Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek is by Hebreers 11: 6. Daar staan: ” As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” ‘n Vriend vra my nou onlangs of ek in spoke glo. Hy vertel van ‘n spook wat hy al by drie geleenthede gesien het rondom die plek waar hy bly. Sy werker het die oom, dis nou die spook met sy witbaard, ook al gesien. Ek glo nie eintlik in spoke nie. Tog is ek bewus dat mense soms spoke sien. Daarom sê ek ek glo nie eintlik in spoke nie, want ek besef daar kan so iets wees, en net omdat ek nog nie persoonlik een gesien het nie, beteken nie dat daar nie spoke is nie. Maar dit alles verander niks aan my lewe nie. Dieselfde met bose geeste. En die duiwel. Die Bybel praat van bose geeste en die duiwel. Ek glo in hul bestaan, maar dit verander niks aan my lewe nie, want ek glo in God en ek glo God. Gedooptes vrees nie die bose nie, want ons dra die teken dat ons aan God behoort en ons is God se kinders. Gedooptes weet deur die genade van God het die duiwel nie mag oor ons nie. Ons gaan ook nie na die duiwel soek nie. Die Bybel waarsku ons teen hom. Maar ons glo ook nie in die duiwel nie, al bestaan dit wel. Ons glo in God. En dit is hierdie glo wat Hebreers 11: 6 aanspreek. Want sien, geloof, om in iemand te glo, of in iets, bring ‘n skuif in jou lewe. En as dit nie ‘n skuif teweeg bring nie, dan is dit dalk nie geloof nie. Kom ek skep ‘n storie wat ons almal mee sal kan identifiseer. Jou motor breek en jy is gestrand langs die pad. Jy bel ‘n vriend om jou te kom help. Hulle is oppad, sê hulle. En jy weet, dis nou ‘n kwessie van tyd dan is hulle hier. Jy weet hulle sal met spoed kom. Bel jy nog ander mense ook vir hulp? Sit jy daar en tob oor wie of wat moet jy nog bel, want sê nou net dit of dat gebeur? Nee. Jy wag vir jou vriend. Jy glo hulle. Uit ervaring weet jy hulle sal kom. Jy maak net ‘n plan B as jy onseker is oor die mens wat moet kom help. So is dit met geloof in God ook. As God nie vir jou 'n werklikheid is nie hoe gaan jy dan glo? As jy elke dag verwag om God "raak te leef / te loop”, of om Hom op die een of ander manier te beleef, dan is jy besig om te glo. Dan is God vir jou 'n werklikheid. Dan kry alles wat Jesus sê nuwe betekenis. Bv. die dele in Joh. 14 waar Jesus gehoorsaamheid en liefde aan mekaar verbind. Ons almal weet dat liefde is nie net woorde nie. Dit is ook iets wat ander beleef in die klein dingetjies wat ons vir hulle doen. As God vir jou werklik is, dan leef jy met eerbied en respek voor Hom. Dan kies jy om hom te dien soos Hy gedien wil wees. Dan doen jy dinge soos God wil, want jy weet Hy weet beter as jy hoe om jou eie lewe te leef. Dan verander eredienste in saamkuiers met God en Sy ander kinders. Dan smag jy na stil tye met Hom. Dan kyk jy uit vir waar en hoe God jou lewe gaan raak elke dag. Kan ek jou vra: Hoe het God jou lewe vandag verander?