Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ek en my vrou is lief daarvoor om tydens vakansies museums te besoek. Museums is baie interessante plekke – allerhande fassinerende dinge word uitgestal. Jy beweeg van die een uitstalling na die ander en ‘n mens lees wat by elke uitstalling geskrywe staan. In die proses verbreed jou kennis. Die probleem is dat dit alles na ‘n oppervlakkige kennis van die geskiedenis of wetenskap of kuns of wat ook al lei. Selfs al is daar ‘n gids is jou verstaan steeds oppervlakkig. Die hoeveelheid tyd wat jy by ‘n uitstalling spandeer, is beperk. Jy aanvaar alles wat jy sien en lees. 2. Herhaalde besoeke help. Gereelde museumgangers kan later die uitstallings ken en kan selfs intelligent oor hulle praat. Alles bly egter meerendeels oppervlakkig. Nou in teenstelling met museums kry jy myne. Ja, myne soos in goud of diamantmyne. Myne is verrykend. Vir mynwerkers is die kennis wat hulle het nie net interessant nie, maar lewensbelangrik. As hulle by die mynskag afsak vir die dag se werk brei hulle nie net hulle kennis uit nie, hulle soek ‘n skat. En hierdie kennis waaroor mynwerkers beskik is vir ‘n spesifieke rede: sulke kennis lei tot die ontdekking van ‘n fortuin. 3. Mynwerkers probeer rykdom uitgrawe. Hulle grawe; hulle soek oral rond; hulle kyk intensief; hulle kap en bestudeer rotse. Ons praat nie nou van ‘n middaguitstappie nie. Mynbou is ‘n toegewyde en volhardende werk. Ure word gespandeer in ‘n klein gebied terwyl jy versigtig soek. As jy nie versigtig kyk nie, mag jy dalk ‘n skat nie raaksien nie. 4. Die Bybel, soos ‘n museum, is fassinerend. Ons kan so oor alles lees soos jy in ‘n museum oor alles kyk. En dan doen mens oppervlakkige kennis op van die dinge wat jy lees. En ‘n mens kan baie dinge sommer so oppervlakkig leer. Maar die Bybel is nie ‘n museum nie. Dis eerder ‘n myn. Want as ons begin grawe en dinge ondersoek kom ons af op wonderlike skatte wat ons nie vantevore raakgesien het. 5. Kyk na die verhale in die Bybel. Hoekom is daar so baie verhale in die Bybel? As ons hierdie verhale soos uitstallings in ‘n museum lees, bly ons kennis oppervlakkig. As ons ons egter begin ingrawe – soos mynwerkers – sien ons hierdie verhale is vol skatte. Daar is baie meer in hulle as wat ons aanvanklik gesien het. God begrawe rykdomme in die Bybel wat ‘n myner sal ontdek, maar nie ‘n museumganger nie. 6. In Matteus het ons gelees van die ‘n skat wat in die saailand begrawe is. En iemand, een of ander persoon, het gaan soek daarvoor en hierdie skat gevind. En ek wil he ons moet vanoggend sien hoe belangrik hierdie skat vir hom was. Hierdie persoon het alles gaan verkoop wat hy het net sodat hy die grond kan koop waarop die skat begrawe is. 7. En nerens se die teks vir ons dat hierdie persoon hartseer of ongelukkig was omrede hy al sy goed verkoop het nie. Nee, dit se dat hy BLY was oor die fonds. Sy fokus was nie op dit wat hy van afstand moes doen nie. Sy fokus was op die wins wat hy gekry het. En die verhaaltjie word opgevolg met ‘n soortgelyke verhaal. ‘n Handelaar was op soek na goeie perels. Klomp perels. Maar toe hy net EEN goeie perel vind, gaan verkoop hy alles wat hy het en hy koop die perel. 