Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Voor ons vanoggend begin delf in Markus se tweede hoofstuk moet ons eers een ding mooi verstaan. En ek weet meeste van u weet dit alreeds. Maar dis belangrik om die volgende feit in gedagte te hou. En dit is dat die Bybel oorspronklik nie in hoofstukke en verse geskryf is nie. Maar dit is ons natuurlike geneigdheid om die Bybel wel so te lees. 2. Ek bedoel, ons sal maklik in Markus 12 begin lees sonder om eers weer op hoogte te kom van wat in hoofstuk 11 gebeur het. En dis presies waar baie van ons die fout maak. Want hoofstuk 12 is nie in ‘n vacuum geskryf nie. Dit sluit aan by hoofstuk 11. Dit is soos om ‘n roman in die middel oop te slaan en te begin lees met die hoop dat jy die drade van die verhaal sal optel. Miskien sal jy, maar die kanse is baie goed dat jy wel belangrike inligting gaan mis. 3. So daarom is dit belangrik dat ons net eers ‘n vinnige oorvlug sal neem oor hoofstuk 1. Eerstens sien ons in hoofstuk 1 dat Markus alles in sy vermoe doen om mense te laat verstaan dat Jesus die langverwagte Messias is. Dat die verhouding tussen God en sy mense gebroke is en dat die mensdom hierdie Messias nodig het. Want dis hoe God beplan het om die verhouding tussen die mense en Homself te herstel. 4. En ons sien dat min mense dit aan die begin besef en verstaan. Johannes die Doper het dit begryp en die melaatse man wat deur Jesus genees is. Maar aan die einde van hoofstuk 1 sien ons dat die dissipels nie eintlik verstaan nie. En dis hoe Jesus dit wou he. Want die wereld was nog nie reg daarvoor om Hom te ontvang vir WIE Hy is nie. 5. Nou Markus begin hoofstuk 2 met die woorde “Toe Jesus ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is.” In hierdie vers moet ons nie die woorde “by die huis” mis nie. Markus gebruik die woord “oikos” wat nie net huis beteken nie, maar eerder huishouding. MAW dit verwys na ‘n groep mense wat saam woon. Dis mos ‘n huishouding soos ons dit vandag ken. 6. Nou deur die Romeinse wereld sien ons verskillende tipes oikos huishoudings. Ons sien families wat saamwoon, maar sommige huishoudings bestaan uit mense wat dieselfde beroep beoefen of dieselfde belangstellings gehad het. Maar wat hier die belangrikste is, is dat die woord oikos in vers 1 vir ons wil se dat Jesus hier gevestig is, in Kapernaum. Matteus 9:1 noem dat toe Jesus in Kapernaum kom, Hy “…..in sy eie dorp…” aangekom het. 7. Soms sien ons Jesus as hierdie swerwer wat nerens woon of ‘n blyplek het nie. Maar Jesus was eintlik gevestig in Kapernaum, en dit verduidelik ‘n klompie dinge wat op die punt staan om te gebeur. Dit verduidelik vir ons waarom daar skielik ‘n groot groep mense by sy huis saamgedrom het toe Hy daar aankom. Want Jesus is bekend in die gemeenskap. Hulle het geweet Hy is ‘n ongelooflike leermeester want hulle het na Hom geluister terwyl Hy met hulle oor sy boodskap praat se Markus. Maar hierdie mense het meer as dit geweet. 8. Hulle het ook geweet dat Jesus wonders kon verrig. En hier is een van daardie oomblikke wat dit baie interessant is om terug te kyk na hoofstuk 1 en te onthou wat daar gebeur het. Nou voordat Jesus teruggekeer het na Kapernaum het Hy rondgereis langs die See van Galilea. En nadat Hy die melaatse man genees het, het die woord oor Hom versprei sodat Hy “nie meer openlik in ‘n dorp kon kom nie…” (v 45). En nou gaan Jesus terug na Kapernaum toe, huis toe. Dalk sodat Hy kon rus. Maar dit blyk dat die woord oor Hom ook Kapernaum alreeds bereik het. 9. Want daar was reeds mense wat vir Hom gewag het. Soos die vriende van die verlamde man. En toe hulle nie by Jesus kon uitkom nie breek