Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Die Barna Instituut is ‘n Christelike Organisasie wat navorsing doen, interpreteer en dan vrystel rondom christelike bedrywighede – hetsy in die kerk of in die gemeenskap. Hulle navorsing is baie geloofwaardig en dit word wereldwyd aangewend in kerke. Nou die BI het navorsing gedoen oor wat die grootste probleme is waarom gelowiges nie groei in hulle geloof nie, waarom gelowiges nie die evangelie deel nie en waarom mense wat tot geloof kom se lewens nie altyd ten goede verander nie. 2. En ek dink ons kon sommer die resultate van hierdie navorsing vir die BI gegee het sonder dat hulle soveel geld daarop moes spandeer. Die gevolgtrekking waartoe hulle gekom het is dat gelowiges – eerstens – te min bid, en tweedens, lees hulle te min Bybel. 3. Ons het 11 Afrikaanse vertalings van die Bybel tot ons beskikking. Tog wys navorsing daarop dat alhoewel baie Afrikaanse mense ten minste een bybel in die huis het, hulle dit ongereeld tot byna nooit lees nie. Paulus vertel in ons teks dat hierdie Bybel wat in baie mense se huise net ‘n ornament geword het, ‘n baie besonderse doel het. 4. Paulus praat met Timoteus oor dit wat hy van kleins af geleer het en wat hy vas in geglo het. Hoofstuk 1 se vir ons dat Timoteus in die geloof opgegroei het. Timoteus het, omrede hy van kleins af deur sy ouma en ma in die Skrif onderrig is en hy hulle geloof gesien het, het hy kennis van die Skrif opgedoen. Dan se Paulus, in die eerste plek, dat “dit”, hierdie kennis wat Timoteus van die Skrif het, hom kan lei tot die verlossing deur die geloof in Christus Jesus. 5. Natuurlik is Paulus besig om hier te verwys na dit wat ons vandag as die OT ken, aangesien die NT nog nie as versameling boeke bestaan het nie. 6. Die Skrif, geliefdes, soos ons dit ken, het ten doel om ons te lei tot die verlossing in Christus Jesus. Dis vanuit die Skrif wat ons verstaan wie Jesus is, wat Hy kom doen het, hoe Hy vir ons gewys het wie God is. En dan moet ons in gedagte hou: Paulus se dat ons vanuit die OT hierdie kennis kan kry wat lei tot verlossing in Christus. MAW, deur net die OT te lees, se Paulus, was dit vir Timoteus moontlik om te verstaan hoe verlossing deur die geloof in Christus werk. 7. Onderwaardeer ons nie dalk die OT te veel nie. Heg ons nie dalk heeltemal te min waarde aan die boodskap van die OT nie? As Paulus oortuig was dat Timoteus die leer oor die verlossing in Christus in die OT kon vind, hoekom lees ons so min daarin? Maar Paulus stop nie daar nie. Hy gaan aan om vir Timoteus te vertel wat die eintlike waarde van die Skrif is. 8. In vers 16 verduidelik Paulus dat die Skrif ons toerus. God gebruik die Bybel om ons toe te rus en voor te berei. Hy se vir ons dat die Skrif deur God geinspireer is. En hieroor is al baie vrae gevra. 9. Baie mense se dat omrede die Bybel geskryf is deur mense, dit net mense se woorde oor God is. Ander het gese dat die Bybel geskryf is deur geinspireerde mense, mense wat deur God geinspireer is. Sommige se die Bybel is bloot geskryf deur slim en intelligente mense wat goeie morele waardes neergeskryf het. Dit sou dan ook verduidelik waarom die Bybel, volgens hulle, so baie foute in het. 10. Hierdie teoriee skep egter ‘n probleem. Want slim en intelligente mense sou nie ‘n boek geskryf het waarin hulle hulself kritiseer en veroordeel nie. Slim en intelligente mense sou nie ‘n boek skryf waarin hulle vertel van redding en verlossing wat deur Iemand anders van buite bewerk is nie. Slim mense sou hulle eie redding uitgewerk het en dit eerder neergeskryf het. 11. Hulle sou nie op Iemand anders wou vertrou wat Homself kom offer het nie. En selfs nie eens ‘n slim of intelligente mens sou ooit ‘n karakter soos die persoon van Jesus Christus kon visualiseer nie. Iemand wat ver verhewe is bo enige mens wanneer dit kom by reinheid, liefde, regverdigheid, volmaaktheid. 12. Maar as ons dink die Bybel is bloot mense se woorde oor God, dan mis ons iets in die teks. Die teks se vir ons dat DIE SKRIF deur God geinspireer is, nie die skrywers nie. En die vraag is wat bedoel Paulus met “geinspireer”? Wel, die woord “geinspireer” beteken letterlik “deur God uitgeasem”. Nou die feit dat die hele Skrif deur God uitgeasem is, geinspireer is, maak nie die bydrae van die skrywers minder nie. 13. Wat dit wel doen is dat dit bevestig dat God alleen ten volle verantwoordelik is vir sy woord. Daarom is die Skrif waar, betroubaar, permanent, volmaak soos Ps 19:8 se, het dit outoriteit bo enige ander geskrifte en insigte en openbaringe en is dit ‘n kragtige woord wat die HG gebruik om mense na God te trek. En dis die eerste rede waarom die Bybel so geweldig belangrik is. Want dis die WOORD VAN GOD! 14. Ander teoloe glo dat God net in die algemeen die skrywers geinspireer het en dat hulle dan die konsepte rondom dit uitgedink het en neergeskryf het. So wat hulle se is dat God net die konsep van liefde by Paulus geskep het, en dat Paulus dan op ‘n dag gaan sit het en 1 Kor 13 geskryf het. Hierdie teorie hou egter nie rekening met ‘n paar dinge nie. 15. 