Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Donderdag: Romeine 8: 26 - 39 Ek spring na Romeine 8 vir vandag se oordenking. Het jy al ooit gevoel, hoe sê die mense nou weer, dat jou gebede teen die plafon vas slaan? Ek dink sommer ook aan ‘n tannie in ICU wat eendag baie benoud was, want sy wil bid maar sy kry nie reg om te bid nie. Die woorde wou nie kom nie en dit het haar baie ontstel. Romeine 8. Lees vanaf vers 26 tot aan die einde. Ons het hierdie week al gesels oor die verband tussen liefde vir Jesus en gehoorsaam wees aan Hom. Voeg nou hierby vers 29 hierby: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. Rom. 8:29-30.” Ons is bestem om soos Jesus te word. Gelykvormig aan hoe Hy is. In vers 27 en in vers 34 lees ons iets besonders. Kyk wie pleit by God vir ons! Kyk wie bid en tree vir ons by God in, as ons self nie kan nie, of terwyl ons self ook pleit. Vers 27: “27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Rom. 8:27”. Vers 34: “34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek. Ons is in goeie hande. God se liefde gaan verder as net om Sy Seun te gee, verder as die kruis en verder as die opstanding. Hy gee Sy Heilige Gees sodat ons nie alleen sal wees nie (Joh. 14) en Sy Seun vaar op na die hemel en daar, daar by God, pleit Hy vir ons. Aangrypend. Ons is so versorg! Wil jy nie hierdie week uit pure dankbaarheid en liefde uit, nog jou gebede sit by die van die Heilige Gees en van Jesus nie? Wil jy nie saam met Hulle bid vir hierdie gemeente en vir ons streek se mense nie. Gebed. Heilige Gees, dankie dat U en ons Here, Jesus, vir ons intree by God die Vader. Dankie dat U ons nooit vergeet, ons nooit uit U oog laat gaan nie. Vandag wil ons ons stemmetjies by U stem voeg en saam bid dat U wil hier geskied. Saam met U bid ons vir die koms van die Koninkryk in mense se lewens, vir die leef van U wil, en vir hierdie gemeente om te groei soos U begeer. En Sondag, as ons U koms na die wêreld vier, maak ons ontvanklik, Gees van God, vir U Beheer en leiding. Werk met krag in ons, en in ons gemeenskap t.w.v. U heilige Naam. Ons vra dit in Jesus naam. Amen.