Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Sondag 29 November 2020 Dankdiens Votum Seëngroet Lofliedere: Lied 474: 1,2,3,4. Lied 456: 1,2,3 Lied 453: 1,2,3 Lied: 212: 1,2,3. Dankgebed Geloofsbelydenis Gebed Skriflesing: Inleiding: Die boek Jesaja speel af oor 250 jaar en omvat drie van Juda se moeilikste tye, te wete: voor die Assiriese ballingskap, daar tydens en daarna. Die hoofstuk is deel van Jesaja 40-55 (die sg. “Deutro-Jesaja”), wat handel oor die tyd van die ballingskap self. Jesaja 40–55 is gerig aan Jerusalem (Sion/Israel), as die kneg van die Here wat Sy wil moet uitvoer. In Jes. 49:1-7 word die taak van Israel spesifiek uitgespel. Israel moet nie maar net terugkeer na Sion nie. Hulle moet ’n lig wees wat God se verlossing tot by die uithoeke van die wêreld laat uitkring oor al die nasies. LEES JESAJA 49: 8 - 16 “Die Here het weggeloop en my vergeet. Ek is nie meer in Sy lewe nie; Hy is nie meer in myne nie.” Mense sê dit nie reguit nie maar dit wys: in leegheid, doelloosheid, moedelose praatjies, diep woede, ontnugtering en traak-my-nie-agtigheid nie. Hulle is nie gebore as ateiste nie .... dis gedooptes ... kerkmense. Die lewe het met hulle gebeur: ’n motor is gesteel, ’n gesinslid verkrag, vriende vermoor, of op die een of ander manier is so ’n mens se mensheid gestroop en ook hul hoop. Netso maklik en vinnig soos dinge vandag kan skeefloop in jou lewe, netso naby is enige gelowige aan ophou glo. Hierdie jaar het ongelooflik vinnig skeef geloop vir baie mense en lande. Ek hoef nie vanoggend uit te spel alles wat in mense se lewens gebeur het nie. Ek kan wel sê ons het baie meer begrafnisse gehad (nie Covid nie); mense het vereensaam; mense het in hul huise in terug getrek en kom nie uit nie; werk verloor; salarisse is gesny soms tot op die been en vir party is tot van die been weg gesny. Ek besef dat net die Here tussen ons en ondergang staan. Hy het ons gedra. En met ons praat ek nie net van die gemeente nie, maar van jou as gemeente. Daar is nie maklike verse in die Bybel nie. Party lyk maklik totdat jy dit moet leef tussen mense wat haat en moor en steel en politici wat magsbehep is ... dan lyk al die verse te moeilik. In vanoggend se dankdiens ignoreer ons nie die seerkry wat oor en oor in hierdie land afspeel nie. Ons ignoreer nie die droogtes, plaasaanvalle en –moorde. Ons bly bewus van die covid-19 gevaar, die werksverliese en verlies aan inkomstes wat ons mense beleef. Maar ons verskuif ons fokus weg van dit alles af, na God toe. God, Wie ons deur alles tot hier gebring het. God wat keer op keer ons lewens spaar en uitkomste bring. God Wie ons dra in ons moeilikste oomblikke. Ons kies om God eerder te dank vir die feit dat Hy op ’n tyd wat Hy goeddink, ons gebede sal verhoor. En daaraan gaan ons vashou en daarvoor gaan ons God dank En kom ons onthou. Die uiteindelike doel van enige mense se verlossing, is sodat God verheerlik kan word. Die mense sou dit kon sien in hoe ’n platgetrapte Israel weer opstaan (vers 7). En vandag sal hulle dit sien in hoe ons aan God vashou en hoe Hy vir ons uitkoms gee. Netsoos ons, het hulle ook in ’n erg stukkende samelewing geleef. Eintlik erger want hulle is weggevoer teen hulle wil in na ’n vreemde land. God belowe ’n klomp goed aan hulle en dan kom gebruik Jesaja 4 beelde om te wys dat God vertrou kan word met hierdie beloftes ... al gaan God dit eers op Sy tyd