Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 26: 17 - 25 Dit tref my, dit tref my soos ‘n amperse voorbode, Jesus se woorde: My tyd is naby. (v18a). Dit tref my soos yskoue water in my gesig, dat Jesus keer op keer, mense vooruitstuur om dinge gereed te kry. Die profete in die Ou Testament. So ook Johannes die Doper. En by geleentheid het Jesus die dissipels, en die 72 vooruit gestuur na al die dorpies wat Hy sou besoek. Hulle moes gaan sê die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer jou. En ek besef ook dat God, die Vader, ook mense vooruit gestuur het om sekere goed op Sy Seun se pad te doen. Soos net die vorige aand waarop ‘n vrou Jesus gesalf het deur ‘n albaste fles vol reukolie oor Sy hoof uit te gooi. En Jesus gereageer het met: “Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.” En ek wonder, ‘n mens mag mos hoopvol wonder, of Jesus se doel met jou en my is om die pad gereed te maak vir Sy finale koms. En nou stuur Jesus twee dissipels vooruit om die bo-vertrek gereed te kry, die paaslam te koop en te laat slag, en ook die ander bykosse Kom ons beweeg vir ‘n oomblik saam met die dissipels daardie Donderdag. Die pase het aangebreek. Jerusalem is ‘n miernes van bedrywighede. Al die mense wat van heinde en vêr gekom het en buite die stad in tente oornag het, stroom die stad binne. Daar is soveel goed wat reg gekry moes word. Ons stroom saam met almal die stad binne. Betanië agter ons. Daar is ‘n opgewondenheid in die lug en so is die Here se vreemde woorde van “My tyd is naby” weer weg uit ons gedagtes uit. Ons is haastig want daar is baie om te doen. Die groen kruie, die ongesuurde brood, die bitterkruie, vrugtemoes en genoeg wyn om vier bekers te kan instel. Dit moes ons nog koop. En die lam laat slag. En die lam gaarmaak. En en en o ja, die vertrek waar ons sou saam wees gereed kry. Alles moes reg wees vir die Here. Die Here se aanduiding was nogals geheimsinnig. Dis asof Hy nie wou hê almal moes weet waar Hy gaan wees nie. Die dag is verby. Die Here is hier. En nou lê ons aan by die tafel. Judas aan Jesus se linkerkant. Johannes regs van Hom. Jesus het die eerste beker geneem en die wydingspreuk oor dit uitgespreek. En toe neem Hy die groen kruie, die bitterkruie en die vrugtemoes en deel dit uit. Hulle doop die voorspyse in die bitterkruie en dink aan die swaar wat hulle voorvaders in Egipte beleef het. Die hoofdis, die lam, word op die tafel neergesit. So ook die brode (massot). Almal wag. Die Here moet nog eers soos die gebruik was met hulle praat oor die redding uit Egipte. En Jesus het begin praat. En Hy vertel. Matteus sou later vertel dat dit was terwyl hulle geeet het wat Jesus gesê het: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” (26:21) Ewige woorde wat oor baie tye sou strek. Hierdie aand was dit gemik op een man. ‘n Man vir wie Hy nog ‘n laaste kans wou gee om te bedink. Almal wonder, is dit nie dalk ek nie? Selfs Judas, met die bloedgeld klaar in sy sak (26:15), probeer lyk of hy hoort, vra: ““Is dit miskien ek, Rabbi?” ( 26:25). En Jesus het Hom geantwoord: dit is soos jy sê.” Kan ek jou vir ‘n oomblik net hier los in die verhaal. Dink! Wat het hierdie manne geleer wat ek en jy nog voor blind is? Petrus is gewaarsku dat hy Jesus gaan verloën. En die ander sou dit ook doen. Almal was toe seker dat hulle hul lewe sou gee vir Jesus. Almal, sluit dit Judas toe ook in? Die een na die ander het hulle gevra: Dit is tog nie ek nie, Here? Wat is die verskil tussen Petrus en Judas? Petrus was diep in die hart lief vir Jesus. Petrus het agter Jesus aan gegaan en uit vrees ontken dat hy Jesus geken het. Judas het koud en hard dit vir geld gedoen sonder ‘n titseltjie omgee. Moet ons nie met al ons sekerhede eerder vanaand maar ook die vraag kom vra nie? Meer nederig. Meer gebroke omdat ons weet ook ons, ook ek, laat Hom in die steek. Verloën Hom selfs. Op die minste faal ons die Here soos klokslag omdat ons eie belange meer weeg as die gereed maak vir Sy koms. En as ons dit besef, hoor dan net dit: Jesus het Judas nie verraai voor die ander nie. Hulle het nie een besef dat die verraaier Judas was nie. Eers na die opstanding, vermoed ek, het hulle een en een bymekaar gesit. “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. (26:23) Hoor jy ook, dat selfs al het Jesus geweet dis Judas het Hy hom steeds ‘n ereposisie gegee en die grootste eer denkbaar vir daardie tyd bewys, om Judas as intieme gas aan tafel te hê. Saam die brood gedip in die sous. In van die ander evangelies het Jesus die brood gebreek en gedoop en vir Judas gegee. Wat ‘n voorreg! Elkeen om daardie tafel, selfs na Judas uit is, sou Jesus in Getsemane in die steek laat en van Hom af wegvlug. Aan hulle elkeen het Jesus nietemin die eerste nagmaal bedien. Na Sy dood en opstanding het hulle hulle lewe vir Hom totaal gegee. Tot in die dood. Hierdie dinge het gebeur twv jou en my. Op hierdie punt vra ek jou om saam met my te bid .... GEBED Neem nou die brood. Ek lees vir ons vers 26: En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Breek nou groterige stukkies brood af en gee dit vir die wat by jou is en sê: Dit is vir julle. Dit is vir jou. Neem nou die druiwesap / wyn: Ek lees Jesus se instellingswoorde: 27 Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Gee vir mekaar die wyn aan en sê weer: Dit is vir julle. Drink hieruit tot nagedagtenis van ons Here. Gebed. Hierna het Jesus en sy dissipels die hallal gesing en toe uitgegaan na die Olyfberg toe. So sluit ons ook af.