1 Kor 2:13 se Paulus dat hy nie mensewoorde gebruik het in sy briewe nie. Daar staan “Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.” Jesus se in Joh 17:8 “want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee…” God het in woorde gekommunikeer. Toe Hy Moses gestuur het om Israel te gaan uitlei het Hy nie vir Moses gese “Ek sal jou gedagtes inspireer en jou ‘n konsep gee oor wat jy moet dink” nie. Nee!!! 16. In Eks 4:12 se God vir Moses “Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Jesus se dit duidelik in Matt 24:35 “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” En Petrus verduidelik dit soos volg: “Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, 21want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.” Dit is nie konsepte of idees of opinies wat God aan die skrywers gegee het nie. Hulle het, deur die HG meegevoer, die woorde wat hulle van God gehoor het, neergeskryf. 17. Paulus gaan verder om te se dat die Skrif “…..het groot waarde om in die waarheid te onderrig”. Groot waarde beteken dat ons kan voordeel trek uit die Skrif. Paulus se as ons die moeite doen om die Skrif te lees en te bestudeer gaan dit voordelig wees vir ons. En hierdie voordele sluit in dat die Bybel ons in staat sal stel om dwalinge te bestry (‘n tema waaroor ons iewers in die toekoms ‘n aktuele diens sal hou), dit stel ons in staat om die verkeerdhede reg te stel en om ‘n lewenswyse te kweek soos wat God dit wil he. 18. Die toepassing van die Skrif in ons lewens stel ons in staat om ‘n lewe te lei wat vir God aanneemlik is, wat God behaag, Hom plesier. Paulus begin hierdie teks deur te verduidelik wat die oorsprong van die Skrif is – dis deur God geinspireer, deur God uitgeasem – en hy eindig dit met die doel van die Skrif naamlik om ‘n lewe te leef wat vir God aanneemlik is. 19. Die Bybel berei ons voor om rein, skoon en heilige lewens te lei. Psalm 119:11 se “Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.” Terloops, 172 van die 176 verse in Psalm 119 handel oor die Skrif. Die skrywer praat van u bepalings, verordeninge, woord, insig, voorskrifte, gebooie, beloftes, ens. 20. Deur die Bybel te lees weet ons wat is reg en wat God van ons verwag. Deur die Bybel te lees weet ons wat verkeerd is en wat God wil he ons moet vermy. Dit maak nie saak hoe my emosies daaroor voel nie, dit maak nie saak wat die opinies van mense op sosiale media is nie, dit maak nie saak wat Oprah se nie. Wat saakmaak is wat God vir ons te se het, en daarvoor rus die Bybel ons toe. 21. Maar daar is ook iets minder lekker wat die Skrif doen. En ek gaan dit vanuit die Boodskap vertaling aanhaal: “Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie.” (Heb 4:12-13) Die Skrif openbaar ons tekortkominge, ons foute, daardie dinge wat ons graag wil wegsteek. Hierdie teks begin in die NV met die woorde “Die woord van God is lewend en kragtig.” Daar is krag in die woorde van die Skrif. Dis lewendig, dis nie net dooie woorde nie. En omrede dit lewendig is laat dit iets gebeur. 22. Dit kweek regte lewenswyses, dit berei gelowiges voor, maar dit wys ook vir mense wie en wat hulle werklik is, diep binne waar niemand anders kan sien of van weet nie. Die Skrif is nie staties nie, dis nie passief nie, dit DOEN iets. Dit verander mense, dit wys sonde uit, dit penetreer mense se diepste wese, dit leer, dit onderrig, dit gee wysheid, dit is ‘n lig vir my pad en ‘n lamp vir my voet! 23. Die NLV vertaal vers 12 soos volg: “Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.” Ons is diep in die moeilikheid! As dit is wat die Skrif van homself se, is ons diep in die moeilikheid wanneer ons dit oopmaak en lees. Ons kan nie ons weg uti hierdie ding bluf nie. Ons kan nie ons pad hieruit praat nie. Alles le oop en bloot voor God. As ons die Bybel eerlik lees, gaan dit sonde ontbloot. 24. MAAR geliefdes, soos die spreekwoord se, alles is nie doom en gloom nie. Die Skrif het ook ‘n ander doel……en dis die goeie nuus! Rom 15:4 skryf dieselfde Paulus die volgende: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” Voor ons die idee kry dat die Bybel net vingerwys en uitwys wat ons verkeerd doen, se Paulus dat die doel van die Bybel is ook om ons te bemoedig tot standvastigheid. Dis ‘n boek vol hoop! 25. En bemoediging is iets wat skaars is in hierdie wereld. Kritiek, veroordeling, slegse, beskinder. Dis volop. Maar bemoediging moet jy hard voor soek om te vind. Maar Paulus se dat ALLES wat in die Skrif opgeteken is het ten doel om ons standvastigheid te gee en te bemoedig. Maar wat dan van die teregwysings in die Skrif? Wel, soms is dit nodig om tereggewys te word sodat ons standvastigheid kan kry. Sodat ons kan sien dat God ons nie verlaat nie. 26. En omrede die hele Skrif deur God geinspireer is, daarom is dit die beste sielkunde handboek, en filosofie handboek, en ouerskap handboek, en selfhelp handboek ens ens. dis alles op die punte van ons vingers, perfek, volmaak, deur God self gegee, tot ons voordeel. Kom ons gebruik dit so!!