hulle deur die dak van die huis en laat sak hulle vriend af tot in die middel van Jesus en sy geselskap. Kan u dink hoe die huiseienaar hieroor gevoel het. Maar net gehoop dit reen nie binnekort nie. 10. En as jy deel van die vriende was wat besig was om die dak oop te breek moes jy geweet het jy rig nou skade aan. Maar hulle was desperaat om hul vriend by Jesus te kry. Desperaat. Hoe desperaat is ons vir Jesus? Hoe desperaat en gedrewe is ons om by Jesus uit te kom? Ons weet vandag baie beter as die mense van Kapernaum op daardie stadium wie Jesus is. Moet ons nie nog meer desperaat wees vir Hom nie? 11. Maar dan se Markus ‘n vreemde ding. Hy se dat toe Jesus die vriende se geloof sien het Hy vir die man gese: “Vriend, jou sondes is vergewe!”. Maar nou moet ons in gedagte hou dat die man verlam was. Maar Jesus vergewe sy sondes. Wat op aarde het sy sondes met sy gebrek te doen gehad? 12. Maar in die tyd van Jesus het mense geglo dat siektes en slegte dinge wat gebeur die gevolg was van sonde. Wanneer mense sterf, siek is, blind of lam gebore is was dit vir hulle die gevolg van sonde. Of daar is geglo dat hulle siekte veroorsaak is deur dit wat hul voorouers gedoen het. En hierdie man sou dit self geglo het want dit is wat sy hele lewe lank deur almal vir hom vertel is. En dis die rede waarom Jesus hom aanspreek in terme wat hy sou verstaan. As hy gedink het dat dit die gevolg van sy sonde is dat hy verlam is, dan het hy nodig om te weet hy is vry van daardie sonde. En dat hy besef dat die man wat voor hom staan hom van daardie sonde kan vrymaak. 13. Maar wat baie interessant is, is die rede waarom Jesus vir hierdie man se dat sy sonde vergewe is. Markus se vir ons dat toe Jesus HULLE, sy vriende se geloof sien, het Hy tot aksie oorgegaan. En miskien was hierdie man se geloof deel van die “hulle” geloof. Maar wat baie duidelik is hier, is dat die geloof van sy vriende ‘n impak op die man gehad het. 14. Net soos wat daar die geloof was dat die mense in sy lewe vir sy gebrek verantwoordelik kon wees, was daar ook die geloof dat die mense in sy lewe se geloof hom kon genees het. En dit is hoe mense in die antieke Romeinse tyd geglo het. Vandag glo ons individualisties. Dit gaan oor my en my verhouding met God. Hoe my besluite my raak. Hoe dinge my en my lewe gaan raak. EK het nie kerk nodig nie want ek kan alleen kerk wees. Selfs ons verhouding met Christus is volgens vandag se denkwyse gebaseer op die individu se besluit. 15. Maar Jesus leef in ‘n gemeenskap wat kollektief dink. Aan hoe mense by mekaar inskakel en deel is van mekaar. En daar was die vaste geloof dat jy so deel was van ‘n gemeenskap dat wat ookal mense rondom jou gedoen het ‘n impak op jou lewe gehad het, goed of sleg. Ons vind baie sulke voorbeelde in die OT. Wanneer een persoon sondig word die hele volk gestraf. 16. En hierdie is iets wat ons as gelowiges in ‘n westerse wereld miskien meer oor moet dink. Dit is so maklik vir ons om ons verhouding met Jesus in isolasie, so op ons eie te wil uitleef. Ons kan kerk aanlyn kyk, alleen Bybelstudie hou, alleen bid. Maar het u al ooit opgemerk dat hierdie nooit die gedrag van Jesus se dissipels was nie. Kyk gerus verder deur die evangelies. 17. Die dissipels is nooit alleen nie. Jesus gaan wel soms op sy eie om alleen te wees, maar die dissipels is altyd in pare of groepe. Wanneer hulle uitgestuur word is dit in groepe. Want Jesus weet dat ons verhouding met Hom baie beter groei wanneer ons dit saam met ander gelowiges beoefen as wanneer ons dit in isolasie probeer doen. 18. Hierdie verhoudings met ander gelowiges daag ons uit tot nuwe hoogtes saam met God. Dis waar ons mekaar kan ondersteun en bemoedig. Ons verhouding met ander gelowiges en ons interaksie met ander gelowiges het geweldige implikasies vir ons verhouding met God. Daarom is dit soms vir my onverstaanbaar dat mense so koud en eensydig teenoor die kerk kan staan. 