Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Sedert die begin van die oorlog tussen Palestina en Israel in die Midde Ooste sien ons gereeld op sosiale media en hoor ons oral tussen gelowiges dat ons vir Israel moet bid tydens hierdie oorlog. En wanneer mens mooi na die boodskappe kyk asook die kommentaar op hierdie boodskappe staan een ding soos ‘n paal bo water: Israel is God se uitverkore volk en daarom MOET ons as Christene aan hulle kant wees in die oorlog. 2. In Suid Afrika alleen is daar verskeie organisasies wat hulle beywer vir die herstel van Israel, vir die terugkeer van die Jode na Israel en verskeie Christelike organisasies wat hulle beywer en bid vir ‘n Israeliese oorwinning in die oorlog. 3. Kom ons maak eers een aspek duidelik: Die oorlog wat woed in die Midde Ooste behoort vir gelowiges ‘n uiters sinnelose oorlog waarin onskuldige mense vermoor word vir ‘n stukkie grond so groot soos Kaapstad (225 vierkante km in oppervlak). En beide Palestina en Israel is skuldig hieraan. Ek het statistiek gaan navors en tot 9 Augustus het dit soos volg gelyk: Totale aantal mense wat gedood is in Gaza – 40 005 Aantal burgerlikes gedood in Gaza – 5956 vroue, 10627 kinders Gesondheidswerkers gedood in Gaza – 784 Joernaliste gedood – 113 59,9% van alle geboue reeds vernietig 60% huise 85% skole 16 uit 36 hospitale Palestyne wat agv oorlog onder broodlyn leef in Gaza– 495 000 4. Nou wanneer ons na die OT kyk kan ons nie anders as om te aanvaar dat Israel God se uitverkore volk was nie, want die hele OT weergalm daarvan. God het die verbond met Abraham gesluit en so die volk Israel gekies om Homself te openbaar. In Ps 147 se die Psalmdigter “Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 20 Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie, hulle ken sy bepalings nie.” Hoekom juis Israel? Ons weet nie. Nerens se die Bybel hoekom Israel gekies is vir hierdie taak nie. 5. Maar die vraag ontstaan waarom so baie gelowiges regoor die wereld so passievol agter Israel en die Jode staan in hierdie oorlog? Selfs ten koste van die lewens wat verloor word aan beide kante van die oorlog. Is dinge dan steeds dieselfde as in die OT toe God hierdie volk uitgekies het? En hoe moet ons dan hieroor oordeel? 6. Die redes hiervoor is verskillend afhangend van met wie jy praat. Maar wat wel uitstaan is dat die verskillende sienings rondom die eindtyd ‘n baie belangrike rol speel in die oorweging of Israel dan nou steeds God se volk is vandag of nie. Gereformeerde gelowiges verwag ons slegs vier dinge tydens die eindgebeure nl: Die wederkoms van Christus Die opstanding Die oordeel Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Daarenteen vind ons die Dispensasionaliste wat hoofsaaklik uit ander strominge van die Christendom bestaan soos die Pinkster en Charismatiese bewegings wat ‘n groot klomp gebeurtenisse verwag. Dis ook moeilik om dit op te som aangesien daar baie detail is en ook ‘n groot aantal verskille onder die verskillende weergawes is. Maar in essensie sien hulle die eindgebeure soos volg: Die wegraping van gelowiges Die opstanding van gelowiges Die oordeel van gelowiges Die bruilof van die Lam in die lug wat duur tot die Vrederyk begin Die groot verdrukking wat 7 jaar sal duur Die wederkoms van Christus Die slag van Armageddon Die binding van Satan Die 1000 jarige vrederyk waartydens Christus in Jerusalem op die troon van Dawid sal regeer ‘n Massabekering sal onder die Jode plaasvind Die loslating van Satan Die oorlog van Gog en Magog Die finale oorwinning oor die Bose Die opstanding van die ongelowiges en hulle oordeel Die vernuwing van die hemel en die aarde. 7. Hierdie hele siening is gegrond op twee aspekte naamlik eerstens dat profesiee altyd letterlik vervul word, waarna ons op ‘n latere geleentheid sal kyk, en vir vanoggend se doeleindes, tweedens dat daar steeds ‘n radikale verskil tussen Israel en die kerk is. En vir die Dispensasionaliste bestaan hierdie skeur vandag nog, dat Israel op grond hiervan steeds God se uitverkore volk is en steeds voorrang geniet bo die heidense Christene en dat Israel ‘n uiters prominente rol speel in die eindgebeure. 