Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Ons almal, of dan nou meeste van ons is op sosiale media. En baie van ons is aktief op sosiale media. Ek myself is op ‘n paar sosiale media groepe waarop die evangelieboodskap verkondig word. En op hierdie groepe kruis ‘n mens se pad gereeld met mense wat praat van die evangelieboodskap van Christus. En soms, wanneer hierdie gesprekke oor die evangelieboodskap op sosiale media aangeraak word kry jy heelwat mense wat by die gesprek sou aansluit maar waarvan jy vinnig agterkom dat hulle nie werklik ‘n idee het van waaroor dit gaan nie en ook nie waarom die evangelieboodskap so geweldig belangrik en van toepassing in vandag se tyd is nie. 2. Daarom is daar baie mense wat praat oor die evangelie, maar wanneer hulle verwys na evangelie bedoel hulle nie wat die Bybel bedoel as dit praat van die evangelie nie. Daar is diegene wat baie opgewonde is om betrokke te wees in gesprekke oor die evangelie, want vir hulle is die evangelie die plek waar God die speelveld vir almal gelyk maak. Hulle verander dit dan in ‘n sosiale evangelie. Daarom kry ons sosiale evangelieboodskappe soos feministiese teologie, bevrydingsteologie ens. 3. Dan is daar diegene wat opgewonde raak wanneer hulle die woord evangelie hoor want vir hulle is die evangelie al Jesus se morele leringe wat opgeteken is. En dit word net nog ‘n tipe wettisisme. So wanneer ons oor die evangelieboodskap praat moet ons helder en duidelik wees hieroor. Want dis ons verantwoordelikheid om die helderheid van die evangelieboodskap te verdedig. Daarvoor in te tree en op te staan. Daarom Paulus se woorde dat hy hom nie skaam vir die evangelie van Christus nie. 4. En wanneer ek dink aan helderheid oor die evangelieboodskap en om dit te verdedig is die eerste teksgedeelte wat by my opkom 1 Kor 15. Want dis presies wat Paulus doen in hierdie gedeelte. Hy maak duidelik wat die evangelieboodskap is en hoe hy dit verdedig. En as die Here wil gaan ons volgende week hierby aansluit om te sien hoe hy in die res van die hoofstuk die implikasies verduidelik indien die evangelieboodskap net ‘n fabel sou wees. 5. En in ons teks vanoggend gaan ons sien hoe Paulus die argumente uiteensit om te bewys dat die evangelieboodskap die volle waarheid is. Hy gebruik 3 argumente om dit te doen, al drie belangrik op hul eie manier. Ons weet dat Paulus hier in 1 Kor 15 besig is om ‘n gemengde groep mense toe te spreek en hy hanteer ‘n onderwerp met hulle wat op daardie stadium aan die orde van die dag was, nl die van die opstanding. 6. In die teksgedeelte doen Paulus 2 dinge. Hy snoer die monde van diegene wat teen die evangelieboodskap gekant was, maar in die proses versterk hy ook die hande van diegene wat die evangelie verdedig en verkondig het. En beide hiervan is uiters belangrik, want ons het nodig om in hierdie opsig standvastig te wees. As gelowiges het ons nodig om standpunt in te neem en toegerus te wees om die evangelieboodskap te verdedig! 7. Kom ons lees 1 Kor 15 en ons begin by vers 1: “1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” 8. Nou hierdie is alreeds baie belangrik. Vir al die professionele kommunikeerders in die gemeente, ek hoop u het opgemerk dat al drie die fasette van effektiewe kommunikasie in hierdie twee verse teenwoordig is. Vir goeie kommunikasie moet daar ‘n sender wees, daar moet ontvangers wees en daar moet ‘n boodskap wees. En hier het ons dit. Paulus is die sender, die Korintiers is die ontvangers en die boodskap is die evangelie wat hy aan hulle verkondig. 