Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Daar het hierdie trent onder die gelowiges begin posvat dat al wat nodig is om gered te word is om Jesus, of meer spesifiek, die feite oor Jesus, te aanvaar. En in ons teks vanoggend bring Jesus die preek wat ons ken as die Bergrede tot ‘n klimaks. Daar is baie mense wat se dat die Bergrede nie evangelie is nie maar ‘n nuwe wet. Maar ons sal vanoggend sien dat hierdie afsluitingswoorde van Jesus niks anders as suiwer evangelie nie. 2. Sy boodskap in ons teks is dringend, en Hy preek nie oor more se dinge nie. Hy is besig om die mense van sy tyd aan te spreek waar hulle teen die hang van die berg sit. En soos op so baie plekke in die Skrif plaas Jesus hierdie mense voor ‘n keuse. ‘n Keuse wat onafwendbaar is. 3. Regdeur die Skrif het God mense so voor dieselfde keuse gestel. Deur Moses het God Israel gekonfronteer met die woorde: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (Deut 30:19). So daag Josua die Israeliete uit wanneer hulle die beloofde land intrek as hy se: “Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Jos 24:15) 4. Elia het dit uitgeroep op die berg Karmel: “As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” (1 Kon 18:21). God het vir Jeremia gese: “Jy moet vir hierdie volk sê: So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil julle lewe of wil julle sterwe?” (Jer 21:8). Wat jy met Jesus gaan maak is ‘n keuse wat elke persoon self moet maak. Maar een ding moet ons verstaan: Dit is nie ‘n een oomblik besluit en dan is dit verby nie. 5. Dis ‘n besluit met aanhoudende implikasie en dis ‘n ewigheidsbesluit. En hier, aan die einde van sy preek aan die hang van die berg, vereis Jesus van elkeen om 'n besluit te maak tussen die wereld en Homself. Jy sal nie maklik ‘n eenvoudiger weergawe van die evangelie in die hele Skrif kry nie. 6. Ons lees in ‘n bestek van 2 verse van twee poorte, die een wyd en die ander een nou, ons lees van twee paaie, ‘n bree een en ‘n smal een, ons lees van twee eindbestemminge, die een eindig in lewe en die ander in verderf en ons lees van twee groepe mense, die een baie en die ander min. 7. Net hierna vertel Jesus vir ons van twee soorte bome en hulle vrugte, die een goed en die ander sleg. Hy praat van twee soorte bouers, een verstandig en die ander dwaas. Hy praat van twee soorte fondasies waarop ‘n mens kan kies om te bou, een van rots en een van sand. Die keuses is daar. Reg voor ons. En Jesus vereis van elkeen van ons om ‘n keuse te maak. 8. Jesus begin in vers 13 met die woorde “Gaan deur…”. Dis in die imperatief geskryf. Dit beteken daar is ‘n dringendheid daaraan. Gaan doen dit dadelik. Dit help nie om die poort te bewonder nie. Daar moet nou dadelik iets gebeur. En dis belangrik dat ons by die regte poort ingaan. En ten spyte van wat baie mense, selfs mense in die kerk se, daar is net een poort wat na die smal weg lei!!!! 9. “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word”. (Joh 10:9). “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh 14:6) “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” (Hand 4:12) “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus”. (1 Tim 2:5) 10. Christus is die weg. Hy is die poort. Daar is geen ander weg of pad na die ewige lewe nie. Die keuses is eenvoudig. Daar is nie ruimte vir die bree toleransie wat deesdae deur predikers verkondig word nie. Joel Osteen, Oprah Winfrey, Hillsong kerk, almal verkondig deesdae dat daar verskillende manière is om die ewige lewe te beerwe. Jesus is vir hulle nie die enigste weg meer nie. Volgens hulle kan ons nie so veroordelend teenoor mense wees wat anders as ons glo nie. Wel, dis nie ons wat dit besluit het nie. Ons eggo net Jesus se eie woorde! 