in hierdie hoofstukke voor vers 14 se oproep tot die volk om te Jubel en te Juig en vol vreugde te wees, lees ons net van oordeel en straf. TEENOOR DIESELFDE VOLK VAN GOD! 4. Sefanja profeteer ’n boodskap dat die Here die ander nasies, en vir Israel, gaan oordeel oor hulle sonde en ongeregtigheid. Hy bring die boodskap dat God vir Israel gaan suiwer en louter voordat die verhouding tussen God en sy volk herstel gaan word. Hy begin hfst 3 alleen met die woorde “Ellende wag vir Jerusalem…….Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie op die Here nie en dien nie sy God nie. Sy profete is roekeloos, mense is troueloos en hulle doen die wet van die Here geweld aan.” En dan, net hierna, kom die oproep aan Israel om te jubel en te juig en vol van vreugde te wees oor wat God gaan doen. Klink dit nie bietjie vreemd nie? Klink dit nie eintlik BAIE vreemd nie? 5. En nou moet ons nog iets anders verstaan. Hierdie was ’n tyd van uitdagings en onsekerheid vir Israel – polities was hulle nie onafhanklik nie, hulle ekonomie het gesukkel, en dit was ’n tyd van groot onsekerheid oor die toekoms van die volk. En nou moet hulle woorde hoor soos dat ellende vir hulle wag, dat hulle aan God ongehoorsaam is, nie op God vertrou en Hom nie dien nie en dat hulle gretig bly sonde doen het. Dis heelwat erger as om sonder krag of water te wees vir ‘n week. 6. En dan hoor hulle dat hulle hieroor moet bly wees!? Hoe op aarde bring jy die twee bymekaar uit? Vir ons wat nou lewe na die NT is dit dalk makliker as vir die Israeliete van daardie tyd om bly te wees. Ons het die Nuwe Testament wat ons vertel van kersfees, die eerste koms van Christus ons Verlosser. Dit vertel ons ook van die tweede koms van Christus, die wederkoms wanneer Hy alles met ʼn nuwe hemel en nuwe aarde gaan vervang. 7. Hoewel ons dit weet is daar steeds dinge in die lewe wat dit vir ons moeilik maak om altyd opgeruimd en vol vreugde te wees. Ons ervaar pyn, verlies, bitterheid en ontnugtering. Kan ons werklik nog feesvier en opreg vreugde ervaar te midde van hierdie dubbelsinnigheid van die lewe? Of is ons eintlik maar net besig om elke nou en dan ons oë toe te knyp vir wat werklik om ons aangaan? 8. Maar God is, soos ons in Boeretaal se, besig om met ‘n plan te werk. God roep Israel op tot vreugde, selfs te midde van moeilike omstandighede. Selfs ten spyte van wat vir hulle voorle en waarvan hulle nou deeglik bewus is, roep God hulle steeds op tot vreugde in Hom. En vandag nog doen God dieselfde. Hy roep ons steeds elke dag op tot vreugde in Hom ten spyte van my finansiele probleme, tsv die slegte nuus wat ek ontvang het TSV ALLES, VIND VREUGDE IN MY se God! Maar hoe maak ons sin van hierdie oproep tot vreugde? Here, maar dis baie teenstrydig. Byna onmoontlik! 9. Jesus het dieselfde gedoen in Joh 16. Daar praat Hy met sy dissipels oor sy naderende dood en dan in vers 20 se Jesus hierdie vreemde woorde: “Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander.” 10. Jesus se vir hulle dat die rede vir hulle droefheid sal ook die rede wees vir hulle grootste blydskap! Julle sal huil omdat ek weggaan se Jesus, maar die feit dat ek weggaan gaan nog die rede vir julle grootste vreugde wees. En die dissipels het ook nie hierdie beginsel verstaan nie. Die beginsel van vreugde wat uit hartseer en pyn kan voortkom nie. 11. En daarom volg Jesus sy stelling op met ‘n voorbeeld. Hy gebruik die voorbeeld van ‘n vrou wat in kraam ingaan. En Hy verduidelik vir hulle dat dieselfde kindjie wat vir hierdie vrou soveel pyn veroorsaak het is ‘n paar minute later haar grootste bron van vreugde. Haar vreugde is oor ‘n mens wat in die wêreld gebore word. So is Jesus se opstanding die geboorte van ‘n nuwe mens, van ons wedergeboorte as kinders van God. Is daar ‘n groter rede as dit om vreugdevol oor te wees? 12. ‘n Jaar gelede het Drickus Du Plessis skielik ‘n slagspreuk wereld bekend gemaak na een van sy gevegte. “Hulle weet nie wat ons weet nie!”