Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. By Dinsdagaand se gebedsbyeenkoms het ons ‘n uitdaging vir mekaar op die tafel gesit. Ons het eers gesels oor hoe selfgesentreerd ons gebede is as ons kyk na hoe Israel in hulle gebede die aangesig van God gesoek het. En die uitdaging by almal by die gebedsbyeenkoms was dat ons vir die res van die week nie een keer vir God iets gaan vra nie. Dat ons die dissipline vir hierdie week wil inoefen om net God se aangesig te soek, Hom eer te bring en aan Hom al die lof te bring wat Hom as God toekom. 2. Want dit was hoofsaaklik hoe Israel se gebede gelyk het. Ons sien byvoorbeeld dat Daniel in hfst 6:11 drie maal per dag tot God gebid het, het sy gebede bestaan daaruit om God “….te prys, te aanbid en te dank.” Vers 12 se dat Daniel God aanbid het en Hom net om genade gesmeek het. Geen shopping lys wat hy voor God kom neersit het nie. En ek sien nogals uit na Dinsdagaand se terugvoer hieroor. 3. Nou die brief aan die Kolossense is ‘n brief van Paulus en van Timoteus wat op hierdie stadium saam met Paulus reis. Teen die tyd dat Paulus vir hierdie dorp skryf was dit lankal nie meer die belangrike hawestad van vroeer nie. Daardie eer het geskuif na die naburige Hierapolis en Laodisea toe. Volgens Lightfoot se kommentaar was Kolosse die mins belangrikste gemeente vir wie Paulus ooit ‘n brief geskryf het. Steeds het dit nie vir Paulus gestop om ‘n goed deurdagte brief vir hulle te skryf nie. 4. Die brief begin op ‘n interessante wyse. Wanneer die Afrikaanse vertaling verwys na die geaddreseerdes, maw die gemeente, as mense “wat aan God behoort”, gebruik hy die woord vir heiliges. Nie sondaars soos ons soms graag na onsself verwys nie, maar heiliges. So Paulus is van mening dat diegene met wie hy praat heiliges is, geheiligdes. En in die res van die boek verduidelik hy vir hulle waarom hy so se. 5. Op hierdie oomblik is Paulus toegesluit in die gevangenis in Rome. En ons moet mooi verstaan dat die gevangenisse in Paulus se tyd nie hotelle was waarin vandag se gevangenes bly nie. Gevangenes is gemartel en wonde is nie versorg daarna nie, soms is hulle met dieselfde bloedbesmeerde klere net so in die selle gelos. In die winter was dit swaar teen die koue en daarom het Paulus tydens sy laaste gevangenesetting Rome gevra vir ‘n mantel teen koue. 6. Met die beperkte toiletgeriewe beskikbaar was die reuke onhoudbaar. Hulle moes vir hulself sorg vir kos en as gevolg van die haglike omstandighede het baie gevangenes gebid vir die doodstraf of selfs net hul eie lewens geneem. Nou hierdie mag dalk klink na onnodige inligting maar hou hierdie in gedagte soos ons met die teks werk vanoggend. 7. Nou die gemeente in Kolosse het tot stand gekom deur Epafras. Epafras het waarskynlkik tot bekering gekom onder Paulus se prediking in Efese aangesien Paulus self nog nooit in Kolosse was nie. En nou sit die einste Epafras saam met Paulus in die gevangenis in Rome. In Filemon v23 word hy Paulus se medegevangene genoem. Interessant, hier in die Kolosse brief verwys Paulus eerstens na Epafras as ‘n “geliefde medewerker”. In die Grieks Sundoulos wat letterlik beteken “medeslaaf”. 8. Ons moet onthou dat Christus se dienswerk as slawe werk gekwalifiseer word. En tweedens verwys Paulus na hom as ‘n “dienaar van Christus”. Grieks = diakonos. Diaken van Christus. Nadat hy dan vir Paulus vertel het van die dwaalleringe in Kolosse spreek Paulus die gemeente toe in sy brief. Daar was verskillende dwaalleringe waarmee hierdie gemeente moes deel. Daar was die Frigiese natuurgodsdiens. Hulle het natuurgode aanbid en met selfverminking nader aan hulle gode probeer groei. Dan was daar die Persiese godsdienste wat die elemente van aarde, vuur, water en wind vereer en aabid het. Baie dieselfde as die New Age beweging vandag. En daarmee saam was daar nog ‘n ander mengelmoes van godsdienste wat hulle mee moes deel. 9. Nou wanneer ons kyk na ons teks vanoggend sien ons dat Paulus in verse 3-8 dank bring aan God vir dit wat hy van die gemeente gehoor het en vir God se gawe in Christus vir die gemeente. Ons moet onthou dat hierdie gemeente nie deur Paulus gestig is nie. En in hierdie deel is Paulus se gebed gefokus op dank vir die Vader van die Here Jesus Christus vir die gelowiges om 2 besondere redes. 