11. Alle ander gelowe maak op ‘n mindere of meerdere mate staat op menslike prestasie om die ewige lewe te verkry. Dit wat hulle doen sal hulle sodanig red. Die Bybelse Christendom is die enigste wat staatmaak op bonatuurlike ingryping as die basis van ons redding. Net die werk van Christus kan ons red, geen menslike prestasies nie. En dis geloof in hierdie Redder wat ons vryspreek. 12. Maar gelowiges en ook in die kerk het ons dit maklik gemaak om Jesus te volg. Daar is hierdie gewilde ding in die kerk om uitnodigings te maak, jou hand op te steek, in die gangetjie af te loop en ‘n konsepgebed te bid en dan is ons op die glorytrain to heaven. Glo net ‘n paar feite oor Jesus en jy is gered. 13. Maar dis nie wat die Skrif ons leer nie. Om by die nou poort in te gaan is nie maklik nie. Lukas vertel vir ons dat terwyl Jesus deur die stede en dorpe loop en Hy die mense leer, kom vra iemand Hom: “Here, is die wat gered word, maar min?” Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” Die Griekse woord wat hier gebruik word is die woord “agonizomai” waar die engelse woord AGONY vandaan kom. Hierdie woord word ook gebruik om te verduidelik hoe Epafras in Kol 4 altyd ERNSTIG vir die gelowiges bid. Hierdie woord word gebruik in 1 Tim 6:12 om te verduidelik hoe die gelowige “al sy kragte moet inspan” om die ewige lewe as prys te behaal. 14. Dis ‘n stryd, in engels ‘n battle, ‘n struggle! Dis wat Jesus in net 4 hoofstukke verder aan sy dissipels se: “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.” (Matt 11:12). In Lukas 16:16 se Jesus vir die Fariseers “Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.” Hoe pas dit in by die maklike evangelie wat vandag verkondig word? Bid net ‘n gebedjie en alles is okay. 15. Kyk mooi na ons teks vanoggend. Dit se “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” Dit impliseer ‘n soeke, want net iemand wat soek na iets, kry dit. Dis wat God reeds in Jer 29:13 geimpliseer het: “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”(OAV). 16. Die koninkryk van Christus akkommodeer nie iemand wat opsoek is na goedkoop genade nie. Die koninkryk is nie vir mense wat Jesus soek maar nie bereid is om te verander nie. Dis net vir diegene wat al hulle kragte inspan en Hom soek met hulle hele hart. Om ‘n volgeling van Christus te wees vereis ‘n totale transformasie van ons lewens. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Kor 5:17). Wat kan duideliker as dit wees? Ou dinge moet verbygaan. Sonde, selfsugtigheid, wereldse plesiere, dit alles word vervang deur nuwe dinge. Dis die hele punt van verlossing: Dit verander lewens! En ons moet maar erken vanoggend. Die bree weg is baie lekkerder. Daar is geen beperkinge nie. Sonde word geakkommodeer…..solank jy net godsdienstig is. Hierdie bree weg vereis nie ‘n rein, skoon en heilige lewe nie. Spreuke het reeds daarvan gepraat as ‘n “lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (Spr 16:25). 17. Maar die smal weg is anders. Jesus het nooit mense aangemoedig om ‘n vinnige “besluit vir Hom te maak” soos daar in so baie dienste gedoen word nie. Nee, Hy het mense altyd herinner om eers die koste te bereken van hierdie smal weg. Inteendeel, dit wil voorkom of Jesus soms eerder mense aangemoedig het om weg te draai. 18. Ons sien in Joh 6 dat Jesus die mense wat Hom volg se geloof bevraagteken. Daar se Hy “Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. 65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. 66 Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.” Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?” (Joh 6:64-66) 19. Jesus soek nie casual volgelinge nie. Hy soek nie mense wat Hom volg net wanneer dit hulle pas nie. Hy soek nie mense wat op hulle termes en voorwaardes kom nie. Hy soek mense wat bereid is om hulle lewens vir Hom neer te le. Mense wat bereid is om swaarkry te verdra ten spyte van die koste. 