. Wel geliefdes, het u al ooit daaraan gedink dat net miskien weet ons nie wat God weet nie? Miskien weet Hy heelwat meer as ons? 13. Maar daar is hierdie twyfelagtige oortuiging dat ‘n mens oor alles moet bly wees en die Here onder alle omstandighede en selfs vir alles moet loof. Daar is mense wat oortuig is Hy verwag dit van ons. Dis deel van kerktaal. Maar as ons eerlik met onsself is weet ons dit werk nie altyd so nie. En sommige mense kritiseer en veroordeel hulself as hulle nie altyd vol vreugde en blydskap is nie. 14. Dit kan egter nooit so wees nie. Nóg Israel nóg die apostels het Hom vir alles geloof. Die profete kon sterk te velde trek teen dit wat verkeerd was en hulself beslis nie daarin verbly nie. Paulus kon hard praat met ‘n gemeente wat weer die wet en die besnydenis wou gebruik om deur God geregverdig te word. 15. En dan dink ‘n mens nog nie eens aan al die onreg en lyding in die wêreld nie. Sou dit nie ‘n skending van God se heiligheid wees om die Here te loof oor wat die Nazis aan die Jode gedoen het nie? En selfs net oor een kindjie wat mishandel word nie? 16. Wanneer iets gebeur waaroor God Hom nie kan verheug nie, kan sy kinders ook nie. En daar gebeur soveel téén sy wil, dat ons ook bereid moet wees om te huil van teleurstelling en ontsteltenis, en in heilige opstand te kom teen onreg en onnodige lyding. Wie nooit huil nie, kan ook nie lag nie. Wie nooit ontsteld is nie, kan nooit bly wees nie. 17. Met Kersfees vier ons die wonder dat God in Christus mens geword en onder ons kom woon het. Immanuel! Maar die klem van Kersfees val nie net op die Kind in die krip nie, maar op die Een wat gekruisig is en opgestaan het uit die dood. Daarom da tons in aanloop tot kersfees Advent vier, dit wat ons herinner aan Christus se eerste maar ook sy TWEEDE koms. Tog is die karakter van Kersfees een van uitbundige vreugde. 18. Mirre was kruie wat gebruik is tydens die balsemingsproses van ‘n liggaam na afsterwe. En dit was ook een van die geskenke wat die wyse manne vir Jesus gebring het. En al het die wyse manne met die geskenk van mirre eintlik vir ons reeds verduidelik wat Jesus se voorland was, kan ons nie anders as om Kersfees met vreugde te vier nie. Want ons ken die einde van die verhaal. 19. Maar Kersfees gaan nie oor oppervlakkige vreugde nie. Dit is vreugde te midde van die teenstrydighede en uitdagings van die lewe. Die vreugde van Kersfees het niks te make met ’n mentaliteit van ontvlugting of oë toeknyp vir die werklikheid nie. Volstruispolitiek! 20. Ons kan maar net sosiale media dophou om te sien dat dinge meer verkeerd is as reg. En as jy in jou huis moet stoei met die gesin wat nie saamwerk nie, families wat twis en vir ‘n week sonder krag of water ook moet wees, dan kom jy agter dinge is glad nie altyd maklik nie. Die sameloop van omstandighede kan die frustrasies hoog opjaag. Dit gebeur met almal! 21. Ons lewe nie in ’n ideale wêreld nie, maar God het hiérdie wêreld lief. God verheug Hom oor mense soos ons. Nie perfekte, volmaakte mense nie, maar mense wat hartseer raak en pyn ervaar, mense wat nie altyd alles regkry nie en soms misluk. Ons is nie uitgelewer nie. Met die Kersboodskap kom sê God dat ons omstandighede nie die laaste sê oor ons lewens het nie. Christus is gebore. Daarom gee ons nie op nie, want ons God is ’n God van ontferming. Daarom kan ons in vreugde leef soos Advent vandag van ons vra. 22. Ons Heer is Een wat Homself met sy mense vereenselwig, wat ons geringheid en nood raaksien, wat sy beloftes van ontferming onthou. Hy het dit tog by die doop belowe. Ons is nie uitgelewer aan die omstandighede wat lyk of dit ons wil oorweldig nie. 23. Die Kersboodskap vertel ons van ’n ander orde, ’n ander koninkryk, van nuwe lewensmoontlikhede wat in die realiteit van ons lewens inbreek deur die Kersverhaal. Ons verwag dat God daagliks in ons lewens sal ingryp en dinge verander ten goede. Dit is waarom ons Kersfees vier. En as dinge nie ten goede verander nie, neem dit niks van die vreugde wat die Kersverhaal bring weg nie. Dit is om ten spyte van wat jy sien en ervaar, tog iets anders te verwag – omdat jy God verwag. 24. Bemoedig mekaar deur hierdie Kerstyd, te midde van die dubbelsinnigheid van die lewe. Al ons probleme en uitdagings verdwyn nie sommer net omdat dit Kerstyd is nie. Maar ons het hierdie troos – die Kersboodskap van Jesus se koms na die aarde is goeie nuus vir ons omdat God sy tuiste onder mense kom maak het, Hy het binne in ons wêreld kom inklim. Deur sy Gees het God gekom om te bly. 25. “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap (vreugde) wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”