Datum:
Opskrif:
Gedagte:
GEDAGTE VIR DIE WEEK: JY IS ‘N GELIEFDE KIND Het jy al iets gelees wat jou letterlik laat regopsit – daai oomblik waar jy met piering-oë na die bladsy staar en dink: wag… wat? En dan, oor weke, gaan jy terug… weer en weer… omdat iets daarin jou bly roep. Dit het met my gebeur. Nie in die hoofstukke nie, maar in die epiloog van ’n boek. Daai naskrif waar ’n skrywer soms net ’n laaste gedagte los – en toe tref dit my. Soos hulle in Engels sê: game, set and match. Ek deel nie die boek nie; ek deel my verstaan. My herkou. My “ek moes dit weer lees”-oomblikke. En dit begin by Dawid – die skaapwagter, die koning, die digter. DAWID SE WOORDE WAT ONS KEN… MAAR NIE ALTYD LEEF Psalm 103 sê: “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie… so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde… so ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge…” Ons ken dit. Ons quote dit. Maar ons sukkel om dit te leef. Ons wil ons plek by God verdien. Ons voel skuldig, onvoldoende, bang. Ons wonder of God dalk tog teleurgesteld is. Intussen… het God ons ontsettend lief. Ek het al baie gepraat oor om jouself deur God se liefde te laat deurdrenk. Maar dis nie soos ’n vinnige reënbui wat jou nat spat nie. Dis soos om stadig in ’n poel water in te sak – tot die water jou toevou. Tot jy nie meer kan sê waar jy eindig en die water begin nie. LIGSTRAAL. LOOT. KIND. En toe lees ek Martin Laird se beelde – en dit het my getref. ’n Ligstraal gaan nie die son soek nie. Dit bestaan omdat die son dit uitstuur. Die ligstraal straal net – want dit kom uit die son. ’n Loot gaan nie die wingerdstok soek nie. Dit is die gevolg van die wingerdstok. Dit leef omdat die stok dit voed. En toe tref dit my: Ons dink soms ons moet God soek asof Hy ver weg is. Asof ons nog buite staan en probeer inkom. Maar die waarheid? Ons lewe uit God. Ons groei uit God. Ons bestaan uit God se liefde. NIE MEER ’N AANNEEMKIND NIE Dis soos ’n aangenome kind in ’n liefdevolle huis. Iewers moet jy ophou dink: ek is ’n aanneemkind. En begin leef: ek is ’n kind. Volwaardig. Onvoorwaardelik geliefd. Nie halfpad nie. Nie “amper” nie. Nie “ek hoop so” nie. God hanteer jou as Sy kind. Hy voel oor jou soos ’n Vader oor Sy eie kind. Hy ontferm Hom. Hy dra. Hy vorm. Hy hervorm. Hy laat jou groei vanuit Hom – nie na Hom toe nie. GEDAGTE VIR DIE WEEK Hou op om te leef asof God ver weg is. Hou op om te dink jy moet Hom nog vind. Jy is reeds uit Hom gebore. Jy straal omdat Hy jou bron is. Jy groei omdat Hy jou voed. Jy is nie ’n aanneemkind nie. Jy is Sy kind – volledig, geliefd, gevestig. Laat hierdie week toe dat hierdie waarheid stadig in jou insak… Soos water. Soos lig. Soos lewe uit die wingerdstok.