Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Jesus is besig om in hoofstukke 2 en 3 van Openbaring die sewe gemeentes in Klein Asie aan te spreek. En Johannes skryf die woorde van Jesus neer in brief vorm. Nou Filadelfia was ‘n groot en indrukwekkende stad. Veral op die front van die landbou was Filadelfia baie prominent gewees. Druiwe is op groot maat daar geproduseer, tot so ‘n mate dat Dionesis, die god van wyn, die beskermgod van Filadelfia was. 2. Maar tussen al die kerke wat Jesus in die twee hoofstukke aanspreek is Filadelfia nogals uniek. Want dit wil voorkom dat Jesus nie baie kritiek op hierdie gemeente het soos die geval was met die ander nie. En Jesus se woorde in vers 7 is eintlik ‘n samevatting van wat volg. Luister mooi na vers 7: “So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie.” 3. Nou hierdie is ‘n verwysing na Eljakim wat ‘n baie hoë posisie in die koning se paleis beklee het. In Jes 22 lees ons dat Eljakim die sleutels van die koningshuis gehad het: “Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie.” Maar nou se Jesus dat HY die sleutels tot ‘n ander koningshuis het. En dat Hy die toegang daartoe beheer soos Eljakim toegang tot die koningshuis beheer het. Maar hierdie is ’n koningshuis met ‘n verskil. Hierdie is ‘n koningshuis wat dui op ‘n ewige koninkryk wat aan God behoort. 4. Nou Jesus begin die brief aan Filadelfia deur dieselfde woorde te gebruik wat Hy vir die ander gemeentes gebruik naamlik “'Ek weet alles wat julle doen.” Maar terwyl hierdie woorde gewoonlik die begin is van ‘n teregwysing vir ander gemeentes is dit nie hier die geval nie. 5. Want vir die gemeente van Filadelfia volg Hy dit op met die woorde “Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.” Nou net soos die ander 6 gemeentes in Klein Asie word die kerk in Filadelfia ook vervolg. Boonop se Jesus vir hierdie gemeente dat hulle min krag het, en dit kan wees dat dit maar ‘n klein gemeente was maar ook dat hulle swaar gekry onder die verdrukking van die Jode wat hulself beskou het as die volk van God en wat hierdie Joodse Christene as heidene uitgekryt het. 6. MAAR, in teenstelling met die ander gemeentes het Filadelfia net nie ingegee nie. Hulle het nie ingegee aan die slegte invloed van buite nie, en daarom lees ons in vers 8 dat Jesus hulle belowe “Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.” 7. Maar dan in vers 9 praat Jesus van die Sinagoge in Filadelfia waaruit die Christene verban is deur die Joodse godsdiensleiers. En Hy noem hierdie ‘n Sinagoge van Satan. Jesus se vir ons dat die gelowiges vanuit die sinagoge verban was. Dat hierdie Christene deur die Joodse godsdiensleiers nie beskou is as gelowiges nie. 8. Ons moet onthou dat in die begin van die Christendom was die meeste gelowiges Jode gewees. Om die waarheid te se Christene het in die begin nooit na hulself as Christene verwys nie. Hulle is maar eers vir die eerste keer Christene genoem in Antiogie nadat die gemeente gevestig was. (Hand 11). 9. Voor dit is bloot na hulle verwys as die “groep Jode wat geglo het dat Jesus die Messias was.” So dis geen verrassing om te sien dat die gelowiges in Filadelfia deel van ‘n Joodse gemeenskap was nie. En hierdie Jode was die gelowiges se vriende en familie, wat net vir ons wys hoe hartseer dit vir die gelowiges was om uit hierdie gemeenskap verban te word. 10. Hierdie was nie heidene nie. Dit was Jode wat soos hulle geglo en gedink het. Hulle was getrou aan die wet. En nou word die gelowiges deur hierdie Jode uit die sinagoge en alle godsdienspraktyke verban en Jesus noem hulle die sinagoge van die Satan. En Jesus se vir hierdie Christene dat Hy sien en verstaan hoe pynlik dit vir hulle is. 11. Maar Jesus se dat Hy ‘n deur vir hulle sal oopmaak. Regdeur die NT lees ons van deure wat oopgemaak word of toegemaak word. En sonder uitsondering het dit elke keer betrekking op geleenthede vir die uitbreiding en verkondiging van die evangelie. Hierdie klein gemeente, met min krag, God vertrou hulle met die uitbreiding van die evangelie. En Hy se vir hulle dat hulle nie alleen hierin is nie. Hy maak self die deur vir hulle oop. Hy self skep die geleentheid vir hulle om die evangelie uit te dra. 12. In vers 12 se Jesus “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak”. Hou nou in gedagte dat vir eeue was die tempel die plek waar God se teenwoordigheid was. Dis waar mense aanbid het. So wat Jesus hier se is dat diegene wat aan Hom getrou bly deel sal wees van die tempel op aarde. Nog duideliker, God se kinders SAL DIE TEMPEL WEES! 13. Hulle sal God se teenwoordigheid op aarde bekend maak. Hulle sal mense saambring om te aanbid. Want hou in gedagte dat die fisiese tempel in Jerusalem reeds vernietig is teen die tyd wat Johannes hierdie woorde skryf. Jode regoor die wereld het steeds probeer sin maak daaruit hoe hulle gaan lewe in ‘n wereld waar daar geen tempel is nie. 14. En nou kom belowe Jesus die gemeente in Filadelfia dat as hulle getrou aan Hom sou bly, sou HULLE die tempel wees. Hulle sal God se tempel in die wereld wees. Hulle sal deel wees van ‘n gemeenskap in hierdie wereld wat God se boodskap verkondig, die goeie nuus van Jesus! 