8. Weereens sien ons dat hy nie kwaad of ongelukkig was oor dit wat hy verloor het nie, maar hy was slegs gefokus op dit wat hy gekry het. Hierdie perel, hierdie kosbare skat! 9. As dit by die lees van die Bybel kom, is ons nie dikwels soos museumgangers nie? Ons lees soms so oppervlakkig deur ‘n klompie verse, of as ek nou wil kwalifiseer as ‘n getroue Bybelleser dan lees ek dalk 2 of 3 hoofstukke. Ons moenie museums afkraak nie – hulle dien ‘n belangrike rol, maar as dit by die lees van die Bybel kom, moet ons eerder soos myners wees en nie soos museumgangers wees nie. 10. Want as ons die Bybel lees is ons eintlik besig om te soek na geweldige skatte. Soos die persoon wat gegrou het en die skat gevind het moet ons grou in die Bybel opsoek na hierdie geweldige skatte. Soos die handelaar moet ons soek en soek na die perels wat in die Bybel versteek is. Want geliefdes, ons sit met ‘n skatkis in ons huise wat vol perels is en ons grou nie daarvoor nie. As ons die Bybel oopmaak om iets te lees doen ons dit soos ‘n middaguitstappie deur ‘n museum. 11. Want die Bybel is nie net mense se opinies oor God nie. God sit self agter die skryf van hierdie boek. Selfs ateiste het al erken dat die bybel nie totstand kon kom sonder bonatuurlike ingryping nie. Hoekom se ek so? Wel, kom ons kyk bietjie na hoe die Bybel soos ons dit vandag ken totstand gekom het en dan besluit ons of dit maar net toevallig was dat ons met hierdie boek sit. 12. Oor ‘n tydperk van 1500 jaar is 66 verskillende boeke wat aan verskillende genres behoort soos poësie, geskiedenis, liedere, romanse, memoires, biografiee ens. geskryf deur meer as 40 skrywers vanuit 3 verskillende kontinente in 3 verskillende tale. Hierdie boeke is geskryf deur konings, militere leiers, arbeiders, digters, ‘n minister, ‘n skinker, skaapwagters, gevangenes, boere, ‘n dokter en iemand wat vir die Inkomstediens gewerk het. 13. En al hierdie mense se boeke is bymekaar gesit oor ‘n tydperk van 1500 jaar. Baie van hulle het in verskillende generasies geleef sonder dat hulle eens geweet het wat die ander persone geskryf het. En nadat hierdie verskillende boeke bymekaar gesit is, is die Bybel die uiteinde daarvan. Hoor u die onwaarskynlikheid daarvan. Dis soos om 40 verskillende skrywers oor die laaste 1500 jaar te vat, vir elkeen te vra om ‘n hoofstuk van ‘n boek te skryf, dit na 1500 jaar bymekaar te sit en ‘n volledige roman te kry. 14. Maar dit raak nog beter. Die OT bestaan uit 39 boeke. Dis geskryf oor ‘n tydperk van ongeveer 1100 jaar. En die laaste boek van die OT, Maleagi, is geskryf 400 voor Jesus se geboorte. Ek bedoel, gaan net 400 jaar terug van nou af? Jan van Riebeeck het nog nie eens in die suide van Afrika geland nie!!! So hulle het geleef oor ‘n tydperk van 1100 jaar, terwyl skrywers nie geweet het wat die ander geskryf het nie. 15. En weet u wat hulle gedoen het? Hulle het voorspellings gemaak oor die Messias. Dinge soos dat Hy uit Galilea sal kom, op ‘n donkie sal ry, gekruisig sal word ens. Meer as 300 voorspellings word in die OT oor Jesus gemaak. En die laaste voorspellings oor Hom is gemaak 400 jaar voor sy geboorte! En al hierdie profesiee is vervul in Christus! Klink dit na toeval? 16. Honderde van hierdie profesiee, waarvan sommige honderde jare voor die gebeurtenisse uitgespreek is, is reeds letterlik vervul. Dit sluit in die tyd (Dan 9), stad (Miga 5:2) en aard (Jes 7:14) van Christus se geboorte wat reeds vervul is. Verskeie ander profesiee wat in die OT gemaak is, is reeds vervul. Hierdie sluit in profesiee oor die vernietiging van Edom (Ob 1), die vloek oor Babilon (Jes 13), die vernietiging van Tirus (Eseg 26) en die terugkeer van Israel na hulle land toe (Jes 11:11). 