9. Maar daar is iets baie meer as net effektiewe kommunikasie hier. Hy se dat “Ek herinner julle, broers, aan die evangelie …….. waarin julle ook gevestig staan.” MAW hulle staan vas in en op hierdie evangelieboodskap. “Deur dié evangelie word julle ook gered…..”. Ek is mal oor wat Paulus hier se. Let op, hy se nie dat hulle deur hierdie evangelie GEred is nie, alhoewel hulle is. Hy se ook nie dat hulle deur hierdie evangelie gered SAL word nie, alhoewel hulle sal. Hy se dat hulle deur hierdie evangelie gered word. 10. Sien, die evangelieboodskap, se Paulus, is nie iets wat jare gelede gebeur het in ons lewens nie. Hierdie onbybelse beginsel wat gelowiges so graag oor spog dat hulle iewers in die gang afgeloop het en hulle hart vir Jesus gegee het en nou is hulle gered nie. Nee, Paulus se die renigingswerk en vernuwingswerk van die evangelieboodskap is ‘n aanhoudende gebeurtenis in ons lewens deur die HG. 11. Die evangelie is nie net ‘n boodskap wat ons moet hoor om gered te word nie. Die evangelie is ‘n boodskap wat ons moet hoor om gered te bly, gered te leef, gered te wees ens. Maar dan is daar hierdie klousule ingewerk. Hierdie AS-klousule! “As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” Nou met die eerste lees hiervan wil dit lyk asof Paulus se dat ons ons redding kan verbeur of verloor. Maar so ‘n leerstelling sal dit laat blyk dat Paulus homself weerspreek. Nie net met wat hy in die res van hierdie hoofstuk se nie maar ook met wat hy in die res van die Skrif skryf. 12. Want Paulus se in Rom 1:16 dat hy hom nie skaam vir die evangelie nie want dit (evangelie) is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo. Die evangelie is die krag, nie ek of my eie insigte of my eie pogings nie, die evangelie is die krag, en om meer spesifiek te wees, die God van die evangelie. Ons kan nie ons redding verloor nie. Wanneer jy Ef 1 mooi lees sal jy sien dat daar is net een manier om ons redding te verloor. En dis as God ophou om God te wees. Wat nooit sal gebeur nie. 13. Nee, Paulus het beslis nie hier in 1 Kor 15 bedoel dat ons op een of ander wyse ons redding kan verloor nie. Onthou, hy is in ons teks besig om die evangelieboodskap te verdedig. Wat Paulus wel hier bedoel is dat ons nie gered kan word as ons nie die regte evangelie glo nie! Presies wat hy ook aan die Galasiers probeer se. Paulus se ons kan nie die evangelieboodskap verander, herontwerp of aanpas by ons behoeftes en dink ons word gered nie. Nee, in die woorde van sy brief aan die Galasiers: DAAR IS NET EEN EVANGELIE! 14. As jy die verkeerde evangelie glo is jy nie gered nie, ongeag van hoe opreg jy dit glo nie. Dit beteken bloot jy is opreg verkeerd! Hy herinner hulle daaraan dat hy die regte evangelie aan hulle verkondig het. 15. Maar hou in gedagte dat die opstanding van Christus deur die Korintiers bevraagteken word en dis waarheen Paulus beweeg. En nou kom Paulus by sy tweede argument, en hier gaan hy bewyse neerle dat die opstanding wel ‘n realiteit is. Kom ons lees verder. Vers 3: “3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” 16. So sy eerste argument hier is dat dit nie gaan oor die omstandighede van die Korintiers nie, of wat hulle voel of dink of glo nie, maar dit gaan daaroor dat die opstanding deur die Skrif self bevestig word. Wat Moses en die profete daaroor geskryf het. Dat hulle geskryf het dat God se Seun aarde toe gaan kom, gaan sterf en uit die dood gaan opstaan. En nou bevraagteken julle die opstanding? Dis dan volgens die Skrif? 17. Dis Paulus se eerste stuk bewys van die opstanding wat hy aan hulle voorhou. Skriftuurlike bewys. Dis waar ons altyd moet begin. Met die gesag van die Skrif. Waarom? Want daar is niks met meer outoriteit waaruit ons ons saak kan bewys nie. Die Skrif is lewendig, skerper as enige 2snydende swaard. Ons maak nie staat op ons emosies of gevoelens of ervarings nie. Die Skrif is ons eerste bron en bewysstuk. 