Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 49:8-16 1. Op 25 Januarie 1981 het die mooie Karoo vir baie mense vir ewig verander. Die klein dorpie van Laingsburg is getref deur n ramp wat tot vandag beskou word as een van die ergstes in die Suid Afrikaanse geskiedenis. Meer as ‘n honderd mense het verdrink waarvan die liggame van 72 mense nooit gevind is nie. 184 huise in hierdie klein Karoo dorpie is vernietig en slegs 21 huise het staande gebly. 2. Met ‘n gemiddelde reenval van 175mm per jaar het daar op 24 en 25 Januarie nie minder nie as 425mm in twee dae geval. Die Buffelsrivier wat langs die dorp verbyvloei het sy walle oorstroom en so huise, besighede, motors ens meegesleur. Van die slagoffers se liggame is in Mosselbaai gevind, ongeveer 249km verder. 10 oorlewendes is gered by die Floriskraaldam, 21km verder. 3. ‘n Koerantopskrif het gelui: DIE DAG WAAROP GOD LAINGSBURG VERGEET HET!. Kan God ‘n mens vergeet? Kan dit gebeur dat Hy jou so verlaat, Homself so ver van jou verwyder dat jy uit sy sig verdwyn? So ver dat dit voel asof jy glad nie meer vir Hom bestaan nie. Sion (wat hier verteenwoordigend is van Israel) het gedink dat God hulle vergeet het. Hulle was in ballingskap. Die tempel en daarmee saam Jerusalem, die heilige stad, is vernietig. Hulle is vreemdelinge in ‘n land vol heidene met heidense afgode. 4. Luister na vers 14: “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet”. Eintlik is dit ‘n merkwaardige vers. Veral as ons na die plasing daarvan kyk. Want soos ons gelees het is die vers omring met teksverse vol van die wonderlikste beloftes van God. Dit staan as’t ware soos ‘n seer vinger uit tussen al hierdie verse van bemoediging. Sopas het God by monde van Jesaja gese dat Hy hulle gebede sal verhoor, dat Hy hulle sal beskerm en hulle land sal herstel (v8), dat hulle nie sal honger of dors kry nie want Hy sal hulle versorg (v10). 5. Vers 13 is die klimaks van die gedeelte: Jubel, hemel! Juig aarde! Sing vrolik, berge! Die Here het vir sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was.” 6. Wie sou nou hierteen beswaar wou inbring? Wie sou nie eerder “AMEN” hierop wou roep nie? Dis hier waar Israel moes gereedmaak vir ‘n sessie jubelende lofsange. Maar Israel klap nie hande nie. 7. Hulle bekla hulle lot. God het ons verlaat. En nie net verlaat nie. Nee. God het ons vergeet ook. “Here, U beloof nou wel dit en dat, maar met eerbied gese, U woord klop nie met die werklikheid nie. Ramp op ramp oorval ons, sodat ons nie meer die gewig daarvan kan dra nie. Waarom het U ons verlaat en vergeet? 8. Nou as dit die eerste keer was dat Israel die Here se woord so bevraagteken het was dit te verstane. Maar ons hoor hulle nogals dikwels in die geskiedenis op hierdie trant kla: Ps 13:2 – Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af wegkyk? Klaaglied 5:20 – Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat? 9. Helaas, ons kla ook dikwels so. En ons worstel ook gereeld met skynbare teenstrydighede tussen God se beloftes en die werklikheid. Ons ervaar nie altyd die voorspoedige en vreugdevolle tye nie, met gesonde kinders wat altyd die regte keuses maak, spanningsvrye werksomstandighede en suksesse op alle gebiede van ons lewens nie. Ons sien ook nie hoe God se beloftes altyd soos voeë netjies inmekaar pas nie. 10. Natuurlik is daar tye wat ons nie anders kan as om hardop AMEN uit te roep en lofsange te sing nie. Dit is so. Daar is tye wat God ons heeltemal onkant vang en ons so bederf dat ons nie anders kan as om trane van dankbaarheid te stort nie. Maar meesal klink ons maar net soos Israel. Waarom het U my verlaat Here? Het U van my vergeet? 11. Ek praat van daardie tye wat ons uitroep Kom Here Jesus, kom tog net! En dan doen ons dit nie omdat ons na sy koms uitsien nie, maar dat die seer hier op aarde kan einde kry. Het u al so uitgeroep? Want ek het beslis. 12. Maar beteken dit dan dat God se beloftes van nul en geen waarde is nie? Dat dit bloot soos rook deur die wind weggewaai word en daar nooit iets van kom nie? Net ‘n skyn en illusie? Natuurlik nie! En dit word duidelik as ons na die konteks van ons gelese gedeelte kyk. Die enkele uitroep van Israel word nie om dowe neute so deur die troosryke beloftes van God omring nie. Net die struktuur van die teksgedeelte se alreeds vir ons dat God se beloftes is sterker, groter en meer, al neem dit tyd om in vervulling te gaan. Al moet ons soms wag, en soms lank wag, bly dit ‘n werklikheid. God sal ons nooit vergeet en nooit verlaat nie!!! 13. Die skrywer gebruik twee aangrypende voorbeelde: Eers sê hy God is soos ons moeder (v15). Ons elkeen weet dat ‘n moeder nie haar kind kan vergeet nie. Ons praat mos in die volksmond van moederlike liefde. En die van u wat moeders is sal iets verstaan van hierdie liefde. En deur hierdie vergelyking probeer God in menslike terme aan Israel verduidelik hoe diep sy liefde vir hulle is. Dan was daar ook die praktyk van minnaars om