Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dinsdag: Johannes 14: 15 – 26 Gister het ons gekyk na dat ons ook kan doen wat Jesus gedoen het. Vandag gaan dit oor gehoorsaamheid.... Drie keer in hierdie klompie verse verbind Jesus liefde aan gehoorsaamheid aan Hom. Dit is belangrik. Ons kan hierdie week vir juis dit bid: ons eie gehoorsaamheid aan Jesus wat so vorm gee, of uiting gee aan ons liefde vir Jesus. En ons liefde vir Jesus wat oorspoel in spontane gehoorsaamheid aan Hom. As jy, by voorbeeld, (soos Francis Chan) vir jou tienerdogter sê: Gaan pak jou kamer reg. Sy staan op en gaan kamer toe. Na ‘n uur of twee kom sy terug en vertel vir jou ewe opgewonde hoe ‘n skoon netjies kamer daar uit sien en hoe sy haar vriendinne op gelyn het om elke Donderdag vir ‘n uur of twee saam te dink en gesels oor skoon kamers, en sy vertel hoe sy ‘n program op getrek het om op te lees oor skoon kamers en netjiese kaste, gaan jy beïndruk wees as jy in haar kamer instap en dis steeds chaos? Jy wil nie haar interpretasie hê van jou opdrag nie. Jy wil ‘n skoon kamer sien. Opgeruim. Afgestof en alles netjies gebêre op hul plek. Vers 26 spreek die ding van eie interpretasie aan. En van die vergeet deel wat soms so handig te pas kom. Ek het iewers gelees dat iemand skryf dat die Bybel is die Woord van God, maar ons eie interpretasies van die Bybel is nie noodwendig dieselfde nie. Vers 26 sê duidelik dat die Heilige Gees ons sal hou by wat Jesus geleer het en gedoen het. Dis duidelik dat dit steeds oor God se verlossingsplan in Christus gaan. Dat dit wat God deur ons wil doen sal gaan oor die uitdra van die verlossingsplan. Dit gaan oor God. Johannes 14: 13 sê dit reguit: “... sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” Dit gaan ook oor ons liefde vir God wat oorspoel in die doen van wat God vra, sodat God nog meer verheerlik kan word deur ons. Kom ons bid: Here, Redder, God orals teenwoordig. Ons aanbid U as U eiendom, U kinders, deur U gered en aangeneem. Ons bring U al die eer toe en al die lof, want U verdien dit. U maak ons harte bly en bederf ons met soveel mooi hier om ons. Vandag wil ons net weer sê, dankie. Werk in ons deur U Heilige Gees sodat ons nie dink ons weet wat U Woord sê nie of dat ons interpretasie korrek is nie. Ons kom soek biddend dat U self U Woord vir ons sal oopmaak en ons sal vorm. Gee ons die wysheid en die krag om U in alles te gehoorsaam, om ons liefde vir U om te sit in dade. Blaas die vuur van ons geloof en ons passie vir U weer aan, ter wille van U eer en Heilige Naam. Ons bid dit in U Heilige Naam, amen