18. Kom ons lees verder. Vers 5: “5 Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6 en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7 Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels.” Nou het ons getuies. Eerstens het ons die argument gehad dat die opstanding is deel van die evangelieboodskap want dit was deel van wat die apostels geleer en verkondig het en wat die Skrifte geleer het. 19. En nou is daar bewyse dat Jesus die Skrif vervul het en wat die Skrif leer want daar is ooggetuies daarvan. Van wie die meeste op daardie stadium nog geleef het. Paulus praat nie van ‘n geheim wat net hy en ‘n paar ander van weet of uit hulle duim gesuig het nie. Hy praat van gebeure wat in die openbaar plaasgevind het. Dis ‘n historiese evangelie. ‘n Evangelie wat fisies plaasgevind het. Dit kan bewys word. 20. Die neiging het in die laaste klompie jare posgevat onder gelowiges dat die evangelie hoef nie die waarheid te wees nie, solank dit net jou lewe verander. Paulus het nie eens gewonder hieroor nie, want hy ryg die een bewys na die ander in. Inteendeel, die opstanding van Christus is die mees bewese feit in die geskiedenis. As ons dan nie die opstanding van Christus kan vertrou nie, dan kan ons NIKS vanuit die geskiedenis vertrou nie. 21. En eers dan gaan Paulus na homself toe. Ons lees vanaf vers 8: “8 Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. 9 Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. 11 In elk geval, of dit ek is of hulle – dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.” 22. Paulus eindig sy argument weer af met dit waarmee hy begin het. Dit is wat ons as die apostels aan julle verkondig het. Waste bewyse Paulus? Skriftuurlike bewyse. Die Bybel het al hierdie dinge voorspel. Watse bewyse Paulus? Bewyse van ooggetuies. Daar is geloofwaardige mense wat Jesus na sy opstanding gesien het en as julle my nie glo nie, meeste van hulle leef nog. Gaan vra hulle self. Watse bewyse Paulus? Persoonlike getuienis. Ek het self vir Christus gesien na sy opstanding se Paulus. 23. Let op dat Paulus nie net sy persoonlike getuienis vat en vandaar redeneer nie. Dis nie die krag van die evangelie nie. Die krag van die evangelie is nie dat “Ek verander het nie”. Wat is die verskil tussen ons wat verander is en die duisende mense daarbuite wat verander is deur ‘n duisend ander dinge? Wat is die verskil tussen jou en die man wat by AA was en vir 20jaar niks drink nie? Dit het hom verander. Of die verskil tussen ons en die Moslem, Hindu of Boeddhis wat ‘n morele lewe lei? Hulle godsdienste het hulle verander. 24. As al wat ons het ons eie persoonlike verhaal of getuienis is dan is daar geen verskil tussen ons en hulle nie. Maar dis nie hoe Paulus hieroor argumenteer nie. Paulus se die opstanding is ‘n realiteit. Hoekom? Want in die 1ste plek die Skrifte wat daaroor geskryf het is vervul, in die 2de plek die ooggetuies wat daar is om ondervra te word en derdens my eie getuienis dat ek Hom self gesien het. 25. Maar wees baie versigtig. Paulus is nie besig om vir ons ‘n resep te gee en te se ons moet eers verwys na die getuienisse en dan ons eie getuienisse gee nie. Glo my, Paulus se getuienis is so bietjie anders as enige van ons s’n. MAAR….kyk na die volgende. Seker een van die teksgedeeltes in die hele NT wat die meeste gemis word. In Gal 2 vind ons dat Paulus, na ‘n tydperk van 14 jaar Jerusalem toe gegaan het. Hoekom? Kom ons lees Gal 2:1! 