Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dis weer Dirk wat op hierdie oggend met u gesels. Goeiemore. Die Bybel bly maar die interessantste boek wat sekerlik nog ooit bestaan het. In Hand 12 lees ons hoe Herodes die gelowiges begin gevange neem. Toe hy sien dat dit byval vind by die Jode het hy vir Petrus, natuurlik die leier van die dissipels ook laat arresteer. Hy plaas Petrus toe in die gevangenis. Wat interessant is is dat dit gedurende die viering van die Paasfees gebeur het. En dit is hier waar ons in gedagte moet hou waar die Paasfees vandaan kom. Natuurlik weet ons almal dat die Paasfees die Nuwe Testamentiese Pasga is wat ingestel is om die bevryding van Israel vanuit die slawerny van Egipte te vier. En net soos wat die Paasfees waarvan ons lees in Eksodus 12 gelei het tot die bevryding van Israel vanuit slawerny, dupliseer God hierdie gebeure onder die gelowiges in Hand 12 gedurende die Paasfees. God stuur ‘n engel om Petrus te bevry uit die gevangenis. Terwyl Petrus, geboei in kettings, tussen twee wagte slaap met nog wagte buite die deur, verskyn daar ‘n engel van die Here aan hom. Dit is interessant om te kyk na wat die engel op hierdie stadium vir Petrus se: “Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan. Trek jou bokleed aan en kom saam met my”. Die engel se opdrag aan Petrus op hierdie nag weerklink God se opdrag aan Israel duisende jare tevore. In Eks 12:11 lees ons dat God vir Israel se dat hulle gereed moet maak vir die trek uit Egipte omrede Hy met die laaste plaag die Farao sal oortuig om hulle te laat gaan. “Julle moet haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan julle voete en ‘n kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here”. En hierdie opdrag van God in beide gevalle het ‘n wonderwerk tot gevolg. Wanneer Petrus en die engel by die wagte verby beweeg kom hulle voor ‘n hek wat Lukas ‘n ysterdeur noem wat na die stad toe lei. Interessant dat Lukas klem le daarop dat die deur van yster was. Want in Deut 4:20 vind ons die verwysing na die bevryding uit Egipte soos volg: Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.” Jeremia 11:4 verwys ook hierna soos volg: “Wat ek julle voorvaders beveel het toe Ek hulle uit Egipte, uit die ystersmeltoond, bevry het”. Baie interessant, maar wat beteken dit dan alles? Wel, ons weet dat die boek Handelinge vir ons die ontstaan van die vroee kerk beskryf. Is dit nie interessant om te sien dat die God wat die uittog uit Egipte bewerkstellig het, wat dit bestuur het en Israel uitgelei en beskerm het dieselfde God is wat die vroee kerk en ook die kerk na Handelinge lei, bestuur en beskerm nie? Die God wat ons as Nuwe Testamentiese gelowiges aanbid is steeds dieselfde God wat Israel met die uittog uit Egipte aanbid het. En dis dieselfde God wat deur al die eeue steeds sy kinders lei, beskerm, na hulle kyk en vir hulle lief is, net soos wat Hy met Israel gedoen het. Dis steeds dieselfde God wat Israel met soveel oneindige geduld gelei het wat ons ook, in Christus, met soveel oneindige geduld steeds liefhet. Here, dankie dat U dieselfde was, is en bly. Dankie dat ons, soos Israel van ouds, ‘n genadige God het wat ons bo enigiets steeds sal lei en beskerm. Amen.