15. Maar dis steeds nie die einde nie. Jesus wil he hierdie gemeente moet dit duidelik hoor. Hy maak dit nog duideliker in sy volgende woorde. In die tweede helfte van vers 12 se Jesus “Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.” 16. Jesus se aan hierdie gemeente as hulle getrou bly sal God sy Naam op hulle skrywe. In die Hebreeuse kultuur was ‘n naam nie sommer net ‘n naam nie. ‘n Naam was ‘n persoon se totale identiteit, sy reputasie, sy outoriteit. So wat God vir hulle se is dat as hulle aan Hom getrou bly sal hulle sy Naam, sy reputasie, sy outoriteit dra! 17. Die gelowiges, hulle wat uitgeban is uit die sinagoge, hulle sal Jesus se Naam wees op hierdie aarde. Maar hierdie moet mense wees wat daders van die Woord is. Hulle moet die Woord DOEN. Die deur is oopgesluit, hulle moet die Woord gaan uitdra. Hierdie moet mense wees, soos Jesus se broer Jakobus dit stel, in wie se lewe Christus elke dag sigbaar is. Gemeente in Filadelfia, dis wie julle moet wees! 18. Ek wonder vanoggend. As Jesus vir Johannes daar op die eiland Patmos sou gese het om ‘n brief te skryf aan die gemeente op Deneysville, wat sou Hy Johannes laat skryf het? Sou Hy aan ons dieselfde skryf as aan die gemeente in Sardis, dat Hy alles weet wat ons doen, dat ons die naam het dat ons lewe, maar tog eintlik dood is? Sou Hy dieselfde skryf as aan die gemeente in Laodisea. Dat ons nie koud of warm is nie, maar lou, en ons daarom uit sy mond gaan spoeg? 19. Of sou Hy vir hierdie gemeente dieselfde skryf as aan die gemeente in Filadelfia. Dat alhoewel ons klein is dat ons tog vasgehou het aan sy boodskap en Hom nie verloën het nie? 20. As Jesus werklik ons Here is, moet ons getrou bly. Selfs tot in die fynste detail van ons elke dag se lewens. Maak nie saak wat die prys is nie. Hierdie teks vanoggend daag elkeen van ons uit, as individue maar ook as gemeente, en dit vra die vraag: is ons net nog ‘n gemeente wat die regte dinge glo, soos die mense in die sinagoges in Filadelfia, of is ons ‘n gemeente wat DOEN wat Jesus sê soos die gelowiges in hierdie stad? Is ons getrou aan Hom op ‘n manier wat ons werklik sy Naam dra, sy verteenwoordigers is? 21. In Luk 6:46 se Jesus “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” As ons hier, in hierdie gemeente se dat ons volgelinge van Jesus is, dan moet ons doen wat Hy se. Dis nie ‘n keuse tussen die een of die ander nie. Ons MOET doen wat Hy se! 22. Sou ons nie ook graag van God wou hoor dat Hy vir ons as gemeente hier in Deneysville sou se dit wat Hy deur Johannes vir die gemeente in Filadelfia gese het nie? Dat Hy kan sien dat ons aan sy boodskap, die evangelie van sy Seun vashou, dat ons Hom nie verloën deur die manier waarop ons leef nie. Dat Hy ons sal vashou in die tyd van beproewing, dat Hy ons as gemeente ook ‘n pilaar sal maak in sy tempel en dat ons, soos die Filadelfiërs, vir altyd daar sal bly. 23. Dat die Naam van God ook op ons geskrywe sal word – wat apokalipties in Openbaring beteken dat ons vir altyd God se eiendom sal wees! God maak ook die spreekwoordelike deur vir ons as gemeente oop, een wat ons die geleentheid gee om die evangelie uit te dra. Gaan ons dit benut? Gaan hierdie klein gemeente die geleentheid aangryp om ‘n verskil te wees in die wereld daar buite? Want God het die deur oopgemaak! 24. Maar Here, ons het ook maar min krag net soos die gemeente in Filadelfia. Wel, My krag kom juis tot volle werking wanneer julle swak is. Is dit nie die antwoord wat Paulus gekry het nie? 25. Geliefdes, God het ‘n plan met hierdie wereld. En daardie plan se naam is Jesus Christus. En God wil he die wereld moet nie net van Hom hoor nie, hulle moet Hom sien! Sien in die lewens van ons wat aan die boodskap van die evangelie vashou, ons wat Hom nie verloen nie. 26. En God belowe vanoggend self aan hierdie gemeente dat Hy ‘n deur oopsluit wat niemand kan toesluit nie. Dat Hy vir ons as gemeente die geleenthede gee om Jesus vir die wereld te wys. Sy hande en voete te wees. Ons moet net getrou aan Hom bly. Amen