hulle geliefdes se name in hulle handpalm te tatoeer. Interessant genoeg kom die woord NAAM nie in die oorspronklike Hebreeus voor nie. Daar staan letterlik geskryf: EK HET JOU IN MY HANDPALMS GEGRAVEER! En alhoewel dit oorspronklik na Israel verwys, het dit ook direk betrekking op ons as gelowiges. God het ons beslis nie minder of meer lief as wat Hy Israel bemin het nie. 14. Maar God het vir jou en my in sy handpalms, beide van hulle, gegraveer. Nie net ons name nie, maar ons totale wese. En natuurlik is dit by wyse van spreke. Want dit beteken dat ons dag en nag voor Hom is, dat Hy deurentyd aan elkeen van ons herinner word. Ek het twee geraamde fotos van my ouers wat onlangs oorlede is op my lessenaar in my studeerkamer. En dit herinner my deurentyd aan hulle as ek by my lessenaar sit. God het by wyse van spreke ‘n geraamde foto van elkeen van ons op sy lessenaar. Ons is deurentyd in sy gedagtes. Want ons totale menswees is in sy handpalms gegraveer. Verstaan u hoe belangrik u vir God is? 15. God sug nie maar net op ‘n afstand as ons in krisisse verkeer nie. Hy kyk nie maar net simpatiek toe nie. Nee. Onthou, Hy is mos ook Immanuel. God met ons. En dis Immanuel wat God na ons toe gebring het en ons na Hom toe neem sodat Hy by ons kan wees. Midde in die teenstrydighede waarmee u en ek soms worstel. Tot aan die voleinding van hierdie wereld is Hy daar se Matteus. 16. Weet u wat is vir my nog meer insiggewend van ons teksgedeelte vanoggend? God se reaksie op Israel se twyfel. ‘n Mens sou in menslike terme amper kon verwag dat God nou baie omgekrap moet raak oor hierdie klomp Jode se houding. Het Hy hulle dan nie nou net ‘n wonderlike toekoms belowe nie? Ek meen, tot hiertoe, slegs in hoofstuk 49, het God aan die volk 26 beloftes van uitkoms gemaak. En dan kla Israel dat God hulle vergeet het. Maar God troos verder. Ek is soos ‘n moeder wat nooit haar kind sal vergeet nie. Jy is in my handpalms deurentyd voor my. Ek sal jou nooit kan vergeet nie. Dis ‘n geduldige en liefdevolle God se antwoord op Israel se weeklaag. 17. En wanneer die dag kom dat u hierdie woorde uiter, wanneer u uitroep na God en dink dat Hy u verlaat het, onthou, Jesus het dit self beleef. My God my God, waarom het U my verlaat? Klink dit bekend? Onthou u hoe Hy aan ‘n kruis in onskuld hierdie woorde ook uitgeroep het? Jesus verstaan van alleenwees. Maar ook in sy situasie het ons gesien dat God Hom nie verlaat het nie. Die bewys was drie dae later daar. 18. God het hierdie belofte aan Moses gemaak in Deut 31, aan Josua toe Hy die jongman in Moses se plek aangestel het (1:5), aan Salomo in 1 Kron 28:20, Jesus het dit sy dissipels herhaal as sy laaste afskeidswoorde in Matt 28, en in Hebr 13:5 herinner ‘n onbekende skrywer u en my net weer aan hierdie belofte. Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. 19. My broer en suster, u en ek gaan soms twyfel. En in hierdie twyfel gaan dit voel of God u verlaat het. Of hy van u vergeet het. Kan ek u los met ‘n stukkie raad vanoggend? Eerstens, moenie u verhouding met God bou op emosie nie. Emosie kan baie bedrieglik wees. Ons verhouding met God baseer ons op sy beloftes in sy woord. Wanneer dit “voel” asof God ons verlaat het onthou sy beloftes in sy woord. Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie weerklink regdeur die Skrif. Onthou dan dat gevoel nie altyd waarheid is nie. 20. Twyfel is nie altyd ‘n teken van ongeloof nie. Twyfel is soms juis die bewys dat daar erns met geloof gemaak word. Want ‘n geloofspad is presies net dit: ‘n pad. Maar dis ook ‘n pad met op en afdraendes. ‘n Pad met gladde teer maar ook soms vol slaggate. En daarom is dit onafwendbaar dat ons iewers langs hierdie geloofspad soms moed verloor. Dat ons wonder of dit soms nog die moeite werd is. En gaan volg maar die geskiedenis van al die groot geloofshelde. Iewers het elkeen van hulle ook slaggate in hulle verhouding met God teegekom. 21. Dawid, Jona, Job, Elia, Tomas, Johannes die Doper. Geloofsmanne, maar manne wat ook soms gewonder het. Manne wat ook soms gevoel het ek kom nie om hierdie slaggat in die pad nie. So wanneer u so voel, moenie dink u is alleen nie. Moenie u verhouding met God bevraagteken of betwyfel nie. Soms is daardie worsteling voor God juis die teken dat God met jou besig is, dat Hy van sy kant af besig is om te skaaf om jul verhouding net soveel mooier en beter te maak. 22. En wanneer ons in daardie twyfel is? Wanneer ons soos Israel uitroep dat God my vergeet het? Onthou sy beloftes. Neem God op sy woord. Hy het vir duisende jare nog niemand teleurgestel nie, en Hy gaan nie by u en my begin nie. Aanvaar Hom op sy woord dat Hy vir u liefhet soos ‘n moeder haar kind. Dat jy in sy handpalms is, veilig, deurentyd in sy gedagtes. 23. Onthou altyd die pad terug na God toe. Vertrou sy beloftes, nie jou gevoel en emosies nie. Onthou dat Hy die een is wat sonder enige verpligting aan ons, belowe dat Hy daar sal wees, tot die einde toe.