19. Daarom sou dit in die kultuur van daardie tyd absoluut sin gemaak het dat die geloof van hierdie man se vriende ‘n rol gespeel het in sy herstel. Maar dit bring ons by die tweede deel van hierdie voorval. En dit is die godsdienstige leiers se reaksie op wat Jesus sopas gese en gedoen het. 20. Nou Jesus het 2 dinge gese wat vir Hom soveel probleme veroorsaak het. Die eerste was dat Jesus vir die man gese het dat sy sondes vergewe is. In Jesus se tyd het mense geglo dat verse soos Psalm 32:5 en Jesaja 43:25 beteken het dat slegs God sonde kan vergewe. En deur hierdie man se sonde te vergewe het Jesus eintlik aanspraak gemaak daarop dat Hy God is. 21. En net vir ingeval hierdie godsdiens leiers nie lekker gehoor het of iets nie verstaan het nie, se Jesus ‘n tweede ding om alle twyfel uit die weg te ruim. Vers 10 – “Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” 22. Nou was daar geen twyfel meer oor wie Jesus beweer Hy is nie. Daniel 7 het duidelik verwys na die Messias as die Seun van die mens. Ons moet nou mooi verstaan: Jesus maak nie net daarop aanspraak dat Hy die Messias is nie. Hy maak daarop aanspraak dat die Messias ook God self is! Dit was die allerverskriklikste laster vir die mense van daardie tyd. 23. Maar Jesus was toegewyd aan sy taak. Hy was hier om mense heel te maak, hul verhouding met die Vader reg te maak. Ongeag wat die mense van Hom sou dink, ongeag wat hulle hom voor sou uitkryt. Die opdrag wat Hy van die Vader ontvang het was al wat vir Jesus saakgemaak het. Bring my mense terug na my toe. 24. Veronderstel, daardie dag, dat die godsdienstige leiers hulle harte oopgemaak het vir die waarheid van die dag. Wat sou hulle geleer het? Eerstens sou hulle geleer het dat sonde soos siekte is en dat vergifnis is soos om jou volle gesondheid terug te kry. Hierdie was nie ‘n nuwe waarheid nie. In die OT was dit ‘n algemene vergelyking bv Jes 1:5-6 en Ps 103:3, maar die verskil is dat dit nou voor hulle oe gedemonstreer is. 25. Hulle sou ook geleer het dat Jesus van Nasaret is beslis die Verlosser. Dat Hy die een is met mag en outoriteit om sondes te vergewe. En hul eie sonde kon ook vergewe word. Wat ‘n geleentheid het hulle nie gemis deur Jesus te ontmoet met ‘n kritiese gees in plaas van ‘n berouvolle hart nie. 26. In hierdie week gaan ons voorberei om volgende week aan die nagmaalstafel aan te sit. Om saam, as gelowiges, kollektief, mekaar te herinner aan die kruisgebeure. En wat dit vir ons beteken het en vandag nog beteken. Ek wil u nooi om hierdie groot gebeurtenis SAAM met ander hier te kom gedenk indien dit fisies vir u moontlik is. Nie oor ‘n stemnota nie. Maar hier waar ons mekaar kan bemoedig, mekaar kan ondersteun, mekaar kan herinner van die verskil wat Jesus 2000 jaar gelede op ‘n koppie gemaak het. 27. Dat ons net weer kan beleef dat deur ons saamwees, ons saam aanbid, saam nagmaal gebruik, ons mekaar net weer bemoedig in die geloof. Want dit is hoe Jesus dit bedoel het om te wees. Reeds vroeg in sy bediening. Kom oefen so ‘n invloed uit op die geloofslewe van elkeen wat kies om saam met u die een Verlosser te dien! In Joh 17 het Jesus gebid da tons as gelowiges EEN sal wees, nie elkeen in sy of haar eie huis op sosiale media besig om tussen die skottelgoed en kosmaak deur vinnig na ‘n boodskap te luister nie. Saam, eensgesind in sy teenwoordigheid.