Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vandag se deel, is ‘n deel wat my sake werk vir my. Die stelling wat Jesus maak is netso groot en dan kyk ek na myself en ek wil dink dis onmoontlik. Maar ek durf nie. Ek wil nie Jesus weerspreek nie. So iets moet ingee. En ek besef, dis ek. Daar is nog so ‘n teks in Jakobus ook: (Jakobus 5: 16c-18) “Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.” Ek moes ‘n kopskuif maak. Ek moet vir eens en altyd uit my kop uit kry dat die Heilige Gees net deur spesiale mense werk – ander mense – en nie deur my nie. Dis die mees onbybelse ding om te leef. Ek sê dit oop en eerlik, sodat jy dit kan insien en self ook die skuif maak. Soms lê die probleem daarin dat ‘n mens die druk voel om hierdie verse waar te maak en so jouself te bewys as gelowig of as bruikbaar vir God. Of om te bewys dat die Heilige Gees deur jou werk. En dan gaan dit klaar nie meer oor wat Jesus hier bedoel en wil sien gebeur nie. Dit gaan oor God en God se koninkryk. Die groter dinge. Dit is moeilik. Geleerdes redeneer hieroor. Die beste verklaring is dat die groter lê daarin dat die dinge wat ons doen opsigself nie groter is as wat Jesus gedoen het nie. Ons kan tog volgens vers 12 die dinge doen wat Hy gedoen het. Die groter lê in die feit dat Hy die Seun van God was en ons maar doodgewone mense. Dit vra ’n groter wonder deur die Heilige Gees bewerk om deur ons dit gedoen te kry. Die 31ste Mei vier ons Nagmaal. Dit is tekens wat God ons gegee het om ons te verseker dat Hy deur Sy Heilige Gees in ons woon. En dat Hy sy woord hou, onder andere dan ook hierdie woorde: dat ons dieselfde dinge sal doen as Jesus. Dat as ons geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie het, sal ons berge in die see kan laat skuif. Kyk mooi: Dis eintlik nie ons wat die groter dinge gaan doen nie. Dis God wat dit gaan doen in antwoord op ons gebede. Ons kan nie doen wat Jesus gedoen het nie. Maar God kan deur ons. More gaan ons verder met die teks. Gebed: Here, ons God. Ons besef dat dit wat U vir Paulus gesê het oor die doring in sy vlees, nl dat as ons swak is, is U sterk, is waar. Ons besef ons kan nie groot dinge in U Naam doen nie. Ook nie vanuit onsself nie. Daarom bid ons dat U deur U Heilige Gees in ons en deur ons sal werk soos U wil en so verandering en groei in ons gemeenskap en in ons eie lewens sal bring. Ons is bid vir U gemeente hier in Deneysville. Ons bid vir herlewing, vir groei. In Jesus Naam, amen.