Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vandag wil ek graag Hebreers 11: 6 saam met jou lees. En ek wil dit ook lees saam met Johannes 11: 40. Ek vra jou om mooi te luister na die ooreenkomste tussen hierdie twee dele. In die een is ‘n onbekende skrywer aan die woord. En in die tweede een haal Johannes ons Here Jesus aan. 6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Hebrews 11:6 40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” John 11:40 In Johannes 11 praat Jesus met Martha oor Lasarus wat reeds vier dae dood was. Albei susters het Jesus verwyt, want so het hulle geglo, as Jesus daar was sou hul broer nie gesterf het nie. Hulle geloof is dus groot. Maar nie groot genoeg om te kon sien wat Jesus geweet het sou nou op hierdie woorde volg nie. Jesus het Lasarus uit die dood opgewek. So ek wonder dan vanoggend in die lig van hierdie twee tekste wat van geloof geword het? Ons geloof om meer spesifiek te wees. Of sou jy die woord verwagting verkies? Die verwagting dat God ten spyte van oorweldigende bewyse ons situasie kan omkeer. In Martha en Maria se geval, hul broer wat al begin ontbind het na vier dae, weer lewend te maak. In ons geval, die gemeente se finansies, die wonder oor hoe gaan die jaar vorentoe vir ons uitspeel as gemeente en as gelowiges. Die land se situasie waar dinge sover gedaal het dat mense dink dis okay om te steel en ander dink dis okay om hulle daarmee te laat wegkom. Het ons werklik nog die verwagting dat God hierdie mooi land van Hom kan red en omkeer in ‘n land van vrede en voorspoed vir alle mense, waar alle mense veilig is, kan werk en ‘n lewe kan bou saam met hulle geliefdes. As jy dit nie kan sien gebeur nie, of nie die verwagting meer het dat God dinge kan omkeer nie, selfs dink sonder om dit so uit te spel dat nie eers God meer dinge in Suid-Afrika kan verander nie ... moet jy dalk jouself vat en in God se teenwoordigheid gaan laat sit soos ‘n Elia op die berg na hy nie meer kon sien dat Isebel hom nie sal kan leed aandoen nie. Moet ons nie almal meer in stilte by God gaan sit en net luister en net in stilte by God wag sodat Hy ons weer met nuwe oë na Hom kan laat kyk en met nuwe harte weer opnuut laat glo.