Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Woensdag: Johannes 16. Kan ek net weer saamvat asb. Dit gaan nie oor ons nie. Ons lewe gaan oor God se verheerliking deur Jesus Sy Seun. Die Heilige Gees bewerk dit in ons. Ons het Maandag gelees: Wie in Jesus glo – Die NLV vertaal “Wie aanhou om in Jesus te glo.” – sal die dinge doen wat Jesus gedoen het. Tot hiertoe het Johannes aan geteken dat Jesus absoluut gehoorsaam was aan die Vader. Dit was Sy brood en botter – Sy kos – om netso te doen as wat Hy die Vader sien doen het. En om niks te sê wat Hy nie eers by die Vader gehoor het nie. Jesus sê sy kos, dit wat Hom aan die gang hou, is om God te gehoorsaam. Hy gaan so vêr: Sê niks, doen niks wat Hy nie eers by die Vader gesien en gehoor het nie. Sulke gehoorsaamheid is om God lief te hê (16: 21, 24). As jy Jesus kon dopgehou het, sal jy een ding gesien het: Hy het getrou eenkant alleen gaan bid. Hy het tyd ingesit saam met God die Vader. Regtig stil word. Luister. Gehoorsaam. En daarom het God met soveel krag deur Jesus gewerk. Soveel dat as jy Jesus gesien het en gehoor het, het jy God “self gesien” en gehoor. God sal Johannes 14 waar maak in ons lewe. Wat is die Heilige Gees se werk dan? Om ons tot tempels van God te maak. Om God in ons en by ons te wees. In Johannes 15: 26 getuig die Heilige Gees oor Jesus. En ons moet ook vanuit die Heilige Gees leef en getuig oor Jesus. En in Johannes 16, meer spesifiek, is dit die Heilige Gees wat die wêreld van hul sonde oortuig. Die Heilige Gees sal ons ook in die volle waarheid lei. Hy sal ook die dinge wat gaan kom verkondig (vers 13). Dink maar aan Openbaring o.a. Die Heilige Gees sal alles wat die Seun van God Hom gee, aan ons deurgee. As ek so na hierdie dele kyk dan raak dit vir my al meer belangrik dat ons sal bid vir die volle werking van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons bid dan vandag veral vir dit. Gees van God, U wat in ons woon, gee dat ons lewens, tempels van gebed en van U werking word. Werk in ons en deur ons in ons gemeenskap. Laat die Vader se koninkryk hier kom, God se wil geskied, hier in Deneysville en omstreke, netsoos in die hemel. Dankie dat U hier sal werk. In Jesus Naam, vra ons dit. Amen.