uitvoer. Hy sê: (4 dinge) 1. God is soos ’n ma. (Lees vs 15) Nou maar, hoe is ’n ma? Daar is hierdie ware verhaal wat gedurende 2de Wêreld-oorlog afspeel. Solomon Rosenberg, sy vrou en hulle twee seuns is na ’n konsentrasiekamp geneem. Die reëls was eenvoudig. Solank jy jou werk doen, lewe jy! As jy te swak word om te werk, word jy doodgemaak. Rosenberg het geweet David, sy jongste, sou dit nie maak nie, want hy was hulle sieklike kind. Eendag het Rosenberg terug gekom by die barakke en net sy oudste seun, Josua, raakgesien tussen al ander gevangenes! Josua het snikkend vir sy pa gesê: “Vandag was David nie sterk genoeg om meer sy werk te doen nie, daarom het hulle hom weggevat.” “Waar‘s jou ma?” wou Solomon weet. Josua het skaars hoorbaar die woorde uitgesnik: “Toe hulle vir David neem, was hy bang en het hy gehuil. Ma het sy hand geneem en saam met hom gegaan.” Dis hoe ’n ma se hart werk Maar al is daar ma’s/ouers wat nie die paal haal nie en al is dit so dat selfs die goeies hulle kinders in die steek laat, kan jy weet God sal jou nooit in die steek laat nie! 2. God is soos ’n persoon wat sy geliefde 24/7 in Sy gedagtes het. En om ons te help om te verstaan sê God Hy maak soos ons dikwels maak met iets wat ons nie wil vergeet nie. Hy skryf dit op dit op Sy hand. God skryf jou naam op sy hand. God maak doodseker Hy kan nooit van jou vergeet nie. Ek dink dit was Penny Heyns wat na haar beste olimpiese spele die olimpiese ringe op haar skouer getatoeeer. Sy wou dit vir altyd onthou. En ek hoor jongmense ook vandag as hulle verlief het hulle sit en krap die geliefde se naam op hulle boeke en orals neer. Die ouer mense het hul name en ’n hartjie in boomstamme gekerf. God is soos ’n geliefde wat sy geliefde 24/7 in Sy gedagtes het. God sê Hy tatoeer ons naam op Sy handpalm, sodat Hy die heeltyd aan Sy liefde vir ons herinner sal word! En God doen sulke goed, sodat ons kan weet ons kan Hom vertrou. En kan weet Hy sal nie wegloop en ons alleen hier los nie. Hy sal ons nooit vergeet en nooit verlaat nie! 3. God is soos ’n veiligheidswag op ’n muur. God kyk na ons. Hy is soos ’n (nag) wag op ’n muur wat uitkyk of daar nie een of ander onveiligheid/gevaar is nie! Maar Hy bly 24/7 op diens, sê hierdie vers vir ons! Slaap goed, want God hou wag oor jou! 4. God is soos ’n juwelier Die finale prentjie is een van ’n juwelier. God sal soos ’n juwelier Sy geliefdes uitrus met die mooiste juwele sodat ons (en die res van die wêreld) sal weet hoe geseënd hulle regtig is! So ’n God kan jy vertrou! Ma’s mag vergeet - hulle is immers net mense! Geliefdes maak foute en los jou. Wagte As ek dan hierdie gedeelte langs die omstandighede in hierdie land neersit, so donker soos die land se toekoms lyk. Dan sien ek in die vier beelde wat God gebruik dat ek en jy kan moed skep. Ons moet met hart en siel by God bly. Hy gaan versorg. Dis hoe Hy is en daarom kan ons al ons vertroue in Hom plaas! En as jy dink ... maar wat van my ... my verlede tel teen my ... wel dink hieroor ... Dit herinner ons aan die storie van die moordenaar aan die kruis. Jesus het hom ook dadelik vergewe. Dis ook hoekom ek by die doopbak staan vanoggend: By die plek van God se versekering aan ons ... dat Hy ons nooit sal los nie maar ons God sal wees ... daarwees ook vir ons Ja , ook vir ons wat Hy eers moes skoon was met Sy bloed ... Kom ons dank Hom. Gebed Slotlied: 275: 1,2, 4, 5. Seën