Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Het jy al ooit 'n boek van agter af gelees? Eers die einde dan werk jy so terug na die begin. Al weet jy hoe dit eindig, is daar 'n klomp los drade wat jy wil vasknoop. So, jy blaai terug, lees hier, los daar. Die heel tyd terug na die voorkant van die boek. Daar is mense wat dit 'n doodsonde sal noem. Jy lees nie 'n boek so nie. As jy so oor boeke voel … jammer, vanoggend gaan ons so werk. Vanoggend lees ons eintlik 'n outobiografie van agter af. Jy kan nou rustig besluit wie se outobiografie ons lees – jou eie – of as jy nie wil nie, Jesus die Christus s'n. Sien jouself – deur geloof in Jesus – voor God se troon. In Sy heilige teenwoordigheid. Jy kan Hom volledig sien. Al die beskrywings van die hemel waarvan ons lees in die boek Openbaringe en ander Bybeldele: dit het waar geword vir jou. Jy beleef dit. Dis nie 'n droom nie. Dis die slot hoofstuk van jou outobiografie: Jy is by God. Jy vier fees en jou geluk en vreugde het net geen perke. En op die hemelse troon sit Jesus. Nie meer die baba in die stal in Betlehem nie. Nie meer die man aan die kruis nie. Maar Koning … oor alles en almal. Dis my voorreg om vanoggend elkeen van u te verseker. Om vir jou te kan sê dat jou padjie van geloof gaan uitloop op iets besonders. Toe Jesus die eerste keer na die mense op aarde gekom het was dit omdat ons so vasgeknoop geraak het in ons web van intriges en haat en sonde dat God die ganse mensdom sou moes vernietig. En tog, toe God besluit tot hiertoe en nie verder nie … en Jesus kom mens word het was die plan van aksie nie: Nou “sort” ons die sondige spulletjie vir eens en vir altyd uit nie. Kom ek lig dit uit. God het Sy Seun na die wêreld gestuur …. sodat die wat in Hom glo … sodat jy wat in Hom glo … • nie veroordeel sal word nie • die ewige lewe kan hê So! Ons weet hoe gaan die wat glo se storie eindig. Maar hoe het dit moontlik geword? Was ons dan nie deel van die wat verdien het om vernietig te word nie? Vers 14 en 15 praat van 'n slegte tyd. Eintlik trek Jesus 'n parallel deur na die woestyntyd van Israel se reis met God. Toe het hulle ook teen God gesondig. God het kwaad geword vir hulle en giftige slange is tussen hulle ingestuur. Elkeen wat gepik is het gesterf. Hulle het om genade gepleit. En God, wonderlike God wat Hy is, het sag geword teenoor hulle. Moses moes 'n slang van koper maak en op 'n paal sit en as jy gepik word kon jy in geloof na die koperslang toe kyk en jy sou nie sterf nie. In ons taal vandag: Dit was … soos 'n gebed … jy kon bid en as jy glo sou jy gered word. Net so, sê Jesus, moes Hy aan 'n kruispaal hang sodat die wat in Hom glo, gered kan word. Genesing kan vind. Rus vir stukkende moeë lewens. Wat ons vandag vier is die begin van die uitvoering van God se plan om finaal … vir eens en vir altyd … hoop te kom gee. Wie besef, sy/ haar lewe is op 'n doodlooppaadjie, hoef maar net na Jesus aan die kruis te kyk. En jy sal gered word, ongeag wat jy geleef het. Glo in Jesus en jy het die ewige lewe. Ons vier nie net vandag Jesus se geboorte nie. Ons vier nie 'n mensgemaakte dag genaamd kersfees nie, bv soos sommiges in Februarie, Valentynsdag vier nie. Ons vier in 'n sin ons eie geestelike geboorte. Ons vier die slothoofstuk van ons lewens. Ons vier God wat ons verby ons eie ou wereldjie laat kyk het en Sy grootheid laat sien het. Ons vier Sy genade en liefde. En ons antwoord met ons lewens. Ons kies om vir Hom alleen te lewe. Want ons weet hoe ons aardse stryd sal eindig: In oorwinning. Ons het ons lewens vir Hom gegee … uit diepe dank dat ons nie veroordeel word nie maar vrygespreek is. En met hoe ons vier vandag, sê ons eintlik, ons het die eeue oue boodskap verstaan. Moet ons nie verby Kersfees kyk, verby die baba in die krip, sterrekykers, engelekore, verby dit alles kyk en net oor en oor prewel: Here, dankie. Dankie vir die krip en die kruis. Dankie vir die oorwinning oor die dood en oor die lewe wat ons tot hiertoe geken het. Dankie, dat U, Here Jesus, werklik die Seun van God is. En dankie, dat ons vandag reeds kan weet hoe als vir ons gaan eindig. Vol blydskap voor u troon. Vrygespreek, Gaste by U hemelse feesmaal. Here, wees U vandag die eregas by ons feesmaal. Amen