8. Daarom dan ook dat hierdie gelowiges so bid vir die terugkeer van die Jode na Israel sodat, volgens hul interpretasie van Openbaring, die eindtyd kan aanbreek en die Jode tot bekering kan kom. En so het hulle ‘n tipe grondgebied-teologie ontwerp waar die toekoms van die wereld afhang van ‘n groep Jode wat moet terugkeer na hulle grondgebied wat in Genesis aan hulle gegee is. 9. Maar die belangrikste vraag wat altyd gevra moet word wanneer ons die OT verklaar vind jy glad nie in hierdie teorie nie. En dis die vraag: MAAR WAT VAN JESUS???? As ons hierdie vraag omseil of nie kan beantwoord nie is ons besig om die Bybel te laat buikspreek, sodat die Skrif se wat ek wil he dit moet se en nie wat dit werklik se nie. 10. Maar voordat ons hierdie uiters belangrike vraag beantwoord moet ons miskien net na ‘n aantal dinge kyk in die OT wat ons mislees, en miskien word dit deur sommige groepering doelbewus misgelees. Ja, Israel was in die OT die uitverkore volk van God, MAAR….dit beteken nie dat die ander volke nie vir God belangrik was nie. 11. Wanneer God die verbond met Abraham sluit praat Hy van NASIES, menigte nasies ens (Gen 17). In Gen 12 se God vir Abraham dat “al die volke van die aarde” in hom geseen sal wees. Van Sara se God dat al die nasies van die aarde in haar geseen sal word (Gen 22:18). God heers in die OT oor AL die koninkryke van al die nasies (2 Kron 20 en 28). 12. Gevolglik kan ons se dat God vanaf Gen 1-11 direk by alle volke betrokke is. Daar is geen sprake van bemiddeling of van ‘n ander nasie nie. In Gen 12 roep God Abram en kies Hy Israel en van Gen 12 tot aan die einde van Maleagi is God deur Israel betrokke by al die nasies. En nou kom ons by ons groot vraag. Wat van Jesus? Want die antwoord hierop gaan vir ons verduidelik wat die posisie van Israel in die NT is. 13. En dis interessant om te sien dat die situasie na die opstanding van Jesus heeltemal verander. Trouens, kort voor sy kruisiging begin Jesus reeds die Jode waarsku dat God die koninkryk van hulle af sal wegneem as hulle nie na sy boodskap luister en hulle bekeer nie, en dat Hy dit vir ‘n ander volk sal gee (Matt 21:43; 22: 1-14; 23:37). En na sy opstanding stuur Jesus sy dissipels dan direk na die heidene om die koninkryk aan hulle te verkondig. 14. Paulus verklaar dan ook in Rom 11 dat hy ‘n apostel vir die heidene is sodat die Jode deur die heidene wat tot geloof kom, jaloers gemaak kan word en sodat hulle Jesus as Messias aanvaar. Maar die vraag “Wat van Jesus?” gaan beantwoord word as ons nou na ons Skriflesing gaan kyk. En hier gaan ons in Paulus se verduideliking iets sien wat dalk selfs skokkend kan wees. 15. Eerstens moet ons verstaan dat die brief aan Efese nie eintlik ‘n brief slegs vir die gemeente in Efese is nie maar eerder ‘n omsendbrief was wat aan verskillende gemeentes gestuur is. Die opskrif en inleiding van die boek wat ons in 1:1 vind wat heet “Aan almal in Efese…” kom ook nie in die oudste manuskripte voor nie. Dit blyk dus dat hierdie brief aan verskillende geloofsgemeenskappe in Klein Asië gestuur is. 16. En in al hierdie geloofsgemeenskappe was heidene woonagtig. Paulus rig dus hierdie brief aan die heidense gelowiges in Klein Asie. Paulus beaam dit in 3:1 wanneer hy se “Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie…”. So hou dit deurentyd in gedagte terwyl ons met die Skriflesing besig is. 17. Die probleem het ontstaan in hierdie gemeentes dat hulle minderwaardig gevoel het teenoor die Jode aangesien die Jode, soos ook in Rome, die heidene gereeld daaraan herinner het dat hulle God se uitverkore volk was. Baie dieselfde as wat ons steeds vandag beleef onder Christene wat dieselfde mening vandag nog huldig. Paulus begin ons teks in vers 11 en hy herinner die hoorders dat hulle vroeer heidene was, onbesnedenes. Vers 11 se “11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.”. 18. Hy gaan verder deur te se dat hulle uitgesluit was uit die burgerskap van Israel, maw woorde hulle was glad nie deel van God se volk nie. Hulle het nie aandeel gehad aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamgegaan het nie, hulle was sonder hoop en sonder God! Hierdie mense was ver van God en sy volk af gewees. 19. Maar nou draai Paulus alles om. Hy begin vir hierdie heidene verduidelik dat noudat hulle gelowiges is, het hulle statusse verander. En hy se alles het gebeur deur die bloed van Christus. En Paulus noem hier ‘n aantal dinge wat met hulle gebeur het. Hy se…. Dat hulle wat heidene was nou naby aan God gekom het Dat Christus nou hulle vrede is Dat Christus die heidene en die Jode EEN gemaak het Dat Christus die vyandskap tussen die heidene en die Jode afgebreek het Dat Christus die twee, Jode en nie Jode, tot EEN NUWE MENSHEID verenig het Dat Christus ‘n einde gemaak het aan die vyandskap en beide die Jode en nie Jode met God versoen het en TOT EEN LIGGAAM VERENIG HET Nou het beide Jode en nie Jode op dieselfde wyse deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. 