Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons het nou redelik vinnig deur ons Skriflesing gegaan, maar soos ons deur die boodskap gaan vanoggend wil ek vir u vra dat u baie mooi moet luister en kyk of u nie, ironies genoeg, die kerk van vandag helder en duidelik herken nie. So op hierdie stadium van ons Skriflesing is Israel terug in hulle land vanuit ballingskap. Hulle is terug in die land waarna hulle so verlang het. 2. En die situasie is alles behalwe goed. Dit gaan haglik. Die tempel was vernietig maar dit blyk dat hulle op hierdie stadium reeds weer iets soos ‘n tempel gehad het en met aanbiddingsgeleenthede begin het. Maar hierdie aanbiddingsgeleenthede was vir hulle en ook vir God onbevredigend. 3. Vers 3 se die volk het gedoen wat hulle wou, letterlik staan daar “vir hulle plesier” terwyl God, se vers 5, iets anders wou gehad het en van iets anders “hou” staan in die Hebreeus. Ons vind in Nehemia 5 wat in ongeveer dieselfde tyd geskryf is dat op sosiale vlak was die ekonomie onstabiel en die volk moes uiters hoë belastings betaal. Verder het die Romeinse regering die mense verdruk en dit het gelei tot allerhande opstande. 4. Ons teks vanoggend begin dan met die aanklagte wat teen die volk ingebring word. Vers 1 se die oortredinge van die volk en die aanklagte teen hulle is hulle eie plesierighede en eie wense wat belangriker geword het as God s’n. Later sien ons dat die gevolge hiervan is rusie en twis (v4) en onderlinge beskuldigings. 5. Maar vers 2 se dat tog gee hierdie mense voor dat hulle baie godsdienstig is. Hulle vra wel na God se wil en regverdige beslissings, maar alles is net voorgee. En dit alles begin by die vasdae wat Israel so graag nagekom het. Nou ons moet onthou dat die vasdae aanvanklik uitgeroep is sodat die val van Jerusalem betreur kan word. Dit was bedoel om as treur- en verootmoedigings geleenthede te dien. 6. Maar na die ballingskap ontmoedig die profete die volk egter om te vas (Joël 2:13; Jer 14:12; Sag 7-8). Die vas as “treur” moet omgeskakel word in feestye want die aanvanklike gebruik van die vas het vir Juda verander in iets waarvan die Here nie hou nie (v3). Dit wil blyk dat die volk agter die vas as ritueel wegkruip om sodoende God se guns te wen. 7. Israel se optrede korrespondeer nie met God se wense nie en dit sit die volk terug waar hulle begin het voor die ballingskap. Dit plaas hulle in dieselfde posisie waarvoor hulle juis in ballingskap weggevoer is. ‘n Mens kan God amper hoor uitroep dat in die bykans 300 jaar voor en na die ballingskap het absoluut niks verander nie. 8. Dan gee God weer vir hulle die voorskrifte van hoe HY wil he aanbidding moet lyk. Hy gee weer vir hulle die reels vir behoorlike aanbidding en hierdie reels begin en eindig by wat GOD wil he, nie die mense nie. En op ‘n eintlike sarkastiese wyse vra God die volk of dink hulle dat ware aanbidding beteken om jou “…nek te buig soos ‘n biesie…” of “…..in sak en as te sit?”. 9. En wanneer die teks verder gaan verduidelik God vir hulle hoe aanbidding vir Hom lyk. Eerstens se God dat ware vas en aanbidding beteken dat die wat onregverdig gevange gehou word, bevry word. Bevryding was ten minste deur die eeue heen een van die kern elemente van God se boodskap aan die volk. In Ps 31:6 roep Dawid uit dat “….U, Here troue God, het my vrygemaak!” Dat mense wat onregverdig te na gekom word, vrygemaak word. Dis hoe ware vas vir Hom lyk se God. Nie die rituele wat Israel op daardie stadium deurgegaan het net om te kyk of hulle God se arm kan draai nie. Uiteindelik is hierdie vrymaking ten volle in Christus vervul. Die volmaakte bevryding van sonde en dood het in Christus vervulling gevind. 10. Tweedens word die volk aangemoedig om die juk af te haal van diegene wat verdruk word. Dis ware vas, ware aanbidding vir Hom. Om dit wat die verdruktes onderdruk te verwyder. Derdens moet brood en klere aan die hongeriges uitgedeel word. En hier moet ons verstaan dat God steeds met die besig is wat onregverdig behandel word in die tyd van Israel. Die verdruktes. Dis die hongeriges waarvan God praat. Eers dan is daar sprake van egte aanvaarbare aanbidding. 11. Ons moet onthou dat tradisioneel kon mense van die wat arm of broos of uitgelewer was hulle na familielede wend vir hulp. ‘n Mooi voorbeeld daarvan vind ons in die verhaal van Rut. Maar gesinne en families was na die ballingskap, in hierdie situasie, verskeur, vermoor, en uitgeroei. Gesinne en families is verstrooi en wie moet dan nou help? Die volk natuurlik. Hulle wat die sinagoges volgesit het en daarop geroem het dat hulle die ware God aanbid. 12. Hier word nie gepraat van diegene wat net bloot nie wil werk nie. Hieroor het Paulus ander opdragte aan Timoteus gegee. Hier word gepraat van hulle wat werklik onregverdig behandel word, waarvan daar in hierdie tyd na die ballingskap in Israel baie was. God se argument as ek dit so kan stel was “Besef julle nie dat julle my hande en voete vir hierdie weerlose mense is nie?”