10. Eerstens dank hy God vir die getuienis wat hy in die gevangenis gehoor het oor die gemeente se geloof wat berus op Christus. En tweedens is daar aan hom vertel van hierdie gemeente se liefde vir al die gelowiges. En Paulus weet hierdie gemeente doen dit vir die regte redes want dis gebou op die waarheid van die evangelie wat hulle gehoor het. Hierdie Kolosse gemeente leef nie in liefde met ander mense omrede hulle iets daaruit sou kry nie. Hulle beweegrede was die evangelie wat hulle gehoor en geglo het. 11. En Paulus gaan verder. Hy se die WAARHEID van die evangelie is aan hulle verkondig. Dit beteken die evangelie van die waarheid. En dit staan teenoor enige dwalinge en valse leerstellings waarmee hulle moes deel. En hierdie dwaalleringe se Paulus is beperk tot Kolosse. Maar in teenstelling daarmee versprei die evangelie oor die hele wereld heen vanuit Kolosse. Paulus herinner die gemeente daaraan dat die vrugte wat hulle dra is die genade van Christus wat in hulle werk. En Paulus le klem op die feit dat hierdie onderlinge liefde die werk van die HG is. 12. So vir hierdie klein, onbelangrike gemeente, se Paulus dat hy in Rome in die gevangenis gehoor het van hulle geloof in Christus, hulle liefde vir al die gelowiges, dat hulle dit vir die regte redes doen want hulle geloof en liefde berus op die evangelie en dat hulle verantwoordelik is daarvoor dat die evangelie vanuit hulle gemeentetjie uitgedra word regoor die wereld! Wat ‘n getuigskrif. 13. Juis daarom doen Paulus, naas sy dankgebede, ook onophoudelik vir die gemeente voorbidding van die eerste dag af wat hy van hulle bestaan gehoor het. Hy bid vir hulle vir kennis, wysheid en insig. MAW Paulus bid dat hulle tot volle kennis van die Skrif sal kom, maar ook vir die wysheid om hierdie kennis van God se wil wat hulle uit die Skrif ontvang, prakties te gaan uitleef. 14. En dit se Paulus in vers 10 is sy gebed. Dat hierdie gemeente “…….. tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.” Sy gebed is dat die Here die gemeente so sal vol maak met kennis van die Woord en wysheid en insig om dit toe te pas dat dit in hulle goeie werke sigbaar sal word. 15. Maar Paulus bid nie alleen vir die gemeente nie. Hy moedig hulle aan om self ook in hulle gebede God te dank dat Hy hulle geskik gemaak het om deel te he aan die erfenis wat vir hulle as gelowiges wag. Bid julle self ook hiervoor se Paulus. En nou in die laaste twee verse gee Paulus die rede waarom hy hierdie dankgebede bid. 16. Paulus herinner hulle daaraan dat hulle voorheen onder die absolute mag en oorheersing van die duisternis was. En belangrik is om te verstaan dat hierdie duisternis nie slegs dui op die afwesigheid van lig nie, maar dit dui op teenstand teen die lig. Dis nie net ‘n bestaan SONDER God nie, maar TEEN God! Hulle is daaruit weggeruk deur God en staan nou onder die heerskappy van sy Seun. 17. Calvyn het gereeld genoem dat hy in perikope gepreek het. Gedeeltes soos ons dit vandag doen. Op die manier het hy die gemeente waar hy bedien het in Geneve sistematies met goeie Bybelkennis toegerus en in die grondslae van die Christelike geloof opgebou. Mense se gebrekkige Bybelkennis is vandag ‘n baie diep rede vir besorgdheid. En in ons teks vanoggend leer ons seker een van die belangrikste kernwaarhede wanneer dit kom by praktiese Christenskap. Iets waarna ons almal moet streef. 18. Paulus stel vir ons as 21ste eeuse gelowiges ‘n baie navolgingswaardige voorbeeld. En dis die rede waarom ek in die begin so baie klem gele het op Paulus se haglike omstandighede wanneer hy hierdie brief skryf. Hy fokus weg van homself op die werk van die Here in ander se lewens. Paulus skryf sy brief vanuit die gevangenis. Hy het alle rede om mismoedig te wees. Kyk net na sy omstandighede. Hy het alle rede om te kla oor die onreg wat hy ly, om homself te bejammer en hom oor sy eie lot te bekommer. 