26. “1 Veertien jaar later het ek weer Jerusalem toe gegaan, hierdie keer ek en Barnabas, en ek het vir Titus ook saamgeneem. 2 God het dit aan my geopenbaar dat ek moet gaan. Ek het toe die evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie.” 27. Selfde frase en woord as in ons teks vanoggend. Onthou? “As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” Maar Paulus, wag ‘n bietjie. Jy het al hierdie vrug op jou arbeid gesien. Vir 14 jaar. Gemeentes geplant wat teen ‘n geweldige pas gegroei het? Hoe kon jy tevergeefs gewerk het? Dit maak nie sin nie! As dit wat ek verkondig het nie in lyn is met wat hulle verkondig nie, dan was die vrug op my arbeid tevergeefs!!!! 28. Paulus wys nie na homself as die outoriteit vir die boodskap wat hy verkondig nie. Hy se nie dat dit HY is wat die vrug inbring nie. Hy wys na die evangelie. Wat hy verkondig moet die ware evangelie wees, anders was al hierdie arbeid tevergeefs. Paulus se nie in 1 Kor 15 dat sy getuienis gee waarde aan die evangelieboodskap nie. Hy is besig om sy apostelskap te verdedig. 29. Hy se nie dat ons ons persoonlike ervarings moet gebruik om die krag van die evangelie op een of ander manier te bewys nie. So asof ons persoonlike getuienis nou die skaal in die regte rigting gaan swaai. Wat hy se is die volgende: Nr 1 – ek het hierdie evangelie aan julle verkondig. En julle glo dit, daarom is julle daarin gevestig. 30. En as julle gaan wegbeweeg van hierdie evangelie af wat ek verkondig is daar die Skrifte. Hierdie Skrifte is vervul, en daarmee saam is daar die ooggetuies wat Jesus na sy opstanding gesien het, en dan is daar ek myself, wat apostoliese gesag het want God het my in hierdie lyn geplaas van ooggetuies! Dis die outoriteit van die hele NT geliefdes! Dit gaan nie oor my en my ervarings en hoe dit my verander het nie. 31. Want as dit gegaan het oor ons getuienis en ervarings sit ons met die volgende probleem. My getuienis moet so oortuigend en impakvol wees dat dit die skaal sal swaai sodat mense gered word. Dan is dit nie meer die evangelie wat die krag van God tot redding is nie, dis nou my verhaal. En daarom begin mense te jok hieroor. 32. Mense begin hulle getuienisse oordryf. Het u al gehoor….. En dan kom ‘n groot probleem. Daar is mense wat in die kerk sit en na hierdie oordrewe getuienisse luister, en dan se hulle die volgende woorde: “Maar ek het nie ‘n getuienis nie”. MAW daar moet hierdie kragtige stories wees wat vertel word met die doel om die skaal te swaai en mense so ver te kry om te sien wat God gedoen het??? Ek het nie ‘n verskriklike persoonlike getuienis nie! 33. Al wat ek het geliefdes is God wat mens geword het, wat aan ‘n kruis gesterf het, my sondes daaraan vasgespyker het, wat in ‘n graf gesit is, op die 3de dag opgestaan het en opgevaar het na God die Vader toe waar Hy vir my intree totdat Hy terugkom! Dis al wat ek het en dis al wat ek nodig het!!!!! Moet nooit ooit in daardie strik val van Ek het nie ‘n getuienis nie. 34. Paulus maak hierdie nie oor sy getuienis nie. Hy probeer vir ons se dat God uit sy pad gegaan het om die evangelieboodskap openbaar te maak en dat dit geverifieer kan word as die waarheid deur die bewyse wat hy voorle. Dis hoekom ons die evangelie glo. Want dis bewys as die waarheid. En daarom verander dit ons lewens. Nie andersom nie. My ervaringe bevestig nie die evangelie nie. 35. Vertrou die evangelieboodskap van verlossing as die waarheid. Daar le ‘n krag in wat vir ons die liefde van ‘n Almagtige God in detail uitspel. En ek het nie nodig om een of ander groot verhaal van bekering te he nie, want dis God se verhaal wat saakmaak, nie myne nie!