. Maar die volk het nagelaat om liefde aan hierdie mense te bewys. 13. Intussen het hulle gespog oor hulle vasdae en die feit dat hulle God gevra het na sy wil. Ek meen, as ons vandag na ander gelowiges sou kyk en sien hoe hulle vas en vra na God se wil sou ons se dat hulle ‘n amazing verhouding met God het! Maar in vers 1 se God dat Jesaja die volk op hulle oortredinge en sondes moet wys, en dan verwys God net daarna na hierdie dinge! 14. In die eerste deel het God vir die volk gese dat hulle so gaande is oor hulle godsdienstige rituele, die vas en wat hulle beskou as aanbidding van Hom. En in geen onsekere terme nie het Hy die volk duidelik ingelig dat hulle sodanige godsdienstigheid Hom nie beindruk nie. 15. En dan in vers 9 en 10 vind ons dat God direk aan die volk verduidelik wat HY wil he. “As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.” En die beloftes gaan verder in verse 11 en 12. 16. Dit was die krisisse waarmee die volk gesit het direk nadat hulle vanuit ballingskap teruggekeer het. Maar al waaroor hulle bekommerd was, was dit wat HULLE gedink het nodig was om God te plesier. Om te vas en te vra na God se wil! En Hiermee se ons nie dat dit verkeerd is om te vra na God se wil nie. Dis uiters belangrik dat ons dit elke dag sal doen. Maar Israel het dit gedoen ten koste van die nood wat rondom hulle was. 17. Hulle het gevra na God se wil terwyl sy wil duidelik sigbaar rondom hulle was. En steeds het hulle net bly vra en nooit by die DOEN uitgekom nie. Iemand het eendag gese “I was screaming at God for the hungry, the oppressed and the needy……until I realized the hungry, the oppressed and the needy is God screaming at me.” 18. Ek het aan die begin gevra dat u deurentyd in gedagte moet uitkyk of ons nie maar die kerk van vandag in Israel raaksien nie. Ons het hier in die teks te doen met vroom mense. Mense wat in die tempel was maar tog was geweld, verdrukking en wedywering deel van hulle elkedaagse lewe. Hulle ontvang nie die seen en die vrede van Jahwe nie omdat hulle aanbidding net vertikaal geskied en nie die armes, verdruktes, hongeriges, weduwees en weses insluit nie. 19. Hulle aanbidding het vir hulle ‘n aksie geword wat vir hulle reg sou voel. Hulle het agter hulle tempeldeure weggekruip terwyl God hulle opgeroep het om anders te aanbid. Dat ware aanbidding gaan ook oor die ander, die medemens, die verdruktes. 20. Verhaal van Margaret Mead, antropoloog, oor wat die vroegste teken van beskawing sou wees. Nie ‘n vishoek of ‘n kleipot of ‘n maalsteen nie…….maar nee, ‘n femur, ‘n dybeen wat genees het was die eerste bewys van beskawing. Dit was ‘n reel van “survival of the fittest”. Iemand anders het sy verantwoordelikhede oorgeneem. Die bewys van “compassion” is die eerste teken van beskawing! Hierdie teks dwing ons om baie krities na ons godsdienspraktyke te kyk en na wat dit werklik beteken om kerk te wees…..Hoekom kom ons kerk toe? Is dit op ons termes en voorwaardes of op God se voorwaardes? 21. Verhaal van jongman wat dr skakel oor werk? 22. Dis mos nodig dat ons soms selfondersoek moet doen. Wanneer laas het ons gebid en gevra “Here, is U tevrede met my lewe?”. “Here, is U tevrede met ons as gemeente?”. Dit kan so maklik gebeur dat ons dink aanbidding het te make met tegnieke en metodes en die regte liturgiee, liedere en die sogenaamde “regte” of “verkeerde” manier van sing, die manier en waaroor gepreek word, kleredrag, hoe ons gebede klink ensovoorts. En dit terwyl God veel dieper kyk. 23. ‘n Seuntjie bid eendag nadat hy van die kerk af kom die volgende gebed “Dear God, we had a good time at church today…..but I wish you had been there.” Aanbidding van God vra meer as dat ons NET na Hom sal kyk….dit vra ook dat ons na die wereld rondom ons sal kyk, dat ons die nood van ander sal raaksien. ELKEEN van ons, nie net die barmhartigheidskommissie nie. 24. Weet ons wat dit is om in die winter onder ‘n kartondoos te slaap? Verstaan ons die hartseer in ‘n oumens se oe wat niemand het wat hulle kom besoek, ‘n drukkie te gee of net na hulle te luister nie. Gaan u my vergewe as ek nou in gewone boeretaal ons teksgedeelte opsom vandag: “God wil he ons moet ophou om kerk te speel!”. 25. Verhaal van die gemeente wat na regs draai om intreelied te sing. Ons moet verby die tradisies en reels en voorskrifte kom. Ons verkeer onder die wanindruk dat die nakom van reels ware aanbidding van God is. Dan bluf ons onsself. 26. Ware aanbidding mag nooit verbleik of toegeverf word nie. Dit mag nooit ‘n lee tradisie word nie. Ons as gelowiges word juis geroep om in volkleur in vaal mense se lewens in te kleur. Iets van God se genade en sy liefde in ander se lewens te laat posvat. Ware aanbidding gebeur buite die kerkmure.