Datum:
Opskrif:
Nuus:
Ek is. Dit is Wie God kies om bekend te staan as. Moses het Sy Naam gevra en dit is die antwoord wat God hom gegee het ... "Ek is". As ek sit en dink oor oujaar en nuwe jaar, mensgemaakte tydsindelings wat ons lewens skynbaar regeer ... ons word moeg soos die jaar oud word en ons begin vars op die 1ste Januarie. Dit is indelings wat God nie raak. God se naam sê reeds dat Hy meer is as tyd, meer is as geskiedenis, meer is as al ons gisters en vandag en ja, ook meer is as al ons more's. God is. God is die Een wat was en is en tot in ewigheid sal wees. God vul alle ruimtes en volgens Efesiërs 4 vul Hy alles met Sy teenwoordigheid. Beleef jy dit nie so? Beleef jy God as afwesig? God is nie die probleem nie. Die kortstondige mens is. Ons word so vasgevang met wat kom en gaan en tydelik is dat ons die Ewige mis en so ook die lewe mis. Aanvaar God is hier. God is daar waar jy jou mag bevind. En leer om bewus te word van Sy teenwoordigheid. Om krag te put uit Sy Ek is. Leer om Hom te vertrou en te volg wwant Hy is. Hy is daar. Hy is hier. Hy alleen is God. Ek het geleer dat dit nie is wat jou tref wat saak maak nie maar Wie by jou is, is wat tel. 2018 is lankal reeds in God se hand. Hy is tog immers die God wat voor Hy nog enigiets geskep het al vooruit gekyk het en beslis het dat ons Syne sal wees in Jesus Christus. In die teenwoordigheid van so 'n groot en Almagtige God kan ons mos weet ons lewens is veilig in Sy hand. 2018. God se jaar. Deel van God se ewigheid. Wees jy by God.