17. Ander boeke maak aanspraak op Goddelike inspirasie, soos die Koran, die Boek van Mormoon en dele van die Veda (Hindoe geskrifte). Maar nie een van hierdie boeke bevat voorspellende profesiee wat vervul is nie. Hoe kan ons dan nie anders as om tot die slotsom te kom dat die Bybel die enigste ware Woord van God is nie? 18. Cleland McAfee skryf in The Greatest English Classic die volgende: “As elke Bybel in enige groot stad vernietig sou word, sou die boek met al sy belangrikste dele weer saamgestel kon word uit al die aanhalings op die rakke van die stad se biblioteek.” Die Bybel is sonder twyfel die mees aangehaalde en gekwoteerde boek in die geskiedenis. God se woord! 19. En nog meer belangrik is die volgende: Josh Mcdowell skryf dat die Bybel in essensie van begin tot einde net oor een Persoon handel: Die ware, lewende God wat bekend gemaak is deur Jesus Christus. Dink eers na oor die OT… Die Wet voorsien die fondament waarop Christus se leringe berus het, Die geskiedkundige boeke wys aan ons die voorbereiding wat deur Israel gemaak is vir Christus, In die poëtiese boeke sien ons die verlange na Christus, Die profetiese boeke vertoon ‘n verwagting na Christus… ……..in die NT…. Verduidelik die Evangelies die menswording van Christus, Handelinge vertel van die verkondiging van Christus, Die sendingbriewe vertel vir ons hoe ons Christus moet verstaan en… In Openbaring vind ons die volvoering van alles en almal in Christus! 20. Klink dit alles net na toeval? Is daar nie iets meer agter hierdie boek nie? In 2022 is ‘n totaal van 35.5 miljoen Bybels oor die wereld versprei, 2 miljoen meer as in 2021. En indien gedeeltes van die Bybel ingereken word is die totaal 166 miljoen bybelgedeeltes wat versprei is. 21. Mense wat die verspreiding van die Bybel probeer keer het gekom en gegaan sonder sukses. Voltaire was ‘n prominente Franse historikus, filosoof en skrywer. Hy was ook ‘n kritikus van die Christendom en ‘n uitgesproke ateis. Kort voor sy afsterwe in 1778 het hy verklaar dat die Bybel het Voltaire verklaar dat die Bybel binne 100 jaar na sy afsterwe sou verdwyn en dat die Christelike geloof sou uitsterf. 22. 50 jaar na sy afsterwe het die Geneefse Bybelgenootskap Voltaire se huis en drukpers gebruik om te begin Bybel druk en vanuit sy huis te versprei. Die Bybel se vyande kom en gaan, maar Jesus was so reg toe Hy gese het “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” (Mark 13:31). 23. As gelowiges gebeur daar elke dag dinge met ons wat eise aan ons geloof stel. Dinge wat ons soms bekommerd stem. Miskien is dit die nuwe vriende wat my seun het, of die nuwe kerel waarmee my dogter by die huis aankom, of ek word ernstig siek en ek wag nog vir die uitslae van die toetse, of daar is groot rusie tussen my en my huweliksmaat. 24. Dis situasies waarmee ons as gelowiges op voetsoolvlak te doen kry. En nou help die mooi preek van Sondag of vanoggend se oulike dagstukkie my nie meer nie. Nou het ek werklik vaste kos nodig om hierdie situasie te hanteer. En dis juis in sulke situasies wat ons goed geskool moet wees in die Woord van God. IN sulke tye is dit nie ons gevoelens en emosies wat ons deur ‘n krisis dra nie, maar ons kennis van God. Omdat ons Hom ken, en sy Woord ken, het ons sekuriteit. Ons gaan God nie leer ken sonder om sy Woord te ken nie. 25. En dit gebeur maklik dat sommige gelowiges heeltemal tevrede is met ‘n oppervlakkige kennis van God se Woord. Maar wanneer ‘n krisis in hulle lewens opduik soek hulle antwoorde en dan laat sommige mense sommer die Bybel oopval en lees ‘n versie daaruit en dink dis wat God se. Nee, dis dan wanneer ons deeglik vertroud moet wees met God se Woord, in so ‘n mate dat jy jouself kan beroep op die waarhede wat daarin uitgespel word.