Datum:
Opskrif:
Gedagte:
GEDAGTE VIR DIE WEEK – 02 JUNIE 2026 Ai, die liefde darem…(Matteus 7) ’n Jong man het my onlangs vertel van die liefde van sy lewe. Dit was duidelik dat hy nie net verlief is nie — hy is werklik lief. Sy liefde is mooi om te sien: hy gee, hy offer op, hy dink eerste aan haar. Hy sal selfs sy lewe vir haar gee. En van wat ek hoor, het sy hom ook lief. Sy sê dit openlik. Hulle tye saam is kosbaar. Maar toe vra ek hom: “Hoekom kom praat jy met my?” Sy stem het gebreek toe hy antwoord: “Oom… sy het ’n ander lewe ook. ’n Lewe waar ek nie deel van mag wees nie. As sy saam met haar vriendinne wil kuier, kanselleer sy ons planne. Haar werk-lewe is vir my ’n geslote deur. Party dae voel dit of sy twee mense is: die een vol liefde vir my… en die ander een wat my uitsluit, my wegstoot, my laat voel ek niks beteken.” Toe vra hy: “Wat moet ek doen?” Ek het probeer om tussen die lyne te lees. Mense vertel mos net die deel van die storie wat hulle goed laat lyk. En soos iemand gesê het: daar is jou waarheid, haar waarheid, en die waarheid êrens in die middel. Alles in my wou haar veroordeel. Maar Matteus 7 het my gestop: “Moenie oordeel nie.” En toe tref dit my skielik. Soos die profeet Natan vir Dawid ’n storie vertel het — en toe sê: “U is die man!” — besef ek: Hierdie is nie net sy storie nie. Dis óns s’n. Ons is die een met die dubbel lewe. Jesus is die jong man. Ons is lief vir die Here — regtig lief. Maar dan leef ons soms ’n tweede lewe waar Hy nie welkom is nie. Dinge wat ons doen waar Hy nie moet sien nie. Plekke waar ons Hom uitsluit. Tye waar ons Sy liefde misbruik met: “Hy sal my mos vergewe.” Maar God se liefde is nie net woorde nie. In Johannes 3 sê Jesus self: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het…” God het Sy liefde gewys — Hy het dit gedoen. Nou is dit ons beurt om die sin klaar te maak: “Want so lief het (jou naam) vir God gehad dat hy/sy…” Wat sal jy daar invul? Hoe naby lê Jesus aan jou hart? Hoe lyk jou liefde vir Hom in jou daaglikse lewe? Sal jy jou hele lewe — alles — onder Sy liefdevolle beheer plaas?