20. In Luk 14 se Jesus vir die skare dat as hulle Hom wil volg moet hulle hul ouers, vrou en kinders, broers en susters, selfs hulle eie lewens haat. Natuurlik is Jesus hier besig met ‘n hiperbool (onthou u verlede week). Hy herinner hulle dat as hulle nie bereid is om hul eie kruis op te neem nie kan hulle nie sy dissipels wees nie. Dat hulle bereid moet wees om hulle besittings prys te gee om Hom te volg. In Joh 16 se Jesus vir hulle dat hulle uit die sinagoges geban sal word, dat hulle doodgemaak sal word vir hulle geloof. Jesus maak die smal weg so moeilik as moontlik, want so skei Hy die skape en bokke van mekaar. 21. Gaan preek dit by die volgende “herlewingsdiens” en kyk dan hoeveel mense steek hande op en hardloop in die gangetjie af om ‘n gebedtjie te bid. Klink dit na ‘n verskriklike pad om te loop? Dit is nie! Paulus se juis in Fil 4 dat Jesus ons die krag gee om die pad aan te durf, want sy las is lig en sy juk is sag. 22. Die keuse tussen die paaie is ‘n keuse vir ewigheid. Die bree pad begin maklik maar dit eindig in die verderf. Die smal pad begin nou en moeilik, maar dit eindig in ‘n ewige heerlikheid. 23. Die twee groepe mense op hierdie pad is ook interessant. Baie gaan deur die wye poort en op die bree weg. Wat betref die nou poort en die smal weg, is daar min op. Dit beteken dat groot groepe godsdienstige mense nie die smal weg kies nie. Ook in die OT was die ware gelowiges maar gewoonlik die klein groepie en nooit die meerderheid nie. In Luk 12:32 noem Jesus sy volgelinge “’n klein kuddetjie”. 24. Die gelowiges was maar altyd ‘n klein kuddetjie. ‘n Paar siele wat hard gearbei het in die koninkryk van God, mense wat hulle feilbaarheid en sondigheid geken en erken het, mense wat bereid was om die prys te betaal. Hulle was maar altyd in die minderheid. 25. Die res van die mensdom verkies die bree weg. “….die lig (het) in die wêreld gekom, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” Dis maklik om by die skare in te val. Jy kan selfs vir Jesus bygooi, kerk toe gaan en so aktief of passief wees soos jy wil. Dit sal jou darem godsdienstig laat voel. 26. Maar wie is diegene wat hierdie pad vind? Ons teks praat verder daaroor. Dis diegene wat soos ‘n goeie boom goeie vrug dra. Nie baie glo nie. Goeie vrug dra. Want goeie vrug is die gevolg van ware geloof. Maar Hy verwys ook na diegene wat soos ‘n slegte boom slegte vrugte dra. Van hulle se Jesus dat hulle sal aanvoer dat hulle in sy naam gepreek het, duiwels uitgedryf het en wonders gedoen het. Maar,……dis mos kerkmense van wie hier gepraat word! Nie sogenaamde heidene wat niks met God te doen wou he nie. Hierdie is kerkmense???? Gepreek, wonders gedoen, duiwels uitgedryf??? Hierdie mense kry jy in die kerk! 27. “Gaan weg van my af. Ek het julle nie geken nie”! 28. Ek is oortuig dat die gewilde boodskap van ‘n maklike evangelie wat deesdae baie in kerke verkondig word in sommige gevalle mense eerder weglok in misleiding in as om hulle aan God voor te stel. Dit belowe ‘n wonderlike, gemaklike plan vir jou lewe. Een van gerief en gemak. Maar hulle vergeet dat die evangelie vir die Jode aanstootlik was (1 Kor 1:23) en ‘n struikelblok was (Gal 5:11). 29. Predikers hou Jesus wel voor as die Weg, die Waarheid en die Lewe. Maar hulle se niks van die nou poort en die smal weg nie. Dit praat van God se liefde vir almal, maar maak geen melding van God se toorn nie. Dit is vol liefde en begrip, maar daar is geen oproep tot berou nie. Geen verwysing na ‘n God wat sonde haat nie. Mense word nie opgeroep tot gebrokenheid oor sonde nie, daar is geen waarskuwing oor oordeel en ‘n ewige verderf meer nie. 30. Die evangelie klink deesdae soos maklike verlossing en redding gevolg deur valse beloftes van voorspoed, gesondheid en voortdurende geluk. Dit is nie die evangelie van Christus nie. Die poort is nou en die weg is smal, en die wat dit kry is min. Hoe kon Jesus dit ooit eenvoudiger gestel het? Dis die enigste pad waarnatoe die evangelie wys. Dis nie maklik nie, dis nie gewild nie, maar dis die enigste weg wat na ewige heerlikheid lei.