19. Maar die teendeel is egter waar. Hy kla glad nie, fokus nie op sy eie treurige lot nie, maar verheug hom daaroor dat mense in die stad en landstreek van Kolosse in Christus glo en oor hulle liefde vir mekaar. Daarop is sy fokus. En daarmee saam is hy opgewonde oor hulle hoop wat vas is in die hemel. Hy is verder verheug dat die evangelie hulle bereik het deur Epafras. Hy vertel vol vreugde vir hulle dat Epafras aan hom berig het hoe die HG die liefde in hulle gewek het. 20. En belangrik om te sien, Paulus fokus nie net op die gemeente self nie. Al hierdie gegewens is vir Paulus die inhoud van ‘n dankgebed tot God self! Lof en dank aan God. So fokus Paulus sy energie in gebed. 21. En dan begin Paulus om pleitend by die Here voorbidding te doen om die gemeente se onthalwe. Steeds gee hy nie toe aan selfbejammering oor sy eie omstandighede nie. Hy het goed verstaan met watter uitdagings hulle geloof en onderlinge gemeenskap mee gekonfronteer is. Want hy het eerstehandse inligting by Epafras gekry. Daarom bid hy om onderskeidingsvermoe en kennis van God se wil vir hierdie gemeente. 22. En aan die einde van ons teks bid Paulus wel vir homself ook, maar die fokus is steeds nie op sy eie omstandighede nie. Nee, Hy vermaan die gemeente om God self te dank vir die feit dat Hy “……..ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.” Hy sluit homself hierby in. 23. Paulus se vir die gemeente in Kolosse dat hulle nie moet bid soos die afgodedienaars rondom hulle nie. Dat hulle gebede nie moet gaan oor die navolging van rituele of die uitleef van ‘n klomp godsdienstige reels of wette nie. Hy vermaan die gemeente dat hulle gebede moet fokus op die feit dat God in en deur Christus ons redding bewerk het. 24. Hierdie redding is bewerk buite ons, oor ons, sonder ons, rondom ons, met geen aandeel van ons kant af nie, MAAR dis bewerk VIR ons!! En dit het gebeur nog voordat ons daarvoor kon vra, voor ons daarvoor kon bid en voor ons dit nog kon begryp. En daarvoor se Paulus vir Kolosse en vir Deneysville vandag, moet ons God dank deur die manier waarop ons lewe. 25. Maar nou moet ons onthou, die manier waarop ons gaan bid is ook die manier waarop ons gaan leef. En die vraag vanoggend is of ons in ons gebede so gefokus is op onsself of gebruik ons Paulus se voorbeeld, dat ons wegkyk van ons eie krisisse en fokus op dit wat God in ander se lewens ook doen? 26. Want op die einde van die dag gaan gebed daaroor om God beter te leer ken. Nie om God so ver te kry om aan al my behoeftes te voldoen nie. Gebed is om weg te kyk van my eie probleme en op God te fokus. 27. Sekerlik een van die grootste geskenke wat ons as mens kon kry is die voorreg om met die heilige, almagtige, skepper God te mag en kan praat. In gesprek met Hom te kan tree. Om te verstaan wat gebed IS, is dit belangrik om eers te verstaan wat dit NIE is nie. Gebed is nie…. Om met God te bargain oor dinge nie. As U dit sal ek dat… Om eise aan God te stel nie ‘n Terapeutiese meditasie sessie voor God nie ‘n Manier om God te beheer nie ‘n manier om met jou spiritualiteit by ander te spog nie en… Dis ook nie ‘n manier waarop ons net ons lys van behoeftes voor God kan kom neerplak nie. 28. Beteken dit dat ons nie vir ander en ons eie behoeftes mag bid nie. Nee, ons kry die opdrag in die Skrif om ons begeertes met danksegging en smeking aan God bekend te maak, maar ons moet uiters versigtig wees om nie te dink dat dit die alfa en omega van gebed is. Maar hierdie dinge moet altyd ondergeskik wees aan God se wil. Jesus het sy begeertes in die Tuin van Getsemane aan God bekend gemaak, maar sy afsluitingswoorde was “Laat U wil geskied, nie myne nie”. 29. Om dit in kort op te som. Gebed gaan oor God, nie oor ons nie. Gebed is VIR God, nie VIR ons nie! Vanuit sy haglike omstandighede het Paulus gekies om God te aanbid vir dit wat hy gehoor het oor die gemeentetjie in Kolosse. Sy eie omstandighede het nie saak gemaak nie. Al wat saak gemaak het was dat God die eer sou kry in sy gebede!