Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vanoggend neem ek jou saam na 1 Johannes 4:7. Lees gerus van vers 7 tot by die einde van die hoofstuk. Dis soos om in ’n kamer vol lig in te stap. God se liefde vir jou is nie net ’n idee nie — dit is bewys. Hulle sê in kaartspel: “Sit al jou kaarte op die tafel.” Moenie wegsteek nie. Wys alles. Wel… God het dit lank reeds gedoen. Sy spreekwoordelike kaarte lê oop. Sy volgende skuif is duidelik: Hy gaan jou liefhê. Hy gaan jou altyd liefhê. Vers 10 en 11 herinner ons: Werklike liefde begin nie by ons nie, maar by God — Hy wat Sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. As God só Sy liefde bewys het, hoe kan ons anders as om mekaar ook lief te hê? Kyk weer na die woord bewys. Kyk weer na die kruis. Paasfees is pas verby, Hemelvaart en Pinkster lê voor ons … en die kruis staan nog steeds as God se liefde sigbaar gemaak vir jou. Dit is hoe Hy jou red. Dit is waarom jy, selfs wanneer jy bang of benoud raak, net hoef te kyk Wie langs jou staan. God het jou lief. Lukas vertel vir ons van die verlore seun — Jesus se gelykenis van ’n Vader wat wag. As ek dit vanoggend baie eenvoudig mag sê: Maak nie saak wat gebeur het nie… kom net huis toe. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur het nie… kom net huis toe. Ons kom huis toe soos die verlore seun: “Here, ek is nie werd om U kind genoem te word nie. Ek het teen U gesondig.” Ons kom huis toe deur te glo, deur vas te hou aan God. En dan ontdek ons in 1 Johannes 4:15–16 hierdie ongelooflike waarheid: Wie bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God. Hoor jy dit? God bly in jou. En omdat ons die liefde ken wat God vir ons het, kan ons daarin leef. Nou kan ons mekaar liefhê, want God is liefde. Wie in die liefde bly, bly in God… en God bly in hom. En dan kom hierdie groot, troosvolle woorde: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie… volmaakte liefde verdryf vrees.” Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. En daarom sê Johannes: as ons sê ons het God lief, maar ons haat ons broer, bedrieg ons onsself. Want die een wat jy kan sien, moet jy liefhê — dit is die gebod wat God vir ons gegee het.