20. Paulus gaan dan verder om vir hierdie heidene te se dat hulle nie meer bywoners is nie maar MEDEburgers van die gelowiges, of dan nou die Jode, is en lede van dieselfde huisgesin van God as die Jode. Ek wil iets vra? As u vir ‘n gelowige sou vra Wat het Christus aan die kruis gedoen? sou die standaard antwoord wees dat Hy vir ons sonde gesterf het. 21. Maar dis eintlik ‘n baie arm antwoord. Christus het baie meer as dit aan die kruis gedoen. En Paulus maak in ons teks seker dat hierdie heidense gelowiges dit weet. In vers 14 se hy dat Christus “Deur sy liggaam te gee…” die twee een gemaak het. In vers 16 verwys Paulus vir die 2de keer daarna deur te se dat Christus “Deur sy dood aan die kruis…” ‘n einde gemaak het aan die verskil tussen Jode en nie Jode. 22. Dit was nog iets wat Christus gedoen het op Golgpota. Deur sy kruisdood het hy nie net vir ons sonde betaal nie, maar Hy het ook alle gelowiges in een familie saamgesnoer. Hulle een gemaak. Het iemand al ooit dit vir u gese wanneer daar oor die kruisgebeure gepraat word? Dat die kruis nie net daar was om sonde te vernietig nie maar om alle sondaars, Jode en nie Jode, een nuwe mensheid te maak. 23. Geliefdes, dit beteken dat indien ons vandag sou se dat Israel, of die Jode dan, steeds voorrang geniet bo ander gelowiges, ontken ons hierdie werk van Christus aan die kruis. Dan se ons dat Christus nie hierdie funksie aan die kruis vervul het soos Paulus dit verduidelik nie. Dit is LASTER! En dan is dit nog ‘n nasie wat Jesus glad nie erken as Messias nie! 24. En Paulus hou nie op nie. Hierdie is vir Paulus so ‘n belangrike saak dat dit een van die min sake is waarop hy in byna elkeen van sy briewe klem le. Ek noem net ‘n paar… Rom 3:29 – “9 Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek.” Rom 10:12 - Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Gal 6:16 – “16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.” Gal 3:8-9 – “8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo…….9Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.” Gal 3:14 – “14 Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het.” Gal 3:26-29 – “26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” 25. En so kan ons aangaan. Maar ek dink u kry die idee. Ons moet verstaan dat die hele NT boodskap is dat die kerk van die Here wat afkomstig is van elke stam, volk, taal en nasie, sy nuwe volk is. Dit is Handelinge se boodskap dat die kerk nou die wereld vol is en nie meer gebonde is aan ‘n stukkie grond Noord van Afrika nie. 26. Petrus skryf ook duidelik hieroor aan dieselfde heidense gelowiges in Klein Asie. 1 Pet 2:9-10 – “9Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God.” 27. Ook aan die gemeente in Kolosse skryf Paulus die volgende: “12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet.” En dis HEIDENE!!! Geliefdes as ons sien hoe Paulus en selfs Petrus hierdie aspek regdeur hulle briewe beklemtoon, dat daar nie meer witbroodjies by God bestaan nie, dat almal dieselfde status by God het, hoe is dit dan dat gelowiges vandag nog vergeet dat daar ‘n kruis was wat alles, ook die samestelling van God se volk, kom verander het? 28. As ons Israel steeds as God se witbroodjie volk beskou dan beteken dit die kruis het geen impak op ons as God se volk gehad nie. Dat die res van die wereld se gelowiges steeds tweederangse burgers in God se volk is. En ons WEET mos die kruis was veel meer as dit. Die kruis het ons EEN gemaak, in God se oë dieselfde status gegee. Dis juis die wonder van Christus se werk. 29. Miskien is dit ook tyd dat ons ons sieninge en dit wat ons van kleins af geleer is en vandag oral op sosiale media sien en lees eenkant toe skuif en met ‘n leersame gees na die Skrif kyk. Dit is baie gevaarlik om agv ‘n verkeerde interpretasie van die eindtyd toe te laat dat ons een van die mees basiese verlossingsaspekte van die kruis ontken nl dat Christus ons almal, alle gelowiges, aan die kruis een nuwe mensdom gemaak het. Gelyk voor God, vrygespreek deur dieselfde geloof, dat ons almal, Jode en nie Jode, voor God gelykgemaak is. 30. Maar dan het die Jode van Israel vandag die verantwoordelikheid om hulle tot hierdie selfde God te bekeer en sy Messias aan te neem, anders gaan ook hulle die prys van ‘n ewige verderf daarvoor moet betaal.